
Foto van Antoinette Louw: ©Clifford Roberts 2026, Canon R6
Die bekroonde aktrise Antoinette Louw is vanjaar twee maal in die kollig by die Toyota Stellenbosch Woordfees, maar in ’n ander rol as wat lesers gewoond is. Sy is ’n segsvrou vir menopouse en die ingrypende effek wat dit op vroue het – maar wat heel dikwels as ouvroustories afgemaak word.
By twee besprekings Meer as hormone en Meer as warm gloede: jou liggaam, jou brein, jou hormone sal sy deel van paneelbesprekings rondom hormone wees.
In Meer as hormone word die voller prentjie van wat dit beteken om in die middeljare te floreer, van mindfulness, beweging en kreatiwiteit en die rol wat ondersteuningsgroepe speel, ondersoek. Antoinette word vergesel deur Winnie Nel wat gesels oor die krag van stilte en meditasie; Karin Struwig oor menopouse-afrigting en doelbewus lewe; en Amelia van Zyl (fasiliteerder), ’n lewensafrigter wat vroue help om mekaar te ondersteun.
In Meer as warm gloede: jou liggaam, jou brein, jou hormone word daar voortgebou op die kykNET-dokumentêr Meer as warm gloede. Toonaangewende mediese kenners word bymekaargebring om oop en eerlik te gesels oor wat werklik in ’n vrou se liggaam en brein gebeur tydens peri-menopouse en menopouse.
Van hormonale verskuiwings en breinwaas tot slaap, gemoed en seksuele gesondheid – ons verhelder die wetenskap sonder sensasie. Saam met die kenners, herinner Tillie Smit ons daaraan dat daar agter elke mediese feit ook ’n geleefde ervaring is. Antoinette is die fasiliteerder. Haar eie ontdekkingsreis vorm die hart van die dokumentêr. Dit is die gesprek wat vroue lank reeds in die openbaar wil voer – in Afrikaans, met helderheid en sonder skaamte. Ouderdomsbeperking van geen onder 14’s.
Maryke Roberts se vrae aan Antoinette Louw:
MR: Hormonale wanbalans laat ’n mens dikwels vervreemd voel van jou eie liggaam en gees. Hoe het hierdie pad jou begrip van jou identiteit uitgedaag, en hoe het jy jou liggaam weer as ’n veilige tuiste toegeëien?
AL: Hormone het ’n direkte invloed op beide die fisiese en die emosionele. Dis onsigbaar – en ek kon daarom nie peil trek op wat aangaan nie. Nou is ek toegerus met inligting en daarom is ek sagter met myself. Het meer empatie.
.......
AL: Hormone het ’n direkte invloed op beide die fisiese en die emosionele. Dis onsigbaar – en ek kon daarom nie peil trek op wat aangaan nie. Nou is ek toegerus met inligting en daarom is ek sagter met myself. Het meer empatie.
.........
Ek dink nie ek is al by die plek waar ek my liggaam ’n veilige tuiste kan noem nie. Dis nog steeds ’n aanpassing.
MR: Daar is dikwels sosiale druk op vroue om net kop te hou en deur te druk. Hoe balanseer jy die vereistes van die openbare oog met die behoefte om eerlik en broos oor jou gesondheid te wees?
AL: Nou lag ek heerlik. Want ek weet nie wat daardie vereistes is nie. Is daar vereistes? Eerstens sien ek myself glad nie as iemand in die “openbare oog” nie. Tweedens het ek nog nooit omgegee om broos te wees nie. Soms is ek ongevraag broos en dit maak mense ongemaklik. Maar my broosheid laat my toe om te praat oor goed wat dikwels onder die mat gevee word. En as ek nie daaroor praat nie, wie gaan?
MR: Vroue se hormonale gesondheid word steeds te maklik as “emosioneel” afgemaak. Wat het jou reis jou geleer oor die manier waarop die mediese bedryf na vroue kyk, en wat moet verander?
AL: Ek was geskok. Naar. Kwaad. Ek het nie geweet hoe vrouens deur sommige dokters afgemaak word nie. Ek was altyd onder die indruk “dokters weet die beste”, want dis wat daar nog altyd vir ons geleer is. Nou weet ek baie dokters het nog nie die nuutste navorsing nie. Ek moet en kan my eie navorsing doen. Vra die regte vrae. As ek nie goed of veilig by ’n dokter voel nie, kry ’n ander een.
MR: Jou liggaam en emosies is jou hulpmiddels as aktrise. Hoe het hierdie hormonale reis jou verhouding met jou kreatiwiteit beïnvloed, en hoe skemer dit deur in die karakters wat jy kies om te speel?
AL: Ek ontdek ’n vryheid in my kreatiwiteit wat ek nie voorheen gehad het nie, omdat ek minder omgee wat ander dink. Dis ’n ongelooflike gevoel. En ek kan meer dimensie gee, meer eerlik, omdat ek vryer is. Die tragedie en ironie is dat rolle vir ouer vrouens al hoe minder word.

Foto van Antoinette Louw: ©Clifford Roberts 2026, Canon R6
MR: Vroue se hormonale fases word steeds met ’n sekere taboe omhul. Hoe het hierdie ervaring jou siening van vroulike krag en rypwording verander, en watter hoop bied jy vir vroue wat tans daardeur gaan?
AL: Jy is nie alleen nie. Jy is nie alleen nie. Jy is nie alleen nie. Ek kom deur hierdie ding as gevolg van ander vrouens. Gee jouself toestemming om hulp te vra en hulp te ontvang.
MR: Die media en die meganismes van populêre kultuur is geneig om vroue tydens menopouse as oud of irrelevant af te skryf. Hoe kyk jy na die media se aandadigheid hieraan, en wat moet verander aan die narratief rondom die ouerwording van vroue?
AL: Oud, irrelevant, kranksinnig, komies. Ons vrouetydskrifte is baie lief daarvoor om ons jonk te dokter – elke plooi word uitgevee. Lywe selfs maerder gemaak. Dit wat jy sien, is nie die waarheid nie. Maar dit word verkoop as die waarheid. En wat sê dit: “Moenie oud word nie. Oud is lelik.” En omdat die media soveel mag en invloed het, glo vrouens dit. Die media kan anders kies, ’n verskil maak – en op hierdie stadium lyk dit nie of hulle sommer gaan verander nie. Die verandering en bewusmaking moet dus van my en jou kom. Nie net vir ons nie, maar veral vir die volgende generasie van vrouens.
- Meer as hormone en Meer as warm gloede: jou liggaam, jou brein, jou hormone word ondersteun deur kykNET, MrsKing Productions. Eersgenoemde word op 8 Oktober om 10:00 in die Hofmeyrsaal aangebied. Kaartjies kos R200. Inligting by https://woordfees.co.za/program/meer-as-hormone/. Meer as warm gloede: jou liggaam, jou brein, jou hormone is op 6 Oktober om 10:00 in die Hofmeyrsaal en kaartjies kos ook R200. Inligting by https://woordfees.co.za/program/meer-as-warm-gloede-jou-liggaam-jou-brein-jou-hormone/.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: Krapp se laaste band – ’n onderhoud met Carel Nel

