1. Inleiding
TikTok (https://www.tiktok.com/en) is ’n sosialemediatoepassing waarmee gebruikers kort video's met ’n klankbaan kan skep en deel. Dit het oor die afgelope vyf jaar al hoe meer gewild onder jonger mense geword en word vir vermaak, opvoeding en aktivisme gebruik. Sedert 2020 was daar egter pogings deur Westerse leiers om die toepassing te verbied, hoofsaaklik om veiligheidsredes. In 2023 het die globale politieke klimaat daartoe gelei dat verskeie Westerse regerings ’n mate van beperking op die toepassing ingestel het.
Hierdie artikel verskaf agtergrond oor hierdie toepassing en die huidige debat rondom die verbanning van TikTok, met verwysing na die globale politieke konteks.
2. Agtergrond tot TikTok
Die toepassing Douyin is in 2016 in China vrygestel, en in September 2017 is sy internasionale weergawe, TikTok, wêreldwyd vrygestel (Iqbal 2023). In November 2017 is Musical.ly deur Beijing Bytedance Technology aangekoop en by TikTok ingelyf (Montag, Yang en Elhai 2021; Iqbal 2023). TikTok het vinnig wêreldwyd gewild geword en het die mees suksesvolle toepassing van Chinese oorsprong in terme van wêreldwye verspreiding geword (Montag ea 2021). In die VSA alleen het die toepassing tans 150 miljoen gebruikers, wat bykans die helfte van die VSA se bevolking verteenwoordig (Shepardson en Ayyub 2023; Paul en Bhuiyan 2023). Die toepassing funksioneer onder die naam TikTok op die wêreldmark en as Douyin op die Chinese mark, en beide word steeds deur die Chinese maatskappy Bytedance besit (Montag ea 2021; Kaye, Chen en Zeng 2020). Figuur 1 toon die gewildste sosialemediaplatforms ten opsigte van maandelikse aktiewe gebruikers teen Januarie 2023 in miljoene (Statista 2023). Hier kan gesien word dat TikTok tans meer as ’n miljard aktiewe gebruikers wêreldwyd het, en DouYin meer as 700 miljoen.
Figuur 1. Die gewildste sosialemediaplatforms ten opsigte van maandelikse aktiewe gebruikers (2023)
TikTok was aanvanklik ’n platform waar jongmense dansvideo’s kon oplaai, maar sy funksies het sedertdien uitgebrei. TikTok word tans nie alleen vir vermaak gebruik nie, maar kan ook gebruik word om inligting rondom gesondheid te versprei (Basch, Hillyer en Jaime 2022; Ostrovsky en Chen 2020; Comp, Dyer en Gottlieb 2021; Southwick ea 2021; Kong ea 2021), vir politieke gesprekke (Medina Serrano, Papakyriakopoulos en Hegelich 2020), vir nuus (Vázquez-Herrero, Negreira-Rey en López-García 2022), toerisme (Du ea 2020) en in opvoedkunde (Hayes ea 2020; Escamilla-Fajardo, Alguacil en López-Carril 2021).
Soos met alle sosiale media word TikTok ook gebruik om vals inligting te versprei, byvoorbeeld met betrekking tot COVID-19 (Southwick ea 2021; Ling, Gummadi en Zannettou 2022; Basch ea 2021).
Omdat ’n groot segment van TikTok-gebruikers tieners is (Montag ea 2021; Bucknell Bossen en Kottasz 2020), is veiligheid van besondere belang op hierdie platform. TikTok is reeds gekritiseer met betrekking tot databeskermingskwessies en privaatheid (Krishnan ea 2020) en die verspreiding van haat (Weimann en Masri 2020), en kan dien as ’n platform wat kuberafknouery veroorsaak (Anderson 2020; Kumar en Goldstein 2020). Die slaapkamers van kinders en tieners waar hulle TikTok-video's vervaardig, kan ook deur die publiek gesien word, wat kommer oor privaatheidskendings wek (Kennedy 2020).
3. Die Chinese verbintenis
China het in 2017 ’n wet ingestel wat maatskappye verplig om die regering te voorsien van enige persoonlike data wat nodig geag word vir hul nasionale veiligheid, en hoewel daar geen bewys is dat TikTok persoonlike data van gebruikers gedeel het nie, het kommer ontstaan as gevolg van die uitgebreide gebruikersdata wat deur die toepassing ingesamel word (Hadero 2023; Maheshwari en Holpuch 2023).
