Taboek deur Riku Lätti: ’n lesersindruk

  • 29

Titel: Taboek
Skrywer: Riku Lätti
Uitgewer: Naledi, 2024
ISBN: 9781991256799

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Riku Lätti se debuutbundel Taboek kon nie op ’n beter tyd verskyn het as tydens 2024 se Olimpiese Spele nie.

Die Spele wat onthou sal word as die een waar sommige hekwagters dit taboe verklaar het om antieke mites en verhale op ’n speelse manier nuut en vars te herinterpreteer.

Lätti doen in Taboek presies dieselfde met bybelse mites en verhale uit die antieke tyd. Hy stof bekende verhale en dogmas wat agter kerke en katedrale se muwwe mure stof vergaar, weer af. Met ’n aweregse blik en vars interpretasies gee hy op ’n speelse manier nuwe inhoud aan ou bekende verhale.

Die werk streef nie daarna om ’n hoogs letterkundige meesterstuk te wees nie. Dit is eerder ’n intieme gesprek met die leser, wat hom of haar aanmoedig om saam met hom oor die groot vrae van die lewe te dink.

Dit streef ook nie na literêre erkenning of hoogstaande literêre tegnieke nie. Dis meer van ’n meditatiewe ervaring, waar elke vers ’n klein venster oopmaak na die grootsheid van die lewe se vrae en antwoorde. Elke vers is ’n spieël waarin die lesers hul eie gedagtes en gevoelens kan toets, met ’n fokus op die skoonheid en kompleksiteit van die alledaagse lewe en veral die natuur.

In sy openingsvers erken die skrywer prontuit dat sy gedagtes nie in almal se smaak sal val nie en ’n onpopulêre opinie mag wees. Asof hy besef hy is waarskynlik besig om vir die bekeerdes te preek:

die mense wat hierdie boek nodig het
gaan dit nie lees nie
die mense wat hierdie boek gaan lees
het dit nie nodig nie (7)

Laat ek reg aan die begin van hierdie lesersindruk my belange verklaar. Ek en Riku Lätti is vriende wat dikwels saam oor ’n bier besin oor geloof en die gode. My indrukke oor sy bundel is dus subjektief en geen objektiewe letterkundige resensie op sy werk nie.

Dit laat ek oor aan die hekwagters en beskermers van die kanon.

Wat my betref, hoef goeie poëtiese verse nie noodwendig aan al die vereistes en norme van ’n taal se literêre kanon te voldoen nie. Poësie is ’n uiters persoonlike en kreatiewe vorm van uitdrukking. Dit kan buite die grense van tradisionele literêre konvensies beweeg.

Die beskermers van die bybelse kanon, so ook diegene wat die kanon van Afrikaanse letterkunde wil behoede, se woord is in elk geval lankal nie meer die laaste woord nie. Daarvan getuig die talle reaksies op Lätti se Facebook-blad na aanleiding van ’n uiters negatiewe en selfs persoonlik neerhalende resensie wat een van die kanon se hekwagters in Rapport geskryf het oor Taboek.

Skynbaar het dit die resensent ontglip dat Lätti hom nie uitgee as digter nie en geen strewe het om aan die kanon se vereistes gemeet te word nie:

ek dig nie
ek skryf net neer wat ek voel
met fokkol tierlantyntjies (8)

In Antjie Krog se gedig aan haar ma skryf sy:

Ma, ek skryf vir jou ’n gedig
sonder fênsie leestekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer’n kaalvoet gedig…

Lätti se bundel is eweneens sonder fênsie leestekens of woorde wat rym. Dis ’n kaalvoetbundel sonder enige hoofletters, kommas of punte. Dis wat dit anders maak, want poësie is ’n kunsvorm wat kreatiewe vryheid bied.

Digters het die ruimte om met taal, struktuur, ritme en inhoud te eksperimenteer. Dit beteken dat hulle nie streng gebonde is aan die reëls van grammatika, sintaksis of tradisionele versvorme nie. Die fokus kan eerder wees op die uitdrukking van emosie, die vasvang van ’n spesifieke gevoel of die oordra van ’n unieke perspektief.

Die literêre kanon is dikwels ’n weerspieëling van historiese en kulturele norme wat oor tyd gevestig is. Om nuwe stemme en perspektiewe te omhels, is dit belangrik dat poësie ook die kanon kan uitdaag en vernuwe. Dit kan beteken dat skrywers en digters bewus kies om norme te oortree om ruimte te skep vir nuwe vorme van uitdrukking.

Soms is poësie (of verse) wat afwyk van die literêre kanon, juis dié wat die diepste met mense resoneer. Dikwels spreek dit in ’n taal wat nader aan die alledaagse ervaring of in die stem van gemarginaliseerde groepe is. Hierdie verse kan ’n groot impak hê, selfs al voldoen dit nie aan die konvensionele standaarde van die literêre kanon nie.

Een van die kragte van poësie is immers die vermoë om gevestigde norme en idees uit te daag. Poësie wat die kanon oortree, kan dikwels sosiale, godsdienstige of politieke kommentaar lewer en bydra tot die verandering van literêre en kulturele landskappe.

Lätti waag dit doelbewus om nie slegs die literêre kanon uit te daag nie, maar ook die kanon van die Bybel.

........
Die waarde van Lätti se verse lê vir my in die eerlikheid en die uniekheid daarvan, eerder as in die mate waartoe dit voldoen aan gevestigde standaarde. Daarom kan hy dit waag om ook die taboes van die literêre kanon uit te daag.
........

Die waarde van Lätti se verse lê vir my in die eerlikheid en die uniekheid daarvan, eerder as in die mate waartoe dit voldoen aan gevestigde standaarde. Daarom kan hy dit waag om ook die taboes van die literêre kanon uit te daag.

Die woord taboe kom oorspronklik uit die Polinesiese tale en beteken iets wat verbode of onaanvaarbaar is binne ’n bepaalde kultuur of gemeenskap. ’n Taboe is dus ’n sosiaal verbode of onaanvaarbare gedrag, onderwerp of praktyk wat deur die gemeenskap as onvanpas of selfs as gevaarlik beskou word.

In die Suid-Afrikaanse en spesifiek die Afrikaanse konteks is een van die groot taboes om krities te wees oor veral die Christelike geloof.

Godsdiens word dikwels as ’n heilige en intieme aspek van ’n persoon se lewe beskou. Kritiek word maklik gesien as ’n gebrek aan respek en as ’n aanval op die persoon se diepste oortuigings.

Lätti kry dit reg om in die woorde van Dietrich Bonhoeffer vir ons te wys: As niks meer heilig is nie, word alles heilig.

Hy speel deurgaans die bal en nooit die man nie.

In sy vers “toksiese ateïsme” (22) waarsku hy teen ’n verhewe soort ateïsme. Hy sê tereg dat selfs ateïsme op die ou end toksies kan word wanneer ongeloof in God mens verhewe laat voel oor diegene wat anders glo.

Anders as wat Rapport se resensent beweer, is die gedagtes in Taboek allesbehalwe “pseudo-intellektuele middelmatigheid”, ’n “naïewe studentikoos” of een van die vele ander byvoeglike bywoorde wat hy neerhalend gebruik om die werk af te skiet as pseudo-intellektuele prul.

