
Ilza Roggeband en Theo Kleynhans
Die kunstenaar Theo Kleynhans, wat in Julie met lewerkanker gediagnoseer is, is vroegoggend op 13 Oktober in Porterville oorlede. Hy was 61 jaar oud. Ilza Roggeband bring hulde aan ’n merkwaardige kunstenaar en vriend.
*
Hoe skryf jy oor iemand soos Theo Kleynhans? Hoeveel woorde is genoeg om te verduidelik watter wonderlike man hy was?
Theo het soveel fasette gehad. Hy was ’n kunstenaar wat met kwas én klei kon werk. Hy was ’n dramaturg en resensent. ’n Mentor vir nie net mense in die kunste nie, maar vir enigeen met wie hy sy wye kennis en empatie kon deel.

Theo was ’n kurator soos min – by die KKNK, die Woordfees en sewe jaar by Aardklop, waar hy die eerste kurator geword het om meer as R1 miljoen se werk te verkoop. By sy kunsrondleidings by Aardklop het mense om hom saamgedrom terwyl hy vir hulle werke ontsluit en met ander oë daarna laat kyk het. Maar dit was nie net sy kennis wat feesgangers jaar na jaar laat terugkom het nie; dit was ook sy energie, sy sin vir humor en sy oop gemoed.

Sy kunswerke is in verskeie versamelings, hier en oorsee. Sy kleiborde hang in The Westcliff Hotel in Johannesburg, in die Media 24-gebou in Kaapstad, in huise die wêreld oor. As jy gelukkig is, het jy een van sy beerbeeldjies, een van sy vlerkebakkies of een van sy skilderye of werke in ink. Daar is elemente in sy werk wat jy gereeld sal sien. Die bootjie gevou van papier, bere, gereedskap, vlerke, leestekens, harte, insekte. Elkeen met ’n doel. Niks wat Theo gedoen het, was toevallig nie.
Hy het altyd geweldig hard gewerk, nie net aan sy kuns nie, maar ook as kunsregisseur aan advertensies en rolprente en as opknapper van huise waarin hy gewoon het. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy kon boor, kap, teël en verf. Hy het kontfyt gekook en beet ingelê. Brood gebak. As Theo aan ’n ding geraak het, het hy die mooi daarin uitgebring. Ook in mense.
By die uitstalling wat op 29 Augustus by Art B in Bellville gehou is om sy lewe te vier, is ’n huldeblyk aan Theo – wat die uitstalling bygewoon het – voorgelees.
“Theo is ’n hawe, ’n vlam, ’n stem in die donker wat altyd, altyd sê ‘ek is hier’, al gebeur die onmoontlike,” het ’n vriendin gesê.
“Hy het die vermoë om die wêreld anders te sien, om te skep, te inspireer en mense te laat dink. Maar verby sy talent en intellek is daar ’n vrygewige siel wat mense welkom, waardevol en geliefd laat voel. Dan is daar sy ongelooflike vermoë om ’n vertrek lewendig te maak. Hy is die siel van die partytjie – vol lag, energie, ondeundheid en lewenslus,” het ’n vriend gesê.

Theo en Zac, Ilza se seun
“Hy het ’n vermoë om mense te sién. Ons groot beer met die sagste hart. Die lekkerste energie. Wanneer Theo ’n vertrek inkom, is daar min kans dat iemand hom nie gaan raaksien nie. Vir so baie kunstenaars en vriende was hy nog altyd ’n veilige hawe en iemand by wie jy kan aanklop vir raad, ondersteuning en ’n eerlike mening, of soms net ’n plek om asem te haal,” het ’n vriendin oor haar vriendskap met Theo wat oor dekades strek, gesê.
Ek en Theo het mekaar by Aardklop ontmoet. Ons was saam op die redaksie van Spat, die feeskoerant, en het vir jare in die Elgro Hotel gebly. Soggens het ons saam ontbyt geëet, laataand het ons saam by Snowflake gekuier, en tussenin het ons gepraat en gelag en ja, soms geskinder. Maar dit was die ding van Theo en iets wat soveel mense van hom sê: Jou stories was veilig by hom. As daar een mens was by wie jou geheime geheime gebly het, was dit Theo.
Wanneer ek na die kuns teen my mure kyk, is daar soveel werk wat ek gekoop het met Theo wat agter my skouer staan. Altyd reg met raad, altyd reg met kennis. Ek kyk na werk van Wendy Malan, Theo Paul Vorster, Strijdom van der Merwe, Sandile Goje en vele ander en onthou Theo se hand daarin. Ek dink aan die Barbara Wildenboers, Hanneke Benadés en Olaf Bisschoffs wat ek nié gekoop het nie en waaroor ek myself nou kan skop.

Ilza Roggeband en Theo Kleynhans
Hy was een van die snaaksste mense wat ek geken het. Hy het gehou van lag en om mense te laat lag. Hy was vlymskerp, blitsig met sy tong stewig in sy kies. Maar Theo was nooit venynig nie. Sy woorde was meer salf as swaard.
Theo was werklik groter as die lewe self. Gebril en gereeld in ’n kortbroek, het jy gewéét as hy daar was. Sy liefde vir ’n mooi lap, meestal om sy skouers gevou, en sy bokbaard was deel van hom. Sy groot lyf én hart soos dié van ’n beer.
Ek lees weer ons boodskappe op WhatsApp en lees hierdie een raak wat hy op 2 September 2020 gestuur het:
Ek het vanoggend die mooiste woorde gedink oor seepbelle wat bars en opdryf in die niks. En oor hoe vlietend die lewe is. Dat mens net moet kyk na die metaalagtige reënboog op die oppervlak van seepbelle wat deur die lug trek. Dat wenke en bewerings van wêrelde en waarhede in die bewegende oppervlaktes vasgevang is. ’n Drywende ewig veranderende logos, bewussyn of taal. Dat alles eindelik voltooi en begin met die bars van die wand wat heeltyd beweeg onder verskeie kragte. Die lug wat binne vasgevang is met die sonstrale wat reflekteer op die buitekant sag soos ’n oog. Tot dit boontoe sweef omdat die vasgevange lug warmer word aan die binnekant en dan uiteindelik vrygestel word soos ’n burp om weer deel te word van die atmosfeer. Terwyl die uitgediende sliert water terugval na benede. Van sy taak ontdaan. Dat daar iets van die hitte soos ’n asem opdryf en eindelik deel word van die uitspansel waarin sterrestelsels kolk. En waar reën neersuis op vêr planete. Soms loop die trane net uit my uit soos die reën buite. Maar dit laat my voel asof ek behoort aan al die water op alle planete in hierdie hemelruim en elders.
Theo, soveel van ons se trane loop soos reën vandag. Die verlies is enorm. Jy is iemand wat vir altyd moes lewe, vir altyd jou fabelagtige wonderlikheid moes versprei. Ons gaan jou geweldig mis. Stuur groete daar waar jy is en laat ons so nou en dan weet hoe dit gaan. Liefde, liefde, liefde.
- Foto’s verskaf deur Ilza Roggeband
Lees ook:
Persverklaring: Theo Kleynhans vier die lewe met ’n uitsonderlike uitstalling
Clover Aardklop 2013: Theo Kleynhans gesels oor die omvangryke kunsprogram

