- Nini Bennett-Moll skryf gereelde rubrieke vir LitNet.
1.
Op die stoep van ’n houthuis in Appalachia sit ’n gesin slappols en rook. Agt rooi agterstevoor bofbalpette wys die MAGA-logo – MAGA synde die akroniem vir Trump se presidentsverkiesingslagspreuk, “Make America Great Again”. Die twee volwasse broers het vuilwit, sweterige frokkies aan. Dan beweeg die kamera en zoem in op ’n Fuck Biden-vlag wat neffens die voordeur hang. Die gesin se trots. Ook die koffiebekers wat argeloos rondom die agttal se plastiekstoele rondstaan, dra die MAGA-handelsmerk. Die ouma strek haar bene om met haar kosbaarste persoonlike besitting, ’n paar goue Trump-tekkies, te spog.
“Ta-ta-ta!” maak die seuntjie ’n masjiengeweer na waar hy op die plaveisel speel en ’n Trumpinator-mannetjie in die lug hou. (Jy het reg gelees – dis nie ’n “Terminator” nie, maar Donald Trump se parodie op dié speelding.)
Met ’n bietjie variasie kon die toneel dalk afgespeel het in Agter elke man, met aunt Stienie in die hoofrol. Of – perdalks in Marlene van Niekerk se Triomf.
........
Die ouma staan op, hande op die heupe, en draai uitdagend na die kamera. Sy gaan nou een van die talle YouTubers wat hulself joernaliste noem, toespreek en haar saak as MAGA-Republikein stel.
........
Die ouma staan op, hande op die heupe, en draai uitdagend na die kamera. Sy gaan nou een van die talle YouTubers wat hulself joernaliste noem, toespreek en haar saak as MAGA-Republikein stel. Ouma het nie ’n bra aan nie en sy dril soos ’n jellievis. Haar T-hemp is ’n nommer of twee te klein, maar dit maak nie saak nie – dis Donald Trump se gesig wat afwys en span oor die biggelende vetrolle. Hy is háár presidensiële kandidaat, en basta.
Hierdie gesin het hillbilly-hemel ontdek: Trump se talle aanlyn winkels waarin letterlik enige verbruikers- of handelsitems te koop aangebied word. En die handelsmerk? Donald Trump in al sy gedaantes, motto’s en slagsinne.
Trump se volgelinge herinner aan kalkoene wat stem vir Krismis. Ek dink juis nou die dag daaraan dat mens, net soos in die geval van ’n horse whisperer, ook ’n fool whisperer of hillbilly whisperer kry. Dit is die Trumpers wat al die leuens, conspiracy theories en waninformasie glo wat hulle ingefluister word. Onthou jy nog die speletjie telefoontjie wat ons as kinders gespeel het? Jy fluister iets in ’n mater se oor, en dié fluister dit in ’n volgende kind se oor en so word die fluisterboodskap herhaal tot die laaste kind in die groep hardop sê wat hy gehoor het. Hierdie speletjie het vir ure se pret en vermaak gesorg. Want die finale boodskap is ’n skreeusnaakse verdraaide weergawe van die aanvanklike boodskap. En só werk dit ook met gerugte en waninformasie in die algemeen. Ja; en die Republikeine is lief om te vertel van die “navorsing” wat hulle doen – maar hulle het nie die vaagste benul wat dit behels nie. Want navorsing beteken, volgens hulle, dat jy na omstrede YouTube-video’s kyk en só jou mening oor politiek vorm. Al beteken dit dat Laura Loomer, Trump se verregse 31-jarige ondersteuner, agter hierdie fluisterboodskappe skuil. Politieke kommentators beweer natuurlik dat sy die 78-jarige MAGA-leier se nuwe minnares is en dat sy kort voor die presidensiële debat vorendag gekom het met die samesweringsteorie dat honde en katte deur Springfield en Aurora se immigrantegemeenskap geëet word. Hou ook in gedagte dat Melania, Trump se vrou, twee jaar laas saam met hom in die openbaar gesien is. Maar nou ja; dit wil voorkom of Melania ook net haar gesig in die pers wys wanneer sy omgekoop word om dit te doen, of wanneer sy iets het wat sy wil verkoop. Sy het ’n paar dae gelede tydens ’n (skaars!) onderhoud aangekondig dat haar splinternuwe memoires, Melania, nou te koop is. Met ’n swaar Sloweense aksent het sy vertel van haar “booook”; en op die vraag wat sy eerste gaan doen indien sy die nuwe first lady word, het sy geesdriftig geantwoord dat sy die modebedryf gaan betree. En dit beteken geld – hetsy vir Melania of vir Donald – want dit bly die Trump-handelsmerk. Inderdaad: Melania het in die verlede potte vol geld gemaak uit haar eie klere- en kosmetiekreekse. En laat ons tog nie haar gewaagde naakfoto’s vergeet nie. Hoe dit ook al sy: Melania se teenwoordigheid was ’n welkome afwisseling as brunet op Fox News, wat bekend is vir hulle blonde prikkelpopaanbieders en vroulike Trump-volgelinge wat almal soos klone van Barbie lyk.
