Skramse digterlike profiel van ’n onversadigbare digter

  • 0

Konteks en agtergrond

Foto NB-Uitgewers

Die uitnodiging om ’n groep belangstellendes van die “University of the Third Age, Hermanus” aan TT Cloete as digter bekend te stel het my genoodsaak om vir ’n voordrag van ongeveer een uur ’n digterlike profiel uit dié digter se omvattende oeuvre saam te stel. Alhoewel dit nie ’n spesifiek vakkundige gehoor was nie, was dit wel ’n gesofistikeerde en kritiese gehoor.

’n Aantal teoretiese artikels wat ek geskryf het, gefokus op spesifieke Cloete-gedigte, het laat blyk watter uitdaging veralgemenings van dié digter se oeuvre bied. Hierdie artikel is ’n poging om langs die weg van kritiese beoordeling reg te laat geskied aan die bekendstelling van ’n eietydse digter met ’n omvattende oeuvre. Die oogmerk is om die betrokke leser op soek te laat gaan na meer.

Aan die hand van ’n aantal gedigte is gefokus op identifiseerbare temas in Cloete se nege enkel-digbundels. Alhoewel lyding ’n herhalende tema in dié oeuvre is, is dit by uitnemendheid ’n voorbeeld van die wyse waarop die digter intens persoonlike kwessies verdig tot universele menslike kondisies wat die buitestander aanspreek. Die digter se deurlopende ontginning van die kuns van gedigte skryf is ook vir die nievakkundige leser ’n onontbeerlike sleutel tot sy intense en omvangryke oeuvre. Sy lewenslange Muse is ’n herkenbare aanwesigheid in elkeen van sy digbundels. Aspekte wat hierbenewens verband hou met ’n viering van die skeppingsproses, is sy gesprek met medekunstenaars sowel as sy waarneming van die natuur as gedig. Cloete se kosmiese bewussyn, as gevolg waarvan sy digtersoog van die minuskuulste partikels tot die onoorsigtelike ruimte verken, betrek uiteenlopende kennisgebiede.

Daar sou vermoed kon word dat ’n digter wat weet daarvan om in sfere te sweef, hom nie sal laat betrek by die alledaagse skyn en venyn van menslike bestaan nie. Cloete is egter eweneens betrokke digter wat eietydse en oertye se menslike narrespel jukstaponeer.

Inleiding

TT Cloete was op 31 Mei 2011 86 jaar oud. Reeds in die bundel Allotroop,wat in 1985 verskyn het en waarna hy as gevolg van ernstige siekte verwys het as sy “pynbundel”, skryf hy ’n gedig met die titel “atropatie”(50). ’n Onderskrif by die titel van die gedig lui veelseggend: “no known cure”. Die “hy” in die gedig na wie hy verwys, is die “Maker” wat hy verantwoordelik hou vir sy toestand:

hy laat hom gloeiend geld
met ’n glassplinter in my gewrig
en ’n sandkorrel in my oog
hy is spyker en naald en speld
hy hou my onverbiddelik onderdanig
van die skedel tot in die voetboog

wring my nek en knak my rug
vloei deur my spiere met ’n kouevuur
laat hink my gebuk
laat sak my voetbrug
brand my are met urinesuur
dis hy wat my traanklier droog druk

hy krul my kraakbeen
en karnuffel my kruppel
hy skroei my ingewande met ’n gloed
met dorings deur my knie en voetkussing en skeen
laat hy my voor hom stram huppel
met dorings deur my palms handeviervoet.

In nog ’n gedig uit dieselfde bundel voer hy die geding met dié Maker verder, na aanleiding van die vergelykbare Job-verhaal. Hy spreek Hom hier direk aan (46):

kyk tog ver weg terug
agter u in my skilpaddop
is ’n stinkende stuk
ongeluk
gekeer op my rug
grawe en skrop
ek teen u lug

keer my op my voete tereg
laat my skuifelend wegkom
gee my nog ’n beurt
lyk ongesteurd
maak of u sleg
sien draai my om
op my pote en kyk weg.

In 2010 verskyn ’n prag-huldigingsbundel van TT Cloete aan sy vrou Anna. Sy is op 2 Mei 2007 oorlede na eweneens ’n lewe van pyn en dreigende dood. Die titel vir die bundel, Uit die wit lig van my land gesny, is geneem uit die gedig “Anna”,wat reeds in 1992 opgeneem is in Cloete se bundel Met die aarde praat (1992:94).

Beteken dit dat van dié digter slegs ’n gedateerde terugkyk op verlore verledes verwag moet word? Die klaagsange van ’n man met een kreupel voet in die graf? Inteendeel! Waarmee die leser hier te doen het, is ’n byderwetse digter in murg en been. Met sy digtersoor en -oog neem hy sy eietydse wêreld ontledend waar om met sy “taallaser” gedigte te laat “boetseer en fatsoeneer/ tot taktiele lyf”, soos hy dit in sy gedig “Taallaser” (1992:3) verwoord. Naas die eietydse beeld van ’n “taallaser” huldig hy egter desgelyks ’n oerbeeld van digterlike taal as “petrogliewe letters” wat hy soos volg in die gedig In-skryf (1992:4) beskryf:

In in die taal se meegewende lyf
word deur die digter diep gevoelig ingegryf.

