Solank as die aarde deur Lucia Prinsloo: ’n resensie

  • 0

Titel: Solank as die aarde
Skrywer: Lucia Prinsloo
ISBN: 9781779860026
Uitgewer: LAPA

...
Deurgaans intens geskryf, is elke woord goed oorweeg.
...

Wanneer mens ’n boek in jou hande neem, hou jy iets tasbaars vas, iets wat oorlewingsvermoë het. Omdat ’n boek ’n konkrete weergawe is van ’n mens se denke en verbeelding en tegniese skryfvermoë, is dit ook iets kosbaars. Die digitale verhale wat ons kyk, is vervlietend en vinnig verby. ’n Boek word gelees en daarna op die rak gesit as ’n durende aanwesigheid. ’n Boek is dus ’n konkrete nalatenskap. Hiervan is mens des te meer akuut bewus as die skrywer van die boek nie meer daar is om die verskyning van die boek mee te maak nie.

Solank as die aarde is Lucia Prinsloo se derde roman. Haar eerste boek, Kwaheri my geliefde (2012), is ’n herinneringsgeskrif oor haar lewe, vanaf haar kinderjare in Oos-Afrika waar haar pa ’n predikant was tot haar eie latere gesinslewe. Die tweede boek, Vegters (2019), handel oor Suid-Afrikaanse jong mans wat as soldate in die Britse leër in Afghanistan veg.

...
Sy het nooit eers vir Jaco Adriaanse wat die uitgewer by LAPA was, gesê dat sy siek is nie.
...

Lucia het egter gely aan ’n ongeneeslike niersiekte en ten spyte van ’n nieroorplanting aan die einde van 2022 is sy op 6 Februarie 2024 oorlede. Die nuwe roman het aan die begin van Maart verskyn. Sy was ’n dinamiese en sprankelende mens wat tot op die einde geglo het sy gaan al die komplikasies oorwin. Sy het nooit eers vir Jaco Adriaanse wat die uitgewer by LAPA was, gesê dat sy siek is nie.

Lucia Prinsloo

In Solank as die aarde word die verhaal vertel van die Du Preez-gesin van die plaas Soetkloof in die gebied Opkoms agter Joubertina in die Kougaberge. Opkoms is ’n regte plek waar ’n aantal kleinerige plase sagtevrugte en lemoene geproduseer het. Dis ’n gebied wat by uitstek geskik was vir sagtevrugte en lemoene, maar dit is tans deel van ’n natuurbewaringsgebied. Die plek is dus ’n werklike plek en die geskiedenis daarvan ook, maar die verhaal van die karakters is fiktief. Hierdie gesin se familie het vir meerdere geslagte op die plaas geboer as deel van die klein gemeenskap van Opkoms, en die plaas en die omgewing was dus hulle tuiste en hulle leeftog.

Die roman begin met ’n begrafnis en ’n beskrywing van die intense, emosionele spanning van almal wat om die graf staan. Trouens die eerste paragraaf gee die rede vir die begrafnis aan: “De. Viljee. Is. Dood.” met punte tussen die woorde. Die eerste gedeeltes van die verhaal word oorwegend uit Ragel, die dogter op die plaas, se perspektief vertel en die kernsake word direk uitgelig sodat die verhaal mens dadelik intrek. Ragel en Cornel is ’n tweeling, net klaar met matriek, en De Viljee 15. Uit Ragel se gedagtes word dit duidelik dat die twee broers gaan jag het, iets wat De Viljee graag en goed kon doen en wat Cornel haat. En dan is daar ’n ongeluk en die vraag is of Cornel skuldig of onskuldig is aan sy broer se dood. Die spanning tussen die ouers en hulle verhouding met die kinders kom ook dadelik na vore en die leser is dus dadelik op hoogte van die dramatiese situasie waaruit die verhaal verder ontwikkel.

Die roman het ’n sterk verhaallyn en hou die spanningslyn deurgaans hoog. Uit De Viljee se dood vloei verskillende verhaallyne soos wat die verskillende karakters elk op die gebeurtenis reageer. Die verhaal speel verder af in ’n tyd van droogte op die plase, asook die teenwoordigheid van ’n groot natuurbewaringsinisiatief wat die sukkelende boerderye wil opkoop om die grond in te lyf by ’n groot bewaringsgebied. Nog meer drama en konflik, maar alles bekend en tipies van die Suid-Afrikaanse landskap en omstandighede. Die boek dokumenteer ’n stuk geskiedenis, maar dit is verpersoonlik deur die uitwerking van die eksterne omstandighede op elke individu te volg.

Die boere van Opkoms se plase het vir jare goeie vrugte gelewer, maar dit het ’n stryd geword om genoeg water te hê en ook om die produkte by markte te kry oor lang afstande en slegte paaie heen. Dit was uiteindelik nie volhoubaar nie, en van die werklike Opkoms wat daar was, bestaan daar nou nog net oorblyfsels in die vorm van halfdood vrugtebome in yl boorde en murasies van huise.

Dit is myns insiens nodig om hierdie boek te plaas op die glyskaal van letterkundige soorte en gehalte, want dit is gewis meer as net ’n ligte roman. Sonder enige hoë literêre pretensie is Solank as die aarde ’n boek wat kan aanspraak maak op die status van goeie, intelligente prosakuns.

Die mees opvallende rede hiervoor is dat die boek basies tematies ingestel is. Daar is beslis ’n sterk verhaallyn, maar dit gaan nie net daarom dat dinge gebeur nie, maar eerder wat die gebeure beteken vir die karakters en ook in die algemeen. Elke gebeurtenis openbaar iets van die karakters, maar ook wat dit op ’n meer universele vlak vir die leser kan beteken. Baie gewilde boeke lees vlot en vinnig en sleur jou mee. In werklikheid is die meeste van hierdie kategorie boeke net die weergawe van ’n boeiende en spannende reeks gebeurtenisse. Daar is niks mee verkeerd nie en baie van hierdie skrywers is uiters knap en bekwame vakmense. Maar sulke boeke pas in die kategorie van vermaaklikheid, van ontspanning en ontvlugting en hulle vervul hierdie funksie uitstekend.

In ander boeke is daar meerdere lae van betekenis wat op mekaar inspeel. Die verhaal self vra vrae en dit laat die leser ook dieper nadink. Wat beteken dit alles? Maak dit saak? In hierdie roman maak dit gewis saak.

Ten diepste gaan dit om lewensvrae soos: Hoe gaan ’n gesin verder ná ’n groot ingrypende gebeurtenis soos die dood van ’n kind, hier die dood van De Viljee, die sonkind en geliefde kind? Maar ook: Hoe hanteer ’n boer soveel teenslae, wat doen dit aan ’n mens se geloof en hoe balanseer jy die liefde vir die grond en die gebied en die boerdery met al die teenspoed? Selfs op ’n meer oppervlakkige vlak beteken handeling meer as net dat dit gebeur. Ragel en Cornel se hardlopery is byvoorbeeld nie sommer net ’n handeling nie – dit is die uiting van hulle persoonlikhede, dat hulle twee intense maar baie private mense is, dat hulle nie in die groep wil wegraak nie, dat hulle individualiteit en hulle integriteit vir hulle belangrik is. En aan hierdie eienskappe bly hulle getrou regdeur die hele verhaal. Wat met die kinders gebeur, lewer kommentaar op die verhoudinge in die Du Preez-gesin en toon aan hoe daar veel meer skuil agter elkeen se reaksies. Dieselfde geld vir die botsings en meningsverskille in die gemeenskap, soos duidelik blyk uit die insident van die doodskiet van die luiperd.

Tydens ’n bekendstelling in Pretoria.

Die verhaal van Ragel en haar gesin is ingebed in groter vraagstukke soos bewaring, asook die geweldige spanning waaraan ’n boerdery onderworpe is. Dit gaan om die stryd om oorlewing van kleiner boerderye in veranderende omstandighede, sowel as oor die rol van die natuur in die oorlewing op ’n klein plaas met droogtes en brande. Hierby kom in die roman die kwessie van die botsing tussen boerdery-aktiwiteite en natuurbewaring na vore. En hierdie temas bly nie vaag nie, maar dit word tot lewe gebring deur wat die karakters ervaar en doen. Swaar wolke en ’n enkele donderslag, sonder reën, lei tot ’n vernietigende brand. En die boere moet dit hanteer. Sommige boere wil in harmonie met die natuur boer en bewaar, ander wil net alles gebruik tot hulle eie wins en voordeel. Die verhouding met die natuurlewe word uitgebeeld deur wat met die diere gebeur, met die skape en die luiperds, maar dit gaan ook om die gang van die natuur in vroeër ongerepte tye en respek daarvoor as deel van ’n geskape orde: soos dat die Eden tot Addo-roete vroeër ’n olifantkorridor was wat bewys word deur die feit dat die Knysna-olifante geneties verwant is aan die Addo-olifante.