Kamala Harris se eggenoot, Doug Emhoff, is egter Melania Trump se binêre opposisie wanneer dit by liefde en lojaliteit kom. Emhoff het sy loopbaan as vermaaklikheidsprokureur agtergelaat om sy vrou tydens die presidensiële veldtog te ondersteun. Hy het al honderde geleenthede bygewoon en onderhoude toegestaan – sonder finansiële gewin.
Elders is die klein mannetjies op grondvlak besig om stemme te werf vir Trump. Hierdie YouTubers, soos die 22-jarige Nick Shirley, noem hulself ondersoekende joernaliste, maar is inderwaarheid digitale skeppers of aanlyn politieke beïnvloeders. Shirley besoek die sewe deelstate en met sy kenmerkende jeugdige voortvarendheid stap hy oorgretig nader, mikrofoon in die hand wanneer hy ’n voetganger gewaar. Sy rugsakkie hang skeef oor sy skouer, soos ’n student s’n; behalwe dat Shirley allermins soos ’n ingeligte student van die politieke wetenskappe klink. Hy zoem soos ’n kleinhuisiebrommer om die voornemende kommentators en merk nie dat dié wat met verbete gesigte aanhou stap en hom ignoreer, Demokrate is wat nie lus is vir sy regse praatjies nie. “Trump or Kamala Harris?” is sy openingsreël, en alhoewel baie hom reghelp met sy foutiewe uitspraak, hou hy hardnekkig vol: “Ka-máá-la”, met ’n lang lettergreep in die middel, soos Donald Trump dit uitspreek. Want as die grootbaas dit so uitspreek, dan is dit mos reg. Ek kan nie besluit of Shirley onnosel of moedswillig is nie, maar een ding is seker: Hy is ’n fool whisperer met ’n smaak vir enige (en allerlei) samesweringsteorie(ë).
Hy maak ’n draai in Springfield, en iewers in die agtergrond stap ’n kat komkommerkoel oor ’n voetoorgang en ek lag in my mou vir The Kiffness se briljante song. Shirley se gesig flikker op wanneer hy ’n potensiële Trumper raaksien: ’n jong man met ’n sagte ringbaard (baie jong ouens se baard groei in so ’n ring teen die ken af ondertoe; dis nog nie ’n volgesig-, volwasse baard nie); of wanneer hy robuuste manne met tatoes en ’n macho houding gewaar. Jong wit mans stem graag vir Trump – die alfamansindroom – want dis mos ondenkbaar dat ’n swart vrou die magtigste persoon in die Vrye Weste kan word. Die onmiddellike kenteken dat ’n persoon ’n Trumper is, is natuurlik ’n MAGA-pet, -mus of -T-hemp. Trump-ondersteuners herken mekaar. En dan loop die conspiracy theories dik soos hulle luidrugtig hulle triomferende idiotisme uitbasuin. Dom mense is almal dom op dieselfde manier, en kom tot dieselfde dom gevolgtrekkings. Intelligente mense, daarenteen, is op verskillende maniere intelligent. Shirley se ma reis ook saam op sy besoeke na die deelstate (foei) – haar seun is dan immers ’n politieke joernalis met ’n YouTube-gevolg van 318 000, of hoe?
’n Ander interessante gewaarwording is dat ek nog nie ’n Demokraat teëgekom het wat verwys na “Donald J Trump” nie – nee, dis net “Donald Trump”. Afgesien van Trump en JD Vance, herken jy ’n Republikein aan die J, of /ʤ/-klank. Dis asof die voorletter die Trump-naam net méér gesaghebbend laat klink; asof dit momentum opbou voor die “Trump!” met oorgawe uitgespreek word.