Dit vra die oog en oor van ewe wakkeres en eietydse ontdekkers om met fyn intuïsie en kennis so ’n veelkleurige leefwêreld te verken en deurgrond.

Ondanks die huidige skare talentvolle jonger digters in Afrikaans verwys Joan Hambidge (Rapport, 11 Maart 2011, bl 3) ná die publikasie van sy bundel onversadig in 2011 (196 bladsye), tereg na Cloete se “enorme talent”. Sy motiveer dit onder andere soos volg: “’n Digter met epigone en navolgers is groot.” Daar is talle gedigte van jonger digters wat deur Cloete as digter geïnspireer is, naas die gedigte-lésers wat deur hom gevorm is. Johann de Lange (Kaapse paragrawe 6 April 2010, bl 1) getuig soos volg van hierdie onuitputbare digtermens: “Die term ’ars poetica’ beteken die ’kuns van poësie’ of ’die aard van poësie’ en dit is ’n goed gevestigde tradisie ... Daar is nie ... enige digter van belang wat nie ten minste een ars poetica geskryf het nie. Dit is ’n natuurlike uitvloeisel van die digterlike aktiwiteit, die behoefte om oor eie aard te besin: soos God teenoor Sy skepping, staan die digter teenoor syne ... Die digter TT Cloete is loshande die Afrikaanse digter wat die meeste oor eie praktyk besin. Hy is die meester van die gedig oor die gedig sowel as die gedig oor die digter.” Daar kan bygevoeg word: “... én oor sy lesers: die goeies en die slegtes”!

Verwonderings naas konfrontasies

Soos Cloete enersyds die wonders van ’n Goddelike skepping bewonder en bedink deur middel van die kreatiewe moontlikhede van digterlike taal, spreek hy hom andersyds ewe openhartig uit oor die ongrypbaarheid en oënskynlike teenstrydighede, uit menslike perspektief, van die Skepper self. In die gedig met die veelseggende titel “Hortologie” (1986:127) skryf hy byvoorbeeld:

U het die boom vergeet.
Ek het hom geplant.
Die een wat net ek nog van weet.
Hy hou met U tóg deur my verband.
Hy staan daar geelbleek.
Ek snoei hom en hou hom nat.
U weer die laat hom in die steek.
Hy’s toevallig in u wind se pad.
Wat ’n goddelike bestier
na my manier.

Oor die model-aartsvader Jakob met sy 12 seuns spreek hy die God van Jakob in die gelyknamige gedig soos volg aan oor al sy geboekstaafde ongerymdhede (1989:96):

U het toegelaat
dat hy sy broer bedrieg
vir sy pa lieg
laban verneuk

na al die kwaad en verraad
– mag hy hom skaam –
het U hom met ’n heupbreuk
genees en hom met ’n nuwe naam
vereer en aartsvaderlik gesier

U handel met prostitute tollenaars bandiete
– U wil geskied –
en hanteer op ’n vreemde manier
u rare meriete.

Cloete is dié digter met dié fyn oog vir die vrou. Naas sy Anna-gedigte is daar sy Marilyn Monroe-gedigte, wat as’t ware ’n kultuur van Monroe-gedigte in Afrikaans geaktiveer het. In “mooi marilyn monroe foto in rooi”(1986:52) beskryf hy selfs dié seks-ikoon as ’n kunswerk van die Skepper. Nadat hy die seksuitbuiting wat deur dié foto weerspieël word, aan die lig bring, sluit die gedig soos volg af:

’n fenomeen
liefderyk
deur ’n lenige Volmaakte Vinger gestryk
skrander van skedel tot skeen.

Cloete besing egter nie slegs die volmaakte uiterlike van dié seks-ikoon nie. In nog ’n Marilyn Monroe-gedig in sy eerste bundel (1980:22),skryf hy na aanleiding van ’n reklamefoto met die titel “Marilyn Monroe foto in blou”oor die onmenslike tragedie van haar uitbuiting as vroulike skoonheid. Monroe self (Monroe 1983:34) het by geleentheid gesê: “People had a habit of looking at me as if I were some kind of mirror instead of a person. They didn’t see me, they saw their own lewd thoughts, then they white-masked themselves by calling me the lewd one.” Die volgende reëls uit Cloete se gedig weerspieël iets van hierdie dubbelsinnigheid oor Monroe se skoonheid:

dikskaamtelik skrylings sit Marilyn Monroe
in ’n volstrek
leë blou
ruim vertrek

die spanbroek van plooilose blou materiaal
is ’n vliesdun vel
wat alles wat binne is kaal
na buite egalig sag gestrek nerveus vertel
.....
deur die volstrekte stilte heen hoor groot
praat die deurgefluisterde skoot
oop en bloot
nakont vlesig groot.

