
Jan Celliers saam met sy gesin in Switserland ná die Anglo-Boereoorlog. Agter: Johannes Francois, Susanna Jacoba, sy vrou en die digter. Voor: Maria Elizabeth. Die baba in sy vrou se arms is Henri Josué, wat in Switserland gebore is.
Jannie Pretorius lees graag oor die verlede en gebruik KI om ou foto’s ’n nuwe lewe te gee. Klik op die kleurfoto’s om te vergroot.

Daar is weldeeglik oor Jan FE Celliers geskryf, soos deur Terblanche (2023, aanlyn). Ek wil daarom kortliks op sy omvangryke oorlogsdagboek fokus.
Hierdie dagboek, in Nederlands geskryf, het my oor die jare groot plesier verskaf. Waarskynlik omdat hy doof was (Oberholster 1978:5) word hy meesal by die walaers gelaat en neem hy nie aan gevegte deel nie. Hier kan hy rustig besin en die natuur bewonder.
Maar ook nie altyd nie. So beskryf hy op 12 Januarie 1900 hoe twee bomme kort na mekaar in die laer beland:
Mijn verjaarsdag – en welk een verjaarsdag! De wagens waren juist teruggekeerd van de Poort en wij hadden onze tent netjies opgeslagen toen een groote stofwolk midden in ons lager opsloeg en de manschappen naar alle kante uiteenspatten: een vijandelijke bom was tusschen ons neergeslagen, gelukkig zonder te ontploffen. Wij wisten eers niet waar het vandaan kwam. Een tweede bom vloog spoedig daarop rakelings over onze hoofden heen en sloeg kort achter het lager in den grond met een venijnigen knal.
Vir my is dít suiwer poësie.
Daarom het ek ’n vers oor een van sy ander kostelike inskrywings geskryf:
Toe ek laas my kos wou eet,
kyk ek vas in ’n vieslike,
skurwe stuk vleis op pad na my mond:
’n slymerige padda-gevreet.

(Só lyk die oorspronklike foto’s.)
Wil jy hom sien beweeg? Klik op die knoppie.
Bronne
Oberholster, AG (red). 1978. Oorlogsdagboek van Jan FE Cilliers: 1899–1902. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.
Terblanche, Erika. 2023. Jan FE Celliers (1865–1940). https://www.litnet.co.za/jan-fe-celliers-1865-1940 (31 Oktober 2025 geraadpleeg).
Van den Heever, CM en PJ Nienaber. 1949. Bloemlesing uit die gedigte van Jan FE Celliers (2de druk). Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel.
Lees ook:
NALN-tydkapsule 2: Dis nie al nie, Johannes François Elias Cilliers



Kommentaar
Ons praat dieselfde taal oor Jan Celliers se Oorlogsdagboek. Sensitief-aangrypende literatuur. Ek het hom uitgebreid benut vir my "Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog". Dit haal my top vier lysie van geskrifte uit die Anglo-Boereoorlog - Deneys Reitz se "Commando" (Afrikaanse uitgawe "Kommando"), Roland Schikkerling se "Commando Courageous" (Afrikaanse uitgawe "Hoe ry die Boere", en CR de Wet se "De strijd tusschen Boer en Brit". Hemelspyse.
Prof, jou boek oor die kommandolewe van die Boere was en is een van daardie boeke wat 'n blywende indruk op my gemaak het. Ek onthou nog hoe gretig ek dit gelees het. Elke keer as ek hom in my boekrak sien, wel die aangename herinnering daaraan opnuut weer in my op.