Skermgreep: Monster: the Ed Gein story – ’n TV-resensie

  • 0

Skermgreep: YouTube

  • Leon van Nierop skryf ’n gereelde TV- en filmrubriek vir LitNet.

Monster: the Ed Gein story
Netflix
Met Charlie Hunnam en Laurie Metcalf
Skeppers: Ryan Murphy en Ian Brennan

Kom ons val met die deur in die huis. Suid-Afrikaners is deesdae gefassineer deur waremisdaad-verhale. Die uitmuntende Niggies en vele van IdeaCandy se reekse doen hulle dadelik voor.

Maar daar het die regisseurs en vervaardigers dissipline gebruik waar minder meer is. Alhoewel sommige ware verhale as donker-komies uitgebeeld is, soos Devilsdorp, was veral Niggies juis so teisterend vanweë die normaliteit en beheersing daarvan, veral waar dit kom by die ondersoek na die twee verkragters en die uitbeelding van hul wandade.

Maar Ryan Murphy skyn onaantasbaar te wees. Hy kan die gruwelikste en mees eksplisiete detail in lieftallige nabyskote op die maat van outydse deuntjies wys, en dit só verromantiseer dat dit “mooi” raak. Elke moord en marteling is die volgende trappie op die Murphy-treffersparade vir mees sensasionele middelblad.

Murphy se uitbeelding van reeksmoordenaars sentreer altyd om gebeitelde lywe, agtpakke, boude, en hulle raak vinniger van hul hemde ontslae as wat ’n taxi in die noodbaan by jou verbyskiet. Hulle word deur die bank deur sulke aantreklike akteurs gespeel (Evan Peters as Jeffrey Dahmer en die ontwerper-akteur, Cooper Koch, en Nicholas Alexander Chavez as die Menendez-broers) dat hulle superhelde word.

Koch is deesdae selfs ’n onderbroekmodel!

........
Die kyker betrap hom- of haarself dat hulle die sliertige moordenaar eintlik bewonder.
........

En nou kom sekerlik die grusaamste, vernielsugtige grieselpsigopaat van die moderne tyd na die voorgrond, Ed Gein. En Murphy raak die kluts lag-lag en kwylend kwyt. In berugte foto’s wat van die werklike Gein geneem is, het hy nie die gebeitelde voorkoms van Charlie Hunnam nie, nog minder die gespierde lyf met rondings op al die regte plekke, soos hier uitgebeeld.

Die kyker betrap hom- of haarself dat hulle die sliertige moordenaar eintlik bewonder. Veral omdat hy sy moorde so nonchalant en terloops pleeg, en die feit dat hy soos ’n klein seuntjie teenoor sy ma optree speel ’n rol. Daardie seuntjie-stemmetjie!

Natuurlik speel seks weer ’n belangrike rol, veral die feit dat dit “sonde” is, maar Ed verniel en verwoes en vermoor eerder die vrouens as om seksueel met hulle te verkeer, en alles word verglans en verfraai. Sy eie seksualiteit word herhaaldelik gewys.

Veral die grusame episode 1 van Monster: the Ed Gein story, wys sekere tonele, soos die berugte versmorings-masturbasie-op-die-stoel aan die begin uit elke denkbare hoek met gepaardgaande oordrewe byklanke, dat dit aan sagte pornografie grens. Ook Gein se vergoddeliking van veral die wrede vrouemartelaars in die Nazi-konsentrasiekampe wat erger strawwe aan Jode gegee het as wat hier genoem kan word, prikkel hom.

Dit is ook bekend dat Gein die inspirasie was vir Norman Bates in Hitchcock se Psycho (1960) en die grusame Leatherface, met ’n masker uit sy slagoffers se velle gemaak van The Texas chain saw massacre (1974). Kykers sal duisel van hierdie tonele wat nageboots word.

Maar dan probeer Murphy en sy trawant van visuele masochistiese oordaad, Ian Brennan, kamtig subteks aan die gebeure gee, deur in die onewe reeks voor te gee asof Hitchcock self ’n verwronge Ed Gein was wat kon uiting gee aan die perversiteite in homself. Daar is byvoorbeeld ’n nuwe toneel (in kleur!) van hoe Hitchcock die stortmoord dalk werklik sou wou uitbeeld. Hierdie bloedige sekwensie is bedenklik en dien geen doel nie.

Dieselfde geld die akteur wat Bates gespeel het, Anthony Perkins, wat, beweer die reeks, so intens deur Gein beïnvloed is, dat hy amper skisofrenies geraak het en dat Gein Perkins van homoseksualiteit “genees” het.

.......
Daar is vele tonele waar die vervaardigers/regisseurs hulle visueel verlekker in die opgrawe van lyke en wat Gein daarna met die oorblyfsels gemaak het. Absoluut niks word aan die verbeelding oorgelaat nie. Wees gewaarsku.
.......

Daar is vele tonele waar die vervaardigers/regisseurs hulle visueel verlekker in die opgrawe van lyke en wat Gein daarna met die oorblyfsels gemaak het. Absoluut niks word aan die verbeelding oorgelaat nie. Wees gewaarsku.

Maar dis natuurlik Gein se ma, later oorlede, wat hom bly teister het en die reeks oorheers. Vergeet die arme Anne Ramsey van Throw Momma from the train (1987) wat destyds eintlik ’n stereotipe karikatuur van hierdie karakter moes speel. Dié slag oorspeel Laurie Metcalf die ma asof sy oopmond vir die Razzie vir swakste vertolking van die jaar oudisie.

Elke jong man wat verskyn, of hy nou ’n polisieman of motorbestuurder of verbyganger is, lyk of hulle pas uit ’n modetydskrif of gimnasium gestap het. Hier is nie sprake van realiteit of ’n ondersoek na die aard van hierdie monsters en die mense om hulle nie. “Televisie moet mooi wees,” is Murphy se leuse. Al wat oorbly, is ’n kamera wat die mense en moordenaars bewonderend volg en in lippe-aflek-nabyskote wys wat met die lyke gebeur het.

Daar was ook ’n groot teenkanting van beide kritici en die publiek teen die Gein-verheerliking, en ’n mens hoop dat die bewonderende trilogie oor die moordenaar as gebeitelde agtpak-vleispaleis nou sy klimaks bereik het. ’n Mens bedoel dit eintlik ook in ’n sensuele sin.

Ryan Murphy moet dalk weer terugkeer na Glee en die gruwels ’n bietjie begrawe.

Lees ook:

Skermgreep: Niggies – ’n TV-resensie

The watchers: ’n filmresensie

Skermgreep: Adolescence – ’n TV-resensie

https://www.litnet.co.za/skermgreep-28-years-later-n-filmresensie/https://www.litnet.co.za/skermgreep-28-years-later-n-filmresensie/

Skermgreep: The roses – ’n filmresensie

Skermgreep: Bring her back en Weapons – twee filmresensies

Skermgreep: The Phoenician scheme – ’n filmresensie

Skermgreep: Sinners – ’n filmresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top