Reeds in 2020 het die destydse staatspresident van die VSA, Donald Trump, probeer om TikTok om veiligheidsredes uit die VSA te verban (Hadero 2023). Trump se pogings is deur die howe verhoed en president Joe Biden het Trump se instruksies omgekeer toe hy die amp aanvaar het, maar self ’n deeglike ondersoek van die saak aangevra (Hadero 2023).
Die direkteur van die Federal Bureau of Investigation (FBI), Christopher Wray, het in Maart vanjaar gesê dat die Chinese regering TikTok sou kon gebruik om sagteware op miljoene toestelle te beheer en narratiewe te dryf om Amerikaners oor Taiwan of ander kwessies te verdeel (Martina and Zengerle 2023). Hy het verder gesê: "This is a tool that is ultimately within the control of the Chinese government – and, to me, it screams out with national security concerns" (Martina en Zengerle 2023). Avril Haines, die direkteur van Nasionale Intelligensie, William Burns, die direkteur van die Central Intelligence Agency (CIA), en Paul Nakasone, die direkteur van die National Security Agency (NSA), het saamgestem dat TikTok ’n bedreiging vir die Amerikaanse nasionale veiligheid inhou (Martina en Zengerle 2023). Benewens die deel van sensitiewe inligting bestaan daar ook vrese dat die Chinese regering TikTok sou kon gebruik om disinformasie te versprei (Maheshwari en Holpuch 2023)
TikTok is reeds van alle staatsuitgereikte mobiele toestelle van personeel van die Amerikaanse Kongres, die Withuis, en meer as die helfte van Amerikaanse state verbied (Hui 2023; Hadero 2023). Die toepassing is ook reeds vir drie jaar verbied op toestelle van die Amerikaanse regering wat deur die weermag, die marinekorps, die lugmag en die kuswag gebruik word (Maheshwari en Holpuch 2023). In die Verenigde Koninkryk is TikTok op veiligheidsgronde vanaf regeringselfone verban (Hui 2023). Die Europese Unie se uitvoerende tak het ook TikTok van werknemersfone verbied, en Denemarke, Noorweë, Kanada, Frankryk en Australië het elk ’n soortgelyke verbod om veiligheidsredes aangekondig (Hadero 2023; Maheshwari en Holpuch 2023; Norwell 2023). Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) het self ook TikTok onder hul personeel verban (Bertrand 2023). In Noorweë se geval is ook Telegram om veiligheidsredes onder regeringsamptenare verban (Norwell 2023).
In opvolg op hierdie verwikkelinge is TikTok se uitvoerende hoofbeampte, Shou Zi Chew, in Maart vanjaar deur die VSA se regering ondervra oor hul verbintenis met die Chinese regering, asook oor die veiligheid van die platform (Shepardson en Ayyub 2023; Paul en Bhuiyan 2023). TikTok is daarvan beskuldig dat inhoud geplaas of verwyder word in opdrag van die Chinese Kommunistiese Party, asook dat die toepassing data oor Amerikaanse burgers met die Chinese regering deel, maar Chew het dit ontken (Shepardson en Ayyub 2023; Paul en Bhuiyan 2023). Een oplossing wat in hierdie opsig voorgestel is, is dat die maatskappy se eienaarskap na die VSA geskuif word, maar China het aangedui dat hy so ’n skuif sal teenstaan (Shepardson en Ayyub 2023; Paul en Bhuiyan 2023; Maheshwari en Holpuch 2023). TikTok is ook daarvan beskuldig dat hy inhoud bevorder wat eetversteurings onder kinders aanmoedig, sowel as onwettige dwelmverkope, selfmoord en seksuele uitbuiting (Shepardson en Ayyub 2023; Paul en Bhuiyan 2023).
Alhoewel alle sosialemediaplatforms daarvan beskuldig kan word dat hulle privaat inligting versamel of inhoud versprei wat nadelig vir gebruikers kan wees, is die deurslaggewende faktor in die TikTok-debat dat die toepassing deur ’n Chinese maatskappy besit word (Maheshwari en Holpuch 2023). Wrywing ontstaan toenemend tussen die Weste en China oor Chinese steun aan Rusland tydens die voortslepende oorlog in Oekraïne, en Chinese houdings en dreigemente teenoor Taiwan. China het byvoorbeeld in April vanjaar militêre oefeninge rondom Taiwan uitgevoer waartydens hulle geoefen het om aanvalle op Taiwan te loods en om die eiland van die buitewêreld af te sluit (Blanchard en Lee 2023). China weier steeds om Taiwan as onafhanklike land te erken, en met die Russiese inval van Oekraïne in Februarie 2022 het vrese ontstaan dat China Taiwan sou kon aanval. Die militêre oefeninge in April vanjaar dui daarop dat China wel vir so ’n aanval beplan. Aan die ander kant het China nog nie onderneem om wapens aan Rusland te voorsien vir hulle oorlog in Oekraïne nie, maar daar is aanduidings dat China dit oorweeg, en China verskaf in elk geval ekonomiese en politieke steun aan Rusland (Berry 2023). Met die groot steun van die Weste vir Oekraïne en Taiwan, en dit teenoor Rusland en China, kom China toenemend in konflik met die Weste. Indien China dan toegang het tot persoonlike inligting van bykans die helfte van die Amerikaanse bevolking, en miljoene gebruikers in die VK en die Europese Unie, ontstaan die vrees dat China hierdie inligting tot sy voordeel sou kon gebruik.
TikTok se verbintenis met China is verder belangrik gegewe globale Chinese (en Russiese) disinformasieveldtogte rakende COVID-19 (Johnson en Marcellino 2021; Matthews, Migacheva en Brown 2021; Dubow, Lucas en Morris 2021). Tydens die pandemie het beide lande vals inligting versprei in ’n poging om Westerse lande te ontwrig. Rusland het vantevore sosialemediakanale gebruik om Westerse samelewings te verdeel (DiResta ea 2019; Treyger, Cheravitch en Cohen 2022), en aangesien beide Rusland en China soortgelyke disinformasieveldtogte rakende COVID-19 van stapel gestuur het, is dit moontlik dat China ook, soos Rusland, kan poog om sosiale media te gebruik om Westerse samelewings te verdeel. My vermoede is dat hierdie disinformasieveldtogte vars in die geheue van Westerse intelligensiedienste is, en met China se toenemende vyandige houding teenoor Taiwan, tesame met hul ondersteuning van Rusland, is dit moontlik dat Westerse intelligensiedienste TikTok as ’n rolspeler in die globale inligtingstryd sien. Trouens, wanneer Navo ’n Chinese toepassing op grond van veiligheidsoorwegings verban, behoort die besluit op meer as net ’n voorgevoel gegrond te wees.
4. Slot
In die wêreld van sosiale media is TikTok uniek deurdat dit meer direk by die globale politieke klimaat betrek word as wat die geval is met Amerikaanse maatskappye soos Meta en Alphabet. Verskeie Westerse lande het hul kommer uitgespreek oor data wat deur TikTok as Chinese maatskappy versamel word, en die feit dat beperkinge op TikTok se gebruik deur verskeie Westerse lande en Navo ingestel is – sowel as bekommernisse wat deur beide Trump en Biden oor hierdie toepassing uitgespreek is – plaas ’n vraagteken oor die gebruik van hierdie toepassing.
Bibliografie
Anderson, Katie Elson. 2020. Getting acquainted with social networks and apps: It is time to talk about TikTok. Library Hi Tech News 37(4):7–12. https://doi.org/10.1108/LHTN-01-2020-0001.
Basch, Corey H, Grace C Hillyer en Christie Jaime. 2022. COVID-19 on TikTok: Harnessing an emerging social media platform to convey important public health messages. International Journal of Adolescent Medicine and Health 34(5):367–9. https://doi.org/10.1515/ijamh-2020-0111.
Basch, Corey H, Zoe Meleo-Erwin, Joseph Fera, Christie Jaime en Charles E Basch. 2021. A global pandemic in the time of viral memes: COVID-19 vaccine misinformation and disinformation on TikTok. Human Vaccines & Immunotherapeutics 17(8):2373–7. https://doi.org/10.1080/21645515.2021.1894896.
Berry, Lynn. 2023. US warns China not to send weapons to Russia for Ukraine War. 19 Februarie 2023. https://apnews.com/article/russia-ukraine-putin-politics-antony-blinken-xi-jinping-4501b49359d73b6efbac87b2af54f189 (10 April 2023 geraadpleeg).
Bertrand, Natasha. 2023. NATO bans TikTok on devices. 31 Maart 2023. https://edition.cnn.com/2023/03/31/tech/nato-tiktok-ban/index.html (10 April 2023 geraadpleeg).
Blanchard, Ben, wn Yimou Lee. 2023. China ends Taiwan drills after practising blockades, precision strikes. 10 April 2023. https://www.reuters.com/world/asia-pacific/japan-following-chinas-taiwan-drills-with-great-interest-2023-04-10 (10 April 2023 geraadpleeg).
Bucknell Bossen, Christina en Rita Kottasz. 2020. Uses and gratifications sought by pre-adolescent and adolescent TikTok consumers. Yearbook of Conrad Studies 21(4):463–78. https://doi.org/10.1108/YC-07-2020-1186.
Comp, Geoffrey, Sean Dyer en Michael Gottlieb. 2021. Is Tiktok the next social media frontier for medicine? AEM Education and Training 5(3). https://doi.org/10.1002/aet2.10532.
DiResta, Renee, Kris Shaffer, Becky Ruppel, David Sullivan, Robert Matney, Ryan Fox, Jonathan Albright en Ben Johnson. 2019. The tactics & tropes of the Internet Research Agency. US Senate Documents. Washington: Congress of the United States.
Dubow, Ben, Edward Lucas en Jake Morris. 2021. Jabbed in the back: Mapping Russian and Chinese information operations during the COVID-19 pandemic. 2 Desember 2021. https://cepa.org/comprehensive-reports/jabbed-in-the-back-mapping-russian-and-chinese-information-operations-during-the-covid-19-pandemic (10 April 2023 geraadpleeg).
Du, Xin, Toni Liechty, Carla A Santos en Jeongeun Park. 2020. “I want to record and share my wonderful journey’: Chinese millennials’ production and sharing of short-form travel videos on TikTok or Douyin. Current Issues in Tourism, Augustus, ble 1–13. https://doi.org/10.1080/13683500.2020.1810212.
Escamilla-Fajardo, Paloma, Mario Alguacil, en Samuel López-Carril. 2021. Incorporating TikTok in higher education: Pedagogical perspectives from a corporal expression sport sciences course. Journal of Hospitality, Leisure, Sport & Tourism Education 28, Junie, bl 100302. https://doi.org/10.1016/j.jhlste.2021.100302.
Hadero, Haleluya. 2023. Why TikTok is being banned on gov’t phones in US and beyond. 1 Maart 2023. https://apnews.com/article/why-is-tiktok-being-banned-7d2de01d3ac5ab2b8ec2239dc7f2b20d (10 April 2023 geraadpleeg).
Hayes, Clare, Katherine Stott, Katie J Lamb en Glenn A Hurst. 2020. “Making every second count”: Utilizing Tiktok and systems thinking to facilitate scientific public engagement and contextualization of Chemistry at home. Journal of Chemical Education, Julie. https://doi.org/10.1021/acs.jchemed.0c00511.
Hui, Sylvia. 2023. UK bans TikTok on government phones on security grounds. 16 Maart 2023. https://apnews.com/article/uk-tiktok-government-ban-470538b4030cf6213dc655da45188023 (10 April 2023 geraadpleeg).
Iqbal, Mansoor. 2023. TikTok revenue and usage statistics (2023). 9 Januarie 2023. https://www.businessofapps.com/data/tik-tok-statistics (10 April 2023 geraadpleeg).
Johnson, Christian en William Marcellino. 2021. Bad actors in news reporting: Tracking news manipulation by state actors. Santa Monica: RAND Corporation. https://doi.org/10.7249/RRA112-21.
Kaye, D Bondy Valdovinos, Xu Chen en Jing Zeng. 2020. The co-evolution of two Chinese mobile short video apps: Parallel platformization of Douyin and TikTok. Mobile Media & Communication, Augustus, 205015792095212. https://doi.org/10.1177/2050157920952120.
Kennedy, Melanie. 2020. “If the rise of the TikTok dance and e-girl aesthetic has taught us anything, it’s that teenage girls rule the internet right now”: TikTok celebrity, girls and the Coronavirus crisis. European Journal of Cultural Studies, Julie:136754942094534. https://doi.org/10.1177/1367549420945341.
Kong, Wenwen, Shijie Song, Yuxiang Chris Zhao, Qinghua Zhu en Ling Sha. 2021. TikTok as a health information source: assessment of the quality of information in diabetes-related videos. Journal of Medical Internet Research 23(9):e30409. https://doi.org/10.2196/30409.
Krishnan, Sundar, Qingzhong Liu, Ashar Neyaz, Avinash Kumar en Jessica Placker. 2020. Security, privacy and steganographic analysis of FaceApp and TikTok. International Journal of Computer Science and Security (IJCSS) 14(2):38–59.
Kumar, Vidhya Lakshmi, en Mark A. Goldstein. 2020. Cyberbullying and adolescents. Current Pediatrics Reports 8(3):86–92. https://doi.org/10.1007/s40124-020-00217-6.
Ling, Chen, Krishna P Gummadi en Savvas Zannettou. 2022. “Learn the facts about COVID-19”: Analyzing the use of warning labels on TikTok videos. ArXiv. https://doi.org/10.48550/arxiv.2201.07726.
Maheshwari, Sapna en Amanda Holpuch. 2023. Why countries are trying to ban TikTok. 4 April 2023. https://www.nytimes.com/article/tiktok-ban.html (10 April 2023 geraadpleeg).
Martina, Michael en Patricia Zengerle. 2023. FBI Chief says TikTok “screams’ of US national security concerns”. 9 Maart 2023. https://www.reuters.com/technology/fbi-chief-says-tiktok-screams-us-national-security-concerns-2023-03-08 (10 April 2023 geraadpleeg).
Matthews, Miriam, Katya Migacheva en Ryan Andrew Brown. 2021. Superspreaders of malign and subversive information on COVID-19: Russian and Chinese efforts targeting the United States. Santa Monica: RAND Corporation. https://doi.org/10.7249/RR-A112-11.
Medina Serrano, Juan Carlos, Orestis Papakyriakopoulos en Simon Hegelich. 2020. Dancing to the partisan beat: a first analysis of political communication on TikTok. In 12th ACM Conference on Web Science, 257–66. New York, NY, VSA: ACM. https://doi.org/10.1145/3394231.3397916.
Montag, Christian, Haibo Yang en Jon D Elhai. 2021. On the psychology of TikTok use: a first glimpse from empirical findings. Frontiers in Public Health 9:641673. https://doi.org/10.3389/fpubh.2021.641673.
Norwell, Frazer. 2023. Norwegian Parliament joins the government in TikTok ban. 24 Maart 2023. https://www.thelocal.no/20230324/norwegian-parliament-joins-the-government-in-tiktok-ban (10 April 2023 geraadpleeg).
Ostrovsky, Adam M en Joshua R Chen. 2020. TikTok and its role in COVID-19 information propagation. The Journal of Adolescent Health 67(5):730. https://doi.org/10.1016/j.jadohealth.2020.07.039.
Paul, Kari en Johana Bhuiyan. 2023. TikTok CEO grilled for over five hours on China, drugs and teen mental health. 23 Maart 2023. https://www.theguardian.com/technology/2023/mar/23/tiktok-shou-zi-chew-congress (10 April 2023 geraadpleeg).
Shepardson, David en Rami Ayyub. 2023. TikTok Congressional Hearing: CEO Shou Zi Chew grilled by US lawmakers. 24 Maart 2023. https://www.reuters.com/technology/tiktok-ceo-face-tough-questions-support-us-ban-grows-2023-03-23 (10 April 2023 geraadpleeg).
Southwick, Lauren, Sharath C Guntuku, Elissa V Klinger, Emily Seltzer, Haley J McCalpin en Raina M Merchant. 2021. Characterizing COVID-19 content posted to TikTok: public sentiment and response during the first phase of the COVID-19 pandemic. The Journal of Adolescent Health 69(2):234–41. https://doi.org/10.1016/j.jadohealth.2021.05.010.
Statista. 2023. Most popular social networks worldwide as of January 2023, ranked by number of monthly active users. 31 Januarie 2023. https://www.statista.com/statistics/272014/global-social-networks-ranked-by-number-of-users (10 April 2023 geraadpleeg).
Treyger, Elina, Joe Cheravitch en Raphael S Cohen. 2022. Russian disinformation efforts on social media. Santa Monica: RAND Project Air Force.
Vázquez-Herrero, Jorge, María-Cruz Negreira-Rey en Xosé López-García. 2022. Let’s dance the news! How the news media are adapting to the logic of TikTok. Journalism 23(8):1717–35. https://doi.org/10.1177/1464884920969092.
Weimann, Gabriel en Natalie Masri. 2020. Research note: Spreading hate on TikTok. Studies in Conflict & Terrorism, Junie, ble 1–14. https://doi.org/10.1080/1057610X.2020.1780027.
Even though both the platforms are owned by the same Chinese tech company Bytedance, Douyin and Tiktok are two completely separate entities. Users on these two short video apps cannot interact with each other. (https://www.google.com/search?client=firefox-b-d&q=Douyin)
Lees ook:
Herman Wasserman en die infodemie: Disinformasie in die Globale Suide
Disinformation in the Global South: ’n onderhoud met Herman Wasserman
Hoe verskil ChatGPT van Microsoft en Google se gespreksagente?