Suidoosterfees 2020 by die kykNET Atlantic-inryteater bied aan Klopse Jol!

  • 0

Klopse Jol! is ’n produksie wat Kaapstad se ryke musiekkultuurtradisies laat leef! ’n Skouspelagtige aand met die dinamiese broers Emo en Loukmaan Adams, wat die verhoog deel met talle ander kunstenaars. Dit alles as ’n unieke inryteater-ervaring.

Die kunstenaars betrokke by die samewerking is opgewonde en vertel die vertoning moet nie gemis word nie. Loukmaan Adams sê dat hy en Emo nie twee keer daaraan gedink het toe vervaardiger Vicky Davis hom genader het om hierdie vertoning aanmekaar te sit nie: “’n Klopse jol! by ’n drive-in? Hoe kan mens dan nou nie ’n lekker tyd hê nie? Dis ’n klomp van ons wat ’n jol saam gaan hê op die verhoog. En ons wil hê die mense moet saam met ons jol – in hulle karre, buite die kar, bo-op die kar, onder die kar, net soos hulle dit wil hê. Ons gaan saam paartie like there’s no tomorrow!”

Hierdie geleentheid vind Donderdag 12 November om 20:00 plaas by die @kykNET Atlantic-inryreater by Montague Gardens. Kaartjies kos R250 per voertuig vir tot twee mense en R300 per voertuig vir tot vier mense en kan deur Computicket gekoop word.

Vicky Davis, vervaardiger van die vertoning, vertel meer.

Vicky Davis

Vertel asseblief meer oor die vertoning – wat kan die gehoor te wagte wees?

Klopse Jol! Is ’n unieke feesproduksie wat Kaapstad se ryke musiekkultuurtradisies laat leef! Dit gaan ’n skouspelagtige aand wees met die dinamiese broers Emo en Loukmaan Adams, wat die verhoog deel met ’n rits dansers, sangers en en musikante, insluitende ’n eg Kaapse Maleierkoor met die naam Alchemy Cultural Entertainers, die Klopsegroep PSV en ’n tienstukorkes wat sal sorg dat die verhoog behoorlik oorloop van good vibes!

Daar sal ook ’n paar opwindende gaskunstenaars wees, insluitend die talentvolle Nicoleen Saal, wat onlangs Maak my famous se tweede reeks op kykNET gewen het, asook Rjay en Lil-LK van die trefferlied “Wikkel”. 

Loukmaan en Emo Adams

Wat maak jou opgewonde oor die vertoning?

Die bekende teaterregisseur David Kramer het my en Schalk Joubert bewus gemaak van die ongelooflike ontwikkelingswerk wat Loukmaan Adams en sy medewerkers doen met Kaapse Klopse-groepe en Maleierkore en hy het ons “afgetip” dat hier ’n show is wat die lig moet sien.

Die SOF was baie opgewonde oor die idee dat die vertoning by die 2020-SOF kan debuteer en Loukmaan het die geleentheid aangegryp om ’n produksie saam te stel. Wat baie opwindend is, is dat die musiek wat mense gaan hoor in Klopse Jol! uniek is tot die Kaap, en shows soos hierdie is belangrik om die ryk musiektradisies van ons gemeenskappe te laat voortleef en ook aan wyer, jonger gehore bekend te stel.

PSV

Die styl is ook heeltemal vars – die  tradisionele musiek van die kore word verwerk en vermeng met kontemporêre geure van hip-hop en pop, en dit maak die musiekgebeurtenis nog meer relevant.

Die vertoning vind plaas as ’n inryteater-ervaring. Vertel asseblief meer? Hoe werk dit?

Die vertoning vind plaas op ’n buiteverhoog voor die "gehoor" van motors, terwyl beelde van die konsert ook op ’n reusesilwerskerm agter die verhoog geprojekteer word. Inryteatergangers skakel in op ’n FM-radiofrekwensie om in hulle motors na die klankbaan te luister. Die geleentheid voldoen volledig aan vereistes ingevolge die COVID-19- nasionale gesondheids- en veiligheidsregulasies.

Nicoleen Saal

 Wat was van die hoogtepunte van die proses om hierdie konsert op die been te bring?

Vir ’n vervaardiger is dit altyd ’n hoogtepunt om materiaal te vind wat vars is en om ’n show aanmekaar te kan sit wat sal nuut voel vir die gehoor na wie dit gebring word. Die volgende hoogtepunt was toe Loukmaan laat weet wie almal saam met die kore gaan optree – natuurlik hy en sy broer Emo wat altyd ’n wen-duo is, maar ook Nicoleen Saal, wenner van seisoen 2 van Maak my famous, en Rjay en Lil-LK gaan ook hul trefferlied “Wikkel” kom doen. Repetisies was ’n verdere hoogtepunt – om die groepe en kore in aksie te kon sien! Die kwaliteit van die optredes, dans en sang is verbysterend. Ek kan nie wag om die groepe in hulle volle tradisionele uitrustings en grimering te sien nie.

Alchemy Cultural Entertainers

’n Persoonlike hoogtepunt is om vir die eerste keer ’n lewende uitvoering deur Emo en Loukmaan te hoor van “Tsek Corona!”, die aanlyn liedjie wat ek en Schalk vroeër die jaar saam met David Kramer vervaardig het en wat viraal versprei het. Die broers het ook daarop gesing. Dit is ’n skerpsinnige verwerking van David en Taliep Petersen se “Welcome to Cape Town”, maar met ’n lockdown-twist, en het mense tydens die vlak 5- inperkings vermaak.

Klopse Jol! het lang bene en ek glo hy gaan nog ver myle hardloop. Dit het alles wat ’n goeie show moet hê – ’n vars konsep, uitstekende entertainers, goeie-kwaliteit-musiek en ’n moerse lekke’ vibe! 

  • Foto’s: verskaf
Lees ook:

Persvrystelling: Suidoosterfees se inryteater begin op hoë noot

Persvrystelling: Spesiale bederf vir boekwurms by Suidoosterfees | Press release: Special treat for booklovers at Suidoosterfees

Persvrystelling: Suidoosterfees-inryteater

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top