Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: ’n onderhoud met Bibi Slippers oor die Easy Equities Skrywersfees

  • 0

Bibi Slippers vertel vir Naomi Meyer hoekom jy by die Woordfees moet kom lees en na wie jy moet kom luister.

Bibi, dis hoog tyd om te lees. Wat is op die Woordfees se boekrak hierdie lente? Noem dalk 10 name: bekendes, onbekendes, jonges, debutante en veterane.

Die kort antwoord is: só baie opwindende boeke deur briljante en interessante skrywers. Hoe kies mens 10? Dis Sophie’s choice! Ek sal my beste Meryl Streep probeer uithaal en sê:

  1. Bekendes: Max du Preez, Wilna Adriaanse, Dave Pepler, Irma Joubert, Johan Myburg, Sally Andrew, Deon Meyer, Joan Hambidge. 
  2. Beroemdes: Steven Kitshoff (ja, daai Bomb Squad-Bok!), Tobie Cronjé en die befaamde komponis Kutlwano Masote.
  3. Bekroondes: Hertzogpryswenner Tom Dreyer is ons feesdigter en hy is elke dag êrens op die program. Sarah Uheida wat pas met die Ingrid Jonker-prys bekroon is, lees by die Dag van Poësie. Shane van der Hoven, wenner van die UJ Debuutprys, is die kurator van die Poetry Crawl.
  4. Berugtes: James-Brent Styan bring sy boek oor Markus Jooste en joernalis Dennis Cruywagen het ’n boek oor Allan Boesak geskryf.
  5. Bloedjonges: Zubayr Charles en Mia Arderne, Frederick Botha en Anna-Bet Stemmet, Theolla Langenhoven, Carel van Rooyen, Dan Corder, Tara Roos.
  6. Be-braaibroodjie-des: Frans de Villiers se debuut is die nie-fiksieboek Die geskiedenis van braaibroodjies. ’n Vroeë informele resensie noem die boek “die mees interessante, innemende en skerpsinnige boek oor Suid-Afrikaanse koskultuur sedert Leipoldt”. So jy moet vir Frans kom luister!
  7. Beheptes: Matilda Burden se boek Opreisfontein teken meer as 5 000 plekname op wat eindig met “-fontein”, en die span van die WAT kom gesels met Kabous Meiring oor En nog WAT, 100 van Jana Luther se woordrubrieke.
  8. Belowendes: Debutante op die program sluit in Allen Grootboom, Carla Venter (van Money with Carla-faam), Erika Viljoen, Popina Khumanda, Lidia Rauch en Dominique Olivier.
  9. Bruide (huilend en andersins): Dominique Botha se bundel Die huilende bruid en ander versinsels is een van ons boekklubs en Beryl Botman deel meer oor haar huwelik met Russel Botman in Twee word een.
  10. Belangrikes: Ons het lank gewag vir ’n nuwe Etienne van Heerden, maar hier is hy nou! Diereriem word vir die eerste maal by die Woordfees bekend gestel.

Ek sien daar’s boekklubs by die Woordfees. Waar vergader hulle? Daag mens op as ’n boekklub, of word mens ’n impromptu klub as jy daar opdaag, saam met ander mede-lesers?

Die boekklubs is al vir donkiejare die vlagskip boekgeleenthede by die Woordfees. Vanjaar gebeur die boekklubs in die Netwerk24 Diskoerstent (agter die US Museum), en elke leser wat opdaag, is deel van ons impromptu boekklub, waar jy ’n glas wyn kry en deur ’n slim leser begelei word deur ’n boek wat gesprek gaan ontlok. Vanjaar se boekklubs gaan oor Boesak unauthorised deur Dennis Cruywagen (Dennis sal in gesprek tree met Heindrich Wyngaard); Die huilende bruid en ander versinsels deur Dominique Botha (Danie Marais is die gespreksleier); Lourensa Eckard van In gesprek en Carte Blanche gaan met James-Brent Styan praat oor Puppet master: the secrets of Markus Jooste; Susanne Beyers gaan ’n wonderlike gesprek lei oor Chris Vorster se boek Tobie, ’n biografie van Tobie Cronjé (Tobie sal natuurlik ook daar wees, want die boek is immers in sy eie stem vertel); en dan kom Steven Kitshoff op sy tuisveld gesels oor Kitsie: memoirs of a Bomb Squad Bok (Marco Botha praat met Kitsie en sy mede-skrywer John Vlismas).

Wie is interessante kombinasies van mense wat met mekaar praat en hoekom sê jy so? Sonder dalk drie kombinasies uit.

Daar is toevallig twee geleenthede waar seuns met hul ma’s praat: Beer en Jaco Adriaanse gaan gesels met Wilna Adriaanse oor Grensloos, en Roland du Preez praat met Erika Viljoen oor haar memoir Aggressiewe water. Dan is daar ’n hele nuwe reeksie van Skrywers oor skrywers of Writers on Writers – gaan soek gerus in die program om te kyk watter skrywers met mekaar gaan gesels. Ek dink skrywers is die beste mense om met ander skrywers te klets, want hulle verstaan die proses die beste. Ek sien ook uit na die gesprek tussen Debbie Loots en Grethe van der Merwe, omdat die twee boesemvriendinne is. Hulle gaan gesels oor Debbie se roman Die vrou met nege lewens – maar Grethe is ook by die fees met haar eie boek Lyfluister (die wonderlike Frieda van den Heever gaan daardie gesprek lei). Laastens, ek het Schalk van der Merwe gevra om met Carel van der Merwe te praat, omdat ek gedink het dit klink soos die setup vir ’n great Afrikaanse grap: “Twee Van der Merwes stap by ’n skrywerskamer in ...”

Waar is die boekefees? Is dit alles in die boektent, waar mense gewoonlik weet dit is – by die Plataankafee? Of is daar ander plekke waar mense ook rondom boeke gaan vergader?

Die meeste gesprekke op die Easy Equities Skrywersfeesprogram vind plaas in die EasyEquities Skrywerskamer – dit is die Khaya op Ryneveldstraat se spesiale naam tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees. Die boekklubs is in die Netwerk24 Diskoerstent. (Dit was tot in 2024 in die boektent, maar ons het in 2025 Khaya toe verskuif.) En dan is daar hier en daar iets op ’n ander plek, soos Kutlwano Masote se gesprek met Elna van der Merwe wat in die Endler-saal plaasvind, omdat Kutlwano ook gaan tjello speel tydens die gesprek. Dit gaan spesiaal wees, so kry ’n kaartjie daarvoor!

Waarom sal jy mense aanbeveel om vanjaar te lees, te kom bywoon, te kom boeke koop en die naderende nag agter die gordyne te fnuik?

Daar is ’n meme wat die rondes doen, wat sê: Skynbaar is die enigste plek waar jy kan wegkom van advertensies ’n boek. So dis een goeie rede. Lees is ook net eenvoudig die lekkerste ding op aarde. Kom luister na skrywers as die lewe jou oorrompel het en jy het vergeet watter vreugde dit is om in ’n boek te ontsnap, of uit ’n boek te leer ... Skrywers is ook van die mees interessante skepsels op God se ganse aarde – so kom om deur hulle vermaak te word!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top