Lätti se kennis van die Bybel en die konteks waarin dit geskryf is spreek vanself uit sy verse. Iets wat dikwels by tradisionele gelowiges ontbreek.

Oor Paulus wat die grootste deel van die Nuwe Testament geskryf het en die eerste persoon in die Bybel is wat Jesus verwoord, herinner Lätti sy lesers daaraan dat Paulus Jesus nooit persoonlik ontmoet het nie. Hy het nooit self met hom gepraat om te hoor wat werklik die deal is nie.

Sy skrywes oor Paulus as ’n “kreatiewe man wat daagliks nog Jesus uitgedink het” (23) gooi ’n hele paar knuppels in die teologiese hoenderhok van die kerk. Dit laat die leser met ongemaklike vrae oor die man wat na bewering die grootse deel van die Nuwe Testament geskryf het.

in my oë lyk hy na
’n agent
vir die staat
wat fake nuus versprei (26)

Die geskiedskrywer Flavius Josephus se motiewe word ook deur Lätti onder die vergrootglas geplaas en bevraagteken. Soos in byna al sy verse, bied hy nie sy standpunt as die alfa en omega aan nie. Dit is eerder ’n gesprek met homself waarin die tradisionele nadenkend bevraagteken word en die leser genooi word om saam te dink.

Sy liefde vir die Bybel, as ’n biblioteek van boeke met fassinerende verhale, verwoord hy in sy gedig “die bybel” (38). Maar dan skets hy dit in die eerste plek as boek deur mense geskryf met so bietjie van ’n “toordery á la Harry Potter” om gemoedere te sus en die illusie van standvastigheid te skep, en nie asof die Bybel ’n heilige boek is wat deur God geskryf is nie.

wat jy ook al glo
die bybel bly ’n boek
deur mense geskryf

dat dit god se woord is
is geen feit nie
dis bloot
die opinie
van gelowiges (38)

Op ’n speelse manier kom die maagdelike geboorte ook aan die bod in “spoiler alert”:

ek weet nie of jy al ooit die bybel
tussen die bene gelees het nie
maar josef is die pa
van die kind (40)

En in die “haiku jomariaku” (weer eens ’n spel met woorde) vra hy:

kuise maria
hoe lank was jy met josef
so onder die maan (40)

Hierdie fyn spel met woorde vind mens regdeur die bundel.

Die wagters op beide die teologiese sowel as die letterkundige Sionsmure, wat die kanons ten alle koste wil beskerm asof dit die alfa en omega is, sal nie ooghare vir Lätti se skrywe hê nie. Vir hulle sal dit inderdaad soos ’n boomhuis in ’n Kaapse storm wees, soos wat Rapport se resensent dit ervaar het.

Diegene wat die storm kan trotseer en van boomhuise hou, sal dit geniet, want Lätti probeer niemand se geloof aanval of anders oortuig nie. Hy gee slegs sy onpopulêre opinie:

ek vind dit onnodig
om ander te oortuig
van enige van my oortuigings (112)

En:

ons mag verskil oor god
maar oor genade nie (96)

Lees ook:

Elders gesien: Op Olimpus word die gode bymekaargemaak

Kuns, godsdiens en daai Olimpiese openingstoneel

Ikonoklas!

Taboek deur Riku Lätti: ’n lesersindruk

  • 29

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Ek is bly dat die dierbare Riku so 'n gloeiende resensie kry. Ek sal egter graag wil weet wat Crito daarvan dink as goeie vriende mekaar se werk resenseer - daar is baie foto's op Facebook waar die twee here te heerlik sosiaal verkeer.

  • Marlies Taljard

    Jean, net enkele punte wat my opgeval het:
    Jy lê klem daarop dat die skrywer se bedoeling nie was om letterkunde van hoogstaande gehalte te lewer nie. Waarom sou die boek dan bemark word as 'n "monumentale en omvattende deurgronding van alle fasette van die moderne mens se soeke na betekenis"? Hierdie tipering is ook 'n weerspreking van wat Lätti in die openingsgedig sê wat jy hierbo aanhaal. Voorts gebruik jy ook terme soos "goeie poëtiese verse" om die inhoud van "Taboek" te verdedig. Jy dui dan ook aan dat kuns nie noodwendig aan gestelde vereistes hoef te voldoen nie. Jy beskou Lätti se werk dus as kuns. Hoe definieer jy kuns, en dan veral poëtiese tekste wat as kuns beskou kan word? Jy stel slegs die vereistes waaraan goeie gedigte NIE hoef te voldoen nie. Ek bedoel: as ek 'n fiets wil maak, kan ek dit doen sonder om vir hom wiele of 'n saal op te sit en dan sal mense steeds weet dis 'n fiets? En dit sal steeds die funksie van 'n fiets vervul? Ek het mos nou my eie kriteria aangelê vir wat 'n fiets is en was baie kreatief in my ontwerp, of hoe? Dis basies jou argument i.v.m. poësieskryf wat jy hierbo uiteensit. Alle kuns het reëls en basiese kenmerke, of leke dit nou wil weet of nie - dis hoe professionele kritici 'n waardeoordeel oor 'n kunswerk kan uitspreek. As alle reëls verbreek word, veral sonder 'n goeie rede, is die resultaat meestal niks meer as die prewelinge van 'n slaapwandelaar nie.
    Jou opmerkings oor die kanon is oningelig. Of daar nou hekwagters is of nie, positiewe maar oningeligte resensies verskyn of geen resensies nie - tekste wat die tyd oorleef, vorm die kanon. Ons maak nie die kanon nie. Dit maak homself tot 'n groot mate. En om Riku Lätti met Antjie Krog te vergelyk is om Fanta Grape met Kanonkop Paul Sauer te vergelyk.
    Jy lê ook klem op die vernuwende inhoud van die boek. Weet jy dat skrywers uit die 2e eeu NC reeds baie van die punte geopper het wat Lätti nou, amper 2000 jaar later "ontdek" en oopvlek. Daar bestaan waarskynlik miljoene geskrifte vanaf antieke tye tot vandag wat Lätti se onthullings in detail en op logiese, wetenskaplike wyse uiteensit. Daar is NIKS nuut aan Lätti se insigte nie.
    Ek sal volstaan by hierdie laaste punt. Ek neem ernstige aanstoot aan jou stereotipering van Afrikaners as mense wat bekrompe sieninge oor (die Christelike) godsdiens het en vir wie voldonge feite steeds op Middeleeuse wyse taboewaarde sou hê. Soos die res van jou argument, is hierdie stelling slegs op jou eie beperkte insig gebaseer en dra dit geen gesag nie. Ek ken geen enkele Afrikaner wat nie met die inhoud van Lätti se boek sou saamstem (waar dit verstaanbaar is) óf wat dit enigsins as 'n taboe-onderwerp sal beskou nie. Geloof is nie afhanklik van feitelik korrekte inligting nie. Gaan lees ook maar wat Charl-Pierre Naudé skryf in "In die rede geval: waarom die mens mites maak" waarin 'n stewige en uiters verstaanbare argument gevoer word oor die onderwerp van gode en geloof.
    Die skrywer word geen guns gedoen deur 'n boek wat nie aan die standaarde van poësie voldoen, soos ekself én prof. Moll in ons resensies aangetoon het, te vergoeilik en die kundige resensent met modder te gooi nie. Die boek word immers bemark as die skrywer se "poësie-debuut" en daarom sal dit ingeskat word aan die hand van kenmerke van poëtiese tekste.