Die “vroulike skoot” wat tradisioneel geassosieer is met moederskap, en by implikasie beskerming en behoudendheid, is hier oopgesper vir ’n publieke vraatsige oog, die vroulike skaamte dierlik ten toon gestel. Hartverskeurend lui dit in die slotstrofes van die gedig: “deur die volstrekte stilte heen hoor groot/ praat die deurgefluisterde skoot//... dat dit tuit dat dit tuit/ uitjubelend gierig uitnodigend uit. Die ironieë in hierdie versreëls skreeu ten hemele. Die gedig eindig onthullend soos volg:

oog en oor laat hulle nie bedrieg nie
huid en haar weet nie van lieg nie.

As die leser hiermee dink datCloete met die skryf van dié Monroe-gedigte immers nog in sy sestigerjare was met groter kans op byderwetse betrokkenheid, is dit die moeite werd om kennis te neem van sy omvattende bundel, Heilige nuuskierigheid,wat in 2007 verskyn het. Op dié stadium het Cloete reeds die tagtigs verbygesteek. In hierdie bundel is ’n afdeling onder die opskrif “Hulle wat kan skryf, teken en skilder”.Dit gaan hier om die eietydse kind se sogenaamde “Multiverse” via die elektroniese media wat kleingeld en karikature maak van verwikkelde wetenskaplike “persepsies”. In ’n gedig na aanleiding van Johnny Bravo en Kie(2007:41) lui die slot soos volg:

Johnny met die tongvisprofiel vermag
alles met sy linkse knoopgaatjiesmond lag
hy sonder lippe alle krag uit alle swaartekrag.

Kan ’n mens ’n meer onthullende perspektief kry op die magsarrogansie van ’n eietydse elektronika-bemagtigde opkomende geslag? Cloete leef, na my wete, intiem saam met sy nageslag en hulle leefwêrelde – dit geld ook die huidige wetenskapsbevolking en -denkers. Met die genoemde voorbeelde het ons nog nie begín om die digter se spore te probeer volg na aanleiding van sy volgehoue eietydse sosiale en wetenskaplike betrokkenheid en verkennings nie.

Die digter en sy ars poetica

In die lig daarvan dat Cloete in die eerste plek akademikus was, is dit die moeite werd om in ’n bekendstelling te begin met sy siening (eintlik gaan dit om sy insigte) van gedigte skryf. Sy eerste digbundel is eers op 56 jaar gepubliseer nadat hy reeds geruime tyd hoogleraar was, en slegs danksy die aandrang van sy vrou Anna. Verskeie van Cloete se oudstudente is gerekende hoogleraars aan universiteite. Ter viering van sy tagtigste jaar is ’n huldigingsbundel gepubliseer, saamgestel deur mededigters, van wie sommige ook oudstudente is.

Enersyds is gedigte skryf vir Cloete iets soos ’n heilige betrokkenheid met tydlose waardes en betekenis. In een van die ars poetica-gedigte(1989:127) skryf hy oor die “harde duur” van die digterlike taalinstrument:

en wat verbeel die kletser
van verse hom van die taal se harde duur
wéét hy van die groewe wat geskuur
is in die woestynrotsbank deur ’n gletser.

Andersyds is hy dus ook intens bewus van die weerloosheid van die gedig én sy maker. In die gedig “dons” (2007:116) skryf hy byvoorbeeld:

my gedig
jy is nastergal

’n dowwe vermoedelike insig
naby effe inloer
onthuts raak en ontroer

’n uitroep in dons ’n fraktaal
sonder gewig
’n geruislose sagte uilveer
nouliks iets meer

van duskant ’n geringe
skeel waarneming
van die verstommende verstaan
en herken en erkenning
van die onverkenbare bestaan.

Hy skryf eweneens gedigte oor die blootgesteldheid van die digter self aan diegene wat hom na willekeur kan lees. In die gedig “snuffelaars” (2007:111) skryf hy met sy kenmerkende vonkel in die oog:

digters is vir hulleself onverstaanbaar
en vreemd party is skaars
minder as die engele met iets onpeilbaars
in die oog soos eugène marais met ’n neus
soos leipoldt wat blare kneus
oor ’n baie ver afstand
amper asof met ’n olifantslurphand

maar soos gewone mense en ander sondaars
het digters elkeen ook ’n aars
vol naïewe stank en luise onweerstaanbaar

vir snuffelaars.

Gesprek met ander kunstenaars

In die lig van Cloete se verstaan en bewondering vir die menslike skeppende vermoë is dit nie vreemd dat hy soveel in gesprek verkeer met ander kunstenaars van uiteenlopende aard nie – mededigters, komponiste, skilders en ook natuurlike digters soos kinders (“Boesmanlandbure”,1992:37) en natuurmense soos die San wat hy in ’n gedig “dagbreekmense”(2007:19) noem. In die gedig “Kunstenaars” (1985:133) lui dit byvoorbeeld:

Party is toegelaat om dieper
af te luister, dieper te kyk en te sien,
dieper te tas, Sophokles die Griek,
Job die Jood en Dawid in ’n klein uithoekie
van ’n afgeleë streek, Dante wat slegs drie
vlakke van ’n oneindige aantal verdiepings
mog loop, Michelangelo, Rembrandt, ander genieë,
Milton; in ’n roman, in ’n gedig, ’n tragedie
of klug – Hy lag nie openbarend hardop nie –.
Fragmentaries in keramiekskerwe tref ons Hom hier
en daar, in ’n haikoe, in ’n vers, ’n sonate of lied,
groter en kleiner beelde, stukkies fresko, stukkie
vir stukkie, in ’n mosaïek; meestal glad nie.