2.
Lank voor Donald Trump president geword het – en nog lank voor hy sy eerste presidensiële verkiesingsveldtog van stapel gestuur het – was daar ’n handelsmerk – Trump s’n. Afgestempel op geboue, hotelle, gholfbane, steaks, vodka, tydskrifte en dasse: Die Trump-brand was in baie opsigte veel groter as die werklikheid wat Trump omring het. As gasheer van die televisieprogram The Apprentice het Trump homself gevestig as ’n sakeleier, as vermaaklikheidspersoon, statussimbool en miljardêr wat sy leefstyl aan kopers en verbruikers voorgehou het as ’n gesogte kommoditeit wat slegs in die smaak van die rykes en beroemdes val. En toe word Trump president (2017–2021), ’n chaotiese ampstermyn wat gekenmerk is deur sy legio leuens, samesweringsteorieë en korrupsie, enorm in omvang – en natuurlik die 6 Januarie 2021-opstand, waartydens sy ondersteuners die Kongresgebou (Capitol) bestorm het. Dan praat ons nie eens van die talle hofsake en skuldigbevindings teen hom nie.
Tog het die Trump-handelsmerk al hierdie storms oorleef; trouens, die magnaat het sy sakeryk net verder uitgebrei. Trump is lief daarvoor om sy naam op alles te plak: Hy besit sy eie Temu in die gedaante van talle aanlyn winkels, met honderde – of eerder duisende – verbruikersitems. Trump het natuurlik ook sy naam geplak op Donald jr, ’n verlengstuk van sy eie ego. Daar is die groot bates, soos reeds genoem: eiendomme, hotelle en gholfbane. Hy beskik oor ’n vloot vliegtuie en helikopters. Die Trump Organization se Boeing, in omgangstaal bekend as die Trump Force One (na aanleiding van die presidensiële Air Force One), is ’n Boeing 757 wat nog steeds die suggestie van Trump se vorige presidentskap dra. Want moenie ’n fout maak nie: In Trump se waan van grootheid is hy steeds die president – en hy glo werklik dat Joe Biden die 2021-verkiesing “gesteel” het deur middel van verkiesingsbedrog.
Dit is histories so dat die oorwinnaars van die dag hulle gebied merk en op die name van stede, dorpe en lughawens besluit. Hulle beheer en besit die politieke narratief. Op presies dieselfde wyse druk Trump sy MAGA-handelsmerk af op alles wat voorkom. Hy het dringend geld nodig vir litigasie en sal nie huiwer om die Withuis self te monetiseer as dit daarop neerkom nie. Trump is ook die eienaar van talle webwerwe waarin hy geld van sy ondersteuners vra om sy veldtog te befonds, want, só redeneer hy, as hy sy ondersteuners verteenwoordig, dan moet hulle daarvoor betaal. Wanneer dit by Trump kom, is niks gratis nie. En hy buit sy volgelinge skaamteloos uit.
........
Selfverheerliking en verregse, patriotiese retoriek skep ’n hiperrealiteit in die MAGA-veldtog waarin Trump as superheld, beïnvloeder, grapjas, motiveerder, opvoeder, vermaaklikheidspersoon en politikus uitgebeeld word – en vir die skerpsinnige ontbloot word as die con man wat hy regtig is.
........
In die handelsmerkgewing van klein kommersiële items loop die slagsinne en motto’s uit die wêreld van televisie (The apprentice: “You’re fired!”; die eerste sluipmoorpoging op Trump: “Fight, fight, fight!”) en politiek (“Make America Great Again!”) deurmekaar. Want, en ek herhaal: Dit gaan oor die beheer van die politieke narratief. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Hitler se ryksminister van voorligting en propaganda, Joseph Goebbels, oral swastikas aangebring om die Nazi’s se dominansie te vestig. In al sy flambojante gedaantes, en die bemarking van homself as die volgende, 47ste Amerikaanse president vorm Trump nou die handelsmerk. Selfverheerliking en verregse, patriotiese retoriek skep ’n hiperrealiteit in die MAGA-veldtog waarin Trump as superheld, beïnvloeder, grapjas, motiveerder, opvoeder, vermaaklikheidspersoon en politikus uitgebeeld word – en vir die skerpsinnige ontbloot word as die con man wat hy regtig is. Trump het ’n houvas op sy volgelinge wat deur kenners vergelykbaar is met die houvas wat ’n sekteleier op sy gevolg het. In die Republikeine se oë kan hy niks verkeerd doen nie – enige wandaad aan Trump se kant word toegeskryf aan bisarre komplotte om hom te ondermyn.
Trump is sinoniem met sy topverkoperboek The art of the deal, maar daar is nog baie Trump-boeke in die katalogus. Ná ’n honderd kinderboeke het ek ophou tel. Wat egter interessant en komies is van Trump se produkte, is die wyse waarop hy homself verkoop. Hy kom in die gedaante van heroïese kinderboekkarakters, byvoorbeeld: MAGA Kids: What is MAGA?. Die volgende boek is seker ou voorraad: Trump drains the swamp. Dan is daar tientalle Trump-biografieë. En hiérdie een: Explaining Trump to children: a guide for dealing with bullies. Hoe dan anders? As dit by boeliegedrag kom, weet Donald alles van die onderwerp. Mom, is Donald Trump a good guy?. Natuurlik, hoe kan jy nog vra – hy is moreel die suiwerste mens wat leef!
Trump is inderdaad ’n kleurvolle karakter; die lang lys inkleurboeke met hom in die gedaante van seëvierende strokiesprentkarakters kan nie voorbly om die voormalige president te verromantiseer nie, soos Super Donald saves the universe. En dan vir baie jong kiddies: Make America color again! A Donald Trump coloring book for MAGA Trump supporters. Diktators verstaan dat jy kinders so jonk as kleuter- en peuterouderdomme moet teiken om ideologies gebreinspoel te word. Dit is iets wat Joseph Goebbels, wat die Nazi’s se propagandamasjien bestuur het, ook ingesien het as mens kyk na die publikasie van kleuterboeke waarin die Jode as die gehate Ander uitgekryt is.
O, en dan is daar iets vir toekomstige digters: 45th President: a kid’s Donald Trump rhyming book.
Ek moet byvoeg die illustrasies is cute – of snaaks – afhangend hoe jy na Trump se megalomanie (MAGA-lomanie) kyk: Donald Trunk’s presidential dream. Hier is Trump ’n klein olifantjie met ’n bossie geel hare, kompleet soos die man self.
En ’n bababoek: Trumpy Trump says a big word.
En net toe ek gedink het die selfverheerliking kan nie erger nie, lees ek dié titel raak: Honoring President Trump.
Daar is verskeie reekse, soos die I’m proud to be a Republican-reeks. En pret-, feite- en geskenkboeke, met Trump as spilpunt.
O, en moenie die papierpopboeke vergeet nie – dís nou ’n sensasie! Wanneer jy die boek oopmaak, spring daar ’n Trump-papierpoppie uit, vergesel van ligte, musiek en Trump se stem –’n bandopname van sy presidensiële inhuldigingseremonie natuurlik.
Let op die gevaarlike propaganda in die volgende twee: Donald the Beaver builds a big beautiful wall! (Children’s book about Donald Trump’s wall). Asook: Kamala Chameleon found (Fun political images to search for elusive leaders hiding amidst the turmoil) – verstommend hoe Trump sy vyandigheid teenoor sy politieke opponente op sulke bitter jong kinders wil projekteer.
Maar die volgende een is werklik ysingwekkend: The last president – the prophecy of the rise of Barron Trump. Wat die vraag laat ontstaan: Waarom is dit die laaste presidensie? Gaan Trump sy Project 2025, die diktatuur, oordra aan sy seun?
Donald Trump het selfs sy eie Bybel, die God Bless the USA Bible, beter bekend as die “Trump Bible” (’n King James-weergawe) laat uitgee. Teen $60 (ongeveer R1 200) bemark hy dit so: “I’m proud to endorse and encourage you to get this Bible. We must make America pray again.” Ja, jy het reg gelees. En Trump het reeds 300 000 van hierdie patriotiese Bybels verkoop. Hy het die inleiding geskryf … en nou sukkel ek om die grandiose omvang hiervan reg te formuleer: Hy het die Woord van die Here se inleiding geskryf – hý, Donald Trump. Maar die patriotiese Bybel was in die eerste instansie nie Trump se idee nie. Die sanger Lee Greenwood het reeds in 2021 ’n Bybel uitgebring wat enige nasionalistiese Christen se grootste fantasie is: Die Groot Boek het ’n leeromhulsel met die Amerkaanse vlag op, en voor in is daar ’n paar verglanste dokumente, soos “The Declaration of Independence”, “The Pledge of Allegiance” en ’n handgeskrewe liriek van Lee Greenwood se “God bless the USA”, ’n lied wat dikwels tydens Trump-saamtrekke gespeel word. Trump het Greenwood se Bybel en laasgenoemde templaat gekaap, en sý weergawe bevat ook sketse van die Statue of Liberty en die Capitol-gebou (o, die ironie!), wat Trump se ondersteuners in hul poging om die regering omver te werp, bestorm het. Trump se volgelinge koop waarskynlik nie die Bybel om dit te lees nie, maar uit ’n samehorigheidsgevoel of ’n gevoel van gedeelde identiteit. Ongelukkig bevestig die Trump-Bybel die mite dat Amerika ’n prokonserwatiewe, wit en evangeliese land is – ’n mite oor iets wat nooit bestaan het nie en wat Amerika se status as die mees gevorderde land in die wêreld erg ondermyn en bewys dat ’n groot deel van daardie gevorderde land hoegenaamd nie so gevorderd is nie. Inteendeel, hulle is onbeholpenes wat op die reputasie van die land ry. Trump is tydens een van sy saamtrekke in Iowa die Messias van Amerika genoem … En hy het natuurlik ontken dat hy op enige wyse die Bybel besit, bestuur of beheer, maar die Trump-Bybel verskyn pertinent onder sy naam en handelsmerk.
Onlangs het Trump sy reeks horlosies bekendgestel, en teen $100 000 (ongeveer R2 miljoen) is dit nie goedkoop nie – en buite bereik van sy hillbilly-volgelinge. Die horlosies is beskikbaar in enige kleur, ook skarlakenrooi en goud. Ja; goud is Trump se gunstelingkleur (en artefak). ’n Mens wonder wat Franz Marx van Egoli-faam – Egoli, die plek van goud – sou sê, want niks is vergelykbaar met Trump se goue toilette en die goue roltrap en afwerking in die Trump Towers nie.
........
Uiteindelik, na baie jare van agterdog teenoor kriptogeldeenhede, ondersteun die magnaat nou die idee. Daar is iets desperaat aan Trump se pogings om geld te maak – hetsy nood of gierigheid – want sy sakeondernemings het letterlik geen grense nie.
........
Uiteindelik, na baie jare van agterdog teenoor kriptogeldeenhede, ondersteun die magnaat nou die idee. Daar is iets desperaat aan Trump se pogings om geld te maak – hetsy nood of gierigheid – want sy sakeondernemings het letterlik geen grense nie. Met die onlangse loodsing van World Liberty Financial het hy sy eie kriptobankplatform bekendgestel en aangekondig dat sy seuns, Eric en Donald jr, dit sal bestuur met die belofte “Make finance great again!”
Kyk om jou rond. Alles wat jy sien, al die leefstylprodukte in jou onmiddellike omgewing, bestaan reeds as Trump-handelsprodukte en is beskikbaar in aanlyn Trump-winkels.
Die bekendste, en waarskynlik goedkoopste, produk is die rooi MAGA-pet, wat jou in ons Suid-Afrikaanse geldeenheid steeds ’n paar honderd rand uit die sak sal jaag. En ek is seker dat allerlei kommin kroegkakkies definitief ’n ereplekkie in hillbilly-hemel sal beklee.
Jy kan ’n sopieglas – ’n shot glass (dit werk beter in Engels, pardon the pun) – aanskaf met Trump se bebloede gesig op, pas nadat hy in die oor getref is tydens die sluipmoordpoging op hom. Trump brand nou sy sluipmoordpoging en is kennelik lief vir die “Fight, fight, fight!”-motto wat dit vergesel. Bestel sommer ook vir jou ’n stel piekniekborde en -glase met die sluipmoordgrafika op – mens kan seker sy fassinasie met Hannibal Lecter verstaan, want wie kan nou eet met ’n bebloede gesig op sy bord?