  • ons mag verskil oor god
    maar oor genade nie

    DIt is hierin wat die waarde van Taboek vir my lê. Riku Lätti se verse spreek tot my lesershart. Liefde, vrede en genade vir mekaar is deurgaans 'n tema in die bundel

    Ons mag verskil oor alles, oor leessmaak, betekenis, of iets waarde het of nie. Wat is dan kuns en wat nie? Maar oor liefde, vrede en genade kan niemand verskil nie.

    My gunstelingvers is op bladsy 9:

    Terugflits

    hulle sê
    as jy eendag gaan
    speel jou lewe af voor jou oë

    ek dink dis goed so
    dat jy vir oulaas kan sien
    wie jy is
    wie jy was

    jy moet met jouself kan leef
    jy moet met jouself kan sterf

  • Oosthuizen se poging om Lätti se "Taboek" te verdedig, is niks meer as 'n swak gemaskerde vriendskaplike guns nie. Sy sogenaamde "lesersindruk" is 'n voorbeeld van hoe persoonlike bande objektiwiteit kan verwring.

    Eerstens, Oosthuizen se bewering dat Lätti se werk taboe-onderwerpe aanraak, is belaglik. Die kritiek op godsdiens en Bybelse verhale is alles behalwe nuut of skokkend in die moderne literatuur. Hierdie idees is al dekades lank deel van die hoofstroom diskoers.

    Oosthuizen se poging om Moll se gesag oor poësie te bevraagteken, is onvolwasse en dui op 'n gebrek aan begrip vir literêre kritiek. Moll se akademiese agtergrond en sy huidige studies in Afrikaanse literatuur maak hom juis gekwalifiseerd om 'n ingeligte mening te lewer.

    Die meriete van Moll se resensie lê in sy deeglike analise en sy vermoë om die werk binne 'n breër literêre konteks te plaas. Hy bied 'n gebalanseerde kritiek wat beide die tegniese en inhoudelike aspekte van die werk in ag neem.

    Oosthuizen se suggestie dat poësie nie aan literêre standaarde hoef te voldoen nie, is 'n swak verskoning vir middelmatigheid. Terwyl eksperimentele vorme sekerlik 'n plek het, beteken dit nie dat alle pogings ewe waardevol is nie.

    Dit is duidelik dat Lätti beter daaraan toe sou wees om by sy musiek te hou. Sy poging tot poësie kom voor as 'n amateuragtige uitstappie in 'n veld waar hy duidelik nie tuis is nie.

    Laastens, Oosthuizen se vergelyking van Lätti se werk met die openingseremonie van die Olimpiese Spele in Frankryk is lagwekkend. Om 'n amateurdigter se werk te vergelyk met 'n internasionale kulturele gebeurtenis is 'n oefening in oordrewe vleiery.

    Oosthuizen se "lesersindruk" is uiteindelik meer onthullend oor sy eie vooroordele en beperkte literêre insig as oor die meriete van Lätti se werk. Dit is 'n les in hoe persoonlike lojaliteit kritiese denke kan oorskadu.

  • Liewe Jean

    Jou opinie oor Riku Lätti se digbundel Taboek is duidelik bevooroordeeld, en soos jy self sê, kan kwalik as 'n objektiewe beoordeling van die werk beskou word. Jou erkenning dat jy en Lätti vriende is en gereeld saam "oor 'n bier besin oor geloof en die gode", diskwalifiseer jou in wese om enige geloofwaardige kommentaar op sy bundel te lewer. Dis 'n klassieke geval van: "Laat ek die strooi in my eie maat se oog miskyk om die balk in joune raak te sien".

    Jou losse stelling dat die bundel religieus taboe-deurbrekend is, hou ook nie water nie. Verskeie gerespekteerde Afrikaanse skrywers soos André P. Brink, Etienne Leroux en Breyten Breytenbach het reeds dekades gelede heersende godsdienstige opvattings uitgedaag. Lätti se oppervlakkige stellings oor Bybelse figure soos Paulus en Maria is allermins oorspronklik en geensins taboe-deurbrekend nie.

    Jou bewering dat Moll se resensie "uiters negatief en selfs persoonlik neerhalend" was, is ook ongegrond. Moll lewer inteendeel geldige en goed gemotiveerde kritiek op die literêre gebreke in Lätti se bundel - iets wat jy summier as die opinies van 'n "hekwagter van die kanon" afmaak. Hierdie ad hominem aanval op Moll se literêre kundigheid en integriteit is verkleinerend en getuig van 'n onvolwasse reaksie op substantiewe kritiek.

    Jy argumenteer dat poësie nie aan "gevestigde standaarde" hoef te voldoen nie en dat die "eerlikheid en uniekheid" van Lätti se stemwyse die vernaamste meriete van sy verse is. Dis 'n aanvegbare standpunt. Poësie is 'n taalkunsgenre waarin die digterlike hantering van die woord en beeld van kardinale belang is. Die geykte woordspelings en lomp stelwyse wat Lätti se werk kenmerk, getuig eerder van 'n amateuragtige omgang met sy medium.

    Die feit dat die gedigte volgens jou met gewone mense "resoneer" en in die "stem van gemarginaliseerde groepe" is, kan ook bevraagteken word. Lätti is 'n bekende en hoogs suksesvolle musikant - allermins 'n gemarginaliseerde figuur. Hy beskik oor media-toegang en 'n verhoog waaroor min ander Afrikaners beskik. Juis daarom kon hy 'n bundel publiseer wat andersins nooit die lig sou sien nie en daarvoor sulke goeie publisiteit kry.

    Moll se kritiek dat die lofbetuigings op die agterblad van bekendes soos Koos Kombuis misleidende bemarking is, hou steek. Dit suggereer ook dat Lätti miskien eerder by musiek moet hou, aangesien dit duidelik is waar sy ware talent lê. Sy "verse" het geensins daarin geslaag om die Afrikaanse literêre kanon te bevraagteken nie. Dit het eerder die gevaar van oordrewe bemarking en vriende-resensies ontbloot.

    Ek beveel aan jy laat die literêre kritiek oor aan die kundiges in plaas van jou maat op sosiale media te probeer beskerm teen geldige kritiek. Jou leserindruk doen meer skade as goed aan Lätti se reputasie en laat mens wonder oor die werklike gehalte van sy werk.

  • “Ek het kortstondig kontak gehad met mense wat op literêre vlak professioneel dadig is, wat teen betaling manuskripte regsien of keur, literêre oordele vel en skryfkursusse aanbied, en ek het begin wonder met hoeveel gesag hulle hul beslissings neem en pontifikale oordele vel, en met watter reg.

    ʼn Gewriemel van mense met menings en stemme, maar geeneen met gesag nie, en ek treur steeds oor Van Wyk Louw.”

    Slot Van Die Dag ‒ Karel Schoeman, 2017, p.49

  • Jean Oosthuizen

    Dit is altyd lekker as iemand reageer op ʼn mening wat mens huldig of ’n indruk wat mens het oor ʼn boek het soos hier.

    As dit vanuit sulke akademiese hoogtes kom soos sommige reaksie hier, is die waardering vir die lesers se moeite om sulke weldeurdagte resensies te skryf oor ’n ou lesersindrukkie soveel groter. Ek voel gevlei.

    Wat sou ons tog doen sonder die hekwagters en die bewakers van die kanon? Ons sou heeltemal in ons kanon in gewees het.

    Eerstens, dankie vir jou bydrae, Marlies. Ek het ongelukkig niks te doen met die bemarking van die boek en hoe dit gedoen word nie. Dit moet jy maar aan die mense vra wat dit doen.

    Ek het regtig vrede met die literêre kanon sowel as die Bybelse kanon. Nie een van die twee is vir my heilig of bo kritiek verhewe nie. Goeie poëtiese verse hoef, wat my betref, inderdaad nie noodwendig aan al die vereistes en norme van ’n taal se literêre kanon te voldoen nie. Ek het nie ’n kanon nodig om vir my te sê van watter verse ek mag hou of watter dele van die Bybel ek moet glo nie. Ek is mooi groot en kan self daaroor besluit.

    As dit jou gelukkig maak om ’n fiets ’n pampoen te noem laat dit dan so wees maar ek dink jy is besig om appels met pere te vergelyk wanneer jy my skrywe met die bou van ʼn fiets vergelyk.

    Die punt wat jy mis is dat ek geen probleem met resensies het nie. Resensies is egter nie bo kritiek verhewe nie. Resensies bepaal ook nie noodwendig die sukses van ’n werk nie.

    Dankie dat jy my inlig oor my onkunde rakende die kanon. Ek sal moet werk maak daarvan. Ek weet darem dat tekste wat die tyd oorleef die kanon vorm. Watter van vandag se tekste die tyd sal oorleef is nog bietjie vroeg vir jou en die hedendaagse kanoniete om te sê. Net die tyd sal leer. So sak Sarel.

    Die feit dat jy aanstoot neem wanneer ek na sommige mense se eng standpunte oor geloof verwys, pla my geensins nie. Dan moet jy maar aanstoot neem as jy so maklik aanstoot neem. Dit is ’n doodgewone feit. Lees gerus maar die kommentare wat elke dag in die gedrukte en sosiale media oor geloofskwessies verskyn. Probeer liewer om dit met ’n oop gemoed te debatteer. En prof Moll kan jy sommer op sy naam Mellet noem, ek dink nie hy sal omgee nie. Wanneer jy eers met titels moet spog om ’n punt te probeer bewys, verloor jy reeds die argument. Jy weet daai ding van mevrou dominee of prof sus en so ens. Ons ken almal proffies, dominees en doktore wat ons sommer op die naam noem. Dis regtig nie meer ʼn statussimbool nie.

    Veld Skrywer het seker nie mooi gelees wat ek skryf nie. Ek maak geen geheim van my bande met die skrywer nie. Ek noem dit pertinent in my stuk. Niks is gemaskerd agter my skrywe nie – anders as Veld Skrywer wat agter ’n masker onder ʼn skuilnaam skryf. Die styl klink egter baie bekend. Dalk moet hy maar sy masker afhaal en die mense in die oë kyk met wie hy gesprek voer. Soos wat Breyten so mooi gedig het “en mag daar altyd mense wees wat mekaar sonder skaamte in die oë kan kyk”.

    Liewe Charl, ook aan u baie dankie vir u skrywe. Ek het nooit geweet mens mag nie ’n mening hê oor die werk van mense met wie jy vriende is nie. Dankie vir jou wenke, maar as jy opgelet het in die klas sou jy gelees het ek beskou nie my indrukke van die boek as literêre kritiek nie. Dit laat ek oor aan die hekwagters van die kanon soos hierbo. Hulle doen dit veel beter.

    As jy nie daarvan bewus is dat vele godsdiensgesprekke vir baie mense steeds taboe is nie, is ek bevrees jy is nie op hoogte van die godsdiensgesprekke in die land nie. Dan leef jy op ’n ander planeet. Terwyl ek my van die kanon vergewis kan jy jou gerus daarvan vergewis.

    Nietemin, baie dankie vir al die moeite wat jy gedoen het om die skade wat my lesersindruk volgens jou aan Riku se boek aangerig het in perspektief te stel. Ek is seker hy sal jou ewig dankbaar wees daarvoor. Dalk loop ons mekaar eendag raak dan kan ek jou weer ’n paar dinge leer wat jy kennelik glad nie snap nie. So help ons mekaar.

  • Elzette du Preez

    Ek kan nie verstaan hoekom die hooggeleerdes so te kere gaan oor Riku Lätti se digbundel nie. Ek het dit gelees en vind sy gedigte het baie meer diepte en gehalte as dié van byvoorbeeld Joan Hambidge, van wie ek onlangs 'n paar bundels in die biblioteek uitgeneem het. Riku se gedigte is eg en diep uit die hart uit, waarteenoor iemand soos Hambidge se verse te uitgedink voorkom en sonder enige gevoel en emosionele diepgang.

  • Marlies Taljard

    Spreuke 26 sê mens moenie 'n dwaas antwoord nie, daarom volstaan ek by wat ek hierbo geskryf het.
    Jean Oostrhuizen is nou besig om sy CV te skryf en dit het niks met my te make nie.

  • Ek is die resensent waarna Jean Oosthuizen verwys en volstaan met my inskatting van Riku Lätti se debuutbundel. Trouens, ek het 'n beperking van 800 woorde van die redakteur ontvang. Ek merk dat Oosthuizen hier 'n betoog van meer as 1500 woorde lewer in sy reaksie op my resensie. Sou ek meer woorde kon gebruik, sou ek moontlik verdere kritiek gelewer het.

    Ek gaan nie op alles wat Oosthuizen kwytraak repliek lewer nie, want heelparty van sy argumente is intellektueel gebrekkig en op sigself 'n patetiese geswymel wat voorspruit uit die boek. 'n Digbundel soos hierdie verdien nie die aandag wat dit nou ontvang nie: Hoeveel van hierdie nuttelose lesersindrukke vanuit die skrywer en die uitgewer se binnekring gaan die leserspubliek nou nog moet trotseer? Tien klein hondjies wat blaf vervang nie 'n deeglike en gefundeerde ontleding nie en herskryf nie die literêre meriete van 'n boek nie. As dit bloot 'n manifesto is waarin Oosthuizen sy vriendskap en meelewing met die skrywer wil verklaar, is daar beter platforms daarvoor.

    Ek vind die volgende stelling van Oosthuizen besonder problematies:

    "Laat ek reg aan die begin van hierdie lesersindruk my belange verklaar. Ek en Riku Lätti is vriende wat dikwels saam oor ’n bier besin oor geloof en die gode. My indrukke oor sy bundel is dus subjektief en geen objektiewe letterkundige resensie op sy werk nie."