Elke kunswerk is dus vir hom klein verkennings van ’n omvattende Goddelike kunswerk. Die kunstenaar is dié een met die verfynde sintuig wat iets waarneem van die ragfyn samestelling hiervan.

Vir Cloete is “gedigte soos voëls, hulle migreer oor die grense van mense heen asof daardie grense nie bestaan nie” (Beeld, 12 Junie 2010, bl 2). Na aanleiding van sy vergelykende gedigte van digters uit verskillende tydperke naas mekaar in die bundel onversadig (2011:63-71) skryf hy verder in dié verband (Beeld, 12 Junie 2010, bl 1): “Ek lees graag ou literatuur, nie net van die Grieke en Romeine nie, maar ook van die ou Egiptenare en Mongole, poësie van die Germane en ou Italianers, die Joodse Psalms. Ons lees steeds die Grieke se mites sonder dat ons in hulle gode glo. Dit kan ook geld vir die Egiptiese gedigte en die Psalms. Ps 104 en 139 sal in enige taal en tyd manjifieke gedigte bly. Ek lees hierdie ou gedigte om te probeer vasstel waarom hulle standhoudend is, al behoort hulle nie tot die populêre leesstof van vandag nie en al kom hulle uit gans verskillende tye, lande en volke.
Ek weet hoe voel en dink die mense van my tyd, maar hoe het hulle toentertyd gevoel en gedink?”

Hy plaas drie ou gedigte naas mekaar: die Egiptiese farao Achnaton (1375-1358) se “Himne aan die son” (Aton, wat deel is van Achnaton se naam, is die songod); uit ’n later tyd die Joodse Psalm 104 (daarmee saam Ps 19; Dawid het geleef van 1010-970 vC); en uit ’n baie later tyd die Italianer Sint Franciscus se “Canticle of the Sun”. Hulle is eeue uit mekaar, maar selfs in Engelse vertalings is die ooreenkomste woordeliks herkenbaar. Cloete kom tot die gevolgtrekking: “Dalk het Dawid van Achnaton gesteel en Franciscus van Dawid.” Hy haal TS Eliot aan wat gesê het: “Immature poets imitate, mature poets steal.” Cloete vervolg: “Digters steel soos diewe net kosbare goed ... Ons wil so graag aktueel, eietyds wees, ons wil so graag vernuwe, nuwe gedigte skryf, ’n eie stempel afdruk. Tog wys hierdie ou werke vir ons dat goeie en groot literatuur nuwe wysies op ou deuntjies is, net in ’n ander gedaante vir dieselfde standhoudende wondere van die skepping.”

In die bundel Heilige nuuskierigheid (2007) dig hy soos volg oor sy “taalrugsak” in die gedig “astronout” (126, 129):

digters uit ’n ver ou tyd het my saamgeneem
en uitgebring by die anders onbereikbare
en my hulle deel- en tydgenoot gemaak
ek het my verwonder aan die Mongole
wat wreedheid sag kon maak met verse

ek het deur ’n Griek se lieflike hand
deel geword van ’n volle lewe
binne die lewe op Achilles se skild.
...

ek het Achnaton hoor sing van die son ...

In die lig hiervan is dit betekenisvol dat Cloete al 150 Hebreeuse Psalms in Afrikaans in ’n nuwe sleutel kon omdig. Dit beteken dat dit nie sonder meer vertalings van die oorspronklike is nie, maar herdigtings.

Die skeppende krag agter die digter

Dit is opvallend dat daar in elkeen van Cloete se bundels gedigte aan en oor sy vrou, Anna, verskyn. In die huldigingsbundel Uit die wit lig van my land gesny, wat in 2011 verskyn het, dui hy veelseggend die betekenis van haar naam soos volg aan: “die naam Anna kan afkomstig wees van Grieks wat ’genade’ beteken of van die Sanskrit ana wat ’moeder’ beteken. Dit is ook een van die name van die sg Universele Moeder, Anna Perenna.” Die veelseggende stofomslag van die bundel onversadig sluit hierby aan. Cloete haal uit Dante se Goddelike Komedie dié versreël aan as opskrif van ’n reeks gedigte wat hy geskryf het tydens sy vrou se laaste dae, asook na haar dood: “Die liefde wat die son beweeg en die ander sterre”. Die vrou is vir hom, soos vir Dante, as’t ware die hart van die skepping. Die spore van hierdie simboliserings van sy vrou as die Oermoeder wat met en deur haar liefde sterre en planete in hulle bane inspireer, loop vir die ondersoekende oog dwarsdeur Cloete se bundels. Die aanhaling uit Dante se Goddelike Komedie hang saam met Dante se gelyksoortige verering van die vrou in die figuur van sy vroulike muse Beatrice, as kroon van die skepping. Dit is die vrou wat hom begelei na die hemelse sfere en nie sy digterlike begeleier Vergilius nie, wat hom wel deur die Inferno en Purgatorio begelei het. Cloete skryf in dié verband in Uit die wit lig van my land gesny (2010:13): “Vroue het nog altyd ’n belangrike motiverende of aktiverende plek ingeneem in die werk en lewe van kunstenaars ... So ’n aktualiserende funksie het Anna ook in my werk vervul. Sy was ’n merkwaardige, stil vrou maar met ’n haas ondefinieerbare digterlike meelewing. Dit is sy wat my aanvanklik wysgemaak het dat my gedigte nie verbygaande jeugdige verse is nie. Sy het vir my digbundels en musiek by die vleet aangedra, my gedigte en dié van ander digters vir my voorgelees (sy kon baie kreatief voorlees) en sy het deur haar voordrag vir myself ’n nuwe timbre gegee aan my gedigte en aan ander digters s’n ... Sy was die digter in my sonder dat sy self ooit ’n enkele vers geskryf het. Ek het by wyse van spreke gedigte geskryf wat in haar was, sonder dat sy selfs ’n woord gesê het. Veral na haar dood het ek begryp hoe sy ’n lewe lank die bestendige digterlike aanwesigheid in my was. Eerder: sy is dit vandag nog steeds na haar dood.”

Ek sou uitsluitlik op Cloete se aangrypende Anna-gedigte kon fokus. Die feit dat sy, soos hy, geteister is met uitmergelende gesondheidsprobleme, het hulle liefdesverbintenis eerder verinnig as bedreig. Hiervan getuig onder andere die volgende kort gedig, “vrou”(1998:16):

as ek troos op haar liggaam vryf
het sy nog steeds die lyf
sag soos appelvlees behou

sy is nog steeds 70 maal steeds vrou
aan die ruwe geplooide binnekant
van my ou hand.

Dit is feitlik onmoontlik om ’n keuse te maak uit die gedigte wat hy geskryf het terwyl sy reeds sterwend was en wat hy nog aan haar voorgelees het. Een van dié aangrypendes, met die opskrif “rokke”, lui soos volg (2007:92):

juwele dié onthou ek eintlik nie
van hoede toentertyd met tulle
onthou ek vaag maar rokke
so baie helderte het ek van húlle

daar was die houtskoolrok
met loodgrys kolle Tarentaal
die een met troupantkleure
haar naam was Fluister-Asemhaal-

van-Blomme as jy loop
of hier en daar selfs in ’n stoel
doodstil rondsit
die bloue was My-Hartklop-Voel

Onder-My-Bors
die swart-en-wit gestreepte een Sebra
vir meestal saans
met uitgaan dra

en dan die Pronksingvink
die een met swart-en-geel
sy hang ’n graspluim in die wind
wat oor haar saggies streel

daar was die nuwerwetse een
met ingeweefde kreuk
hoe mens haar ook al was of stryk
met byna vleeslik haar eksoties Vreemde Reuk

een was ’n hele Ruim Landskap
die lemmetjiegroene
vol grasveld water sonne geel
lemoene

en toe jy kwalik was en skuifelend
het ons ’n nuwe wéér gekoop
en lieg-lieg-lag-lag het ons haar
Stilstreel-Saggies-Soen gedoop

en dan was daar ’n allerlaaste een
ontwerp deur hartseerliefde nee
so menslik op ons afgedwing
te onvertaalbaar nee
om haar ’n naam te gee.

Hulle vyf kinders (drie seuns en twee dogters) speel gesamentlik, én elkeen uit eie reg, ’n sleutelrol in hulle verbintenis. In die gedig “Substansiëring”(1982:62) besing hy hulle soos volg:

ek het my jubelend bly
in my seuns en dogters uitgedeel
ek het my in ’n droom uit my
in hulle ingespeel.

Hulle is sy “siek en sy gesond”, “sy bly”, maar “dis (ook) hulle wat (sy) seer kry”; “in hulle afwesigheid/ is (hy) hulle bereid// in pyn en vreugde”, maar “vlug met liefde liefs in hulle terug”; “hulle hou (hom) as (hy) sou sterf/ “meermalig uit uit die verderf”. Die gedig eindig met die strofe:

my seun my dogter my kind my kind
bewaar en beskerm
my diep inverbind
in julle sag kwesbare vlees ferm.

Dit is egter uiteindelik die man-vrou-grondverbintenis wat die fondament bly. Dit spreek uit die volgende gedig uit Angelliera (1980:42):

Beatus en Beata                                          

Al die wonderlike het gevlug
uit die huis uit. Kinders wat grootgeword het
keer nooit weer werklik terug.
Saans maak ons vensters en deure dig
sonder dat ons iets het om te beskerm
of te bewaar en soggens maak ons sonder uitsig
oop. Wat lig en snel is pols en donderweer
word traag en log standhoudend
in miljarde eone verkleineer.

