
Deur Theo Kleynhans
Sy bydrae tot die kunstelandskap in Suid-Afrika is enorm. Hy is ’n meesterkunstenaar wat met kwas én klei kan tower. Hy is ’n kurator sonder weerga wat veral op nasionale kunstefeeste sy merk gemaak het. Dan is hy op die koop toe ’n dramaturg, resensent en mentor vir menige – nie net kunstenaars nie, maar almal wat leiding en wysheid in die lewe nodig het. Toe Theo Kleynhans in Julie met lewerkanker gediagnoseer is, het hy besluit om te doen wat hy so goed kan doen: die lewe te vier met kuns en ’n uitstalling getiteld “You think you’ve got time”.

Henk Serfontein, Crescent Moon II
“Soos meeste van die mense na aan my reeds weet, is ek in Julie vanjaar met lewerkanker gediagnoseer,” sê Theo. “Ongelukkig is daar volgens die mediese span geen behandeling wat enige meningsvolle verandering sal maak nie en die prognose is dat ek heel moontlik nie 2027 sal sien nie.
“Dit is natuurlik ’n realiteit wat ek nooit gedink het ek in die gesig sou moes staar nie, maar dit het my ook laat besef hoe waardevol die mense, vriendskappe en ondervindings in my lewe was, asook my eie kreatiewe reis. Daarom het ek besluit om op 29 Augustus nie net ’n uitstalling by Art B Gallery in Bellville te hou nie, maar dit ook ’n viering van die lewe en kuns te maak, en die mense wat my lewe oor die jare verryk het.”
Al die werk op die uitstalling sal te koop wees en die fondse sal vir Theo se palliatiewe versorging gaan. Die uitstalling en logistiek, asook die bestuur van die fondse, word deur sy goeie vriende Janine Vorster en Chris Koch behartig.

Werke deur Marie Stander en Paul Birchill
’n Totaal van 68 kunstenaars het werk vir die uitstalling op 29 Augustus geskenk, ’n teken van die impak wat Theo op soveel se loopbane en lewens gemaak het. Die kunstenaars sluit Diane Victor, Hanneke Benade, Henk Serfontein, Sandra Hanekom, Paul Birchill, Marieke Kleynscheldt, Juria le Roux, Judy Woodbourne, Hennie Meyer, Barbara Wildenboer, Theo Paul Vorster, Chris Koch, Cobus van Bosch, Pauline Gutter, Alex Hamilton, Gretchen Crotz, Diek Grobler, Marie Stander, Marinda du Toit en Stephan Rosin in. Daar is ook nuwe en bestaande werk deur Theo self wat vir die eerste keer op ’n uitstalling in Suid-Afrika te sien sal wees. Van die werk is gemaak tydens sy verblyf in Spanje en ander is nuwe werk wat ná sy diagnose gemaak is.

Werke deur Theo Kleynhans
Die uitstalling begin om 14:00 en al die werk wat uitgestal word, sal te koop wees. Daar sal ook ’n loting van een van Theo se eie werke wees. Die katalogus vir die uitstalling sal op Art B se webblad beskikbaar wees vir persone wat nie die uitstalling in persoon kan bywoon nie. Aanlynverkope sal om 14:30 begin deur ’n WhatsApp na 082 463 5257 te stuur. Indien die werk nog beskikbaar is, kan die betaling gemaak word en nadat ’n bewys van betaling ontvang is, sal die werk as verkoop aangedui word. Art B kan die werk landwyd per koerier aanstuur.
Art B Gallery is in die Biblioteeksentrum, Carel van Aswegenstraat, Bellville. Vir meer inligting, kontak Ilza Roggeband by ilza@mweb.co.za.