    Ek verstaan hieruit dat die betrokke digbundel ten minste gedeeltelik gekonseptualiseer is tydens kroegpraatjies en (boom)huisgesprekke saam met hulle makkers in Bart’s. My probleem is egter die etiek van sy stelling. Wanneer 'n persoon botsende belange tov 'n saak verklaar, is dit die gebruik dat so 'n party uit die gesprek onttrek. Oosthuizen doen egter die omgekeerde: hy gebruik dit as skadeloossteling om voort te gaan met sy betoog. Dit natuurlik, nadat hy uitgewys het dat hy ook nie oor die nodige kundigheid beskik om 'n literêre ontleding te doen nie. Op 'n professionele vlak is dit uiters oneties om 'n taak uit te voer wat hy pas erken het hy nie bevoeg is om te onderneem nie.

    Oosthuizen en ander saampraters doen vir Lätti geen guns met hierdie diskoers nie. Resensering in die media is bedoel om 'n leerervaring aan sowel die skrywer as die publiek te bied. Deur hierdie aanhoudende retoriek word Lätti vasgekeer in Kübler-Ross se siklus en kom die leerervaring tot stilstand.

    Wanneer 'n nuwe boek verskyn, en die uitgewer die boek aanstuur aan gesaghebbende media, verklaar die uitgewer die teks onderhewig aan literêre kritiek. Anders moes hulle dit nie aangebied het aan die media nie. Ek vermoed die akkolades op die agterflap het 'n soort gierigheid bewerk om verdere akkolades te verwag waarvan die risiko's nie behoorlik oorweeg is nie. Nou verneem ek dat hierdie digbundel eintlik buite die norme en standaarde van die letterkunde staan. As dit van meet af die bedoeling was, waarom het die uitgewer die boek uitgegee en waarom dit aangebied aan die media? Dan is dít tog die oorsprong van hulle probleem. Die uitgewer het die afgelope aantal jare 'n besondere rol gespeel en baie literêre kapitaal opgebou. Dit is jammer dat hierdie polemiek en die gepaardgaande onkunde nou hierdie literêre kapitaal erodeer.

    Nietemin, ek wil graag vir Oosthuizen bedank vir die domastrante lessie oor poësie en die beoordeling daarvan. Literêre kritiek is 'n omvangryke veld waarin daar verskeie denkskole en benaderings bestaan wat ook ander velde soos sielkunde, filosofie, sosiologie en estetika betrek.

    Ek het die benadering van "close reading" (stiplees) gevolg wat impliseer dat ek slégs die teks en verwante tekens ontleed. Daarom het ek die teks gelees sonder enige biografiese gevolgtrekkings oor die skrywer. Die Barthesiaanse beskouing dat die geboorte van die teks die dood van die outeur is, impliseer soortgelyk dat die teks 'n artefak is wat selfstandig ondersoek moet word sonder om die outeur se bedoelings te ontleed. In die "New Criticism" speel die beginsel van "intentional fallacy" (outeursdwaling – Wimsatt & Beardsley) 'n sentrale rol in hoe tekste gelees word. Volgens hierdie beginsel word daar doelbewus nie probeer om afleidings te maak oor biografiese inligting of die bedoeling van die outeur nie. In samehang hiermee is dit ook belangrik om die onderskeid tussen die spreker en die digter te behou wanneer die boek gelees word. 'n Leser kan gewoon nie gevolgtrekkings maak oor die bedoelings, lewensuitkyk of gemoedstoestand van die digter op grond van die stem van die spreker nie. Vir Oosthuizen om dus die openingsreëls van die bundel aan te haal as leesstrategie, is vanuit die oogpunt van literêre teorie irrasioneel.

    Wanneer die teks gestroop is van hierdie voorafgenoemde invloede, kan daar bepaal word of dit meriete inhou, of dit vernuwend is en waar die teks staan relatief tot die tradisie. Alhoewel Oosthuizen et al moontlik dink dat dit vernuwend is omdat hulle die ambivalensie van metafisika nou eers ontdek het is hierdie kwelvraag, soos wat (prof) Marlies Taljard tereg uitgewys het, so oud soos die mensdom sélf en kon ek geen taboewaarde hierin vind nie. Die teks oorstyg nooit die dowwe retoriek nie en daar word van geen digterlike of verstegniese ingrepe gebruik gemaak nie (behalwe vir die sinnelose tipografiese uitleg). Dit is duidelik dat hierdie manuskrip saamgestel is sonder enige kennis van die tradisie, anders sou beide Lätti en Oosthuizen bewus gewees het van verskeie tekste in die poësie wat reeds bestaan, byvoorbeeld Daniel Hugo se Die boek Daniel (1986) en MM Walters se Satan ter sprake (2004); en sou hulle dalk hulle aansprake op vernuwing heroorweeg het.

    Laastens verstaan ek nou van Oosthuizen dat hy die onderskeid tussen literêre en Bybelse kanonisering wil tref en dat die uiteinde van sy argument, volgens hom, daarop neerkom dat die bundel dalk nie aan die vereistes van literêre kanonisering voldoen nie, maar dat hulle dink dat dit wel op religieuse vlak aanspraak kan maak op die kanonisering van "Die evangelie van Riku". Daarmee kan ek hom nie help nie en ek verwys hom na die Vatikaan.

    Naskrif:

    Ek is werklik jammer as titels of kwalifikasies vir Oosthuizen aanstoot gee. Dit moet hy met die Minister van Hoër Onderwys en die onderskeie senate van universiteite opneem.

    Ek dink ook Oosthuizen is (prof) Dietloff van der Berg dank verskuldig vir die regstelling tov die foutiewe aanhaling van NP van Wyk Louw wat uit 'n gedig van IL de Villiers kom wat na Dietrich Bonhoeffer verwys. Ek merk die korreksie is suutjies aangebring.

  • Dietloff van der Berg

    Jean Oosthuizen skryf in sy repliek op sy resensie dat as jy eers met titels moet spog, het jy klaar die argument verloor. Dis net so geldig dat as jy eers slordig verkeerd iets aan NP Van Wyk Louw toedig en beweer “Lätti kry dit reg om in die woorde van NP van Wyk Louw vir ons te wys: As niks meer heilig is nie, word alles heilig” net om waardigheid aan spookasemgedagtes te verleen, het jy klaar die argument verloor. Ironies genoeg is dit soos ek uitgewys het, voor jy dit kon regstel, toe juis Bonhoeffer die christenmartelaar se woorde wat jy gebruik het om die volgende aanval op gelowiges mee te loods. Gelukkig het jy tot nou toe nie gedaal tot jou gewone banale vlak om dié wat van jou verskil, uit te skel soos op jou plasing van 1 Junie 2023 en veel erger ander nie: “Ek sal julle veldtog steun mits julle ook al julle dwepende kerkkakkies van ons dorp se pale afhaal want die stront wat julle oral opplak en waarteen ek elke dag teen moet vaskyk is veel erger.” Kom ons probeer maar beskaafd bly al verskil ons van mekaar.