Die sentrale tema is dat die aarde sal bly voortbestaan, soos die aanhaling uit Genesis 8 voorin die roman aandui. Die aarde en sy voortgang is groter as die mens se kort tyd en klein reikwydte op die aarde. Hierdie tema word ook van die begin af deur die titel gesuggereer.

Stilisties en struktureel is Solank as die aarde op ’n onopvallende manier kompleks, wat bydra tot die gehalte van die roman. Deurgaans intens geskryf, is elke woord goed oorweeg. Daar is liriese natuurbeskrywings, maar ook direkte beskrywing van handeling wat sterk spannende passasies word. Die leser kan hom of haar inleef in elke enkele karakter en situasie, omdat alles met oorgawe uitgebeeld word. Gaan lees weer daardie pragtige hoogtepunt in die verhaal waar Cornel die olifant skiet.

Tydens ’n bekendstelling in Jeffreysbaai.

Die boek is egter ook goed gestruktureer en die patroon waarin die verhaal aangebied word, is betekenisvol. Die roman begin met ’n proloog getitel “Die eerste begrafnis” met die datum Desember 1998. Mens lees dit eerste en dit bepaal die toonaard van die hele roman. Daarna volg Deel een, November 2003, wat handel oor hoe Ragel se lewe na De Viljee se dood en Cornel se vertrek voortgaan en al die probleme met die boerdery. In deel een is daar ’n onderafdeling met die opskrif “Die tweede begrafnis, 1 Desember 2003”. Deel twee handel oor Cornel, deel drie sentreer rondom die ontwikkelende liefdesverhouding tussen Ragel en die luiperdman, maar het ook ’n onderafdeling met die opskrif “Die derde begrafnis, 12 Mei 2004”. Deel vier gaan oor die ommekeer in Cornel se lewe en deel vyf oor Ragel se gesondheid. Daar word dus twee patrone oor mekaar geskuif in die uiterlike struktuur: die fases in Cornel en Ragel se lewens, maar ook die begrafnisse van hulle broer en ouers. Inhoudelik is daar ook ’n patroon: Dit gaan eers oor die hele gesin saam, daarna die fokus op Ragel, dan op Cornel en uiteindelik is Cornel en Ragel weer bymekaar. Die verskillende dele word afwisselend vertel vanuit Ragel en Cornel se perspektief. Die verhaal verloop ook op een vlak chronologies, maar die invulling gebeur deur terugflitse en herinneringe wat die verlede ontsluit en die hede verklaar. Dit is hierdie soort onderliggende patroonmatigheid wat ’n roman op ’n hoër vlak plaas, wat dit onderskei van ’n reglynige vertelling of ’n enkelvoudige verhaal.

Die proloog en epiloog vorm verder ’n soort raam om die verhaal: Die proloog stel die dood van De Viljee op die voorgrond as die punt waar alles begin om openlik skeef te loop (’n motoriese moment), en die epiloog gee ’n toekomsvisie. Al is die begrafnisse prominent in die boek, al is daar baie swaarkry en vasbyt, al is daar verlange en eensaamheid, is hierdie roman geen neerdrukkende boek nie. Dit gaan immers ten diepste daaroor om aan te toon hoe mense juis teenslae oorwin, hoe Ragel kon gesond word, hoe daar op die nuwe plaas by Addo nuwe bome groei, nuwe geboue opgerig word, nuwe verhoudinge moontlik word. Hierdie epiloog beklemtoon onomwonde ’n positiewe uitkyk en bevestig die waardes wat deur die hele boek indirek uitgebeeld word, want solank as die aarde bly bestaan, sal daar voortgang wees. Die epiloog bevestig dus die sentrale tema van die boek en bind dit tot ’n hegte eenheid.

