Op soek na “Hoe vind ’n leser die hart van ’n gedig”? het ek van TT Cloete te hore gekom – op daardie stadium dosent in die Departement Afrikaans-Nederlands aan die destyds pasgestigte Universiteit van Port Elizabeth (nou NMMU).Ek was bevoorreg om ’n tydelike deeltydse pos in sy departement te kry, toegerus met ’n Stellenbosse honneursgraad in Afrikaans-Nederlands. Dit het vir my skielik die moontlikheid geopen om dalk by hierdie, toe reeds bekende, literêr geskoolde akademikus verder kers op te steek oor die oënskynlik geheime sleutel tot ontsluiting van elke moontlike gedig. Met sy toestemming het ek, waar moontlik, sy lesings saam met studente bygewoon. Hier is vir my uit die staanspoor nuwe perspektiewe geopen, te danke aan geleidelike beter insig in die gedig as taalkunswerk.
Met die verskyning van Cloete se eerste digbundel, Angelliera (1980), het 'n vriendin dit onder my aandag gebring met die voorspelling: “Dit is nou jou soort poësie!” Na my eerste lees van die bundel het ek ervaar: hier is vir my 'n uitdaging! In watter mate kon ek baat vind by dié digwerk teen die agtergrond van dié nuwe mentor-digter? Sal ek sinvol op elke gedig en die bundel in sy geheel kan reageer? Ek moet erken: ek was diep bewus daarvan dat ek nog in vele opsigte beperkte insigte het. Die vraag vir my was: Durf ek al regtig die bundel met begrip toe-eien as “my soort leesplesier”, soos gesuggereer is? Dit het my inteendeel onder die besef gebring dat ek nog veel te leer het van die werklike verwikkeldheid van digterlike denke wat taal as kunswerk lees/hoor. Dit was die laaste strooi om myself sonder meer te laat inskryf as MA-student by dié literator-digter – ’n ideaal wat toe reeds ongeveer sewe jaar gewag het op moontlike verwesenliking. Watter geskikter stimulering tot insig in digterlike taal kon ek verlang as deur dié akademikus-digter?
Dié jare was ’n tyd van opwinding en nuwe energie in die Afrikaanse digkuns, die sogenaamde “sestiger-vernuwing”. Daar is dus genoeg nuwe horisonne vir my oopgemaak om, ten spyte van die verantwoordelikhede van 'n gesin en 'n destyds volledig betrokke predikantsvrou rol, in te skryf as magisterstudent onder leiding van TT Cloete. My onderwerp, uitdagend: “Aspekte van die poësievernuwing na 1950”. Hierdie spesifieke onderwerp het aan my die geleentheid gebied om na hartelus te kon delf in die kreatiwiteit en ruimte van Cloete se digterlike denke. Wat my, naas sy deurlopende insigte en betrokkenheid by my verkenning, bykomend op my tone gehou het, was in die eerste plek sy kritiese bevraagtekening van waaglopies. So het dit gebeur dat 'n hele hoofstuk van die skripsie – die langste (en waarskynlik mees eksperimentele) deel daarvan, deur my studieleier “afgeskryf” is. My moed was in my skoene. My studieleier was op daardie stadium op pad terug na die Departement Afrikaans Nederlands aan die PUK. Dit het onwaarskynlik gelyk dat daar hoop was op 'n uitkoms en ek het probeer vrede maak daarmee dat my kontak met dié inspirerende dosent daarmee heen is en vanselfsprekend, volgens my insig, die vooruitsig op die graad.
Wat was my verbasing oorweldigend toe ek na ’n spanningsvolle stilte onverwags 'n oproep ontvang van my oënskynlik gewese studieleier. Hy stel my in kennis dat hy Port Elizabeth toe kom en wil met my ook 'n afspraak maak in verband met my intussen (na my mening) “afgeskryfde” skripsie.
Ek is jammer dat ek nie aangeteken het hoe lank die gesprek geduur het nie. Dit het minstens 'n hele oggend in beslag geneem. Terwyl hy my die geleentheid gebied het om stap vir stap aan te dui hoe ek my uitgangspunte verstaan en beredeneer het, is dit van sy kant belangstellend opnuut oorweeg en beoordeel. Ek was oorweldig deur die openheid waarmee hy met my in gesprek getree het. Elke aspek van my beredenering is onder die vergrootglas geplaas. Daar is nie summier afgeskryf nie. Deur elke motivering te bevraagteken, het hy my insig verdiep. Die verstommende resultaat vir my was dat die hoofstuk hierna onvoorwaardelik goedgekeur is – vir my een van vele hoogtepunte in my Cloete-gesprekvoerings oor die intriges van digterlike taal.
Na die toekenning van die graad was dit opnuut duidelik dat hier vir my wêrelde geopen is waarvan ek van die omvang slegs méér intens bewus gemaak is. Ek was nie by ’n eindpunt nie, slegs by die eerste stappie op die rand van moontlikhede wat roep om navorsing en bowenal ontdekking. Hier was ’n persoon wat nuuskierigheid kon aktiveer sonder om jou voor die voete te loop. Sy latere selfbenoemde “heilige nuuskierigheid” het sy leerling sterre laat sien.
My volgende uitdaging was om op ’n manier rekenskap te probeer gee van die winste van dié wêrelde wat vir my geopen is. Teen dié tyd het Cloete se tweede bundel, Jukstaposisie (1982), verskyn. Toenemend kon ek ervaar dat die lees van ’n gedig nie eenmalig is nie. Dit is ’n reeks mee-lééf-gebeure. ’n Letterkundekongres te Potchefstroom het gewink as die vuurproef vir my entoesiasme. My keuse was ’n gedig uit Jukstaposisie,te wete “Van Hom en My”, ’n gedig wat blywend sentraal in my denke figureer. Dit is ook ’n gedig wat op talle maniere in die Cloete-oeuvre met die oorweldigende kosmiese perspektiewe opgeroep kan word. Naas my entoesiasme oor die wyse waarop die insigte wat via die digterlike denkwyse in my gevorm is, geaktiveer kon word, was daar die spanning om naas die digter-mentor ’n gleuf op die kongresprogram te deel.
Bo alle verwagting in is ek met die uitstap uit die lokaal begroet en omhels deur ’n byna bewoë mentor. Sy waardering vir my hantering van die betrokke gedig was vir my oorweldigend. Langs hom was die toe reeds geliefde (en destyds oënskynlik toegankliker) tannie Anna, wat ook haar bewondering vir die aanbieding verwoord het.
Wat was my toegang tot dié digterlike ruim waar elke ontdekking ’n venster oopmaak op nuwe moontlikhede? Naas die altyd prikkelende gesprekvoerings met TT Cloete was daar sy publikasieskat. ’n Vroeë sleutel publikasie vir my soekende denke wat steeds sentraal staan, is die slothoofstuk in die bundel Kaneel – Studies oor die poësie, prosa en die Kunsteorie (1970). Die opskrif in die inhoudsopgawe lui: “JH Leopold oor die dromende denke, ’n Literêr onproduktiewe tegoed?”. Dit was ’n versiende geskenk van Ina Gräbe, ’n nagraadse studietydgenoot in Port Elizabeth en tans afgetrede professor aan Unisa. Na aanleiding van my voortdurend stimulerende verkennings van die misterie van die digterlike denke en ten grondslag daarvan die wonder van taal, was dié artikel ’n digterlike lewensboek. Wat die digter hierin na verwys as “die asemhaling van die vers”, tipeer hy onder andere soos volg: “Die belangstelling vir die ontstaanswyse van die poësie is eintlik ’n belangstelling in die bestaande vers ... Om met Nijhoff te praat: dit is ’n belangstelling in die ‘asemhaling’ van die vers.” Naas die onuitputbare perspektiewe hierin het dit aan my verdere sleutels gebied ter ontsluiting van die misteries van die digterlike denke. Ek kon my, aan die hand van my “Cloete-dinkboek”, onder andere verlustig in die reeds gekoesterde Nederlandse digters Achterberg, Leopold en Nijhoff. As daar ’n wens is wat ek vir ’n hiernamaals kon koester, sou dit wees om moeiteloos al die digterlike juwele summier te kan na-sê – iets wat ek my kan voorstel reeds die geval is met TT Cloete.
