Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: ’n Onderhoud oor die klankbaan van ’n Middel

  • 0

Agtergrondfoto: Wesley West se skermafdruk van hoe hy die klanke opneem en voorgrondfoto: https://woordfees.co.za/

Naomi Meyer praat met Wesley West oor die klankbaan van ’n Middel wat binnekort by die Woordfees te siene en aan te hoor is.

Wesley, vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond. Vertel asseblief spesifiek wat is ’n klankontwerper.

My naam is Wesley van der Westhuizen aka Wesley West. Ek is hoofsaaklik ’n filmkomponis; my werk is om musiek te skryf vir flieks en TV-reekse. Ek ontwikkel leitmotiewe vir karakters, plekke en idees in flieks, wat die emosie vasvang in ’n paar note en instrumente. Daar is soveel verskillende elemente wat ’n film se musiek effektief maak: die harmonie (lig of donker), die tipe instrumente (oud versus modern), die tempo (vinnig of stadig). Al die elemente speel saam om in die kyker sekere emosies aan te wakker wat help om die storie te vertel.

........
Ek ontwikkel leitmotiewe vir karakters, plekke en idees in flieks, wat die emosie vasvang in ’n paar note en instrumente. Daar is soveel verskillende elemente wat ’n film se musiek effektief maak: die harmonie (lig of donker), die tipe instrumente (oud versus modern), die tempo (vinnig of stadig). Al die elemente speel saam om in die kyker sekere emosies aan te wakker wat help om die storie te vertel.
.........

Deel van my werk is ook klankontwerp. Klankontwerp is soos filmkomposisie, maar sonder musiek. ’n Klankontwerper skep nuwe klanke wat help om die storie te vertel, om ook ’n sekere emosie of ervaring by die kyker of luisteraar te skep. ’n Klankontwerper moet kreatief werk om nuwe klanke op te neem, te skep of te meng met mekaar om die wêreld van die storie meer realisties te maak. Ek is ook ’n lecturer in Sound Design by Open Window.

Jou agtergrond het so baie met klank te doen. Die werk van ’n klankontwerper ... dit is fassinerend. Om vieruur in die oggend op te staan om die klank werklik oor te dra soos dit is, klink soos Romantiese digters wat in die sneeu gaan slaap het om werklik daaroor te kan dig. Hoe bring mens dit onder woorde en onder klanke? Word iets nie fiksie die oomblik as mens dit vermeng nie? Word dit nie klankfiksie as jy dit agterna wysig nie? Vertel asseblief presies wat jy gedoen het.

Vir ’n Middel het Cintaine vir my die script gestuur, wat ek dadelik gelees het, daarna het ek ’n halwe run van die teaterstuk by die NG Kerk Wynberg gaan kyk. Ek het toe ’n beter idee van wat die storie is en hoe Cintaine die storie wil vertel met klank. ’n Middel begin vieruur die oggend, waar ’n paartjie begin eerlik gesels oor hulle huwelik. Ek wou die wêreld so realisties moontlik skep en het op twee onderskeie oggende vieruur opgestaan en die vroeë oggendwêreld opgeneem met my veldopnemer. ’n Veldopnemer (field recorder) is ’n draagbare klankopnametoestel wat lekker mobiel is. Ek het die een oggend in die leefarea opgeneem en die ander in die kombuis. Deur die dag het ek ook verskeie huishoudelike en buurtklanke opgeneem: ’n stort, die vullisverwyderingstrok, honde wat blaf, polisiekarre, ambulanse en skoolkinders. Ek het al die klanke gevat en op my rekenaar begin meng, die wêreld van ’n Middel begin skep. Ek glo dat ietsie “fiksie” word as mens die klanke begin saammeng en dit skep ’n nuwe wêreld wat nie daar was nie, maar ek glo ook dat net soos mense inkoop in die wêreld van ’n fliek, so ook sal mense inkoop in die wêreld van die teater. Ek het nadat ek twee uur se opnames en wêreld geskep het, met verskeie klanke ’n equalizer (gelykmaker) op die hele klank gesit. In die begin van die vertoning is dit nag, ’n mens hoor krieke en laataand-naggeluide. Dit speel terwyl mense inloop, daarna as die vertoning begin, dan is dit die doodstilte van die nag. Die EQ laat net frekwensies tussen 300Hz en 500Hz deur en soos die vertoning oor die twee uur duur, word meer en meer frekwensies “deurgelaat” in die frekwensiespektrum. Ek het hierdie besluit geneem, want dit help om die storie te vertel; die buurtgeluide “word wakker” saam met die frekwensies wat meer en meer deurgelaat word. Hier is ’n screenshot om dit visueel te verduidelik.

