Lesersindruk: Vegters deur Lucia Prinsloo

  • 0

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Titel: Vegters
Skrywer: Lucia Prinsloo
Uitgewer: Wenkbrou

ISBN: 9780799397246

Ek het menigmaal ’n yslike knop in my keel gekry en moes sluk aan die trane terwyl ek dié besonderse boek gelees het. Dit bied ’n leeservaring wat die leser se emosies deur ’n vleismeultjie jaag en jou laat voel dat jy sélf ook deur ’n oorlog is – nes die hoofkarakters, Markus en Regardt, twee avontuurlustige Afrikanerseuns wat as lede van die Britse Valskermregiment ’n paar keer slaags raak met die gevreesde Taliban in Afghanistan. Die oorwegende emosies wat ek ervaar het direk nadat ek die boek klaar gelees het, is dieselfde as wat ek gevoel het toe die Springbokke met die Webb Ellis-beker weggestap het, naamlik bewondering en trots omdat die mens werklik te midde van enige omstandighede kan triomfeer sou hy wou. Op die agterblad staan geskryf: “Dis ’n verhaal wat jy nie gaan vergeet nie: die storie gaan jou bemoedig en inspireer en nog lank met jou saamloop.” Ek vind dit ook so.

Hoewel fiktief, speel Vegters teen werklike oorlogsgebeure af. Prinsloo maak die leser deel van ’n gewelddadige konfliksituasie in die Sanginvallei langs die Helmandrivier in Afghanistan. “Die volgende oomblik klap koeëls oor hulle koppe. ‘Contact left!’ skree ’n rou stem deur die geknetter van masjiengeweervuur” (114). As teenvoeter van die ekstreme hitte en dorre woestyntoestande van die oorlogsgebied (“Hy voel en sien die hittegolwe opslaan met elke tree wat hy versigtig en berekend gee. Sy lippe is horingdroog, styf en gebars. Die sweet tap hom af, loop in strale onder die swaar helmet uit, teen sy nek af” (14)), neem Prinsloo die leser ook om die beurt na die asemrowende natuurskoon van die milde Gamtoosvallei in die Oos-Kaap (“Na alle kante toe lê die Gamtoosvallei uitgestrek met groen landerye en vergesigte tot by die Hanekamberg wat baie blou op die horison lê ...” (23)) en die mooie Cannon Hill Park te Birmingham, Engeland (“Dis woudagtig op plekke en reusebome staan in die helderste herfskleure: alle skakerings van groen, geel, oranje en bloedrooi. [...] Daar is eindelose grasperke met geteerde wandelpaaie en oral is bankies geplaas” (167)).

Die leser maak ook die wêreldbekende Dusi-kanomarathon in die Vallei van ’n Duisend Heuwels in KwaZulu-Natal saam met Markus en Regardt mee in uiterste omstandighede wat respek en bewondering afdwing. “Dit is witwater, groot stroomversnellings, drie uitmergelende dae lank” (185). Dis hier, al roeiende op die magtige, bruisende rivier, dat Markus en Regardt die spoke, wat al die pad saam met hulle van Afghanistan af gekom het en wat met tye saam met die mediahelikopter oor hulle koppe hang, uiteindelik in die oë moet kyk, konfronteer en mee vrede moet maak. Hulle was onverskrokke oorlogshelde in Afghanistan, maar terug in Suid-Afrika is hulle net outjies wat van voor af besluite moet neem oor hulle toekoms. Maar die lewe is, nes die Dusi, onvoorspelbaar en gevaarlik en ’n mens mag dit nooit onderskat nie – vra maar die ernstig gewonde en meestal ledemaatlose soldate wat in die intensiewesorgeenheid van ’n hospitaal in Birmingham se militêre vleuel lê.

Prinsloo plaas die wreedhede wat oorlog inhou meesterlik in kontras met die uitdagende dog meesleurende klavieruitvoering van Chopin se polonaise in A-mol-majeur, die Polonaise Héroïque. “Dan skielik, ná die klimaks, breek ’n aangrypende, liriese tema vir ’n rukkie deur, asof daar gereflekteer word, nagedink word. Dis vol patos en verlange. Die musiek kry skielik nuwe betekenis, en dit is die boodskap wat Christine so graag vir Markus en Regardt wil stuur: Ná die stormloop, die geveg en die verwoesting en pyn, [...] is daar nog altyd lewe. Is daar ook herstel moontlik. Kan ’n mens weer dans én trots wees en as oorwinnaar uit die stryd tree. Selfs liefhê en droom” (217). Alles goed en wel, maar “selfs ’n soen is by tye ’n landmyn wat afgetrap word” en skrikwekkende verwoesting saai wat permanente skade tot gevolg het. En van landmyne, slagvelde en oorlog het Markus en Regardt genoeg gehad. As hulle net die Dusi kan klaarmaak! Eers as hulle die eindpunt lewendig haal, eers dán sal hulle toelaat dat hoop weer in hulle harte brand. ’n Offisier het nie verniet tydens traumaberading vir hulle die volgende gesê nie: “The hardest part by far, is to make the bad pictures go away. In war time, the world is one big, long horror movie, image after image” (31).

Mans én vroue sal ewe lekker lees aan Vegters. Lucia Prinsloo en haar man, Dappie, ’n tandarts, het vanaf 2003 tot 2009 (dus kort ná die terreuraanval op die Twin Towers in Amerika) in Engeland gewoon en gewerk. Die hele wêreld was destyds daaroor in rep en roer, en Afghanistan was ’n brandpunt. Dis tóé dat Prinsloo die idee gekry het om eendag ’n storie te skryf met die gebeure in Afghanistan as agtergrond. Sy skryf dan ook gesaghebbend oor die onderwerp van oorlogvoering en wapens danksy intensiewe navorsing. Sy kon voorts kers opsteek by haar seun, Thinus, wat “vanaf September 2005 tot September 2009 ’n lid was van die Britse Valskermregiment, en as deel van 3-PARA in 2006 en 2008 in Afganistan betrokke was”, en het ook met verskeie soldate van die Valskermregiment en wat ook in Afghan betrokke was, gesels. “Die patrollie gaan dadelik oor in die drills om ’n hindernis of VP oor te steek: Die GPMG-gunner beweeg vorentoe om die linkerflank te dek, en dan volg Markus met die SA80 en Underslung Grenade Launcher om die regterflank te dek” (114).

Vegters is ’n manjifieke verhaal van trauma en ontsetting, van misverstande, vertwyfeling, wanhoop en slagting. Maar dit gaan ook oor vriendskap, familiebande, liefde, deursettingsvermoë, heling en uiteindelik triomf. Dis ’n uitdagende storie wat oor 300 bladsye strek en die leser op verskillende maniere aanraak. Ek het aanvanklik deurmekaar geraak tussen Markus en Regardt se karakters en moes ’n paar keer terugblaai net om seker te maak dat ek die regte prentjie van elkeen in my gedagtes het. Dit het dalk daarmee te doen dat die karakters so baie met mekaar gemeen het. Hulle is albei van Jeffreysbaai, het dieselfde vriendekring, ken mekaar se families, het saam by die weermag aangesluit, saam oorlog toe gegaan, saam huis toe gekom, ens. Dit het my ook opgeval dat ’n uitroepteken soms drie maal na mekaar gebruik word ter beklemtoning, bv “‘Yes, Markus!!!’ bulder Regardt” (265). Hoewel ek verstaan waarom hierdie sterk manier van beklemtoning (en ook ander wyses, soos bv “r-e-g-s” en “Markuuuussss!” op bladsy 263) nodig geag is, het ek dit steurend gevind. Ek moet egter in alle regverdigheid hier noem dat ek dikwels met teks werk en dus net oorkrities is. Die gewone leser sal die beklemtoning tien teen een baie geniet en vind dat dit die opwinding en spanning van die oomblik uitlig. Die boek is taalkundig goed versorg en lees baie lekker. Selfs die kragwoorde word absoluut binne konteks gebruik. Die voorblad, met roeiers en soldate in oomblikke van aksie vasgevang, trek dadelik die oog tussen ander boeke op die winkelrakke.

Ek is verheug om te verneem dat die skrywer reeds ’n nuwe verhaal beplan. Ek voorspel ’n opwindende skryfloopbaan vir Lucia Prinsloo. Sy het die vermoë om deur haar oor op die grond te hou, te observeer en navorsing te doen, ’n boeiende en digverweefde storie te skryf uit beide manlike en vroulike perspektiewe en oor situasies wat besondere verbeeldingskrag verg. Nie net het sy haar liefde vir klassieke musiek – veral soos vertolk op die klavier – nou verweef met die karakter Christine as pianis nie, maar het sy ook haar gesin se liefde vir en ondervinding van die roeisport op só ’n wyse ingespan dat die leser voel dat hy of sy sélf ook die magtige Dusi oorwin het. Sy laat val ook die kollig op soldate wat ledemate verloor in oorlogsituasies en gee aan die leser ’n blik op die verskriklike prys wat hierdie dapper manne betaal. Ek laat dit egter aan die leser oor om hierdie ontdekking self te doen.

Lees ook:

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Vegters deur Lucia Prinsloo

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top