
Carel Nel (foto vir bemarkingsdoeleindes verskaf)
Een van die vertonings wat vanjaar by die Toyota Stellenbosch Woordfees debuteer, is Krapp se laaste band, met Carel Nel in die titelrol. Die produksie het slegs drie vertonings, almal oor die eerste naweek van die fees, van 3 tot 5 Oktober. Die bekende toneelstuk deur Samuel Beckett is deur Stefan Benadé vertaal. Hy is ook die vervaardiger en regisseur, die choreograaf en het die musiek versorg.
Samuel Beckett, een van die mees invloedryke dramaturge van die 20ste eeu en ’n meester van die absurde teater, is wêreldwyd bekend vir sy minimalistiese dog diepsinnige verkenning van die menslike bestaan. In werke soos Krapp’s last tape ontleed hy temas van tyd, isolasie, die broosheid van die geheue en die onvermydelike konfrontasie met die eie verlede, dikwels deurdrenk van sowel stroewe humor as deurdringende tragedie.
Carel vertolk Krapp alleen op die verhoog – ’n man wat laataand in die toekoms op sy verjaarsdag na ’n opname van sy jonger self luister en gekonfronteer word met die afstand tussen wie hy was, wie hy gedink het hy sou word en wie hy uiteindelik geword het.
Dit verdiep een van Beckett se sentrale vrae: Wat bly uiteindelik van ’n lewe oor? Die feite wat ons opteken, die herinneringe wat ons bewaar, die mense vir wie ons lief was – of bloot die stem van iemand wat ons eens was en later skaars herken?
Met humor, hartseer en genadelose eerlikheid word dié vertaling van Krapp’s last tape ’n diep ontroerende meditasie oor identiteit, liefde, verlies, tyd en die verhale wat ons vir onsself agterlaat.
Carel dra die wêreld van Krapp alleen. Hy is ’n bekroonde Suid-Afrikaanse akteur wat bekend is vir sy uitsonderlike verhoog- en filmwerk, sowel as sy vermoë om komplekse, emosioneel-gelaagde karakters met ’n intense fisiekheid en presisie te vertolk. Sy toegewyde benadering tot die dramakuns maak hom die ideale keuse om ’n veeleisende solorol soos Krapp te vertolk en dit met meedoënlose eerlikheid te leef. Met agt van die land se grootste teatertoekennings en net soveel nominasies op sy kerfstok, skroom hy nie weg vir uitdagende rolle nie.
Carel se jonger Krapp se stem is pas opgeneem, terwyl Carel self naby aan dié karakter se ouderdom is. Stefan vertel: “Die gedagte is dat die produksie oor die komende dekades weer besoek kan word met dieselfde opname. ’n Ouer Carel kan dus eendag letterlik op die verhoog sit en luister na die werklike stem van die jonger man en akteur wat hy eens was.
“Vir my maak dit ’n gesprek oop oor iets wat baie sentraal tot Beckett se teks staan: hoe ’n mens jou eie verlede bewaar, herskryf en later weer ontmoet. Dit word ook iets wat met Carel self kan verander namate hy ouer word en sy verhouding met die rol oor tyd verdiep.
“Ons vertrekpunt is Beckett se eenvoudige openingsaanwysing: ‘’n Laataand in die toekoms.’ Sekere ontwerp- en verhoogkeuses hou ons egter doelbewus terug, aangesien ons graag wil hê die gehoor moet dit vir die eerste keer binne die produksie ontdek.”
Vrae vir Carel:
MR: Om alleen op die verhoog te staan bring ’n heel eie dinamika. Hoe benader jy die isolasie en die spesifieke ritme van Krapp se laaste band, waar jou enigste teenspeler ’n bandopnemer en jou eie stem uit die verlede is?
CN: Om one-man shows te doen is nie eintlik maklik nie, veral een waar jy nie rêrig verskriklik praat nie. Wat baie help, is dat ek van die stem af kan speel. So hy sit en luister na sy 39-jarige self en hoe hy praat, en dit is baie interessant.
