In 2026 vier Artscape (voorheen die Nico Malan-teater) sy 55ste bestaansjaar.
Die legendariese dramaturg Adam Small, wie se Kanna hy kô hystoe vir die eerste keer op dié verhoog opgevoer is, sou vanjaar 90 jaar oud geword het.
Lees die teksweergawe van Steward van Wyk se lesing, wat hy tydens die “Adam en die Nico”-Jakes Gerwel-gesprek by die 2026-Suidoosterfees gelewer het: “In hierdie jaar, waarin die 90ste herdenking van sy geboortedag gevier word, het Small weer tuisgekom in Kunstekaap, by die Suidoosterfees.”
Adam Small se verbintenis met die Nico Malan/Kunstekaap
Inleiding
Die storie van Adam Small en die Nico Malan-teater is eintlik die storie van twee Nico’s. Dit begin in Augustus 1972 toe Small en Dramsoc, die dramavereniging van UWK Kanna hy kô hystoe in die saal van die Nico Malan Verpleegkollege in Klipfonteinweg, Athlone opgevoer het. Dit volg nadat die stuk vir ’n week in die kafeteria op die UWK-kampus op die planke gebring is.
Die regie was deur Small self en die rolverdeling dieselfde met Charlyn Wessels as Makiet, Norman Micheals as Kanna, Johny Issel as Jacob en ander bekendes, soos Peter Braaf en Hendrik Theys. Volgens Charlyn was die opvoering elke aand uitverkoop met die gehoor wat hulle staande toegejuig het. Die stel was eenvoudig, soos Small dit wou hê, en die basiese beligting het hulle self verskaf. Peter Braaf noem dat dit die werk van die jongelinge was om agter die gordyn rond te beweeg om die beligting en ander takies te behartig.
Die besluit om by die verpleegkollege te speel was edel: om die teater na die mense te neem en bewusmaking (conscientisation) te bewerkstelling. Maar dis ook bepaal en afgedwing deur apartheidswette: om die Wet op Aparte Geriewe te laat geld en dus dat bruin mense slegs vir bruin mense kon speel.

Adam Small (foto: Naomi Bruwer)
Eerste Kanna in die Nico
Op 22 November 1974 open Kanna die eerste keer in die Nico Malan Skouburg met Sandra Kotze en Cobus Rossouw in die rolle van Makiet en Kanna en regie deur Pieter Fourie. Dit volg nadat die stuk reeds die vorige jaar deur Truk en Sukovs opgevoer is. Die speelvak van drie weke is volbespreek. Die opvoering word in kontroversie gedompel omdat Small ’n spesiale uitnodiging van die Administrateur om dit by te woon, van die hand wys – hy wil nie spesiale vergunning kry en as enigste bruin persoon uitgesonder word terwyl die res van sy mense uitgesluit word nie.
In ’n striemende kommentaar skryf die Argus: “Isn’t it tragic ... that a man who is good to write a play worth performing at the Nico Malan may not go as a right to see it staged, because of his colour?”i Small bestempel dit as “a crowning irony”. Onder die opskrif “Resounding first night for Small’s ‘Kanna’” berig die Argus die volgende dag dat die akteurs op die openingsaand staande toegejuig is deur die gehoor, waaronder uitgelese gaste, soos die minister van kleurlingsake, SW van der Merwe. Die minister voel dat die drama uitstekend was en relevant tot die bruin gemeenskap.ii
’n Rasdebakel
Op 19 Februarie 1975 word die Nico in ’n debakel gedompel. Die Administrateur-in-Uitvoerende Komitee kondig aan dat die teater vir alle rasse oopgestel word, maar dat Maandae en Saterdae vir slegs blanke gehore gereserveer word. Hierdie besluit ontlok verontwaardiging en fel kritiek van die publiek. Die besluit word binne 48 uur omgekeer deur PW Botha, destyds minister van verdediging blykbaar op aandrang van die eerste minister, BJ Vorster.
Met sy tipiese sarkasme merk Small op dat die aanvanklike reëling hom perfek pas: “The special days for the Whites suits me fine. It’s an excellent thing. Now the verkramptes will be exposed, isolated and destroyed.”iii Op daardie stadium het hy nog nie besluit om na die Nico te gaan nie, alhoewel hy waarskynlik sou gaan indien dit ’n goeie drama is, en daarmee bedoel hy ’n sosiaal bewuste drama. Hy meen dat ’n boikot van die Nico “utterley foolish” is.
Hierteenoor is die standpunt van Hassan Howa, president van die nierassige sportliggaam Sacos (South African Council on Sport), wat die treetjie-vir-treetjie-benadering veroordeel en vra vir ’n totale boikot. Small is daarna een van die eerste gekleurdes in die gemengde gehoor wat ’n opvoering van Who saw him die? deur die Academy Theatre bywoon. Hy verdedig sy besluit en trek te velde teen die boikotters.
Small se digterlike reaksie
Na aanleiding van die gebeure skryf Small agt limerieke waarin hy met sy kenmerkende satire die draak steek met die bewindvoerders. Die verse word op 16 Februarie 1975 in Rapport gepubliseer en ingelei met die volgende opmerkings: Toe Kruik besluit het om by die Top-gesag in Kaapland – die Administrateur-in-Uitvoerende Komitee – aan te beveel dat die Nico Malan Skouburg voortaan te alle tye vir alle mense oop moet wees, het Small dié agt limerieke geskryf wat hy noem “Hoerê vi die Nico Malan (moet my tongue in my cheek in)”.


Die limerieke is ietwat ongewoon aan Small, wat hoofsaaklik die vrye vers met herhaling en refreine beoefen het en selde van vaste versvorme gebruik gemaak het. Dit verg ’n vernuftigheid met klank, rym en ritme. Limerieke bestaan tradisioneel uit vyf reëls waarvan die eerste twee en die vyfde min of meer dieselfde lengte het en die derde en vierde effens korter en ook verder weg van die kantlyn inspring. Dit het dikwels die aabba-rymskema en ’n vaste metrum van dalings en heffings.
Limerieke word gebruik om stout te wees, die spot te dryf, met heilige koeie, taboes en valshede die draak te steek. Dit is nie vulgêr nie, maar huiwer op die grens van dekorum en fatsoenlikheid. Dit het ’n speelse aanslag en flirteer met die samelewing se waardes en opvattings; profaniteite is juis dit wat mense laat bloos en spreekwoordelik die kaal keiser uitwys.
Small ontbloot hiermee die stiksienigheid van die regerende party en amptenary wat krampagtig vasklou aan onsinnige apartheidspraktyke. Mens sien ook Small se kenmerkende stekie na die white liberals en die linkse ideoloë wat met hovaardigheid en beterweterigheid van bo af neerkyk en vasklou aan hul vooroordele.
Twee ander digters in die Nico
Hierdie verse kontrasteer met die Afrikaanse gedigreëls wat tydens die amptelike opening op die mure van die ingang na die kaartjieskantoor onthul is. Dit is die pennevrug van NP Van Wyk Louw en DJ Opperman, twee ikoniese figure in die Afrikaanse letterkunde. Van Wyk Louw se vers lui so:
O woord, geslote kamer vir skoonheid klaar –
gaan oop vir my dat ek my in jou red
met hierdie vrag van aardse sekerheid en pyn.
Vir die opening het Opperman die volgende kwatryn geskryf:iv
Hier wissel stuk en spelers, hulle oord
en toeskouers; maar kragtens die woord
gaan deur die eeue – soos oor Tafelberg
die wolke – die spel steeds voort.
Dit is ’n ander soort poëtika as dié van Small se limerieke. Wat opval, is die poëtiese taalgebruik, die metafisiese soeke na singewing deur die kunste – by Van Wyk Louw die misterie van die woord en estetiese wat die aardse tekortkominge oorstyg en groter vervulling vind in die boaardse; by Opperman ’n konkrete, lokale beeld waarin die voortdurende bemoeienis van die kunste uitspeel.
’n Nuwe era: Small word voorsitter
Met die demokratiese oorgang in die vroeë neëntigs word die streekskunsterade ontbind en Kruik omskep in Kunstekaap. Dit behels die naamsverandering van die agentskap asook die skouburg. Kunstekaap se fokus verskuif van produksiehuis na ’n tuiste vir uiteenlopende produksies oor genres. In 1996 word Small tot voorsitter verkies. Dit gebeur in die tyd van Michael Maas as uitvoerende hoof en Marlene le Roux as transformasiebestuurder en lui ’n era van versnelde transformasie in.
Fiësta vir lewenslange bydrae tot teater en woordkuns, Maart 2015
Op 5 Maart 2015 word ’n KykNET Fiësta vir lewenslange bydrae tot teater en woordkuns aan Small toegeken. Dit volg slegs ’n paar maande nadat hy weer in die openbaar verskyn het en die publikasie van sy digbundel Klawerjas (sy laaste). Sy medebekroondes op die aand is Wilma Stockenström en Marius Weyers, met Frank Opperman as aankondiger. Dit was vir my ’n eer en ook senutergende ervaring om die commendatio op ’n lewende uitsending in die Operahuis te doen! ’n Emosionele Small het die trofee met dankbaarheid ontvang.
Adam Small Bejazzed, 2015
Natalia da Rocha met die Applauz Arts Initiative doen in 2015 ’n produksie met die titel Adam Small BeJazzed in die Arena-teater.v Dit word beskryf as “a musical tribute to a literary icon”. Die musiek is gekomponeer deur Kurt Egelhof, Camillo Lombard en Dillon April.
Adam Small BeJazzed bevat aangrypende toonsettings van Small se bekende gedigte, soos “Oppie parrare”, “What about de lô”, “Brown lullaby” en “Die Here het gaskommel”, asook die gedig “My woorde kom weer” uit sy laaste digbundel. Die meevoerende musiek beslaan verskeie genres: vanaf ballades en jazz tot saamsingliedjies. Siphokazi Jonas, ’n spoken word-digter uit eie reg, het ’n aangrypende gedig oor Small gelewer, en die jong Dillon April se openingslied, “Mr Adam Small”, het getref met sy meevoerende jazzklanke. Die destydse burgemeester, Patricia de Lille, was teenwoordig by die openingsaand saam met Small en sy vrou, Rosalie Small, en hul kinders Peter-John en Zaidee.
Small sterf op 25 Junie 2016 en word later daardie jaar vereer met ’n spesiale program in die Kunstekaap waarin uittreksels uit sy poësie en dramas asook BeJazzed opgevoer word.
SBA-bronsbeeld 2017
Op Versoeningsdag 16 Desember 2017 word ’n bronsborsbeeld van Small onthul deur Rosalie Small as geskenk van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) aan Kunstekaap. Die beeldhouer is die bekende Johannes du Plessis. Op die gedenkplaat word Small geloof vir sy beginselvaste protes teen kleurdiskriminasie en erkenning gegee aan swart dramaturge en kunstenaars wat tydens apartheid nie toegang tot die teater gehad het nie. By dieselfde geleentheid word ook die SA Akademie se boek Adam Small: denker, digter, dramaturg bekendgestel.
Slot
Die Suidoosterfees se tema van 2026, naamlik “Tuiste”, is sentraal in die lewe en werk van Adam Small. “Hys” is die kernwoord in sy bekende drama en die problematiek daarin wentel rondom Kanna se worsteling met waar hys/huis is: Is dit oorsee, waar hy sy drome en aspirasies kan uitleef, of is dit hier plaaslik tussen sy mense met hul versugting dat hy hulle sal ophef uit hul mensonterende omstandighede? In die drama word dit funksioneel uitgedruk as “huis” – die Afrikaanse woord wat vervreemding suggereer – en “hys” – die Kaapse woord wat tuiswees suggereer.
As Map Jacobs sê sy tatoes was “’n terrible gesoek na identity”, is dit ook ’n uitdrukking van sy soeke na geborgenheid, na tuiswees in homself en in gemeenskap, “to belong by hook or by crook”. En Joanie Galant-hulle se verval in erge psigososiale trauma is grootliks te wyte aan hul verskuiwing uit die geliefde ouerhuis in Woodstock na die Vlakte van dwelms en bendes.
Dit is ook insiggewend dat Small altyd sy geborgenheid geplaas het in ’n plek: Sy tuiste was die oranje-bruin grond van Goree, die huis van ouma Tiema in Wellington, Blouvlei op die Kaapse Vlakte. In hierdie jaar, waarin die 90ste herdenking van sy geboortedag gevier word, het Small weer tuisgekom in Kunstekaap, by die Suidoosterfees.
Small kom ook vanjaar tuis in die SBA se vier kort dramas by die fees, waarin jong dramaturge, regisseurs en akteurs in gesprek tree met sy werk. In al vier stukke, met die titels “Waar ook al djy belong”, “Tussen vlugte”, “Langs die pad uitsak” en “Ongekarteerde drome”, weerklink die stem van Small: as ’n reël uit Kanna of Map Jacobs of ’n versreël uit ’n gedig of ’n teaterelement. Die temas is steeds drome, aspirasies, keuses, gemeenskappe en identiteit, om enkeles uit te sonder. Dit bevestig die verbintenis met Small oor plek, generasies en na sy dood in die jaar waarin hy 90 sou geword het. Dit is en behoort aaneenlopend te wees: as stimulus vir vernuwende kreatiewe jong stemme, soos wat hy self in sy tyd was.
Eindnotas:
i Argus, 22 November 1974.
ii Argus, 23 November 1974.
iii Cape Times, 21 Februarie 1995.
iv Kannemeyer, JC. 1979. Kroniek van klip en ster, ’n studie van die oeuvre van DJ Opperman. Academica: Pretoria en Kaapstad.
v https://youtu.be/PwEi9Kn9i6k?si=MIdDYGP2PEHJIZps.
Lees en kyk ook:
Kunstekaap se 55 jaar diep gewortel in uitnemendheid, introspeksie en transformasie