Foto: Wesley West

En nog een:

Foto: Wesley West

Ek dink daar is ’n mengsel tussen om die wêreld so geloofwaardig moontlik te skep, maar dan het dit ook ’n Romantiese element in om kreatief te wees met die klank en om die wêreld hiper-realisties te maak.

Vertel asseblief ook van die klaviermusiek wat jy geskryf het – watter atmosfeer moes dit weerspieël; is dit kontemporêr? Wat is jou inspirasies? Beskryf asseblief jou musiek en komposisies.

Ek het baie inspirasie vanaf die teks en Stian Bam en Tinarie van Wyk-Loots se spel tydens die halwe repetisie getrek. Ek skryf meestal my musiek deur te improviseer op die klavier deur aan die storie en karakters te dink. Die klavierstuk het relatief vinnig na my toe gekom in C Dorian; dis ’n mineurgevoel met nou en dan ’n majeurnoot. Ek het baie daarvan gehou en dit ontwikkel in drie dele om die melankoliese gevoel van die paartjie vas te vang. Die einde van ’n Middel het my lank daarna laat aanhou dink wat is volgende vir die paartjie. Dis die eerste keer dat hul in jare eerlik is met mekaar, so daar is ’n soort van bevryding wat gebeur, maar daar moet ook ’n besluit geneem word nou. Ek het daardie gevoel van ’n kruispad vasgevang in die musiek. Die C Doriese-mode het my gehelp met dit, asook om die stuk in ’n wals te skryf, ’n dans tussen twee mense. 

......
Ek het daardie gevoel van ’n kruispad vasgevang in die musiek. Die C Doriese-mode het my gehelp met dit, asook om die stuk in ’n wals te skryf, ’n dans tussen twee mense. 
.......

Moeilik om musiek in woorde te probeer beskryf, of hoe? Omtrent so moeilik soos om die gewone lewe in musiek te probeer vasvang. Is jy iewers en dan hoor jy net doodgewoon ’n klankbaan van hoe dit moet wees? Wat is jou algemene werkswyse?

Somtyds sal ek ’n melodie hoor, of aan ’n idee dink, iets wat nog nie probeer is nie. Daardie nuuskierigheid van “ek wonder hoe dit sal klink as ek ’n vioolopname saam met ’n synth-lyn deur ’n elektriese kitaar-amp sit”, is wat my altyd fassineer en opgewonde maak. Ek dink dis waar die klankontwerper in my na vore kom. Die meeste van my komposisies is speel, improvisasie. Of dit speel op die instrumente en nuwe harmonieë, ritmes of melodielyne is, en of dit speel met nuwe klanke is om ’n kombinasie van klanke te kry deur onkonvensionele tegnieke toe te pas in die studio. 

Watter ander produksies gaan jy nog by die Woordfees kyk (of luister)?

Ek is baie bevoorreg om deel van Lucinda Bosch se kabaret Meesters en meltdowns te wees. Dis ’n lieflike projek; ek speel klavier en Lucinda sing liedjies en vertel stories oor verskeie kunstenaars oor die eeue en al die vreemde dinge wat hulle gedoen het. Ek is ook deel van Pieter Bezuidenhout se Stadskoor, waar ons Bibi Slippers se Soekenjin gaan opvoer. Ek wil baie graag Ek is nie Danie van Albert Pretorius en Schalk Joubert gaan kyk, asook Plektrum van Mauritz Lotz. Hulle is my musikale heroes en ek sal graag hul vertonings wil beleef.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: ’n onderhoud met Bibi Slippers oor die Easy Equities Skrywersfees

Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: Krapp se laaste band – ’n onderhoud met Carel Nel

Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: Menopouse in die kollig – ’n onderhoud met Antoinette Louw

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top