........
Op ’n stadium is daar eintlik drie Krappe op die verhoog. Daar is die ouer Krapp van 69, dan luister jy na hoe die 39-jarige met minagting praat oor die 27-jarige se band waarna hy geluister het.
........
Op ’n stadium is daar eintlik drie Krappe op die verhoog. Daar is die ouer Krapp van 69, dan luister jy na hoe die 39-jarige met minagting praat oor die 27-jarige se band waarna hy geluister het.
So Krapp het ook ’n baie interessante manier waarop hy luister na sy 39-jarige self. Daar is ’n klein bietjie minagting. Hy ondermyn amper sy jonger weergawe tot ’n mate. So ek speel maar daarmee rond, en dit is interessant.
Elke liewe akteur sal anders na dié luister. So dit is wat dit vir my interessant maak. My benadering is maar om dit so eerlik moontlik te doen, en die ritme kom vanself. Ek bedoel, die ritme is ook opgeneem in die stem. So die benadering is maar om dit so eerlik moontlik te probeer speel: hoe hy voel oor wat hy hoor.
MR: Jy het pas die opname vir die jonger Krapp gemaak, terwyl jy self naby aan die karakter se huidige ouderdom is. Hoe was dit om jou eie stem te vorm vir dié “jonger” weergawe, en wat gebeur emosioneel met jou op die verhoog wanneer jy na daardie spesifieke klankbeeld luister?
CN: Emosioneel gebeur daar nie veel met my persoonlik nie. Ek kyk maar uit die ouer Krapp se perspektief en hoe hy sal voel oor wat hy hoor, oor die karakter wat, jy weet, amper daai tyd al begin het om te voel die lewe is besig om verby te gaan.
So, emosioneel dink ek gaan Krapp deur baie emosies van spyt, berou, kwaad en hartseer oor die lewe wat by hom verbygegaan het. So, ek kyk maar net na die weergawe van Krapp.
Vir my persoonlik is dit Krapp se jonger stem en nie my stem waarna ek luister nie. So, ek kyk maar uit daai oogpunt daarna.
MR: Stefan Benadé se konsep maak voorsiening daarvoor dat jy hierdie produksie oor die komende dekades herhaaldelik kan speel – met dieselfde opname wat saam met jou verouder. Hoe beïnvloed hierdie “lewende argief”-gedagte jou huidige verhouding met die teks en die rol?
CN: Ek dink nie dit beïnvloed my tans nie. Ek dink die idee is dat ons kyk wat gebeur. Dis soos ’n time capsule, jy weet.
As ons dit oor 10 jaar van nou af doen, as ek in my vyftigs is, hoe sal die ervaring dan wees? En as ons dit weer oor 10 jaar doen, as ek 60 is, en dan weer oor 10 jaar, as ek 70 is, en dan is dit actually ek wat as ’n 69-jarige sit en luister na my stem op 40.
Ek dink dit kan ’n baie interessante projek wees wat mens mettertyd kan doen. En dit is een van die redes hoekom ek ingestem het om dit nou al te doen, op die ouderdom wat ek nou is: om te kyk hoe die projek sal groei en hoe die produksie oor dekades sal groei.
MR: Beckett se teks is genadeloos eerlik oor veroudering en spyt, maar dit bevat ook ’n baie spesifieke tipe patos en humor. Hoe vind jy en Stefan die balans sodat die stuk nie net swaarmoedig is nie, maar juis die menslikheid van Krapp se misstappe belig?
CN: Jong, dis ’n baie moeilike vraag om te beantwoord.
Ek dink ons probeer maar net so getrou moontlik bly aan die oorspronklike teks, en ons probeer dit speel met soveel eerlikheid as wat ons kan. Die patos sal vanself kom as ons eerlik bly en die teks speel soos Beckett dit bedoel het.
