Totsiens, AGOA. Wat nou?

  • 0
Agtergrond en oorsprong

In die aanloop na die nuwe millennium het ’n klein groepie Amerikaanse kongreslede begin om konsepwetgewing op te stel wat daarop gemik was om Afrikalande suid van die Sahara ekonomies te ondersteun. Tot en met die jaar 2000, toe die voormalige president van die VSA, Bill Clinton, die Africa Growth and Opportunity Act (AGOA) onderteken het, het die VSA se bystand aan Afrikalande hoofsaaklik uit skenkings vir armoedeverligting of noodhulp bestaan.

Die geskiedkundige gebeure rondom die val van die Berlynmuur en die verbrokkeling van kommunisme in Oos-Europa was een van die faktore wat ’n rol gespeel het in die VSA se besluit om ’n meer doelgerigte en oorkoepelende beleid van ekonomiese bystand aan lande in suidelike Afrika in te stel, wat dan met AGOA verwesenlik is.

Die omstandighede in die meeste van dié lande het tussen 1989 en 2000 radikaal verander, met die aantal demokrasieë wat van slegs drie tot 23 toegeneem het. Saam met die aftakeling van kommunisties-gesinde diktature het die rekenpligtigheid en openbare bestuur in verskeie lande in suidelike Afrika aansienlik verbeter, terwyl ekonomiese stagnasie vinnig deur reële ekonomiese groei van meer as 4% vervang is (tot en met die finansiële krisis van 2008/9).

AGOA bly ’n unieke inisiatief deur die VSA, waarvolgens kwalifiserende Afrikalande ongeveer 6 000 verskillende produkte tariefvry na die VSA kan uitvoer (tesame met die VSA se stelsel van algemene voorkeur). Dit dek sowat die helfte van die totale tarieflyne vir internasionale handel wat in die VSA bestaan.

Die belangrikste doelwitte van AGOA het die volgende ingesluit:

  • die versterking van demokratiese bestuur en ekonomiese vooruitgang;
  • die vestiging en ontwikkeling van die fabriekswese;
  • werkskepping;
  • armoedeverligting; en
  • die verbetering van betrekkinge tussen die VSA en Afrikalande.

Een van die uitstaande kenmerke van AGOA was die ondersteuning wat dit uit die geledere van beide die Demokratiese Party en die Republikeinse Party geniet het, soos bevestig deur die uitbreiding en versterking van die wetgewing tydens die ampstermyn van oud-president George Bush.

Voordele vir Suid-Afrika

Grondliggende ekonomiese teorie, gestaaf deur empiriese navorsing, bevestig die bestaan van wedersydse ekonomiese voordele wanneer twee lande met mekaar handel dryf, ’n beginsel wat ook vir groeperings van lande geld. Die voordele vir Suid-Afrika se deelname aan AGOA kan op verskeie maniere geskat word, maar dit kan nie presies bepaal word nie, aangesien ’n aansienlike mate van handel tussen die twee lande in elk geval vóór die jaar 2000 in plek was.

Een aanduiding van die voordeel kan uit die totale waarde van goedere-uitvoer na die VSA bereken word. Dit het sedert 2000, aangepas vir inflasie, op sowat R2,2 triljoen te staan gekom (edelmetale en -gesteentes uitgesluit, wat buitendien tariefvry na die VSA uitgevoer word). Indien een-derde van dié bedrag as gevolg van AGOA uitgevoer is, kom die besparing (in terme van die gemiddelde invoertarief in die VSA) op R53 miljard te staan.

Volgens ’n kennisgewing wat tydens die AGOA-forum vir Handel en Ekonomiese Samewerking in 2023 in Johannesburg gehou is, het ’n verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse regering se Kommunikasie- en Inligtingstelsel bevestig dat duisende tariefitems vir AGOA kwalifiseer en dat AGOA bygedra het tot die skep van 350 000 direkte werksgeleenthede en 1,3 miljoen indirekte werksgeleenthede in suidelike Afrika. Meer as die helfte van dié voordele het Suid-Afrika toegekom.

Redes vir Suid-Afrika se opskorting

Afrikalande suid van die Sahara word nie outomaties by AGOA ingesluit nie, aangesien daar voorwaardes vir deelname bestaan. Verskeie lande is reeds uitgesluit, waarvan die meeste hulself skuldig gemaak het aan ernstige skendings van die Verenigde Nasies se Handves van Menseregte, insluitende Uganda, Gaboen, Niger, Burundi, Zimbabwe, Eritrea en die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Suid-Afrika en Rwanda is die nuutste toevoegings tot dié onbenydenswaardige groep Afrikalande wat die VSA die harnas ingejaag het en nou ’n prys daarvoor gaan betaal.

Die spesifieke redes vir die opskorting van Suid-Afrika se deelname aan AGOA is:

  • die bestaan van plaaslike handelsbeperkings op sommige invoere uit die VSA;
  • ’n gebrek aan behoorlike stelsels om die voorkoms van korrupsie en omkopery te verhoed;
  • die verstewiging van buitelandse betrekkinge met verskeie lande wat geswore vyande van die VSA is; en
  • die langdurige toepassing van rasgebaseerde beperkings op mense se deelname aan ekonomiese aktiwiteit.
Nadele vir die land

Die grootste onmiddellike nadeel van weglating uit AGOA is die verhoogde tariewe wat plaaslike uitvoerders na die VSA nou gaan betaal. Gelukkig is die vroeëre tariewe van 30% op sommige produkte wat deur president Trump ingestel is, deur die VSA se grondwetlike hof na 12,5% gewysig. Volgens die Landbou-besigheidskamer (Agbiz) kom die vertrek uit AGOA op ’n bykomende tarief van gemiddeld 3,4% te staan, wat dan ’n gemiddelde tarief op tersaaklike produkte van 15,9% beteken.

Tussen 2010 en 2024 het Suid-Afrika se uitvoere na die VSA (edelmetale en -gesteentes uitgesluit) met 171% toegeneem om ’n vlak van nét meer as R100 miljard te bereik – gemiddeld R8,5 miljard per maand. Sedertdien het dit met 22% gedaal – ’n duidelike teken van verlaagde ekonomiese uitset in Suid-Afrika.

Grafiese voorstelling deur Roelof Botha

Die vakbondorganisasie Cosatu bereken dat tussen 3 000 en 10 000 direkte werksgeleenthede nou in die gedrang is, veral in landbou en die fabriekswese. Verder sal laer vlakke van produksie ook ’n deursyferende negatiewe uitwerking op die waardekettings binne die betrokke bedryfstakke uitoefen, wat tot verdere werksverliese sal lei.

Daar bestaan ook meer subjektiewe nadele, veral ten opsigte van die moontlikheid dat Suid-Afrika weer op die Financial Action Task Force (FATF) se sogenaamde “gryslys” geplaas kan word. Die Suid-Afrikaanse regering se uitgesproke ondersteuning van lande wat deurlopend aan skendings van menseregte en die finansiering van internasionale terrorisme skuldig is, kan ook meebring dat sakeondernemings in demokratiese lande huiwerig word om ter plaatse te investeer.

Nóg ’n nadeel is die verhoogde spanning wat nou in die regering van nasionale eenheid (RNE) heers, met die land se tweede grootste politieke party, die DA, wat skerp kritiek op die ANC se hantering van buitelandse beleid gelewer het. Dit is ongetwyfeld ’n skandvlek op Suid-Afrika se buitelandse beleid om nou in dieselfde asem genoem te word as lande wat hulself aan die onderste punt van die wêreld se vryheidsindeks bevind.

Die pad vorentoe

Hoewel die verlies van voordele uit AGOA gevoelig gaan wees, is die deur vir uitvoere na die VSA nie gesluit nie. Danksy ’n bedrewe en professionele private sektor, is die gehalte van Suid-Afrika se uitvoere op só ’n hoë vlak dat heelwat handelaars en verbruikers in die VSA bereid sal wees om ’n effens hoër prys daarvoor te betaal.

Die bemarking van Suid-Afrikaanse uitvoere sal egter opgeskerp moet word, saam met pogings om nuwe wêreldmarkte te ontgin. Een spesifieke voorbeeld wat onlangs tydens ’n landbouberaad van AgriX geopper is, wentel rondom die reusepotensiaal vir uitvoere van Suid-Afrikaanse rooivleis – mits die betrokke bedryfstak beter kan saamwerk en die kwessie van naspeurbaarheid aanspreek.

Grafiese voorstelling deur Roelof Botha

Aangesien Suid-Afrika se handelstekort met China (vir produkte met ’n hoë toegevoegde waarde) gedurende die eerste nege maande van 2026 tot ’n verstommende vlak van meer as R300 miljard gestyg het, bestaan daar oorgenoeg ruimte vir onderhandelinge met die wêreld se tweede grootste ekonomie (en tweede grootste bevolking) om dié wanbalans te begin regstel.

Die verswakking van diplomatieke betrekkinge tussen Suid-Afrika en die wêreld se grootste demokratiese vryemarkekonomie kan vierkantig aan die deur van die Suid-Afrikaanse regering gelê word. Indien die DA (en ander politieke partye wat nie openlik kommunisme ondersteun nie) se invloed in die RNE en steun onder kiesers in die toekoms kan vergroot, sal die skade met die afskeid van AGOA, en ook die land se internasionale beeld onder ander demokrasieë, verminder kan word.

Lees ook:

Strategiese mededinging tussen die VSA, China en Rusland in Afrika: ’n teoretiese ontleding

Politieke onsekerheid in die Suid-Afrikaanse politiek: ’n "politieke Rubicon" (?) en die pad vorentoe

Trump se uitvoerende bevel en die Onteieningswet: Wat nou?

Navo 3.0: Oorlog en die strategiese werklikheid

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top