Die gehalte van ’n roman lê ook in sy veelkantigheid. Solank as die aarde kan op een vlak beskou word as ’n liefdesverhaal. Die verhouding tussen Ragel en die luiperdman word met deernis en insig hanteer en is daarom oortuigend, maar dit is net ’n onderdeel van die verhaal. Soos dit ’n goeie roman betaam, kan dit ook as ’n groen roman en ’n politieke roman beskou word. En in der waarheid het mens hier te make met ’n kontemporêre plaasroman. Dit gaan oor ’n eietydse werklikheid: dat kleiner plase en veral ook afgeleë plase nie kan kompeteer met groter boerderye nie. Ook die veranderende omstandighede, byvoorbeeld dat die ou spoorwegbusse nie meer funksioneer nie en dus nie die produkte kan help aanry na die markte toe nie, speel ’n rol. Die geweldige aandrang op ekologiese bewustheid en bewaring is ook tipies van die hier en nou. Soos ek gesê het, dit is ’n baie groen boek. Is die boerdery-aktiwiteite ’n belemmering vir die natuurlewe wat besig is om uit te sterf? En wat is die boere se verantwoordelikheid ten opsigte hiervan? As gevolg van hierdie redes moet die mense die groot oorgang maak, afstand doen van die plekke waar hulle al vir generasies lank lewe en ’n nuwe toekoms op ’n ander plek bou. Die boek sluit dus aan by ’n tradisie, maar dra ’n eie stempel en eie karakter.

Duidelik is daar baie navorsing agter die boek, veral ten opsigte van die gebied waar die verhaal afspeel, oor boerdery in hierdie gebied en ook oor ekologiese vraagstukke. In die naskrif vertel Lucia hoe die eerste saadjie vir die verhaal geplant is tydens die Eden tot Addo-staptog wat sy saam met haar suster aangepak het, 400 km oor sewe bergreekse binne drie weke.

Die deeglike navorsing oor die beweging en bewaring van luiperds en olifante in die Kougastreek is seepglad in die verhaal geïntegreer. Daar word nêrens ’n lesing gegee oor die vraagstukke nie; dit word natuurlik as deel van gesprekke ingevleg sodat die leser nie eers agterkom hoeveel hy of sy leer in die leesproses nie. Dit is dan ook boeiend as mens die verhaal klaar gelees het om die naskrif te lees oor die agtergrond van die roman.

Samevattend kan mens oor Solank as die aarde sê dat dit ’n boek is wat jou intrek, omdat die karakters so helder en lewendig voor die leser kom staan dat mens die verhaal nie maklik sal vergeet nie. Maar die boek laat mens ook oor vraagstukke groter as die blote storie dink. Die boek gaan ten diepste oor ’n lewensbeskouing, oor ’n positiewe uitkyk op probleme en teenslae, want solank as die aarde bly bestaan, gaan alles voort. Die manier waarop die boek geskryf is, wat ek sou wou noem die toonaard, is egter net so belangrik, want in Solank as die aarde gaan alles uiteindelik oor waardigheid, die waardigheid van elke mens se eiesoortige geaardheid, die waardigheid van ’n toegewyde boer se stryd, die waardigheid van die natuur en die diere.

’n Skrywer se eie oortuigings dra ’n verhaal op ’n subtiele wyse, en die titel van hierdie boek is daarvan die sterkste aanduiding. God het die aarde geskape en belowe: “Solank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie” (Gen 8:22). Die ondertoon van die hele boek is dus een van respek vir die aarde en sy mense en veral vir die Skepper van mens en aarde. Hierdie vertrekpunt en die uitbeelding daarvan in die wel en wee van mense is, dink ek, wat Solank as die aarde ’n ryp en beleë boek en ’n verrykende leeservaring maak.

  • Foto’s verskaf.

*

Dries en Heilna du Plooy (Foto: Izak de Vries)

Redaksionele nota: Ure nadat hierdie resensie deur LitNet vir publikasie aanvaar is, het dit bekend geword dat Dries, Heilna du Plooy se eggenoot van dekades, ook oorlede is. Die verlies van twee lewens word dus hiermee erken en gedenk.

Lees ook:

Lesersindruk: Vegters deur Lucia Prinsloo

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Vegters deur Lucia Prinsloo

Afghanistan: “Dit is takties ’n moeilike situasie.”

LitNet Akademies-resensie-essay: Grensgeval as interteks tussen môre en gister

Getye van tyd op Jeffreysbaai bekendgestel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top