Kunstekaap se 55 jaar diep gewortel in uitnemendheid, introspeksie en transformasie

  • 0

Die Artscape-(Kunstekaap) gebou vandag

Die Nico Malan-teater is herdoop na Artscape Theatre (Kunstekaap) in 2001

Die Kunstekaap Teatersentrum word 55 jaar oud op Dinsdag 19 Mei, ’n uitsonderlike gebeurtenis vir ’n statige, historiese regeringsgebou in Kaapstad met ’n ryke nalatenskap en gelaagde erfenis waar kreatiewe uitnemendheid, voortdurende transformasie en kollektiewe energie vanjaar gevier word onder die tema: ’n Plek vir almal. Teatergangers en die publiek word hartlik uitgenooi om 55 jaar se kunsvernuf en herverbeelding van ’n staatsgebou saam te kom vier, spesifiek op 19 Mei maar ook deur die loop van die jaar.

Tydens die herdenkingsprogram op 19 Mei sal ons ’n gendenkmuur – ’n fotouitstalling – getiteld ‘Die reis na Kunstekaap – ’n plek hergebore’, om 11:00 onthul wat die reis van eksklusiwiteit tot voortdurende inklusiwiteit op elke vlak uitbeeld. Verskeie sprekers sal die geleentheid bywoon, insluitend ministers van die nasionale, provinsiale en plaaslike regering. Ons nooi die publiek uit om deel te wees van hierdie geskiedkundige gebeurtenis, geklee in tradisionele gedrag, of in hul beste gewaad wat ook die Kunstekaap 55-tema, “’n Plek vir almal” sal bevestig. ’n Foto van almal teenwoordig sal om 12:00 op die ikoniese trappe van die gebou geneem word wat later in die gebou gemonteer sal word as ’n simbool vir die toekoms van hoe ons die geskiedenis herdefinieer.  Die dag se program sluit ook ’n spesiale gratis etensuurkonsert in, asook opvoerings van voorgeskrewe werke vir matrieks, met die kersie op die koek: die opening van George Bizet se gewilde opera Carmen in die aand, aangebied deur Kaapstad Opera, terwyl akrobate van Zip Zap Circus operaliefhebbers vooraf sal verwelkom – ’n gepaste wyse om erkenning te gee aan ’n waardige gebou wat die toets van die tyd deurstaan het.

Maar wat is dit wat die Kunstekaap as staatsgebou kop bo water laat uitstaan bo ander soortgelyke instellings?

’n Terugblik op 55 jaar se bestaan van hierdie argitektoniese wonder bring gemengde gevoelens van ontkenning, uitsluiting, verontregting en selfs rassisme mee – selfs toe Adam Small tydens die apartheidsjare nie die opening van sy ikoniese drama Kanna hy kô hystoe kon bywoon nie omdat hy nie wit was nie en bruinmense na jare se uitsluiting uiteindelik op Dinsdagaande toegelaat was onder streng polisiebewaking sonder toiletgeriewe vir hulle terwyl swartmense steeds uitgesluit was – maar tog ook dankbaarheid en lof vir visioenêre denke en uitnemende vaardighede van stadsleiers en strukturele argitekte van die 1970s onderskeidelik, vir die totstandkoming van ’n magiese gebou waar die kunste vandag steeds gedy, net meer inklusief, meer omvattend en meer impakvol.

Bekende dramaturg Adam Small as lid van die Kruik-direksie hier saam met Michael Maas, die uitvoerende hoof van die Nico Malan-teater in 1996

Dat ons vandag 55 jaar se wonderwerk kan vier is die resultaat van jare se introspeksie en kopskuiwe asook jare se doelbewuste en daadwerklike programbeplanning en -implimentering om uiteenlopende mense deur die kunste nader aan mekaar te laat beweeg en die gebou meer inklusief te maak in ooreenstemming met ons land se grondwet, wat onder meer nasiebou, gelykheid, gelykberegtiging en inklusiwiteit voorskryf. Die kunste het die natuurlike vermoë om ons samelewing saam te voeg op ’n verhoog, en terselfdertyd gehore bloot te stel aan die diversiteit van ons land se samelewing.

Die Nico Malan se kaartjiekantoor n die 1970's

Opvoeding en uitreik vir nasiebou en bemagtiging

Van gehoorontwikkeling, opvoeding en opleiding, tot vlagskipprogramme soos gemeenskaps- en plattelandse uitreikprogramme, hoofstroming van kunstenaars en besoekers met gestremdhede deur strukturele aanpassings soos die Loop-gehoorstelselsel, spesiale mat vir gesigsgestremde persone, spesiale omgeekamer, loopvlakke,  en  vennootskappe met geassossieerde kunsgeselskappe en feeste – jare se beplanning en implimentering – is die Kunstekaap Teatersentrum vandag die voorkeurteater vir Kaapstad se burgers en die res van Suid-Afrika. Hiervan getuig hierdie dagblad se Jou Keuse-peiling wat Kunstekaap sedert die ontstaan van die peiling agt jaar gelede agtereenvolgens as die topteater aangewys het.

Skoolleerlinge by ’n opvoering van die skolereeks Vlooi in 2018

Maar dis veral omdat ons voortdurend relevant bly om elke laag van ons bevolking in ag te neem soos bepaal deur die land se grondwet. Ons Konsert van Hoop wat altyd op 27 April gehou was, is aangebied om ons wonderwerk as ’n nasie te kan beleef. Vir ons matrieks en kleintjies voer ons jaarliks onderskeidelik voorgeskrewe werke op soos Adam Small se Krismis van Map Jacobs en Vlooi, die voorgeskrewe leesreeks vir die kleintjies deur Margit Meyer-Rödenbeck. Vir ons semi-stedelike gebiede werk ons nou saam met plaaslike NRO’s en kunstegroepe om die sosiale uitdagings die hoof te bied. Ons vat hande met gemeenskapsorganisasies soos die Rainbow Arts organisation in Delft, Hanover Park se Resource Centre, Gugu S’Thebe- kuns-en-kultuursentrum in Langa, en Wellington se Klopse, plekke waar ons elke Saterdag musiekgeletterheid aan jongmense gebied het wat vandag die wêreld vol reis. Samewerking met een van ons geassosieerde kunstegeselskappe, die Dizo Plaatjies Indigenous Ensemble, en die tradisionele musikante van Women Unite onder leiding van Thandi Swartbooi, help verseker ons gee ’n stem aan inheemse klanke en die belangrikheid van die Khoi-, San- en Nama-gemeenskappe en ander tradisionele kunstenaars. Die All Starts Nasheed Showcase, ’n kompetisie wat ek saam met die visioenêre nasiebouer, Taj Aklekker begin het, bied weer geleentheid aan jong manne en vroue om uit die Koran voor te lees. Ons vat ook hande met Lief en Leed vir persone met gestremdhede in Mamre en betrek hierdie baanbreker-organisasie wat deur persone met gestremdhede begin en gelei word, by vele van ons programme.

Jong deelnemers aan die Klassieke Konsert-kompetisie in 2024

Vlagskipprogramme saam met geassossieerde kunstegeselskappe

As baanbreker in die inklusiewe kunste moet ek ons jaarlikse vlagskipprogramme spesiaal uitsonder. Hierdie bied ons aan in samewerking met ons geassossieerde geselskappe wat insluit die Kaapstad Stadsballet, Jazzart, Dance for All, Unmute Dance Company – ’n dansgeselskap wat hulle beywer vir dansers met gestremdhede, Kaapstad Opera, Kaapstad Filharmoniese Orkes, ZipZap Circus wat veral straatkinders bemagtig tot wêreldklas artieste, Woman Zone – ’n NRO wat onder meer fokus op vroueskrywers en -digters, en die belange van vroue in die algemeen, Fine Music Radio (FMR) wat vanaf die Marble Foyer uitsaai, en die Cape Cultural Collective wat veral fokus op inklusiewe musiek- en skryfontwikkeling, en uitdrukking in semi-stedelike gebiede, die Wes-Kaapse regering, verskeie borge, die Kaapstad- en dorpsmunisipaliteite, asook Kunstekaap se wêreldklas- tegniese span, waardeur ons gemarginaliseerde groepe bemagtig, soos die jeug, vroue, mense met gestremdhede plattelandse gemeenskappe asook misdaadgesteisterde gebiede. Die hooffokus van die vlagskipprogramme is bemagtiging, opvoeding, blootstelling, menslikheid en menswaardigheid.

Die Hoërskool Cedar in Mitchells Plain se dansers op die Kunstekaapverhoog tydens die Skolefees in 2008

Die Kunstekaap Skolefees trek jaarliks vol sale vir twee weke, met leerlinge met spesiale behoeftes in die kollig; die jaarlikse Youth Jazz-fees is geskoei op mentorskap van gevestigde musikante met opkomende musikante; die Klassieke Jeugfees waar die wêreldberoemde operaster Pretty Yende ook begin het met die filharmoniese orkes; die Hoërskool-dramafees bied ook mentorskap, die Artscape Women’s Humanity Festival in samewerking met Woman Zone; die Accessibility Festival waar professionele kunstenaars met gestremdhede gelyke toegang kry tot ’n professionele verhoog; die plattelandse uitreikprogram waar die Kunstekaap-voetspoor vir die afgelope 22 jaar reeds reeds 20 Wes-Kaapse dorpe bereik het; Erfenismaandprogram met kunstenaars en gehore wat blootstelling kry aan mekaar se komvandaan; werkswinkels in veral hulpbehoewende gemeenskappe oor die verskillende aspekte van die uitvoerende kunste – op die verhoog en agter die skerms – om die mistiek van ons bedryf weg te neem. Jongmense kry byvoorbeeld blootstelling aan hoe ’n stel gebou word, waaroor gaan die werk van klank- en beligtingingenieurs en verhoogbestuurders.

Tuiste van gewilde feeste en kompetisies

Die Kunstekaap is jare lank reeds die tuiste van spog- kulturele feeste wat ook nasiebou bevorder. Die Suidoosterfees, geesteskind van die ontslape professor Jakes Gerwel, bied al vir 23 jaar uitstekende Afrikaanse teater en vermaak wat ook ’n goeie platform geword het vir jong opkomende skrywers en dramaturge uit die land se diverse gemeenskappe, maar ook vir gevestigde kunstenaars en teaterskeppers wat almal saam kom onder een dak. Hiermee saam het die vooraanstaande Indiese dansgroep in Kaapstad, Taare Dance met hul energieke Bollywood-opvoerings bygedra tot die diversiteit van vanjaar se Suidoosterfees. Jazzart se Meraki-dansfees is ook vanjaar vir die tweede keer by die Kunstekaap gehou.

Ons huisves ook jaarliks die National Proscenium-dramakompetisie vir hoërskoolleerlinge landwyd waar hulle hul uitvoerende kunstalente, insluitend vaardighede in teater, televisie, radio en oorklanking kan ten toon stel.  Dis ook die plek waar die jaarlikse Maleise koorkompetisies plaasvind.

Vir Kunstekaap as regeringsinstansie gaan sake dus nie net aan soos normaalweg nie, maar dis egter ’n daaglikse besef en aktiewe skouer-aan-die-wiel-sit dat toenemende samewerking met gehalte-gedrewe kreatiewe instansies wat help met nasiebou en werkskepping ’n noodsaaklike bousteen is vir die voortbestaan van die kunste binne die land se ekonomie en begroting waar die kunste dikwels aan die agterspeen suig. Die kunste gaan nie net oor vermaak, opvoeding en nasiebou nie, maar uiteraard oor werkskepping wat saam met elke produksie gepaard gaan.

Die kunste en werkskepping

In die algemeen dra die kreatiewe bedryf tot R271 miljard (4% van die BBP) by tot die ekonomie. Daarom is dit dus van kardinale belang dat ’n gebou soos die Kunstekaap ’n plek van gehalte moet wees om sodoende ’n tuiste te kan wees vir die kunste, professionele kunstegeselskappe en -maatskappe asook gemeenskapsorganisasies wat die kunste as hulpmiddel gebruik om sosiale kwessies te hanteer.

Met minder as 100 voltydse personeel op ons rekords, skep ons elke week werk vir honderde deur vennootskappe aan te koop met plaaslike en internasional vervaardigers – ons is al vol bespreek tot in 2028!

Oor die 40 000 besoekers van regoor die land het die pasafgelope Suidoosterfees bygewoon wat werk geskep het vir talle bykomende tegniese en verhoogpersoneel, skoonmakers en sekuriteitwerkers.

Die Kaapstad Opera-geselskap het 64 voltydse werknemers, met honderde kontrakwerkers net vir Carmen alleenlik wat die 55ste vieringe van die gebou op 19 Mei om 19:00 gaan open. Hulle toer gereeld internasionaal – in November vanjaar gaan 44 Kaapstad Opera-sangers deelneem aan George Gershwin se opera Porgy and Bess by die Opera de Monte Carlo in Monaco.

Jazzart het 15 voltydse persooneellede wat hulle op die korttermyn aanvul met ongeveer 40 werknemers vir groot projekte, soos hul jaarlikse Meraki-dansfees. Hulle bied ook internskappe vir jong dansers en toer gereeld internasionaal.

Ons tentakels strek dus ver en ons is nog nie klaar nie!

’n Gebou met hart

Die Kunstekaap Teatersentrum is dus nie net ’n gebou nie. Ons leuse as ’n regeringsinstansie is om ons land se mense te dien deur die kunste en ook om opkomende kunstenaars te ondersteun sodat hulle as professionele burgers geag word.

Marlene le Roux saam met FW Klerk en aartsbiskop Desmond Tutu tydens die Konsert van Hoop in 2017

Saam met ons geassossieerde geselskappe maak die Kunstekaap as regeringsliggaam ’n beduidende bydrae tot die ekonomie en lewensgehalte van ons landsburgers. Ons beskou die kunste as gelykwaardig aan STEM-industrieë wat gelyke finansiering van die regering verdien. Ons bied konserte aan in die stad, ons vat hande met gemeenskapsgebaseerde NRO’s, ons neem die teater na die mense toe, mense kom leer ander mense hier ken, dis ’n plek waar mense kom asemhaal. Kultuurverskuiwings neem tyd en geduld. Jy moet net nooit moed opgee nie. Ons kan nou werklik sê die gebou behoort nou aan almal. Daarby is dit ’n staatsgebou wat volgehoue instandhouding, skoonmaak, sekuriteit en verantwoording aan die ouditeur-generaal vereis. Onthou, die gebou staan op drooggelegde grond wat steun op 1 016 staalpillare wat diep in die aarde se bodem geboor is sodat dit die sterk Kaapse Dokter kan weerstaan. Dis ’n enorme skip om te bestuur en die verantwoordelikheid is gewigtig!  

Kom vier saam!

Kunstekaap 55 beloof sekerlik om besoekers se hoogste verwagtinge te oortref. Die herdenkingsvieringe deur die loop van die jaar sluit in ’n Loopbaandag vir skole op 6 Junie wat ook ’n gratis etensuurkonsert insluit, gratis toere van die gebou (vooraf bespreking is noodsaaklik), meesterklasse deur die geassosieerde geselskappe, en die kersie op die koek: Kunstekaap 55 Galakonsert op 8 November

Besoekers moet uitkyk vir die R55-kaartjies wat vir sekere produksies beskikbaar sal wees. Operaliefhebbers wat vroeg uitspring kan reeds R55 betaal vir 2 kaartjies na Carmen op 21 Mei, maar bespreking hiervoor kan slegs deur die Artscape Dial-a-Seat gedoen word.

Te midde van al die herdenkingsvieringe gaan ons vlagskipprogramme voort soos gewoonlik. Meer inligting later hieroor. Kom en deel in die groot makietie!

Besoek Kunstekaap se webtuiste www.artscape.co.za vir meer inliging oor die 55 jaar se herdenkingsvieringe, die vlagskipprogramme en produksies.

  • Marlene le Roux is die uitvoerende hoof van die Kunstekaap Teatersentrum sedert 2015
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top