Vir Cloete het die volgende bevinding van die neuroloog Ramachandran (1999) bevestiging gegee van sy “ervaring dat sy vrou Anna in hom ingelyf is en hy in haar”: “Your own body is a phantom. If you are deeply in love with someone, is it possible that you have actually become part of that person? Perhaps your souls – and not merely your bodies – have become intertwined.” Hiervan lewer die gedig “roetes op soek na jou” (2010:104), wat Cloete na sy vrou se dood geskryf het, getuienis:

sedert die jaar 2007 op 2 Mei
het sy my ontval
my duifie sonder gal.
sy het in ’n ondeurdringbare wakkerland gaan bly.
soms het ek die ou roetes daarna
verdwaas uit die dorp uit oor en oor gery
en asof dit ’n uitkoms inhou in my wanhoop
na orpheus gaan soek, hom gevra
(hoe futiel om haar te gaan soek met my honda
model 2006): as jy met jou wakkerlandvisum haar raakloop
iewers agter die bar Noordweshemel se horison, dalk, stryk
dan aan, roep haar dromend na my toe terug,
maar bedwing jou, sonder om om te kyk
of sy aankom in die bedrieglike onsigbaarheid agter jou rug.

Kosmiese bewussyn

Daar is nie baie digters wat die verskeidenheid en omvang van Cloete se digterlike verkennings ewenaar nie. Vanaf sy eerste bundel met die titel Angelliera (1980) tot met die onlangs-gepubliseerde negende enkel bundel, onversadig (2011), is daar gedigte van sowel die mees persoonlike inhoud tot die mees wetenskaplik gefundeerde temas uit verskillende vakgebiede te vind. Hierbenewens ondersoek hy met ’n skerp en ontledende oog die aktueelste sake van die dag, sowel as ’n tydsgees. Twee van die veelseggendste gedigte in dié verband is “tsv” (1998:37) en “Shifting identity”(1998:43) in Uit die hoek van my oog. Hy kyk met humor en ironie na die menslike spesie van jonk tot oud, maar ewe onthullend na ’n Goddelike alombestier vanuit sy perspektief, sowel as die ironieë van die Bybelse kanon, soos byvoorbeeld Dawid, die verlore seun, Job, Jesaja, Jeremia, Hiskia. Sportsterre en akrobate van allerlei aard is net sowel voorwerp vir digterlike ontleding as gehawendes en verminktes soos hy self. Dit is veelseggend dat hy, in sy eie liggaamlike gebrokenheid, so liries kan skryf oor die kuns en wonder van die menslike liggaam se beweeglikheid. Hy is nie slegs ’n natuurgenieter (om nie te sê verslaafde) nie, maar ook ’n fyn feitelike ontleder van die miljarde natuurverskynsels. Dit raak van die kleinste, onsigbare partikels, soos byvoorbeeld in die gedig “osmesis” (1998:78), wat eindig met die reëls:

my wysneus oriënteer my soos ’n dier
blind deur die geurkaarte: dolomiet
en rivier,
die osmium neutrinos en molekules
se cocktail parfume.

Daarnaas is sy gedigte oor eietydse stede, soos “hongkong” (1998:63) en “sjanghai” (1998:65), net so ondersoekend soos dié oor afgeleë sand- en yswoestyne. Twee vroeë gedigte wat iets laat blyk van Cloete se belewenis van sy plek binne ’n onoorsigtelike ruimte, is “Hemelse wandeling” (1982:46) en “Sweef” (1982:47):
           
ek lê op my rug
in die nag en kyk stadig
téén die rasende stralende reis van die lig
in miljoene jare in die oerverlede terug

na waar die spiraal van die nautilus
en van die alikruikel, die pou
se stert en die rolvarkie toegevou
in sy eie sirkel galakties nagedoen is

* * *
snags as van die aarde af uit my oog rondom
in die hemel in stengels lig waaierend uitstrek
tot die sterre aan hulle punte toe sit ek
in die saadkern van 'n onmeetlike disselblom.

In die bundel met die veelseggende titel Heilige nuuskierigheid (2007), ’n uitdrukking oorgeneem van Einstein, beken hierdie ruimtereisiger aan die einde van die gedig “voorvereiste”(2007:104) ten slotte:

as ek met my geboorte reeds kon begin praat
ek sal as ek roggelend ophou asemhaal
my ophou vergaap              was dit reeds te laat
toe my eerste keuwel opdaag was my taal
al te ver terug in my keel om die agterstand in te haal ...

In sy jongste bundel, onversadig, kom hy in die gedig “verslag van die ruimtetoeris uit die Kraanvoël” (2011:96) na aanleiding van ’n verkenning van ons aarde via die internet tot die gevolgtrekking:

wat meer moet ek rapporteer
as dat ons indrukwekkend
bo ons aardsheid kan uitstyg
terwyl ek reis van oos na wes
om voor te bly voor die ongehinderde nag
my inhaal.

Vir dié digter is die elektronika by uitnemendheid ’n voertuig vir die “ruimtereisiger van die tuisbly”, soos hy homself tipeer in die gedig “astronout”(2007:126).

