Wanneer mens vandag tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees deur Stellenbosch langs die leivore onder die eikebome stap, is dit moeilik om te dink dat hierdie reuse- kulturele instelling in Maart 2000 as ’n beskeie deurnag-poësiebyeenkoms, onder die titel ’n Nag van Passie, in die destydse HB Thom-teaterkompleks begin het.
Onder die vaandel van die Universiteit Stellenbosch en onder leiding van Dorothea van Zyl, was die doel toe om ’n intieme tuiste vir die Afrikaanse woord, skrywers en digters te skep.
Vandag, bykans drie dekades later – en met die fees wat intussen gegroei het tot ’n selfstandige, nie-winsgewende entiteit, onder leiding van die bekroonde dramaturg Saartjie Botha – het die Woordfees ontwikkel tot ’n oop, inklusiewe en grootskaalse viering van die uitvoerende en visuele kunste.
Dit lok jaarliks van ons land se voorste kunstenaars en tienduisende besoekers van alle uithoeke van die land. Die ryk, veelsydige program van vanjaar se fees het weer eens getuig van hierdie merkwaardige evolusie: Dit was ’n klinkende refleksie van die menslike ervaring, die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse sosio-politieke landskap en die louterende krag van verhoogkuns, visuele uitstallings en musiek.
Die feesslagspreuk “Dis hoog tyd” was heel gepas vir verskeie projekte en aanbiedinge.
Van intense drama en fisieke teater tot jubelende verjaardagkonserte en eksperimentele kuns, het die feesgangers oor nege dae heen deel geword van ’n lewendige gesprek waarin beide tradisie en vernuwing gevier is.
Visuele kuns
Visuele kuns het vanjaar ’n sentrale en uitdagende rol gespeel om die feestema te veranker, met uitstallings wat besoekers genoop het tot dieper selfondersoek en estetiese herbesinning.

Een van die visuele hoogtepunte was die uitstalling deur Daniel Naudé in die Universiteit Stellenbosch (US) Museum. Naudé se werk het ’n boeiende wisselwerking tussen vorm, teks en ruimte geskep, waarin die fisieke kontoere van die museumruimte omskep is in ’n dinamiese doek. Sy kunsstukke ondersoek die grensgebiede tussen geheue, argivaliese dokumentasie en die verloop van tyd.
Besoekers is ingetrek in ’n stil, maar dinamiese dialoog met objek en konteks, wat getuig van Nauadé se noukeurige vakmanskap en sy vermoë om visuele teksture met intellektuele diepte te vul.

Verder het die visuele kunsprogram die US Museum en die Stellenbosch Stadsaal omskep in ruimtes van lewendige kreatiewe verkenning. In die stadsaal is ’n verskeidenheid van gevestigde en opkomende kunstenaars se werke uitgestal, waar temas soos landskap, identiteit en die sosiale weefsel van Suid-Afrika verken is.

Die kontras tussen die historiese argitektuur van die stadsaal en die kontemporêre uitstallings het ’n fassinerende spanning geskep. In die US Museum het die versameling werke ’n meesleurende narratief gevorm oor sowel plaaslike ervarings as globale kunskondisies, wat aan die visualiteit van die fees ’n stewige intellektuele anker gebied het.

Deur lewendige teaterskilderye (“performance painting”) het die kunstenaar Gabrielle Kruger haar visuele teks voor die gehoor laat ontvou in When still life breathes by Oude Leeskamer, terwyl dansers van Cape Ballet Africa met grasieuse, dramatiese bewegings die vorms, skadu’s en emosies van die doek vertolk het.
Binne die ruimtes van Oude Leeskamer het Strauss & Co kunswerke van ons grootste meesters, soos Maggie Laubser en Irma Stern, vertoon en buite het die balletdansers tussen gaste beweeg met meeslepende musiek wat onder die bome en tussen vonkelwynglase getalm het. Strauss & Co is ’n silwer borg van die fees.
Op die verhoog
Die verhoogproduksies by vanjaar se Woordfees het die hele spektrum van menslike emosie gedek – van diep familievervreemding tot skreeusnaakse fisieke komedie en rou, bewegende dans.

Skanse, Deon Opperman se nuutste drama, met spel deur onder meer Dawid Minnaar en Deon Lotz, het diep gesny aan die kompleksiteit van gesinsdinamika en verborge spanninge. Die verhaal volg die herontmoeting van twee broers, Simon en Daniël, wat vir jare nie met mekaar gepraat het nie. Wanneer onopgeloste familiekrisisse, voorstedelike pretensies en ou verhoudingsboeie na die oppervlak kom, word die skanse wat mense om hul harte en lewens bou, een vir een blootgelê. Dit is ’n strak, boeiende kykie na die manier waarop ons onsself beskerm teen die pyn van die verlede.

’n Middel, met Tinarie van Wyk Loots en Stian Bam, het eweneens wye lof ingeoes en beweeg rondom die konsepte van balans, middelpunte en die soeke na heelwording in ’n brose wêreld. Die produksie kombineer sterk teksgedrewe spel met emosionele nuanses wat gehore van die eerste tot die laaste oomblik geboei gehou het. Die paartjie in hul laat veertigs is rigtingloos in die woestyn van die voorstedelike lewe, ’n uitgeholde huwelik en ouerskap. Dit was een van my feeshoogtepunte en die akteurs se spel was wêreldklas. Cintaine Schutte het haar regisseursdebuut hierin gemaak.

Andrew Buckland het gehore betower met sy meesterlike eenmanvertoning The fool's guide ... to living and dying ... Met sy kenmerkende fisieke teater-briljantheid en vlymskerp satire navigeer hy die doolhof van kontemporêre tegnologie, sosiale media en kunsmatige intelligensie. Hy wissel blitsvinnig tussen karakters en temas, en konfronteer die gehoor met ernstige vrae oor wat dit werklik beteken om mens te wees in ’n hiper-bewuste sosiale media-era, maar waarin mense dikwels baie geïsoleerd leef. Sy vermoë om ’n hele ongelukstoneel net met klanke, bewegings en gesigsuitdrukkings voor jou oë te laat afspeel, bly vir my verstommend.

Nico Scheepers se Afrikaanse verwerking van Duncan Macmillan se Every brilliant thing-verhoogstuk, Elke briljante ding met Albert Pretorius, was een van die onbetwiste emosionele hoogtepunte van die fees. Die stuk volg ’n verteller wat vanaf ’n jong ouderdom ’n lys van alles wat die lewe die moeite werd maak – soos roomys en bubble wrap – begin neerskryf om sy depressiewe ma te help. Albert se vermoë om die gehoor as aktiewe deelnemers by die verhaal in te sluit, het gesorg vir ’n intieme traan-en-lag-ervaring wat die broosheid van die lewe en die krag van hoop vier. Heelwat gehoorlede het stukkies papier gekry waarop van dié lys se items neergepen is en moes dit deur die loop van die produksie op Albert se aanwysing uitroep. Ek het #315 “Die reuk van ou boeke” gekry. En hoe raak was dit nie! Mens loop lank ná die vertoning nog en kyk na die dinge wat jou eie lysie sal vol maak.

In die Adam Small-laboratorium het die dansproduksie Wonde, met choreografie deur Byron Klassen, ’n reuse-impak gemaak. Die stuk gee gestalte aan die diep letsels van verlies en dien as ’n dringende, artistieke wekroep om kinders te beskerm. Die gestroopte bewegingstaal van die dansers het temas van trauma, genesing en menslike broosheid op ’n rou en onvergeetlike wyse verwoord.

Ander teaterstukke wat stof tot nadenke gegee het, was FaustX van Brett Bailey, wat die tipe teater is wat ons laas ervaar het toe protesteater nog lewendig was en wat hebsug en korrupsie op treffende manier uitbeeld; I Lord Hamlet, wat deur Carlo Daniels geskryf is en waarin hy verskeie rolle speel; Krapp se laaste band; The stranger, wat in die indrukwekkende Die Boekklub in Pniel opgevoer is. Orpheus, ’n vreemdeling, kom op Stellenbosch aan en speel musiek wat so betowerend is dat dit vrede bring vir almal wat dit hoor. Die vrou wat op hom verlief raak, word egter op hul troudag vermoor en Orpheus moet na die Onderwêreld reis om haar terug te bring. Donker, dramaties en meevoerend.

Ons het amper nie by Moffie met David Viviers uitgekom nie, maar genadiglik op vele aanbevelings gereageer en dit op die nippertjie ingepas. Hierdie verwerking van André Carl van der Merwe se roman wat die gewigtige realiteite van diensplig, manlikheid en onderdrukte identiteit gedurende die Grensoorlog-era met meedoënlose eerlikheid verken, het min oë sonder trane gelaat.
Wessel Pretorius se nuutste produksie Vlindervry, met Cindy Swanepoel, Heinrich Wentzel, Jeanne-Marié Koekemoer en Geon Nel, het gehore meegesleur op ’n reis van selfontdekking, bevryding en die afskud van maatskaplike verwagtinge, maar sonder om prekerig of ernstig te wees. Dit was klug, komedie en teater in een.
Woordkuns en poësie

Tom Dreyer (regs), bekende Stellenbosser en bekroonde skrywer, was vanjaar se feesdigter. Sy nuutste digbundel Brief op veertigduisend voet het ’n poëtiese leidraad deur die hele fees geweef. Hier is hy saam met Alwyn Roux en Lynthia Julius.
Dreyer se teenwoordigheid was oral sigbaar: van papiervliegtuigies met sy gedigte op wat oor die feesterrein versprei is, tot sy verhoogoptredes. Tydens die gewilde geleentheid Tom Dreyer: feesdigter en vriende het hy die verhoog gedeel met vooraanstaande digters soos Danie Marais, Alfred Schaffer, Bibi Slippers, Charl-Pierre Naudé, Toast Coetzer en ander, terwyl The Buckfever Underground die musikale ritme verskaf het.
Musiek
Musiek vorm die hartklop van die Woordfees, en vanjaar se musiekprogram het gehore betower met ’n mengsel van nostalgie, klassieke elegansie en verhoogenergie.

Liedjies van Laurika in die Drostdy-teater het ’n besonderse huldeblyk gebied aan die ikoniese repertoire van Laurika Rauch. Met die indrukwekkende sang van Daniel Anderson en die musikale begeleiding van Paul Ferreira (onder regie van Amanda Bothma), het die vertoning die skrywers en skeppers agter Laurika se grootste treffers verken. Van Christopher Torr se skryfwerk tot Koos du Plessis se “Kinders van die wind”, het Anderson se unieke stem nuwe lewe en diepte in hierdie geliefde volksbesit gebring.

In die uitsonderlike konsert Hofmeyrs in konsert: van liefde en die nag het die uiteenlopende musikale talent van die Hofmeyr-familie op een verhoog verenig. Hendrik Hofmeyr op klavier, Zanta Hofmeyr op viool, Malané Hofmeyr-Burger op dwarsfluit en Laurinda Hofmeyr (stem en klavier), saam met Schalk Joubert op baskitaar, het ’n betowerende aand van klassieke en kontemporêre klanke geskep wat geïnspireer is deur die verskillende fasette van die nag en die liefde.

Die legendariese “vader van Afrikaanse rock” Anton Goosen is op grootse wyse geëer ter viering van sy komende mylpaal-verjaardag in Anton Goosen: magtig, kyk wie’s 80! Die konsert was geen blote nostalgiese terugblik nie, maar ’n bruisende viering van ’n lewende nalatenskap. Met ondersteuning van ’n rits top- Suid-Afrikaanse kunstenaars – waaronder David Kramer, Zolani Mahola, Dozi, Koos Kombuis, Deon Meyer, Coenie de Villiers, Laurinda Hofmeyr en Akkedis – het die aand gewys hoe Goosen se oeuvre steeds oor generasies heen weerklink.

Die “voice of South Africa” Vusi Mahlasela het die Daisy Jones Bar laat weerklink met sy ryklik-gekleurde stem en akoestiese kitaarspel. Hy is op kitaar vergesel deur Tsholofelo Papo.
Mahlasela se optrede het feesgangers verenig in ’n gees van hoop, rekonsiliasie en kulturele trots. Sy vermoë om storievertelling met kragtige Afrika-ritmes te kombineer was die perfekte afsluiting vir ’n fees wat die krag van die menslike gees vier.
Deur die slim samestelling van visuele kuns, teater, poësie en musiek het die fees nie net geamuseer nie, maar ook bewys dit is hoog tyd dat kritiese vrae gestel en helende ruimtes weer deur die kunsteplatform geskep word.
- Foto’s: Clifford Roberts CanonR6
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: Langtafel vol kunstelike feestelikheid
Toyota Stellenbosch Woordfees 2026: ’n Baie kort Woord(fees)-oorsig