  • Elizabeth Van der Berg

    Liewe Elzette
    Soos Marlies sê: "En om Riku Lätti met Antjie Krog (hier, Joan Hambidge) te vergelyk is om Fanta Grape met Kanonkop Paul Sauer te vergelyk."

  • Ag tog, Jean! Ek sien jy geniet die aandag wat jou lesersindruk ontlok het. Niks soos 'n bietjie kontroversie om 'n middelmatige bundel beter te laat verkoop nie, nè?

    Dis snaaks hoe die mense wat altyd die hardste skree oor "oop gemoedere", ook gewoonlik die eerstes is om hul ore toe te prop en "la-la-la ons kan julle nie hoor nie!" te blêr sodra iemand dit waag om van hulle te verskil en eerlike kritiek te lewer.

    En dankie, Jean, vir jou groothartige aanbod om hierdie onkundige sukkelaar te verlig! Ek kan sommer sien hoe jy jou knibbel om my te leer hoe om my vriende ten alle koste te verdedig, selfs al beteken dit ek moet my intellektuele integriteit by die agterdeur uitsmyt.

    Op die ou end, Jean, is jou reaksie 'n meesterlike voorbeeld van hoe om baie te sê sonder om eintlik iets te sê. Dis 'n talent - miskien moet jy en Riku 'n digbundel daaroor oorweeg. "Die leë kratte van oordrewe eie-belangrikheid" het 'n lekker ring, nè?

    So ja, dankie vir die lag, Jean. Gaan geniet gerus nou 'n dop op jou en Riku se hegte vriendskap. En onthou, die volgende keer as iemand jou heilige koei skiet, probeer om nie die bloed op die mure te smeer en dit kuns te noem nie. Skrop liewer die gemors op en probeer iets beters skep. Moet ook nie verwag almal moet saamspeel wanneer jy skree "die keiser het klere aan!" nie. Party van ons het oë.

  • Jean Oosthuizen

    Marlies om my 'n dwaas te noem dra werklik nie juis by tot volwasse gesprek nie maar ek aanvaar dis die beste wat jy kan doen. Persoonlike beledigings pla my nie. Ek vat dit van wie dit kom. Moet jou nie oor my CV bekommer nie. Dit het inderdaad niks met u te make nie.

  • 'n Mens kan sien hoe dawerende sukses die kanon se hekwagters so oor die jare gemaak het. Die kanon is oorvol witmense. En selfs hier en daar 'n vrou.

  • Sandra Pretorius

    Ek kan glad nie saamstem met Elzette du Preez se snedige en neerhalende opmerkings oor Joan Hambidge nie. Hambidge is een van die belangrikste skrywers en akademici in Suid-Afrika en dat sy nog nie met die Hertzogprys vereer is nie, is 'n skande. Haar gedigte het ook 'n enorme rol gespeel in die uitbou van die Afrikaanse poësieskat. Riku Lätti sal nog moet uithaal en wys as hy enigsins met Hambidge wil saamgesels of om naasteby op haar peil te wees.

  • Ek dink die hoogste bome los die meeste wind. As ek 'n ingeskrewe student is, noem ek jou op kampus net wat jy wil, verder gaan jou bestaan my nie juis aan. Sal ek Musk as God aanspreek om 'n onderskeid tussen ons banksaldo’s te tref? Taboek het ek nog nie van naderby bekyk nie, maar weliswaar Clinton V du Plessis se "Kaartjies, asseblief" onder oë gehad (Roepman Uitgewers).

    Lees net hier:

    Pa, jy't nooit krom en kierie-oud
    geword nie, met jou pyp
    ons ontstig, sit en tabakmaak
    oor die jare jou ryp
    wyshede, soos beelde uit hout
    vir my gekerf, nagelaat.

    Nóú in flenters helder onthou
    sien ek jou
    weer, dié keer
    buite hoor- of reikafstand
    dapper in jou arbeidersoorpak
    en ons met die bagasie gepak.

    Daar loop nie meer soveel treine nie
    die meeste stasies bouval
    sonder naambord, die spore word opgetel
    maar ek weier om op te hou onthou.

    Kóm, wees jy weer my lampman.

    Kóm, wees jy weer my roepman.

    Kóm, wys my die laaste maal die pad uit hierdie plek.

  • Marlies Taljard

    Elzette, omdat jy nie Joan Hambidge se gedigte verstaan nie, beteken dit nie dat dit swak gedigte is nie. Jy en jou naïewe beskouing van wat goeie gedigte is, is nie die maatstaf nie. Dieselfde geld vir ander leunstoel kritici hier wat die literêre kritiek as stokperdjie bedryf.

  • “Sy skryf gereeld resensies oor Afrikaanse literêre werke, dien as keurder van LAPA-boeke, is deel van die Afrikaanse Bybelvertalingspan…”

    And that’s all I’m going to say about that. Of wag, taboe is taboe.

  • Jean Oosthuizen

    Dis gaaf om professor Moll ook hier te sien deelneem met ʼn woordtelling van 1 062.

    Hy hou dus die nuwe rekord. Veels geluk. Anders as sy reaksie was my reaksie waaroor hy kla dat dit te lank is, darem nie net op hom gerig nie, maar op drie van die kanon se hekwagters.

    Ek sal maar nie kommentaar lewer oor die professor se beledigings in die gesprek om na gespreksgenote te verwys as intellektueel gebrekkig nie, 'n patetiese geswymel, idiote, pseudeo-intellektueel en ʼn hele woordeboek ander byvoeglike naamwoorde. Wanneer iemand hom tot daardie vlak wend in ʼn debat spreek dit meer van die persoon self as van diegene op wie hy dit rig.

    Ek wil ook nie weer reageer op die reaksies van ander gespreksgenote nie, want dan raak my CV te lank en daaroor het ek reeds raas gekry.

    Verhewe motto’s en slimmighede maak nie ʼn argument sterker ni, soos wat die digter Joan Hambidge in ʼn resensie oor professor Moll se gedigte skryf.

    Aangesien Joan Hambidge se naam ook in die gesprek genoem word, herinner ek die professor wat soveel van poësie af weet graag aan haar resensie destyds oor sy eie drieluik digbundels. Sy het onder andere geskryf:

    “Daar is duidelike tekens van talent, maar hierdie digter moes eerder met sy debuut die beste uit die trits gekies het. Die gedigte herinner 'n mens aan daardie ervaring van iemand wat kook uit 'n sjefhandleiding en dink hy kan ook een skryf, sommer drie. Die persoon het 'n voorskoot aan, 'n sjefhoedjie, daar is al die bestanddele, halfryp vrugte, ingelegde botteltjies, saffraan en wat nog ...
    Die uiteindelike dis smaak soos 'n klap voor die bek. Die vleis is loodswaar, die kluitjies degerig, groente blougekook... En dis jammer. Want hier is kennelik iemand wat baie gelees het en baie gedink het oor die skryf van gedigte. Daar is verwysings na musiek, die Boeddhisme, vreemde plekke, gedigte vir beroemdes en vir ikoniese figure. 'n Skeutjie slim toespeling, 'n buitelandse motto gebak in 'n oond van 350 grade van ek-wil-in-digter-wees.”

    Ten slotte raai sy die professor aan om hom as Facebookdigter liewer by sy lees te hou. Sy sê darem die budels se omslag was mooi. Eina!

    Hambidge se beoordeling van Moll se drieluik kan hier gelees word.
    https://www.netwerk24.com/netwerk24/denker-hou-jou-by-jou-lees-20150313
    Daar het nog ‘n resensie oor sy werk verskyn maar laat ek liewer nie te veel sout in die wonde vryf nie.

    Ek gee liewer die laaste woord van my kant in hierdie gesprek aan die bekroonde skrywer Sidney Gilroy soos wat hy dit op Facebook verwoord het. Ek dink hy som dit goed op met verwysing na gesprekke soos hierdie en ander in sy Facebook pos:

    “Alles is wel in die wêreld van Afrikaans. In die dagblaaie dam 'n gerekende resensent 'n veteraan by wat die hoekstene van Afrikaanse radio, televisie en ontspanningslektuur gelê het met 'n sin wat by laerskoolgronde se pouse-faaittyd dalk gehoor sou word. Dít terwyl die boek bo-aan die topverkoperlys boer. Die res van die resensie smelt weg. Touché. Lees enigiemand nog die boekeblaaie van koerante of is daar grondige rede om daai vryskutbudget nek om te draai en daarmee saam geldige kritiek finaal ook? Blogs toe met julle, hoor ek die massas neurie. En toe stellig aanvaar. Die skrywer, dramaturg, radiovervolgverhaalmaestro onder beleg post eenvoudig van sy volgende boek en projek met wortels wat 50 jaar terugstrek. Pay them no maaind, my dear. Hulle betaal nie my huur nie. #shotsfired

    So gepraat van kanon. Twee groot kanonne vat mekaar aan met resensie en repliek wat ek dink die helfte van die woordtelling van die manuskrip onder bespreking in getal verbysteek (en maal dertigduisend die lesers). In ander nuus kraam 'n prof en 'n ander prof en nóg 'n prof (onder skuilnaam) 'n pynappel. Kritiek is op hul kritiek gelewer. Hoe durf die skrywer?! 'n Relaas volg. Nog resensies. Goeie resensies. Toeganklik is die teks, word daar gemeen. Se moer! skree die blogeienaars terug. Ons fokken swot dié goed dan!? (Ons en 6 ander). Dís nie kuns nie. Óns besluit wat kuns is. Dit moet 'n bitter pil wees om te sluk: Al daai grade en steeds wil niemand jou publiseer nie, maar die Afrikaanse sanger kry dit reg. En verkoop goed. Touché.

    Elders word daar baklei oor die werklike mening en gebruik van die woord "woke".
    Het iemand al gevra wat die teenoorgestelde van woke is? Is dit "deur die kak?", dalk...

    #jullebeterophou #julletraaimy”

  • Sjuut...

    Ons wag in spanning op die groot keyboard warrior om sy volgende rondte te kom doen en almal te beledig wat van hom verskil.

  • Petra Pienaar-Nel

    Sjoe, wanneer laas was daar so 'n debat oor 'n Afrikaanse digbundel? Weet iemand dalk? Ek kan nie eers aan 'n voorbeeld dink nie. Dit wys jou iewers is 'n aar raakgeboor. En "Taboek" gaan nou soos soetkoek verkoop.

  • My vriend het ʼn sêding: hy sê ʼn mens moet altyd vir jouself ʼn 30 persent kans los dat jy heeltemal verkeerd kan wees. Miskien geld dieselfde ook vir hierdie kommentaar. Gisteraand toe lees ek mos hoeka in die Bybel hierdie vers: “Die pa’s eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp.” Touché!

    Ek volg ook hierdie debat nou al ʼn rukkie en dink die opmerking wat dalk die meeste tot my gespreek het (soos gelees op ander webwerf) was dat as, by wyse van byvoorbeeld, Ingrid Jonker se werk in vandag se tyd onderwerp moes word aan literêre kritiek of keuring, wat sou gebeur, óf dit gekeur sou word? Wat sou jou antwoord wees prof Mellet?

    Die probleem is nie soseer dat die kundigheid bevraagteken word nie. Die probleem is die "ons" en "hulle" kultuur wat deur hierdie tipe debatte kweek wanneer Afrikaans ʼn see is waarin ʼn mens kan branderplank ry óf golfspaanski óf ʼn goeie ou lyfbrander vat. Nee, dit was nie reg dat mense jou persoonlik aangeval het oor jou resensie nie. Maar wat ook nie reg is nie is om nou sommer die intellek en ervaring te gebruik om ʼn onderskeid te maak tussen die "ouens wat weet" se skrywes/resensies en wat beskryf word as die "nuttelose lesersindrukke wat uit die skrywer en uitgewer se binnekring [uit kom]" nie.

    Die ironie is dat een van daardie einste lesersindrukke aan Versindaba gestuur is as resensie, en alhoewel daar onomwonde deur prof Taljaard erken is dat daar niks met die standaard van die resensie verkeerd is nie, gaan sy dit nie plaas nie. So daar word erken daar niks met die resensie verkeerd nie, maar omdat dit dalk sê (kom ons noem dit): "propageer" wat die sogenaamde literêre kritici (– dit is nou nie die leunstoel-ouens nie – ) nié wil hoor nie, is daar besluit om dit nie op daardie forum te publiseer nie. Dit is niks anders as sensorskap nie. Daar is voorgedoen omdat Taboek nie op "standaard" is nie mag die resensie ook nie publiseer word nie. Dis presies wat aan my oorgedra is. ʼn Paar weke later, egter, word ‘n plasing gedoen oor dieselfde Taboek onder die opskrif "boekbespreking" waarin die boek nie werklik bespreek word nie. Daar word in wese slegs twee dinge gesê: 1) dat die inhoud "ou nuus" is: dis geyk. Almal weet dit; 2) dat dit nie gedigte is nie én dat die fynproewer dit liefs moet laat verbygaan. Dis al. Geen verduideliking of ware bespreking met teksanalise of enige iets dergeliks word gedoen nie. Om so oordeel oor ʼn kunswerk te fel bloot nét omdat jy glo jy het die nodige boekekennis en ervaring om dit te kan doen, is myns insiens nie reg of regverdigbaar nie.

    Ook ʼn mens moet partykeer mooi dink oor uitsprake oor wat die gedig is en wat hy/sy nie is. Dis soos om te sê Valiant Swart is nie ʼn digter nie. Maar my grootste probleem met dié debat is die onverdraagsaamheid tussen die twee kampe. Ek dink ek nie dit is goed vir Afrikaans nie. Of jy nou verkies om branderplank te ry of sommer net so op die maag te ry. Die see is die see!

  • Dietloff van der Berg

    Ongelukkig het Oosthuizen soos gewoonlik verval in sy vulgêre, kru taal as hy nie meer redelike argumente het nie, sies-tog.