Die natuur as gedig

Soos die ruimte vir Cloete onmeetbare verwondering inhou, is hy ewe tuis as digter-ontdekker-navorser op die aarde. Sy gedigte oor plant- en dierelewe sowel as die aardkors met sy wonderbare strukture is vir hom ewe vrugbare ontdekkingsvelde waar gedigte as’t ware ingebou bestaan. Geen wonder nie, dus, dat hy in die gedig “God die digter” (1989:49) met ’n verwysing na Neruda se “Chili is deur ’n digter gemaak” skryf:

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ’n digter gemaak.

Of hy ’n gedig maak oor die “krapspinnekop (misumena vati)” (1998:29), of oor ’n “dooie mossel” (1992:65), ’n “seeperdjie” (2007:24), of ’n “miskruier” (2007:27), ’n “pelikaan wat bad in sonlig” (2007:37) of “Insekte” (1989:105), elkeen van hierdie uiteenlopende spesies ís vir Cloete ’n gedig.

Wie so tot in die been kan skryf oor die vreugde oor reën, soos in die gedig “vir die nederiges” (1998:75), het daarin opreg ’n hemelse geskenk ontdek:

die melkerige opgegaarde
vog wat sonder wolk oor die aarde
oral dig hang, daardie reën is gemaak
vir die reeds blaarlose doringbome om swart te blom,
die bulte van die hoëveld kan daarin stadig wegraak
en dit laat die lang ryp rooigras aarde toe krom,

daardie reën is vir die nederiges gemaak
om in te gaan loop, deurnat en naak,
deurweek tot in die diepste murg en been
van die Maker van reën.

Dit is geen wonder nie dat Cloete homself op dié stadium van sy brose lewe ook verpersoonlik sien in die miniatuur, “bonsai”(2011:188):

ek staan klein maar droom

nog verpot ingewortel en geboom
in een klein plek
in ’n handvol vlak
stukkie aarde in ’n bros keramiekbak
bonsai ek.

Sosiale kommentaar

’n Mens sou kon vermoed dat ’n kunstenaar wat hom so kan verdiep in sowel die aardse as die hemelse wondere, hom nie sal bemoei met die klein en groot alledaagse kleinlikhede en hebbelikhede van sy medemense en tyd nie. Ook wat hierdie terreine betref, is Cloete egter die oog wat agter die skyn en venyn sy “taallaser”vibreer om skadu’s en verknoeiings sigbaar te maak. Sy mensportrette is lewendes. Die gedig oor die Bybelse “Petrus” (1992:36) lui byvoorbeeld soos volg:

Soos dit mens betaam
het die ander hulle gedra.
Hulle was beskeie en skaam,
Petrus was voor op die wa
en baie naby aan Hom.
Van hom was daar ’n helder identikit.
So het dit dan uiteindelik gekom
dat hy in vernederende verdriet
beland het. Met hanekraai
is hy voor ’n diensmeisie verraai
deur sy dialek.
Die Here het hom beteuterd en petiet
gemaak. Hy ontaard elke ek,
elke Grote Piet.

As in aanmerking geneem word wat die verlies aan menslewens was sedert die instelling en steeds groter wordende bedryf en mag van die “maxi taxi” in Suid-Afrika, is die ontmaskerende gedig “die taxi” (1998:25) ’n voorbeeld van Cloete se betrokke en ontledende kyk na sy alledaagse omgewing:

die taxi die nuwe sonbesie
loei van die kaap tot die sambesi
oud en jonk al wat lewe
in die dood in via die n1 en n7

koeëlgate sit in die escape van die dier
koeëls in die skedel van die passasier

die uniegebou vol vredesverdrae
en -stilstande
word tot die gewapende tande
gesluit. die no-go-routes word veldslae

die taxi se spaarbussie van geweld
klink om elke draai van sy lading geld

hy kreun van sy tarra bloed deur die land
en maak so ver hy loop voorspoedig van kant

die magtige taxi
van hierdie of daardie faksie

die taxi die nuwe spesie
van ons verenigde vasteland

van die kaap tot die sambesi
loei die magtige maxi
taxi.

Die satiriese gedig “klinies-dooie getuig”(1998:8) is hiernaas ’n voorbeeld van sy veelkantige perspektief op eietydse sosiale retoriek:

“ek was dood, met die roos
was ek in die tuin van die hemel.
daar was engele wat bloos.”

“… dus was die kleur van hulle vel …?”

“dis iets vir die hel …
die hemel is kleurloos.”

Lyding

Dit is in die ver-beelding van lyding dat die ware kunstenaar, waarskynlik vanweë die persoonlike aard daarvan, die meeste blootgestel is. Cloete is nie slegs by uitnemendheid “slagoffer” van die mees uitmergelende lyding vanweë sy eie sowel as sy vrou se fisiese rampe nie. Ook in dié verband is hy die emosionele seismograaf wat die ewe kwesbare taalliggaam met ontsag laat registreer. Hoe universeel hy lyding ervaar, blyk uit die onvergeetlike gedig “Breek”(1989:164):

Uit die gebreekte kan ’n vreemde volmaakter belewe
kom: die valk met die vlerk wat skeef wegstaan
weet pynlik meer van valkwees as die een wat sweef.