Ons benader dit soos enige ander stuk. Ek probeer nie komedie op enigiets forseer nie. As iets snaaks is, sal dit vanself deurkom.
So, dit is maar ons benadering daartoe.
MR: Stefan het Beckett se ikoniese teks in Afrikaans vertaal. Hoe voel die ritme en poësie van hierdie spesifieke Afrikaanse vertaling in jou mond, en bring die taal ’n nuwe intimiteit aan die karakter wat miskien anders voel as die oorspronklike Engels?
CN: Ek dink Stefan het ’n baie goeie job met die vertaling gedoen. Enige vertaling – omdat die tale so verskillend is – gaan die ritme altyd anders sit. Maar Afrikaans is so ’n pragtige taal dat die poësie en hoe poëties die teks is nog steeds baie, baie mooi deurkom.
Ja, so ek approach dit maar soos ’n nuwe teks. Ek dink nie ’n mens moet dit met die Engels vergelyk nie. Ek dink nie dit is meer dieselfde teks nie. Vertaling verander dit baie, maar dit sit so mooi in Afrikaans.
Afrikaans kan so poëties en so mooi wees dat ek dink dit klink baie mooi, en die taalgebruik wat Stefan gebruik, is pragtig.
MR: Beckett se eenvoudige openingsaanwysing plaas die stuk in ’n ongedefinieerde tydperk. Sonder om te veel van die produksie se geheime weg te gee: Hoe help die konsep van die toekoms jou om die herinneringe van die verlede te ontleed?
CN: Ek dink die toekoms gee mens ’n sekere afstand van die verlede. Jy kan terugkyk na wat gebeur het en dit met ander oë interpreteer, omdat jy weet waar jy uiteindelik beland het.
Ek wil nie te veel van ons konsep weggee nie, maar ek dink die idee van die toekoms help ons om Krapp se herinneringe op ’n effens ander manier te benader. Dit gee die verlede ’n sekere perspektief, en ek dink die gehoor sal self moet ontdek presies hoe dit in ons produksie werk.
MR: As akteur word ’n mens dikwels gekonfronteer met ouer werke, foto’s of opnames van jouself uit die begin van jou loopbaan. Het hierdie proses jou anders laat dink oor die verhale wat jy vir jouself oor jou eie verlede vertel – en hoe ’n mens jou eie geskiedenis herskryf?
CN: Ja, ek dink dit laat ’n mens noodwendig anders kyk na jou verlede. Soos ’n mens ouer word, verander jou perspektief op sekere dinge en herinneringe begin soms anders voel as wat jy dit oorspronklik onthou het.
Maar ek dink dit is ook baie persoonlik en ek wil nie te veel van myself daarin lees nie. Ek probeer eerder om dit binne die karakter te hou en te kyk na hoe Krapp met sy eie verlede omgaan.
Ek dink ons vertel almal op een of ander manier vir onsself stories oor ons verlede, en daardie stories kan met tyd verander.
MR: Is jy ’n Samuel Beckett-aanhanger of wat het jou na hierdie rol aangetrek? Wat is vir jou meesterlik aan dié werk?
CN: Ja, ek is beslis ’n Beckett-aanhanger. Ek dink daar is iets besonders aan die eenvoud van sy werk, en terselfdertyd is daar ongelooflik baie lae daarin.
Wat my na hierdie rol aangetrek het, is juis dat dit op die oog af so eenvoudig lyk, maar hoe meer jy daarin delf, hoe meer ontdek jy. Ek dink dit is van die dinge wat Beckett vir my meesterlik maak.
- Krapp se laaste band speel op 3 Oktober om 20:00, 4 Oktober om 19:00 en 5 Oktober om 20:00 by kykNET Idasvallei Primêr. Koop kaartjies by webtickets. Die vertoning duur 55 minute. Kaartjies kos R210–R260 en R240–R290 by die deur.
Lees ook:

