Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Vegters deur Lucia Prinsloo

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Lucia Prinsloo

Foto: verskaf

Lucia is gebore in Randfontein en het feitlik met 'n tas in haar hand grootgeword omdat haar ouers redelik baie rondgetrek het tussen Pretoria, Thabazimbi, Gravelotte in die Laeveld, Vereeniging, Johannesburg en Krugersdorp. Sy het in 1975 in Linden gematrikuleer, waarna sy gekies is om na die Burgerlike Beskermingskollege in George te gaan. Ná’n jaar van soldaat-wees, is sy na Tukkies waar sy ingeskryf het vir 'n BA-graad met Duits en Zulu as hoofvakke. Sy het ook Antropologie en Kultuurgeskiedenis geneem om haar belangstelling in Afrika en die mense van Afrika verder uit te brei.

Vegters is Lucia Prinsloo se tweede roman. Haar debuut Kwaheri, my geliefde het in 2012 verskyn. Skryf is deel van haar bestaan. Sy is getroud en woon in Jeffreysbaai waar sy graag met haar man langs die see gaan stap – soms so ver as tot by die Gamtoosriviermond.


Opsomming

Vegters
Lucia Prinsloo
Uitgewer: Wenkbrou

ISBN: 9780799397246

Kliek. En jou lewe verander. Onomkeerbaar.

So sal Markus Meyer en Regardt Muller, twee avontuurlustige vriende wat ná matriek by die Britse Weermag aansluit en as lede van die gerespekteerde 3 Valskermregiment in Afghanistan diens doen, weldra leer.

Dit is egter eers wanneer stilte oor die slagveld neersif en die gevolge van konflik beredder moet word, dat die wáre vegters na vore sal tree. En daardie slagveld is nie noodwendig in ʼn oorlogsgeteisterde gebied waar die droë hitte iets lewendigs is nie; soms lê dit ook tussen kamerade, gesinslede en verál midde-in die liefde.

Want selfs ʼn soen is by tye ʼn landmyn wat afgetrap word ...

Vegters is die merkwaardige verhaal van uitdaging, lojaliteit en deursettingsvermoë. ʼn Verhaal wat die leser deur drie valleie sal neem: van die Gamtoosvallei in die Oos-Kaap na die Sanginvallei langs die Helmandrivier in Afghanistan, tot die Vallei van ʼn Duisend Heuwels in KwaZulu-Natal waar die wêreldbekende Dusi-kanomarathon die twee vriende tot die uiterste sal beproef. Wees gereed om oorbluf te word. Hierdie boek is nie `n Sondagmiddagpiekniek nie – dis `n ontsnappingsroete deur `n slagplaas.


Uittreksel

Proloog

Afghanistan: 2006

Regardt het elke stukkie toerusting nagegaan en gekontroleer: seshonderd rondtes in sy bandelier; twee HE-handgranate en een rookgranaat; vyf liter water en ’n vier-en-twintig-uur-proviand­pak; olie en skoonmaakkit vir sy geweer; ’n koeëlvaste baadjie waarin morfien, toerniket en noodverband is, asook ’n nagvisiemonokel.

Laaste en belangrikste is sy 5.56 mm-ligtemasjiengeweer wat hy in sy regterhand vashou.

Nou moet hulle aan die gang kom, dink hy. Hierdie gewaggery werk op sy senuwees. Hy kyk na Markus. Soos altyd lyk hierdie vriend van hom kalm en slaggereed. As h’y stres, wys hy dit nie. Oor Markus se skouer hang die kragtige SA80A2 met ’n Underslung Grenade Launcher. Ewe ongeërg staan hy en opkyk na die hemelruim.

Dis voor sonop in Kamp Bastion. Sterre hang nog soos laagbran­dende olielampe in die vroegoggend en ’n sekelmaan hou die nag nog ’n bietjie vas.

Markus laat sak sy oë en tree nader aan Regardt. Hy’t daardie vas­berade, nee eintlik verbete, trek om sy mond, sien Regardt.

“Bly aan die lewe, Redge,” sê Markus en lig sy regterhand in ’n vuis.

“Jy ook, pêl.” Regardt druk sy vuis teen Markus s’n.

“Kit on. Let’s go,” word die bevel geskree.

Dit is die laaste sending van 3 Valskermregiment se ses maande lange Afghanistan-dienstyd. Dan ses weke verlof. Huis toe. Maar eers: hierdie patrollie.

Regardt kyk na die soldate om hom. Hulle is gereed: helmets is opgesit, handskoene is aangetrek, knee guards is vasgetrek. Vandag gaan hulle hul reputasie van onverskrokkenheid gestand doen: Hulle gaan ingaan om skoon te maak; hulle gaan die vyand uit sy diepste wegkruipplek haal; hulle gaan die pad oopmaak vir ’n groter gevegs­mag.

Die Chinook staan reg.

Du-du-du-du-du-du begin die lemme van die reuseystervoël in tan­dem dreun.

Sy agterkant is oop, soos die bek van ’n draak.

Regardt sien hoe die quad bike met sy vierwielsleepwaentjie eerste die donker agterkant van die veghelikopter binnery.

Nou volg die rye soldate met hulle swaar kit op hul rûe.

Niemand praat nie. Hy gaan sit plat op sy boude sodat hy na die agterkant van die helikopter kyk, sy wapen met die loop na onder. Hulle sit soos sardientjies tussen mekaar se bene ingepak, reg om netnou soos blits hier uit te storm. Die enigste een wat staan, is die tail gunner met sy M60-masjiengeweer. Regardt sien hom duidelik afgeëts teen die oggendlig by die oop bek van die helikopter.

Hy kan sy hart vóél stamp hier binne sy borskas. Op sy bolip versamel sweetdruppels en hy kan nie voorbly om dit af te lek nie. Die lug wat hy inasem is gelaai met adrenalien en die afwagting van gevaar.

Van kontak.

Sy regterhand sluit stywer om sy geweerloop. Met sy ander hand voel hy weer of sy helmet reg sit, of die gespe vasgetrek is. Dan vou sy vingers om die twee plaatjies wat aan ’n tou om sy nek hang. Op die een is sy zapnommer en bloedgroep gegraveer: P9712 A Pos. Op die ander een: Die Here is my Herder. Die een het die British Army vir hom gegee, en die ander een het sy ma vir hom al die pad van die huis af gestuur, versigtig in ’n brief toegevou. Sy’t geskryf hy sal nie op grond van daardie woorde deur die vyand geïdentifiseer word nie. Hulle ver­staan nie Afrikaans nie en hulle dien ’n ander god, het sy geskryf. Nie

dat hierdie plaatjie hom gaan beskerm nie, maar dit is tog iets tasbaars aangesien hy nie ’n Bybel of so iets by hom mag hê nie.

Hy maak sy oë toe as hy die metaalplaatjie styf in sy handpalm vasdruk.

Ma. Huis. Susan en Willem.

As ek iets oorkom, Here, wees met my ma en met Willem en Su­san, bid hy geluidloos.

Nou neem die geraas van die propellers oor. Dis oorverdowend hier binne en die soldatemassa in hulle woestyndrag word ru rondgeskommel wanneer die Chinook van die grond af lig.

Elke spier, senuwee en sintuig in Regardt Mulder se liggaam is nou ingestel op die situasie. Hy weet wat om te doen en hy visualiseer vir die soveelste maal wat moet gebeur. Soos hul instruksie is, en soos hulle geoefen het: Hulle gaan afgelaai word by Forward Operating Base Alpha. Dan patrolleer hulle dieper die vyandelike gebied in. Daar is posisies wat die Taliban die heeltyd gebruik om op die basis te skiet.

Vandag gaan hulle die vyand daar uithaal.

Hy is in B-Seksie wat een van die teikengeboue moet oorneem en dan die westelike flank bewaak. Die hele operasie vind binne trefaf­stand van basis Alpha af plaas. Hulle sal ondersteuning hê in die vorm van mortiere, swaar masjiengeweervuur en skerpskutters.

Die Apache-helikopters staan gereed vir lugondersteuning.

“Five minutes!” word die handsein van een na die ander aangestuur.

Hulle staan op. Regardt skuif sy bril reg, maak gereed.

“Two minutes.”

Hy moet nou vasstaan, want die chopper kom vinnig in. Low level flying sodat die vyand hulle nie sien nie.

Hy hou sy balans.

Du-du-du-du-du-du dreun die lemme en die gevegsmag is gereed vir aksie. Die spanning is voelbaar wanneer die ystervoël be­gin sak.

Wanneer die stert grond raak, het hierdie peloton wat uit vier sek­sies bestaan, presies veertig sekondes om die chopper te verlaat en posisie in te neem.

Die stertklap raak grond en Regardt reageer outomaties wanneer die adrenalien deur sy liggaam skiet. Dis ’n brownout soos die he­likopter sand opskop, maar hulle ken die roetine en die seksie gaan outomaties oor in sirkelverdediging.

Vinnig word laaste opdragte geblaf en die patrollie begin.

Ver op die horison stoei die nuwe dag om sigbaar te raak. Nou is daar nog net ’n gleufie lig, maar dit word gou groter en daarmee saam gaan die skroeiende son die wolklose hemelbaan betree.

Dis fighting season in Afghanistan. Dit is somer en die temperatuur styg maklik tot by vyftig grade Celsius.

Die wind roer nie. Hy bespeur geen beweging in die strate en tus­sen die geboue van ’n skynbaar slapende dorpie van modderhuisies tussen mielielande nie.

Seksiebevelvoerder Ben Black is in beheer van die swaar gewapende patrollie. Niemand vat kanse teen die Taliban nie. Daar is ’n 7.62 General Purpose Machine Gun, die General, soos algemeen bekend, asook ’n 51 mm-mortier, AT4’s, Claymore-myne en trip flares.

Alles lyk so verraderlik rustig.

Regardt is derde in lyn, met Markus verder na agter.

Stadig, eers in enkelgelid, dan in verspreide formasie, afhangen­de van die terrein en die handseine van die sersant, patrolleer hulle vorentoe.

Hulle is net voor ’n bewerkte stuk grond.

Halt.

Doen ’n vinnige five and twenty scan: Regardt bestudeer die ter­rein direk voor hom. Waar hy moontlik wil gaan kniel. Soek enige aanduiding van myne wat daar geplant mag wees.

Dis ingedril in sy sisteem; dis deel van hom soos sy asemhaling.

Hier is oral IED’s, oftewel Improvised Explosive Devices. Tuisge­maakte bomme.

Reeds van die Russe se tyd af is die harde woestynaarde vol land­myne en bomme geplant om enigiemand wat daarop trap, aan flarde te ruk.

“Take point, Mulder,” sê sersant Ben Black skielik.

Shit.

Stadig beweeg Regardt, nou die leier van die patrollie, vorentoe.

Elke sintuig verskerp ineens en hy is tot breekpunt toe gespanne.

Die loop van sy masjiengeweer volg sy oë in ’n paadjie af tussen die geploegde land en dan verby die kleimuur van ’n gebou.

Alles verstar: geen voël in vlug nie, geen oggendgeluide wat vertel van ’n nuwe dag wat aangebreek het nie, nie ’n hoorbare asemteug nie.

Hy sien ’n man in lang, wit klere wat verby die muur loop en agter die gebou in verdwyn, ’n RPG oor sy skouer, onbewus van die patrollie.

“Enemy, twelve o’ clock,” fluister Regardt dringend in die rigting van die sersant.

Dan loop nog ’n vyand verby.

Instinktief, geluidloos, soos wilde diere wat bedreiging aanvoel en regmaak vir die aanval, sprei die patrollie uit in gebroke formasie agter ’n effense wal en neem blitsvinnig posisie in.

Regardt se wang rus teen sy geweerkolf.

Vir ’n sekonde wat voel soos ’n ewigheid, is daar niks.

Wooossshhhhh vlieg ’n vyandelike vuurpylgranaat skielik oor hul koppe en tref die naaste gebou agter die patrollie. Die hele muur ruk uitmekaar.

Die geveg woed oombliklik in volle sterkte.

Binne enkele sekondes is vyftig rondtes klaar geskiet en Regardt herlaai met nog vyftig. Hy doen dit outomaties, berekend, instinktief.

Hy gooi nog olie op die werkende dele van sy wapen soos hy vuur.

Dis oorlog.

FOB Alpha ondersteun die voetsoldate van agter met mortiere en in die waas van ontploffings, skiet en beweeg, maneuvreer die patrol­lie op die vyandelike geboue af.

Effens vooroor, masjiengeweer teen sy skouer vasgepen, soek sy oë na enige beweging tussen die stof en rook en chaos voor hulle.

Dan vlieg ’n AT4-projektiel van agter oor hul koppe en Regardt sien hoe tref dit die venster van die gebou voor hulle en met ’n vlammende stert en rook klap die projektiel met ’n helse slag iewers in die gebou vas.

Blackie gee die teken en hulle is teenaan die gebou: twee of drie ouens by ’n deur of kamer.

Check eers die deur vir booby traps. Skop oop en gooi ’n hand­granaat in. Beweeg binnetoe ná die ding ontplof het.

Een beweeg links, een beweeg regs. Een hoog, een laag.

“Room clear!”

Die volgende twee of drie soldate beweeg verby en die prosedure word herhaal.

Steselmatig word elke hoek en gang en holte gefynkam. Hulle sal hierdie onsigbare slinkse vyand tot by die uithoeke van die aarde jaag.

Die gebou is skoon. Die geweervuur het tog ’n effe bedaar.

Handseine van die sersant.

Mulder, Barns, Craig en Manser moet op die dak kom om in diepte te kan kyk en dekking te gee. Die res van die seksie bly net hier en doen ’n blitsige hergroepering. Die geveg is nog lank nie verby nie.

Hulle beweeg na bo, Ben Black is voor.

Bereik die dak.

“Mulder! Cover the back.”

Dan skree iemand “Fuck!” wanneer hulle die Taliban sien en Mar­tin Manser roep dadelik oor die radio vir mortiere.

Regardt kyk nie om om te sien waar hulle die vyand gewaar het nie.

Hy fokus op die agterhoede en dan skiet die Taliban van iewers af. “Man down!” sny die kreet deur sy adrenaliengevulde lyf. Toe hy om­ruk om te sien wie geskiet is, begin die mortiere vanuit basis Alpha oor hul koppe in die rigting van die vyand vlieg.

Sersant Ben Black van Portsmouth se gesig is so wit soos ’n laken en hy lê in ’n ontsaglike plas bloed.

Regardt storm terug. Te midde van ’n oorverdowende geveg word alles vir hom vreemd-stil. Terwyl masjiengeweervuur onophoudelik kletter, en mortiere en projektiele oor hul koppe trek en in geboue vasvlieg en hele dorpies vernietig sodat die son verduister word deur die stof en rook, druk Barns ’n first field dressing koorsagtig op die gapende wond terwyl hulle die sersant van die dak af sleep tot by die seksiemedic wat dadelik begin om noodbehandeling toe te pas. Re­gardt sien die vierwielmotorfiets met sy spesiale waentjie wat aange-jaag kom en hulle gespe Blackie, wat reeds sy bewussyn verloor het, daarop vas en in ’n stofwolk jaag die fiets weg.

Dit is die golden hour vir sersant Ben Black. Die eerste uur nadat hy getref is.

As hy nie sterf van skok, verlies aan bloed of inwendige trauma in die volgende uur nie, mag hy dalk bly leef.

Sy patrollie hurk agter ’n hoë muur, buite bereik van vyandelike vuur.

Tyd vir hergroepeer, water oor hul kurkdroë, gebarste lippe kry, iets eet en wapens skoonmaak.

Hy is moer toe moeg en adrenalien-befok. Sy oë brand van die stof en sand, maar hy het ’n oorweldigende gevoel van verligting dat hy nog leef; dat dit nie hy is wat met die quad bike afgevoer is en dalk in Engeland in die koerant of op Sky News gaan tuiskom nie. Hy het nog sy bene en arms en hy haal nog asem.

Regardt soek na Markus. Ja, daar hurk hy ook en leun met sy rug teen die muur. Niemand praat nie. Hulle kyk na mekaar en hier en daar lig ’n ou sy hand om iemand te groet.

Regardt lig sy waterbottel tot teen sy lippe. Sy ore suis en sy hande is vol olie en bloed soos hy storings reggemaak en sy geweer herlaai het. Hy voel hoe ’n geleidelike bewerasie van hom besit neem. Dis asof die adrenalien sy lyf verlaat, en in die plek daarvan bekruip die realiteit van die intens gevaarlike situasie waarin hulle was en nog steeds is elke ledemaat, spier en senuwee.

Hoe maklik kan hy nie in hierdie ver, verlore land net vrekgeskiet word nie, het hy al soveel keer gedink.

Die son hang nou die hele, wye hemel vol en die hitte brand neer op die woestyn hier onder waar ’n seksie soldate soos spikkels teen ’n ou murasie vir ’n wyle vertoef.

Nou, sonder hul leier, begin hulle dadelik gereedmaak vir ’n moont­like tweede aanval.

Sy klere voel soos karton noudat die sweet droog word. Die reuk van lood en olie en rook hang swaar in die lug. Oral op sy lyf is brand­plekke soos patroondoppies tussen sy klere beland het.

Elke tweede man is besig om sy wapen skoon te maak terwyl die ander een steeds paraat bly vir oombliklike aksie.

Meganies werk Regardt: eers die gassilinder, dan die skuifgedeeltes, dan die loop van die geweer. Stuk-stuk. Hy stroop nie sy hele wapen nie. Opleiding en instink neem oor, want hy dink nie, hy hoor nie, sy ore is toegeslaan van al die ontploffings en geweervuur. Sy oorlewingsdrang dryf hom. Hy wil lewendig hier uitkom. Hy móét lewendig hier uitkom.

Sy oë fynkam steeds elke sentimeter van die omgewing: elke klein skaduwee, klip of bossie, elke pad, gangetjie, muur of dak.

In hierdie wye oop land met afstande en stiltes wat tot in die onein­digheid strek, is die dood altyd net ’n kortkop agter jou. Selfs al het alle geweervuur gestaak en al hang daar ’n rookgrysstilte oor alles.

Die seksie is gereed: alle wapens is geolie en gediens; elke soldaat het iets uit sy rantsoenpak geëet en ’n paar liter water gedrink.

Hulle wag.

“Prepare to move. Move out!” vorm korporaal Craig, nou die leier van die patrollie, se lippe die bevel en die handsein word aangestuur totdat die laaste man in die seksie die boodskap gekry het.

Die patrollie begin.

En saam met die middag word die hitte ’n lewendige ding.

Nóg ’n vyand om mee rekening te hou.

Hy voel en sien die hittegolwe opslaan met elke tree wat hy ver­sigtig en berekend gee. Sy lippe is horingdroog, styf en gebars. Die sweet tap hom af, loop in strale onder die swaar helmet uit, teen sy nek af.