  • Marlies Taljard

    Bester,
    1. Ek is die Inhoudsbestuurder en eienaar van Versindaba en dus besluit ek wat geplaas word. Ek is nie aan die algemene publiek verantwoordbaar nie.
    2. Dit is om 'n verskeidenheid redes nie Versindaba se beleid om resensies wat aangebied word te aanvaar nie. Ons het 'n paneel beroepsresensente (letterkundiges) waarvan ons gebruik maak en as Inhoudsbestuurder besluit ek watter resensent moontlik 'n bundel die beste op objektiewe wyse sal kan resenseer aan die hand van sy/haar ondervinding.
    3. Versindba is afhanklik van borgskappe en moet voldoen aan kontraktuele verpligtinge teenoor borge en hulle verwagtinge van hoe die webwerf behoort te funksioneer en wat daar geplaas word. Dit is naamlik om te fokus op poëtiese tekste (wat Taboek m.i. nie is nie) en tekste wat deur beroepsletterkundiges as goeie tekste beskou word. Dit is tekste wat voldoen aan bepaalde kriteria wat ek nie hier hoef te verduidelik nie. Ons insig is dat daar genoeg ruimte is vir ander tekste en digters en dat dit ons reg is om 'n klein maar belangrike nismark te bedien.
    4. Versindaba werk volgens 'n streng begroting. Omdat ons ons resensente betaal, kan ons dus nie alle boeke wat ons ontvang, resenseer nie. Weer eens: as Inhoudsbestuurder is dit my plig om te besluit wat geresenseer word en waaroor slegs 'n bespreking geplaas word waarvoor ons nie betaal nie.

  • Mev. Dr. Ds. Erasmus van Tonder

    Wel, Jean se boek was nie 'n akademiese boek nie. Die kerk was baie lelik met Jean. Van ons is nou nog skaam oor die hele Woordfees debakel van desjare en is dankbaar dat Jean sy subjektiewe ervaringe ter skrif gestel het. Ons bid nog elke aand vir Jean en hy sal altyd welkom wees vir tee in die pastorie, al wil hy nie sy voete hier sit nie.

  • Omdat ek vir Jean Oosthuizen nou opgelei het in woordekonomie, sal ek my kommentaar probeer kort hou. Ter inligting, sy relaas oor die Lätterkunde staan nou in totaal op 3 144 woorde.

    Skynbaar dink hy die diskoers wat hy hier begin het werk soos 'n bakleiery na skool by die fietsloods. Een vir my, een vir jou. En as dit nie werk nie, probeer hy soos Donald Trump 'n lae hou plant. 'n Mens verwag niks minder van hierdie vernuftige keyboard warrior nie. Wanneer die gemoedere hoog loop is hy op die toneel om die vuur te stook en as sy idees opraak span hy sy (en waarskynlik sy bende) se Google-vaardighede in. Uiteindelik steek hy vas in obsessiewe gedrag wat geheel en al divergeer en net probeer beledigings uitruil. Dit doen die letterre 'n groot oneer aan.

    Sy relaas het weinig met my reaksie op sy lesersindruk te doen en ek vermoed dit het hom so oorweldig dat hy gedink het die beste strategie is om my reputasie te probeer diskrediteer. Die enigste verwysing na my antwoord op sy oorspronlike lesersindruk, is sy besware teen die gebruik van die begrippe "intellektueel gebrekkig, 'n patetiese geswymel, idiote, pseudeo-intellektueel [sic]...". Ek volstaan met al bogenoemde benamings, want daar is, in die binêre wêreld van rasionele denke, dikwels geen ander beskrywing nie. As 'n persoon aan die Comrades deelneem en die wedloop in 9 ure voltooi, teken niemand beswaar aan dat sy tyd ondergemiddeld is nie, maar skynbaar mag Oosthuizen nie op denkfoute wat op middelmatigheid dui, gewys word nie, dan wil hy die gesprek strate toe neem. Ek verskil egter oor een woord in sy opmerking: ek het nooit die woord "idiote" gebruik nie. Miskien is Oosthuizen onder die wanindruk dat ek dit gedoen het omdat ek in 'n ander gesprek op my persoonlike sosiale mediablad na "Die uur van die idiote" verwys het. Dit is natuurlik 'n verwysing na 'n ikoniese kortverhaalboek deur Abraham H de Vries, maar dit sal Oosthuizen nie weet nie.

    Verder merk ek GEEN reaksie op enige van die stellings wat ek gemaak het in my reaksie nie, behalwe dat hy die woordtelling nagegaan het. Ek is van mening dat dit bokant sy vuurmaakplek was.

    Oosthuizen gaan voort deur aan te haal uit 'n resensie van poësie wat ek in 2013 geskryf het as poging om my resensie van Lätti te negeer. Dit is net nog 'n weerspieëling van sy onbegrip van literêre teorie want hy maak die (pseudo-intellektuele, jammer) denkfout dat kritici noodwendig ook digters moet wees. Sou Bloom, Said, J Hillis Miller, al die Franse strukturaliste, en hier ter plaatse, John Kannemeyer, dan nie vooraanstaande literêre kritici kon wees omdat hulle hoegenaamd nie poësie geskryf het nie? Of dat daar ‘n leerkurwe bestaan? Oosthuizen se aanhaling is vir al hierdie redes dalk juis 'n goeie gevallestudie. Want sien, ek is goed bekend met die betrokke kritikus en digter wat hy aanhaal en het haar sedertdien al gereeld om leiding genader. Wat Oosthuizen nie noem nie is die terugvoer van haar en ander kritici van die poësie en literêre kritiek waarmee ek my sedertdien besig gehou het en die ongelooflike reis waarop ek was. Dit is publiek op Versindaba. Kom ons kyk dus waar bevind Lätti hom teen 2034, ons sien met afwagting uit.

    Ek was egter 'n klein bietjie stout. Ek doen toe maar dieselfde en beloer die resepsiegeskiedenis van Oosthuizen se magnum opus, "Die opkoms en ondergang van die NG Kerk". Daar is 'n hele paar resensies, en omdat ek belowe het om my woorde ekonomies kies, gaan ek nie alles deel nie. Die konsensus van die onderskeie resensente is dat die boek bloot 'n oorsig is van die geskiedenis van die kerk vanuit die subjektiewe perspektief van Oosthuizen en dat dit voorkom asof die boek eerder bedoel is om 'n paar persoonlike byltjies te slyp. En natuurlik die baie vreemde gevolgtrekking dat die kerk 'n groot herbesinning moet doen en afstand doen van die meeste Christelike beginsels. Ekself is nie 'n gelowige nie, maar dit is absurd.

    Die grootste juweel is egter hierdie stelling wat ek in 'n resensie van Vorster in die vaktydskrif "In die Skriflig/ In Luce Verbi" ontdek het: "Laastens moet gewys word op die onwetenskaplike wyse van redeneer wat telkens in die boek opduik. Oosthuizen maak meermale gebruik van kategories-veralgemeende stellings en stereotipering. Op baie plekke maak hy van die besluite, standpunte en optrede van die NG Kerk en ‘kerkleiers’ karikature, en beveg dan die karikature. Hierdie redeneertrant kom veral voor aan die einde van die boek...".

    Mense wat in boomhuise bly.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top