En wat van ’n stel vergulde speelkaarte? Dit bevat immers die trump-, of troefkaart; nóg iets waarmee die man sal resoneer. Ja; alhoewel dit lyk of Trump al sedert die ’80’s dieselfde haarstyl het en dink dit lyk cool (terwyl ander vir hom lag), is daar ook talle pretprodukte met ’n vals bos geel hare aan, soos pette, badeendjies en partytjiemaskers.
Die lys leefstylprodukte is lank: handsakke, klerereekse, knipmesse, cologne, pantoffels, waterbottels, vatlappe, breekware … en patriotiese sonbrille, wat dit ook al mag beteken. Is daar werklik MAGA-meisies wat hangertjies waarop Trump se naam gegraveer staan, dra? Of hoe lyk dit met dié lewensgroot plakkaat: “I’m voting for the outlaw and the hillbilly.” Die outlaw is natuurlik Trump, en die hillbilly sy aangewese visepresidentskandidaat, JD Vance. Daar is ook die ánder gunstelingslagsin wat op vlae en T-hemde pryk: “I’m voting for the convicted felon.” Dis tog interessant hoe Trump, ’n veroordeelde misdadiger, sy beeld normaliseer en selfs saniteer met hierdie motto’s. Hy voer dit ’n stap verder: Hy verromantiseer sy beeld as misdadiger. Sommiges beweer dat Trump se radikale en lukrake opmerkings onderhewig is aan sanewashing en Trumpsplaining deur sy meer taalvaardige volgelinge, soos JD Vance, wat dit dan as normaal aan sy volgelinge aanbied.
’n Ander selfverheerlikende produk is ’n stel digitale kaarte met Trump in verskeie sterkmanposisies soos Superman, of Trump met yslike Rambo-spiere. Hierdie kaarte is bloot JPEGs wat jy kan uitdruk ... Maar! As jy genoeg hiervan versamel, kry jy as bonus ’n stukkie lap van die pak klere wat Trump aangehad het toe hy geskiet is. Dit is regtig creepy, ook as mens in gedagte hou dat sulke stukkies klere reliekstatus geniet – soos in die geval van religieuse heiliges. (Swyg.) Dan kan jy ’n pleister met silwer kunsbloed bestel – nóg sluipmoordmemorabilia. Op elke tweede produk pryk die Amerikaanse vlag – hiérdie vlag is nog nooit so gekommersialiseer en gekorrupteer as deur Trump nie. “Take America back”, ’n aks meer aggressief as “MAGA”, verskyn op talle produkte, asook “45” en “47”. En – daar is selfs ’n groot standbeeld van Trump wat na elk van sy saamtrekke aangery word. Inderdaad: Hy is baie seker hy gaan die verkiesing wen, maar gaan die produkte nie belaglik lyk as hy nié die 47ste president word nie? Nee. Trump sal aanvoer hy het gewen en dat die verkiesing bloot weer gesteel is.
Nou, op die vraag of mense hierdie Trump-produkte koop: Ja. Die voorraad beweeg; party vlieg selfs van die rakke af. Gee die duiwel wat hom toekom; hy verstaan bemarking en handelsmerkvestiging.
........
Deur die uitbreiding van Trump se aanlyn winkels het hy sy politieke handelsmerk gekommersialiseer in ’n poging om sy ondersteuners te mobiliseer en om só ’n gevoel van kollektiewe identiteit te skep. Donald Trump – die handelsmerk – het die grense tussen tradisionele politiek en verbruikerswese laat vervaag.
........
Deur die uitbreiding van Trump se aanlyn winkels het hy sy politieke handelsmerk gekommersialiseer in ’n poging om sy ondersteuners te mobiliseer en om só ’n gevoel van kollektiewe identiteit te skep. Donald Trump – die handelsmerk – het die grense tussen tradisionele politiek en verbruikerswese laat vervaag. Financial Times het onlangs berig dat heelparty van hierdie Trump-produkte in China vervaardig is. Wat kan ’n mens sê? Die man is inderdaad ’n lewende satire. ’n Trumpinator met sy Trumponomics, soos finansiële kenners spottenderwys na sy beskouings oor die sakewêreld verwys.
Lees ook:
Wat sê Bettina? – Wat beteken die tweede Trump-sluipmoordpoging vir sy verkiesingsveldtog?