Titel: Sny hulle in sterre uit
Skrywer: Fanie Viljoen
Uitgewer: Tafelberg (Junie 2025)
ISBN: 9780624092995
Die bemarkingskopie van Sny hulle in sterre uit sê: “Dan skud ’n massiewe aardbewing die Vrystaatse myndorp en Hoërskool Goudhoek stort binne sekondes ineen. Onderwysers en leerders lê in die puin vasgevang. Wie sal oorleef?” In die eerste hoofstuk hoor drie stelle ouers dat een van die laaste drie kinders wat gevind is, dood is. Dan begin die verhaal by die “aand voor alles”, en jy dink jy weet wat vir jou voorlê.
Jy lees raak dat Gustav “heeltemal onbewus van die ligte bewing onder sy voete” was. Maar reeds op bladsy 18? Nou al? Gaan jy nie die karakters eers beter leer ken nie? Die hoofstuktitel was immers “Net ’n gewone skooldag”. Dan skryf Gustav boonop in sy boodskap aan Ankia: “Skool is boring vandag” ná Paulie vroeër opgemerk het dat die “trappe haar nog gaan doodmaak”. Jy lees dit alles raak. Fanie Viljoen dek die tafel behoorlik, maar is jy gereed?
Viljoen se inspirasie om oor ’n aardbewing te skryf, kom van sy tienerjare af. Hy was in Hoërskool Goudveld in Welkom op skool en daar was gereeld, hoofsaaklik as gevolg van mynbedrywighede, aardskuddings. Hy onthou dat dit op die boonste verdieping van die skoolgebou gevoel het asof die gebou bewe wanneer daar so ’n skudding was, en het toe al gewonder wat sou gebeur as die skool inmekaar stort. Hy het ook die groot aardbewing waarna hy in die boek verwys, as sesjarige beleef, en onthou die woonstelgebou wat ná die aardbewing inmekaar geval het.
........
Dit sou anders gewees het as die verhaal, soos Carel van Rooyen se Skeur van 2021, as apokalipties geëtiketteer was. Daar sou ander verwagtinge wat betref oorlewing en die toekoms ter sake wees ... Maar Sny hulle in sterre uit is realistiese fiksie en sny nader aan die been.
.......
Gereed of nie, dit gebeur aan die begin van die volgende hoofstuk, getiteld “Net ’n ongewone skooldag”. Jy het geen idee hoe die verhaal gaan uitspeel nie, net dat die situasie hopeloos lyk. Jy weet reeds dat een van die drie hoofkarakters met wie vlugtig onder “normale” omstandighede kennis gemaak is, dit nie gaan maak nie. Dit sou anders gewees het as die verhaal, soos Carel van Rooyen se Skeur van 2021, as apokalipties geëtiketteer was. Daar sou ander verwagtinge wat betref oorlewing en die toekoms ter sake wees. ’n Mens sou kon bespiegel het. Die skrywer sou meer opsies gehad het en met verskillende scenario’s kon gespeel het. Maar Sny hulle in sterre uit is realistiese fiksie en sny nader aan die been.
Viljoen beskryf die aardbewing tasbaar lewensgetrou. “Toe kom die rammelende stamp wat die diep stilte meteens oorverdowend maak. Dis asof ’n reusehand op die skool neerkom en dit skud.” ’n Paar bladsye later, wanneer die gebou ineenstort, gebruik hy kort sinne om spanning op te bou, lesers asem te laat ophou en vinniger lees. “Net betyds, want bo hulle tuimel die gebou inmekaar. Steen vir steen. Vloer vir vloer. Sement spat. Vensterrame buig. Lebo versteen. Hy hoor die vrees in die stemme buite. Dis ook binne hom. Dakteëls kraak. Geute en waterpype buig. Glas splinter. Meubels breek in die vallende puin. Kragkabels klap.”
