
Boekomslag: Jonathan Ball; Kirby van der Merwe se foto: Brenda Veldtman; Nico Scheepers se foto: verskaf; Saartjie Botha se foto: Izak de Vries
Die aangrypende produksie Eugene, geanker in Kirby van der Merwe se veelbekroonde roman, word beskryf as ’n rou en poëtiese portret van ’n man wat tussen wêrelde leef.
Eugene, streetwise, maar skynbaar upper middle class, is ’n flaneur, soeker, minnaar en verlore seun: ’n hardegat randfiguur wat die kuns bemeester het om werklik te sien. Die produksie ondersoek gemarginaliseerde manlikheid, geestesgesondheid en trauma, en belig temas soos liefde, haat, vertroue, verraad en vergifnis. Met Brechtiaanse vervreemding as ondertoon word sy reis ’n soektog na integriteit en menslikheid te midde van onreg en wanhoop.
Minstens drie kreatiewe stemme (akteurs en teatertegnici uitgesluit) het dié produksie moontlik gemaak.
Christiaan J de Swardt het met Kirby van der Merwe (skrywer), Saartjie Botha (dramaturg) en Nico Scheepers (regisseur) gesels en volg die gebeure – begin, middel en einde – in ’n niechronologiese volgorde. Die roman spring ook in die tyd rond.
DIE MIDDEL – SAARTJIE BOTHA
Saartjie Botha het die roman, op versoek van die Suidoosterfees se Jana Hattingh en Melt Myburgh, in ’n verhoogteks met visuele en fisiese komponente verwerk. As dramaturg het sy verskeie stukke (onder meer Saad, Balbesit, Altyd Jonker, Tip, Spanner, Verkeer, Die goue seun en ’n Ander tongval) geskryf. Sy is ook die feesdirekteur van die jaarlikse Woordfees op Stellenbosch. Haar vaardigheid as dramaturg, vertaler, verwerker, dramakoördineerder, vervaardiger en teaterentrepreneur is al met verskeie teatertoekennings bekroon, onder meer met verskeie KKKNK-Kannas, die AngloGold Ashanti Smeltkroesprys vir beste nuwe verhoogteks by die Aardklop Kunstefees in Potchefstroom, en ’n rits Fleur du Cap-pryse vir onder meer oorspronklikheid, beste prestasie in musiekteater en regie. Sy het ook die draaiboek vir die rolprent van Derick van der Walt se bekroonde jeugroman Lien se lankstaanskoene vir kykNET geskryf.
Sy kén teater.
Het jy vryhede met die bronmateriaal geneem?
Daar is ’n soort bepalende ekonomie in teater – wat jy kan bekostig om te doen, te wys, te vergestalt. Dis nie noodwendig ’n negatiewe ekonomie nie – dit help en rig met al die keuses wat gemaak moet word.
Wat en wie is uit die roman gesny?
Ongelukkig nogal baie. Eugene is nie ’n dun boek nie en ons verhoogweergawe probeer iets daarvan weergee in net minder as 80 min. Die eerste tema wat ongelukkig in die slag gebly het, is Eugene as minnaar. Daar word net skrams na vroue verwys. Ook sy studentejare word net oorsigtelik genoem. Ons het net twee akteurs en Kirby op die verhoog. Dus is sekere “groter” tonele – met heelwat karakters – anders verpak om dit te behou.
Romans het innerlike denke. Hoe het jy geëksternaliseer wat karakters dink/voel?
Eugene is gelukkig ’n skrywer en sy gedagtes is goed geformuleer. Carlo Daniels is as akteur in Eugene gesetel, maar speel ook soms klein kamees van ander karakters. Dit bied ’n geleentheid om ook op Eugene kommentaar te lewer.
Watter verhooggereedskap het jy gebruik om die roman se beskrywings te vervang?
Ons gebruik minimale klank; eerder die aktrise Lynette du Plessis se fisieke teater. Sy vertolk ’n paar kleiner rolle, wat eintlik net sinsnedes is. Sy vergestalt ook gemoedstemming en trauma. Kirby van der Merwe is ook op die verhoog en skep ’n kunswerk in elke opvoering. Hy is die groot outeur en kunstenaar.
Het jy die roman se tydlyn behou, of moes jy tonele herstruktureer?
Ons het met die uitsondering van enkele tonele by die boek se struktuur gehou. Ons het wel die einde verander.
Hoeveel van die oorspronklike dialoog het jy woordeliks gebruik?
Nie baie nie; die roman het nogal min dialoog om mee te begin.
Is die verteller se stem weg – of nie?
Die stem bly teenwoordig in die toneelstuk, hoewel die perspektief wel anders as in die roman is.
Hoe behou jy daardie toon? Moes jy eksposisie "opvoer" wat dalk makliker in prosa was?
Die toonaard van die boek is ingebed in alles van die verhaal. Dis nie moontlik om daarvan weg te beweeg nie. Carlo Daniels, as akteur, hanteer baie van die nodige eksposisie in sy spel.
Wat is die een toneel wat pragtig op die bladsy gewerk het, maar onmoontlik was om te blokkeer?
Ons probleem was eerder te min tyd om tonele volledig in te sluit. In die roman is daar byvoorbeeld ’n toneel met drie koerantberigte wat ek graag wou insluit, maar net die koppe van die berigte het uiteindelik oorleef.
Wat sou jy vir 'n aanhanger van die boek sê om te verwag?
Die storie is dieselfde – of dis ten minste ’n gedeelte van die storie – maar akteurs maak teks lewendig en roekeloos. ’n Sekere diepgang van die roman sal altyd in die slag bly met die oorgang na die verhoog. Die verhoog maak dit meer konfronterend en onmiddellik.
Het die skrywer verhoogteksgoedkeuring gehad?
Kirby het gesê ons kan doen wat ons wil, en ek glo hy is darem tevrede. My eerste lees van die roman was nogal ’n emosionele ervaring.
DIE EINDE – NICO SCHEEPERS
En toe kom Nico Scheepers, as die regisseur, in die prentjie: die derde stem. Hy het ook die ontwerp (stel, beligting en klank) geskep, met die ondersteuning van Jean du Plessis (assistentregisseur) en Lulu Kieser (verhoogbestuurder). Nico is ’n veelsydige en bekroonde teatermaker en teks- en draaiboekskrywer. Tussen sy talle welslae tel die gruwelrolprent Hen (wat verlede jaar 11 benoemings en agt toekennings by die Silwerskermfees ingepalm het), die kykNET-trefferreeks Nêrens Noord-Kaap en die bekroonde Showmax-reeks Donkerbos. Hugo is ook die regisseur van die bekroonde produksie Ek is nie Danie, wat ook by die Suidoosterfees op die planke is.
Wat was jou benadering om 'n aanvanklike roman – wat as ’n verhoogteks aan jou gelewer is – in 'n teaterproduksie te omskep?
Ek het die boek gelees om die karakter te verken soos Kirby van der Merwe hom geskep het. Daarna het ek vir Saartjie Botha vertrou om met haar fyn oog die roman in die verhoogteks te verwerk. En dan ontgin ek die akteur Carlo Daniels se verkenning van die karakter in sy vertolking. Dus is daar eintlik drie Eugenes: Kirby se Eugene, Saartjie se Eugene en Carlo se Eugene. Almal staan saam op die verhoog. Al wat ek moes doen, was om vir hul almal ruimte en leiding in die lyf van een mens te gee.
Watter teatertegnieke ontgin en benut jy om die narratief te voer?
Ek wou soveel as moontlik uit die storie en karakter se pad bly. Met die regie en ontwerp probeer ’n mens altyd om die verhaal en die akteurs te dien om die teatermatigheid daarvan te ontgin. Ek wil nie te veel verklap nie, maar ek is baie opgewonde oor die eindproduk.
Watter uitdagings moes die akteurs takel om die storie geloofwaardig deur daardie karakters te vertel?
Enige teaterstuk is ’n enorme uitdaging. Gehore wil altyd weet hoe akteurs “al daai woorde onthou”, maar dit is 5% van Sisufos se taak. Om ’n ander mens te wórd – in siel en been – is waaroor dit gaan. Dít is waar die kuns daarvan inkom, nié in die woorde nie. En om dit keer op keer in verskeie velle te vermag is wat ons akteurs in hierdie land van die bestes ter wêreld maak.
Eugene is ’n warrelwind van nagevolge in een mens, ’n man wat heen en weer met inkvoete oor ’n wit doek hardloop – op soek na ’n ander verlede. Carlo Daniels is ’n ongelooflike akteur. Sy dissipline is verbysterend; hy is ’n speler wat sy hele liggaam soos een snaar kan span. Lynette du Plessis is sy skaduwee in hierdie produksie; ’n Brecht-gedrog met blink oë wat Eugene deur al sy poorte lei. Hierdie was ’n heerlike proses en ek sien uit daarna om die produksie op die verhoog, saam met ’n gehoor, te ervaar.
Dit is die grootste voorreg om in ’n geselskap soos hierdie te kan droom.
DIE BEGIN – KIRBY VAN DER MERWE
En daardie droom het by Kirby van der Merwe begin. Kirby is ’n skrywer, vertaler, visuele kunstenaar en joernalis. Eugene, sy tweede roman, is in 2022 deur Human & Rousseau uitgegee – met dié reklameteks: “Eugene ken van skollies, gangsters en crooks. Hy is streetwise, al lyk hy nou soos iemand uit die upper-middle class. Hy kom immers uit die ghetto se killing fields van die 60’s, 70’s en 80’s. Maar nou is dit baie jare later. En die ou alliances met sy kindervriende Alan, Huey en Jenny ná alles destyds in Hillbrow tussen hulle skeefgeloop het, bestaan nie meer nie, en Eugene word aangekla van moord. Dit is 'n aangrypende roman oor vriendskap en verraad.”
Dié waagmoedige roman is in 2023 met die kykNET-Rapport-prys vir fiksie, die Jan Rabie-Rapport-prys vir debuut of tweede werke – én die Eugène Marais-prys bekroon. Sy hoog aangeskrewe debuutroman, Klapperhaar slap nie stil nie, het in 1999 verskyn. Die eienaamtitel van sy tweede roman skep ’n rykdom verwagtinge en vereenselwiging. Die beoordelaars was oorbluf oor die wyse waarop hy lewe aan ’n unieke titelkarakter gee, vooropgestelde idees uitdaag en maklike veralgemenings slim weerlê.
Hoekom het jou "Eugene" nie 'n gravis op die “e” nie?
Hy is sommer die algemene Eugene, sonder die gravis. Dis juis een van die redes waarom ek op die naam Eugene besluit het ná iemand vir my gesê het “almal ken ’n Eugene”.
Dié produksie het minstens drie uiteenlopende "stemme": jy, die romanskrywer, Saartjie Botha, die dramaturg, en Hugo Scheepers, die regisseur. (Ook akteurs en teatertegnici.) Tussen die uitdagings van 'n dramaturg om 'n roman in 'n verhoogproduksie te verwerk, is onder meer die hantering van die verhaalstruktuur, dialoog en die skrywerstem, gepaardgaande met jou regte en medewerking, verhoogmoontlikhede, tema en doel. Is dit bereik en is daar nog oorspronklike "siel" en narratief behou?
Die roman is ’n “siel” op sy eie. Ek slaan my hand aan vele dinge, maar besef dit vereis besonderse teatermakers soos Saartjie, Nico en die akteurs om ’n roman tot ’n verhoogstuk om te tower. En ek kan nie werk as iemand oor my skouer loer nie; daarom is dit vir my ’n openbaring en verrassing hoe die romankarakters op die planke lewend word. Eugene die roman is nie ’n maklike boek nie. Die inhoud is uitdagend, kru en wreed by tye en kom juis nie die leser tegemoet nie. Dit is beplan om die leser te vervreem. Saartjie het onmiddellik die dramatiese moontlikhede van die roman gesnap. Sy het, interessant genoeg, die vervreemdende roman tot intense teaterervaring verwerk.
Toe kom die regisseur, Nico Scheepers, by – en nóg 'n stem word geskep om jou verhaal te vertel. Ook met akteurs wat jou karakters uitbeeld.
Ter beklemtoning: Wanneer ’n roman en karakters “werk”, is hulle persoonlikhede op hul eie. Hulle bestaan in so ’n mate dat lesers en sommige mense glo dat hulle geskryfdes is en die skrywer wil bykom.
Jy is ook op die verhoog betrokke – in watter hoedanigheid?
Ek is op die verhoog as myself, die skrywer van die roman, en natuurlik as skilder. Ek was verlede jaar die “feeskunstenaar” van die Suidoosterfees. Ek het ’n skildery van twee by tien meter uitgestal wat ek namens Eugene, die karakter, geskilder het. Dit was Eugene se traumaskilderye. Mense kan gerus op my Facebook-blad daarna gaan kyk.
Sal teatergangers 'n begrip van jou werk kan vorm, al het hulle nie die roman gelees nie – en sou jy verkies dat mense eers jou roman lees voordat hulle die produksie ervaar – of andersom?
Nee en ja. Lees jy eers ’n roman en kyk dan die fliek wat daaroor gemaak is, of andersom? Gehore kan ’n meesterlike toneelstuk deur meesters van die teaterkuns verwag.
- Eugene is ’n koproduksie van die Suidoosterfees, Vrystaat Kunstefees en Toyota Stellenbosch Woordfees, ondersteun deur NATi, die Festival Enterprise Catalyst (FEC), The Jobs Fund en Het Jan Marais Nationale Fonds.
Lees ook:

