NALN-tydkapsule 2: Dis nie al nie, Johannes François Elias Cilliers

  • 3

Reis saam met die Nasionale Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein terug in tyd.  

Leana ­­Lategan gaan tweeweekliks interessante, waardevolle en soms byna vergete argief-items met LitNet-lesers deel. 

Jan Rabie was verlede week aan die beurt.

Die NALN-tydkapsule: Jan Rabie – Rondom 21

Nog nuwe ontdekkings wag: Langenhoven se houtsneewerk; ’n handvol kinderboeke uit boekrakke van vergange jare; dalk die valstande van Erich Mayer, of die Rococo-meubels van Nancy de Villiers ... Wie weet? 

Gaan kyk ook by die Uit die argief-glyer op die LitNet-tuisblad na “Uit NALN se Sarkofaag”.

Of dit die aand van 24 Augustus 1900 nog koud was in Pretoria, vermeld hy nie. Binne enkele ure nadat die weduwee van generaal Piet Joubert die berig stuur, moet Jan FE Cilliers die skuilplek in sy vertroude huis in Kotzéstraat (166), Pretoria verlaat, en vlug. Om die Engelse eed van neutraliteit en getrouheid af te lê, daarvoor sien hy nie kans nie. Die alternatief is vermomming, ’n “Boerennooi” moet hy word: “Mijne vrouw ontdeed zich van een gedeelte harer kleeren ... en ik trok ze aan. Over mijne schouders had ik een mantel met een hooge kraag — om mijn kort hoofdhaar te verbergen — op mijn hoofd een stroohoedje met een zwaren sluier (voile). Voor ik gereed was, stond al het rijtuig voor de deur ...”

Hierdie episode in die tradisioneel-bekende digter se lewe is slegs ’n enkele interessante fragment. As sogenaamde “Digter van die Tweede Geslag” (in dieselfde asem as Leipoldt en Totius genoem), is daar maar slegs ’n paar verse wat die toets van die tyd kon weerstaan. Maar kindergedigte soos  “Ma en Pietjie”en  “Klein ondeug” het hulle bekoring behou, terwyl “Die kampsuster” en “Die vlakte” steeds aandoenlik bly. Cilliers, wat van sy agtste jaar af reeds gehoor begin verloor het, was nou al feitlik doof. Sy diepe oortuiging van diensbaarheid aan sy vaderland en volksgenote dwing hom om as burger by die Anglo-Boereoorlog aan te sluit. Sedert 28 Oktober 1899 hou hy ’n oorlogsdagboek by, tot op 17 Julie 1902. Met hierdie inskrywings skilder hy taferele van daaglikse oorlogsgebeure, maar uit ’n ongewone oogpunt: hyself was nooit deel van kontaksituasies nie, en is aangesê om onder meer perde te versorg en op te pas, kos te maak, en alledaagse sleurwerkies te doen. Dot Serfontein maak by geleentheid die opmerking dat Celliers se verse ’n opmerklike ander kwaliteit het as dié van ’n horende persoon: die klanke is anders, sy waarneming soveel skerper, sy eensaamheid en emosionele ontberings soveel meer intens. Daar was selde ’n perd vir hom, en hy moes lateraan in die oorlog met ’n donkie tevrede wees. Hierdie ervarings ten spyt skryf hy self gedigte, en teken ook ’n hele aantal kommandogedigte aan. Hy beskryf verder kommandonywerhede, soos die vervaardiging van messe, vurke, naalde, saals, klere en skoene*, laasgenoemde dikwels van afgestroopte beestepote se vel gemaak. Omdat hy hom aanvanklik as bittereinder nie met gedwonge oorgawe kan versoen nie, vertrek hy en sy gesin ná die oorlog na Europa, waar hulle byna sewe jaar in Switserland en Nederland woon. Sy bekende gedig “Die vlakte” word hier in die vreemde, ver van sy land en mense, geskryf.

Celliers was ’n afstammeling van die Franse Hugenote, en kon as kind Frans praat met sy oupa, die sendeling Isaac Bisseux. Sy eerste skoolopleing is in Engels. Later jare speel hy ook ’n aktiewe rol in die die stryd om die erkenning van Afrikaans as amptelike taal, en is hy saam met Gustaf Preller die stigter van “Die Brandwag”. Anders as wat sy gedig “Dis al” suggereer, was hierdie skrywer ’n nederige, maar vurige krag in die vroeë jare van veral  die Afrikaanse digkuns. Hy was ’n belese man, in Nederland opgelei as landmeter, daarná ook werksaam as joernalis en vertaler, en ‘n staatsbibliotekaris.

Dit is sekerlik so dat daar van sy skryfwerk is wat hedendaags minderseggend is. Maar ’n stukkie van sy helder gees is vasgeweef in die woorde van ons letterkunde.

*Die voorwerpe wat in die Jan FECelliers–uitstalling in NALN bewaar word, sluit onder meer in eetgerei, ’n batterytoestel wat hy aanvullend tot sy gehoorapparaat gebruik het, die strooihoedjie wat hy ten tye van sy ontsnapping gedra het, en ’n paar selfgemaakte velskoene. Veral die boekkas met uitgawes in Frans is iets besonders. Die houtdeur wat toegang verleen het tot die keldervertrek waar hy in 1900 geskuil het, met ’n inskripsie in sy handskrif, is merkwaardige getuies van sy lewe en tye.

  • 3

Kommentaar

  • Fransjohan Pretorius

    Die ontsnapping van Jan FE Celliers uit Pretoria op 24 Augustus 1900 was nie in die aand nie, maar helder oordag. In sy dagboek-manuskrip vertel Celliers hoe hulle verby verskeie burgerlikes en Britse soldate ry (wat met die aandklokreëling nie moontlik sou wees nie) en hy dui aan dat nadat hulle deur Wonderboompoort vry uit is, hulle teen sonsondergang op David Malan se plaas noord van die Magaliesberg aangekom het. Die wind het heeltyd sterk gewaai, maar dit is dus irrelevant of 24 Augustus 'n koue aand was.

  • Gustaf Claassens

    Afrikaans se literêre 'spens' (NALN) verras telkens met staaltjies en stories uit die Afrikaner se ryk kultuurgeskiedenis waarvan erfenis-objekte 'n baie interessante deel vorm.
    NALN bewaar nie net nie maar skep ook, soos Leana Lategan nou treffend met haar “Tydkapsule”-reeks doen en wat volg op 'n uitstekende program tydens die onlangse Vrystaatse Kunstefees wat selfs 'n taaltoer ingesluit het. Dit is 'n reeks insette van en oor wasem-asems uit 'n gedeelde verlede wat perspektief gee en inspireer. Dit verskaf navorsingsmateriaal vir geslagte wat kom en hou 'n geskiedenis wat in die visier van talle is, lewendig. Dis brokkies wat reeds vra vir 'n uitgewer en borg ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top