Hoe dieper ek kon delf in en droom oor nou in die eerste plek Cloete-digter, hoe meer was ek onder die besef van hoe ek nouliks aanspraak kon maak daarop om ’n sogenaamde kenner van sy werk te wees! Niks het my egter verhoed om ’n Cloete-spoorsnyer te bly nie. Onder besef van die geselskap van Cloete-nalatenskap-akademici en -digters was dit vir my vervullend om selfs maar met my “vingeroefeninge” besig te bly. Soos ek bevoorreg was om van tyd tot tyd in gesprek te bly met TT Cloete, het my lewensmaat daarnaas die tyd benut om met Anna, Cloete se alter ego, in gesprek te verkeer – ’n geensins mindere bron van inspirasie nie. Daarnaas was ’n maaltyd, liplekker voorberei deur Ewwie, ‘n onlosmaaklike deel van so ’n “gebeurtenis”. Naas die gespreksjuwele was die Cloete-konteks so vol ‘gebeurtenis’ soos ’n navorsingsreis. Een van die sleutelverkennings was sy tuin met sprekende voëls en plante, onder die sorgende oog en hand van die ewe kreupele Johannes.
Dit het my vreugde geword om Cloete bundel na bundel veilig binne die skaduwee van ’n skare kenners aan leesgroepe bekend te stel. Tot my verbasing het die versoek destyds van “tannie Anna” gekom: “Stuur vir my ’n afskrif van elke bespreking.”
Toe ek ten einde laaste (na ‘n gesin van vyf kinders, soos die Cloete-gesin) kon herinskryf by TT Cloete as doktorale student, was ek bewus daarvan dat ’n uitsig op “hemel” net so inspirerend kan wees as “hemel” self. Die onmoontlike is vir my verwesenlik toe ek in April 1992 die doktorsgraad onder promotorskap van TT Cloete kon ontvang met ‘n proefskrif getitel “Poësieteks en Bybelse interteks”. Dit is opgedra aan ”my promotor, TT Cloete, wat ek graag oorgedra het in die vorm van “huldeblyk aan die akademikus met die vryheid van ’n kunstenaar en die geloofsoor wat die vakuums kan hoor sing”. Vir my was die kroon op my langgekoesterde drome dat die digter van die gedig “Van Hom en my” in die bundel Jukstaposisie my andermaal omhels het met die opmerking: “Rensia, jy lees my oop vir myself.”
Die veelkleurige band met TT Cloete en sy Anna het blywend verras en geïnspireer. As egpaar het ons met hom en sy Anna die rykdom van ’n lewenslange blywende liefdesverhouding wat uit skooldae dateer, gedeel. Ondanks sy onoortreflike belesenheid het hy tydens ‘n onlangse besoek aan die Kaap opnuut kennis geneem van elke publikasie wat ter sprake kom. Na die tyd is my man, Phil, versoek om vir hom die lys te stuur van boeke waaroor ons hier met hom gesels het. Naas sy altyd entoesiastiese bewondering van musiek, skilderye of ander kunswerke, was die gedeelde passie vir die tuin ’n belewenis. Die letterlike paar treë vanaf ons voordeur tot hekkie was telkens ’n eiesoortige verkenning, al was dit in sy rolstoel. ’n Hangende vetplant is bestempel as “vrouehare”. Hy was gaande oor ’n miniatuurgranaatjie in ‘n bonsaihouer. Die plantjie wat vir hom gekweek is en nie betyds afgelewer kon word nie, sal ’n ereplek behou.
Die nagelate Cloete-“biblioteek” verg ‘n leeftyd van navorsing en besinning. Vorige kennismaking met aspekte daarvan voed slegs die drang om as’t ware nuut te begin delf daarin. Dié onvermoeide ontdekkingsreisiger het immers ook in die gedig “fragmente van die onvolledige gedig” (Onversadig, 2011:159) beweer:
die volledige gedig
kan nooit geskryf word nie
...
Dié gedig eindig soos volg:
aan die maak van baie gedigte
om die steeds uitdyende onvoltooidheid
van die steeds groeiende onversadigde Gedig
in te haal kom daar geen einde nie.
Vir my is ’n onvergelykbare “groet” aan dié eietydse Dante ’n aanhaling van die Nederlandse digter JH Leopold. Dit lui: “(E)n dit is wit op wit en wit op wit.” Dit verskyn boaan die gedig “rou waterverfkomposisie 2007”(Onversadig,2011:151) wat geskryf is na sy vrou Anna, se afsterwe. Ek het dit twee jaar vantevore gekies as die slot van die Cloete-erelesing (2013) wat ek bevoorreg was om aan te bied. Dit gaan hiervolgens om ’n vergelyking van die Cloete-digter se perspektief op die aanbreek van dié “wit lig” waarna die Estoniese komponis Arvo Pärt ook verwys as “white light which contains all colours”.
Die volle ligspektrum wat hy kon visualiseer, het vir Theunis Cloete beskore geword. Cloete is nie dood nie ... die digter leef en laat leef.