Vir die grootste gedeelte van die verhaal is die drie hoofkarakters dan vir dae onder twee lessenaars, teen mekaar geskuif, onder die puin vasgekeer. Al is Ankia en Gustav soort van saam, het die drie hoofkarakters uiteenlopende persoonlikhede, en kom hulle uit verskillende agtergronde en huislike omstandighede. Ter wille van oorlewing móét hulle saamwerk, maar veral die twee seuns worstel met innerlike demone en Ankia sien iets op haar held se foon wat hy sou verkies nie by haar moes uitkom nie. Nie die ideale situasie vir iemand met engtevrees wat paniekaanvalle moet navigeer nie.
.......
Ja, Viljoen het bo en behalwe die verskrikking van die natuurramp wat hulle getref het, inderdaad ook gesorg vir die perfekte storm onder daardie tafels. En dit terwyl, in die al vinniger lesende leser se agterkop ’n voorkennis dat almal nie hierdie ramp gaan oorleef nie, klop. Wie gaan, soos Shakespeare se Juliet se versugting vir haar Romeo, in sterre uitgesny word?
.......
Die situasie vererger soos die tyd verbygaan en Gustav, Ankia en Lebo se kanse op oorlewing skraler en skraler begin lyk. Geen kos of water nie. ’n Toerismeteksboek se bladsye word geëet. Suurstof word minder. Ankia wonder hoe dit sou voel om dood te gaan. “Sal dit soos slaap wees?” Lebo voel die teenwoordigheid van sy ouma aan. Hy ruik die impepho wat sy ouma gebrand het. En wanneer Gustav sy oë toemaak, sien hy sy pa voor hom. “’n Windgat glimlag met ’n kuiltjie in die wang …” Hy weet wel ook “as iets in jou doodgegaan het, maak jy maklik ander seer.” Ja, Viljoen het bo en behalwe die verskrikking van die natuurramp wat hulle getref het, inderdaad ook gesorg vir die perfekte storm onder daardie tafels.
En dit terwyl, in die al vinniger lesende leser se agterkop ’n voorkennis dat almal nie hierdie ramp gaan oorleef nie, klop. Wie gaan, soos Shakespeare se Juliet se versugting vir haar Romeo, in sterre uitgesny word? Sodat hulle “die hemeltrans so pragtig maak dat die wêreld op die nag verlief sal raak”. Die uitgesnyde sterre-kloutjie word eers aan die einde, wanneer lesers saam aan die verlies moet verwerk, by die oor gebring.
Die treffende titel, Sny hulle in sterre uit, het groot trefkrag en word deur Anja Venter se mooi omslag gekomplementeer. Maar was ek gereed vir die storie? Absoluut. Eerstens weet ek dat Viljoen sy lesers nooit sal onderskat of spaar nie en allermins sou verveel. Tweedens: As daar iemand is in wie se hande hierdie skrikwekkende onderwerp en alles daarmee saam, veilig is, is dit hierdie skrywer. So, voorkennis en enige koue voete wat ek moontlik met die gedagte aan ’n hartseer einde kon kry, sou opsy geskuif word.
Viljoen stel nie teleur nie. Hy wys sy karakters se rouste emosies sonder om ooit melodramaties te raak. Gustav, Ankia en Lebo se verhaal word deurgaans geloofwaardig oorgedra, dus maak dit sin dat dit plek-plek sal ontstel. Ek wens ek kon sê, soos Lebo vir Gustav gesê het: “Chill net, … my oupa Lebo het gesê as jy dors is, moet jy ’n klippie in jou mond sit”, maar dis nie hier ter sake nie. Ek sou almal eerder aanmoedig om die boek te lees en uitdaag om saam met die karakters te hoop. Sny hulle in sterre uit is ’n moet-lees. Aan die einde is dit Shakespeare se uitgesnyde sterre wat troos en alles ligter maak. Vir hierdie stukkie intertekstualiteit lig ek my hoed vir Fanie Viljoen. Ek het gewéét ons is veilig by hom.
Lees ook:
Ons laaste legendariese somer deur Fanie Viljoen: ’n resensie

