Clover Aardklop 2013: Theo Kleynhans gesels oor die omvangryke kunsprogram

  • 0

Clover Aardklop bied vanjaar 'n omvangryke kunsprogram met "Landskap" as tema, moontlik gemaak deur die ATKV. Theo Kleynhans is vanjaar die kunskurator. Reney Warrington het met hom oor die kunsprogram gesels.

Goeie genade, julle het ’n wye versameling kuns. Groei dit elke jaar in volume/verskeidenheid? Is dit julle mikpunt?

Kuns by Clover Aardklop groei elke jaar, ja. Dit bly een van die sterkste aanbiedings binne die kunsteboeket wat by Clover Aardklop aangebied word en dit is vir my ’n groot voorreg om vanjaar die eerste keer as kurator op te tree. Dit is ook lekker om vir Luan Nel as jong kurator te verwelkom met die groepuitstalling wat hy aanmekaargesit het onder die titel Weerberig.

Weerberig? Vertel meer.

Luan het my gespot en gesê as ek nou die hoofuitstallings kurateer, is ek seker die hoofnuus en dan is sy show seker die weerberig! Maar ek dink Luan se aanslag is baie goed, want hy kyk ook na die emosionele landskap in sy uitstalling, nie net na die fisiese landskap nie. As jong kurator het hy ‘n skerp en aweregse invalshoek.

 

Is daar enige omstrede uitstallings wat ek eerste moet gaan sien?

Vanjaar se tema wentel om landskap en verwag nie sensasie nie, eerder deurdagte dialoog met die landskap, maar daar is altyd verrassings!

Hoekom is Strijdom van der Merwe as feeskunstenaar gekies?

Strijdom is Suid-Afrika se voorste landkunstenaar. Hy is geliefd as kunstenaar wat ingrepe binne die landskap pleeg en dit dan fotografies dokumenteer. Dit het hom die perfekte kunstenaar gemaak om ons oorhoofse tema, naamlik landskap, te ondersteun.

Is toegang tot al julle uitstallings gratis? Dink jy dit kan die kunstenaars help as julle ’n nominale ingangsfooi sou vra? Om kuns te maak en voor te lê is immers duur. Sou die publiek dit betaal?

Tradisioneel was kunskyk nog altyd gratis gewees. Besigtiging van alle visuele kuns by Clover Aardklop is ook gratis. Kunstenaars verdien ’n lewe deur hulle kuns te verkoop en daarom vra ek weer die publiek om asseblief die kunstenaars te ondersteun. Om as kunstenaar te oorleef in Suid-Afrika is baie moeilik. Kopers kan die verskil maak en omdat Clover Aardklop so ‘n klein kommissie van die verkope vra, sal die werke ook goedkoper wees as enige ander plek.

Hoe besluit julle watter kunstenaars op Clover Aardklop sal werk?

Elke fees het ’n eie identiteit wat bepaal word deur die feesgangers en ook die feeskomitee. Geografies is daar ook faktore wat bepaal wie ’n spesifieke fees ondersteun. Ek probeer om altyd ’n program saam te stel wat losweg om ’n sentrale tema wentel, maar waar die kunstenaars steeds beweegruimte het. Ek probeer ook om soveel as moontlik verskeidenheid in die program in te sluit, sodat daar altyd iets is wat aanklank by die kyker vind. Alle kunstenaars word gekeur en gekies op meriete. Maar dit is nie net die ouer garde wat bevoordeel word nie, dit is ook van kardinale belang dat jong talent ontwikkel en gewys word.

Wat is die geografiese faktore wat Clover Aardklop beïnvloed?

Clover Aardklop se opvangsgebied wat ondersteuners betref, is Gauteng en Noordwes. Baie mense reis ook na Clover Aardklop van regoor die land, maar die ligging maak dit maklik vir mense van Johannesburg om vir die dag deur te kom. Dit beteken hulle het nie oorslaapkostes nie en het daarom meer geld om te bestee. Gauteng se per kapita-inkomste is ook veel hoër as byvoorbeeld Kaapstad s'n. Meer mense met ’n hoër besteebare inkomste beteken dus groter moontlike verkope

 

Kunssafari

Die kunsuitstallings word geopen met ’n safari. Dié geleentheid sluit ’n wyntjie en versnaperinge in.

Lokaal: Botaniese tuin-kunsgalery, Puk-kampus (beginpunt) Duur: 240 min Ouderdom: OB: Geen 0/12
Taal: NVT Prys: R 120.00 Genre: Uitstalling  
23/9/2013 - 16:00

Koop kaartjies by Computicket

Kunstoer

Begeleide kunstoere word daagliks deur Theo Kleynhans aangebied.

Lokaal: Sanlam Ouditorium (beginpunt) Duur: 90 min Ouderdom: OB
Taal: NVT Prys: R 75.00    
24/9/2013 - 9:30 25/9/2013 - 11:30 26/9/2013 - 9:30 27/9/2013 - 11:30
28/9/2013 - 9:30

Koop kaartjies by Computicket

Besoek die Clover Aardklop-portaal vir nog feesinligting

Besoek Clover Aardklop se webwerf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top