Die hitte is gulsig. Dit wil hom dehidreer. Dit laat hom sy fokus verloor sodat hy later dubbelvisie het. Dit wil hê hy moet vergeet hoekom hy hier is en wat hy moet doen. Dit wil die dors en die drang om dit te bevredig, die oorhand laat kry.

En hy kan dit nie bekostig nie.

Hy kan nie bekostig dat die hitte die Taliban se bondgenoot word nie.

Want die Taliban kén hierdie plek. Hier is hulle gebore. Vir hulle is hierdie nie ’n dooie land nie. Vir hulle is hierdie nie ’n godverlate woestyn nie. Hierdie is vir hulle huis en haard. Hoekom anders dra hulle sulke koel wit klere en veg hulle soos diere vir waarin hulle glo?

Hulle sit en wag dat hy sag word, dat hy stop, sy hand van sy wapen afhaal en na sy waterbottel tas.

As hy nie konsentreer nie, trap hy nog ’n fokken IED af en die hele patrollie is in sy moer in en hy vir altyd vermink, flits dit deur Regardt se gedagtes.

Genadeloos brand die son neer. Meedoënloos gaan die offensief voort, dryf die valskermsoldate die vyand uit hul skuilplekke en jaag hulle die berge in.

Dit alles in ’n desperate poging om vrede en stabiliteit te probeer bewerkstellig in ’n land wat terreurmoeg is. Waar Al Qaeda se ter­roriste opgelei word om die Twin Towers in Amerika te vernietig en bomme te plant en aanvalle te loods op teikens regoor die aarde.

Sekondes word minute en minute word ure. Die son volg sy tydsame pad. Dit word laatmiddag. Dit word skemer. Hulle bereik FOB Alpha waar die Chinook wag en seksie vir seksie pak die afgematte valskermsoldate sy buik vol, en dan du-du-du-du-du-du die propel­lers en hulle lig van die grond af, op pad terug na Kamp Bastion.

3 Valskermregiment se ses maande lange Afghanistan-toer is ver­by.

Dit was die laaste missie. Binne enkele dae sal hulle vanaf Kaboel na Ciprus gevlieg word waar hulle twee dae in die Britse weermag­basis sal oorstaan om stoom af te blaas en “af te koel” voordat hulle volgens die weermag se kwansuise ondervinding en ervaring relatief gereed sal wees om weer die siviele wêreld te betree.

En dan kan hy en Markus, vir die eerste keer in twee jaar, vir ses weke huis toe gaan.

Huis toe.

Hy kyk na sy medesoldate. Hul liggame word willoos rondgeskud deur die helikopter, hul koppe hang.

Hulle is doodmoeg en hulle is getraumatiseer.

Sersant Ben Black is deur sy nek geskiet.

Hy kan leef, hy kan sterf, óf hy kan vir altyd verlam wees: ’n uiters fikse en toegewyde soldaat; ’n goeie leier en onverskrokke parabat.

Regardt dink aan die kort, effe bles Engelsman. Net voor hierdie laaste operasie het hy en Markus nog gesit en praat oor hoe hulle nou net moet huis toe gaan na hul eie mense toe, want die Vader weet, hulle is gatvol vir die spul Engelse om hulle met hul tattoos en hul ak­sente en hul donnerse gevloek. Sê ou Markus nog hy het nou al so aangesteek hy weet nie hoe hy dit gaan regkry om by die huis nié te vloek nie, want sy pa sal hom wegjaag as hy so praat.

Maar hierdie ouens: Hulle het skouer aan skouer saam geveg en sersant Black is ’n harde, dapper Engelsman met ’n vrou en twee kinders by die huis.

En nou’s hy deur sy nek geskiet.

En dit is die kersie op die wrede koek van hierdie kakspul. Die laaste missie, nog ’n casualty, net om totsiens te sê.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top