Literêre reus oorlede

  • 0

Die Afrikaanse Taalraad het met leedwese kennis geneem van die oorlye van prof TT Cloete, gevierde digter, skrywer, literator en oud-hoogleraar van die Potchefstroomse Universiteit vir CHO. Die Afrikaanse Taalraad bring hulde aan ’n literêre reus, hoogleraar, digter, literator, leermeester en briljante gees wat Afrikaans as taal en die Afrikaanse letterkunde oor ’n lang tydperk en tot op hoë ouderdom verryk het.

Sy hoë aansien word bevestig deur die talle toekennings en vererings wat hom te beurt geval het: Twee keer die hoogste literêre toekenning in Suid-Afrika, die Hertzogprys en ook ander vererings van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Daarna het talle ander bekronings gevolg. Dit is bekend dat hy sy digterskap aanvanklik lank dig gehou het en dat hy sy gedigte in sy laai gebêre het. Eers in die tagtigerjare het hy met die bundel Angelliera gedebuteer. DJ Opperman wat as keurder opgetree het Cloete se debuutwerk as “koningskos” bestempel. het. Daarna het talle ander publikasies gevolg. Tot onlangs het hy selfs nog bydraes gelewer aan die meningskolomme van die plaaslike pers. ’n Hoë nasionale onderskeiding wat hom te beurt geval het, was die Staatspresident se Orde vir Voortreflike Diens (Goud) in 1992.

Prof Cloete het sy studies begin aan die Universiteit van Pretoria, maar moes sy studies vroeg staak nadat hy polio opgedoen het. Hy moes sy lewe lank met die gevolge van die siekte saamleef. Hy het sy studies later aan die PU vir CHO voortgesit en aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam gepromoveer met ’n vergelykende studie tussen Joernaal van Jorik van DJ Opperman en Totius se Trekkerswee. Sy promotor was NP van Wyk Louw. Met ’n onderbreking van enkele jare as hoogleraar aan die nuutgestigte Universiteit van Port Elizabeth was hy deurentyd verbonde aan die PU vir CHO waar hy vroeg om gesondheidsredes afgetree en hom aan sy skeppende werk gewy het.

Sy veelsydige digterskap en groot talent is ook geopenbaar in sy deelname aan die beryming van die psalms – hier het hy ’n onskatbare bydrae tot die Afrikaanse geestelike liedereskat gelewer. Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde is armer sonder die uitsonderlike talent van TT Cloete, aldus die Afrikaanse Taalraad.

Jacques van der Elst
Afrikaanse Taalraad: Uitvoerende Hoof

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top