Die bene wat so soepel loop en onbewustelik gaan
weet minder van loop as die slepende grassiebeen
van die kind of die kiewiet of die sprinkaan.

Die volmaakte is kenbaar uit die onvolmaakte alleen.

Hierteenoor staan die intens persoonlike gedig “stilhuil” (2011:23) wat verskyn in die bundel na sy vrou se dood:

stilhuil knyp die gapermosseloë tóé, knyp
vuur by die stram spleet van die ooglede uit. stilhuil ruk
’n droë wurg af deur die kramp van jou sluk
af in jou strot. die huid huil gloeiend in stilhuil. dit gryp

jou onder die gesakte ken aan die keel.
dit swel die lippe tot ’n bloederige dik
roes. dit kyk die bome, die telegraafpale skeel.
stilhuil suig ’n brandende droë snik

binnetoe, dit laat die ooghare
soos die nat rooigras van die bulte in die reën swaar
grond toe hang, voel die toevou van ’n donker hand
se palm en vingers om die son se brand.

in stilhuil huil die hele liggaam
bloederig saamgetrek in die neuspunt

stilhuil laat in die boom van jou are
deur jou lyf ragfyn strak
staande ’n gloeiende gestolde weerlig vertak.

Vergelykbaar is ook die volgende versreëls uit “kool” (1985:127) met sy jukstaponering van alternatiewelik die kwesbaarheid en kosbaarheid van lewe:

net hulle wat nét-nét
uit die kluite geviervoet het
wat net genoeg versetlike krag
kon monster om te genees
weet om bewoë bly te wees
en hoe om te lag.

’n Oopgelate slotsom

Dit is ’n uitdaging om binne beperkte bestek reg te laat geskied aan die profiel van ’n digter wat jou op 86 met dié kredo (2011:163) konfronteer:

aan die maak van baie gedigte
om die steeds uitdyende onvoltooidheid
van die steeds groeiende onversadigde Gedig
in te haal kom daar geen einde nie.

Die oogmerk van ’n opsommende profiel van so ’n digter is om die léser “onversadig” te laat en te motiveer tot die besluit: van so ’n digter wil en behoort ek meer te wete te kom!

Ter afsluiting is die laaste gedig in die bundel “onversadig (die begeerlike mens” (2011:191)’n inspirasie vir die lewensjare wat op elkeen wag, ongeag ouderdom ... mits met Cloete-oë gelééf kan word:

om my herinneringe op te teken sat
van foute het my bitter lank gevat
in fiaskowoorde wat swig
onder hulle besoedelde gewig

met gevou en gepas het ek gesoek
in ’n verskietende lang moeisame verlede
waar ek inpas en langsaam het ek tuisgekom
in die deursigtige opvoutent van my ouderdom

’n fragiele begeerlike plek wat ruik na vrede
en na vars nat nageboorte en moederkoek.

Geraadpleegde bronne

Cloete, TT. 1980. Angelliera. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers
—. 1982. Jukstaposisie. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers
—. 1985. Allotroop. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers
—. 1986. Idiolek. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers
—. 1989. Driepas. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers
—. 1992. Met die aarde praat. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers
—. 1998. Uit die hoek van my oog. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers
—. 2007. Heilige nuuskierigheid. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers
—. 2010. Uit die wit lig van my land gesny. Plettenbergbaai: Pooka
—. 2011. onversadig. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers
—. 2010. “Aarde tóé al besing”. Boekmerk, Beeld, 12 Junie.

De Lange, Johann. 2010. God se ars poetica.
http://johanndelange.blogspot.com/2010/04/god-se-ars-poetica.html. (Augustus 2011 geraadpleeg)
Hambidge, Joan. 2011. Die bundel-n-ware-Babettes-feast
http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus? (14 Maart 2011 geraadpleeg)
Monroe, Marilyn. Roger D Taylor (samesteller). 1983. Marilyn on Marilyn. Londen: Allan
Ramachandran, VS en Sandra Blakeslee. (1998) 1999. Phantoms in the brain. Londen: Fourth Estate
Robinson, Rensia. 1997. On God and boundaries. TT Cloete’s Tristetrahedronis as a model of expanding boundaries. Scriptura, 63:491-507
Robinson, Rensia. 2004. Die laserfunksie van taal: openbaring of verhulling. ’n Teoretiese oriëntering. Scriptura, 85:54-72
Vakgroep Afrikaans en Nederlands. 2004. TT Cloete 80. Gedigte vir ’n Digter. Potchefstroom: Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit

 In die volgende twee artikels is onder andere aandag gegee aan teoretiese kwessies in verband met Cloete se skryf van gedigte:

Robinson, Rensia. 1997. On God and boundaries. TT Cloete’s Tristetrahedronis as a model of expanding boundaries. Scriptura, 63:491-507
Robinson, Rensia. 2004. Die laserfunksie van taal: openbaring of verhulling. ’n Teoretiese  oriëntering. Scriptura, 85:54-72 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top