Silas en die ysbeer op Tafelberg: ’n onderhoud met Annie Klopper en Zandré Coetzer

  • 0

Silas en die ysbeer op Tafelberg, ’n selflees-avontuur
Annie Klopper en Zandré Coetzer
Penguin Random House South Africa LAPA
ISBN: 9781776359844

Die boek en die film Silas en die ysbeer op Tafelberg is pas by die Silwerskermfees bekendgestel. Annie Klopper het die boek geskryf en Zandré Coetzer was regisseur van die film.

Hulle praat onderskeidelik uit die perspektief van die skrywer en regisseur met Naomi Meyer daaroor.

Annie Klopper vertel vir Naomi Meyer omtrent die skryf van die boek.

Annie, jy is die skrywer van die boek Silas en die ysbeer op Tafelberg. Hoe het die idee van ‘n film en boek vir kinders ontstaan?

Die regisseur Zandré Coetzer het my met die konsep van Silas en die ysbeer op Tafelberg genader nadat ons deur ons kinders – wat saam in die kleuterskool was – ontmoet het. Die boeke is dus gebore uit die gelyknamige film waarvan ek die draaiboek geskryf het. Wat interessant is, is dat my eerste kennismaking met film was toe my roman Die tragiese saak van Pamina Vermaak ’n paar jaar gelede verfilm is, maar hier het ons dit nou andersom gedoen: Ons het eers die draaiboek ontwikkel en toe omskep ons dit in ’n prenteboek en selfleesboek.

Wie is Silas? Wat maak ’n ysbeer op Tafelberg? 

Silas woon saam met sy ma en sy ouma aan die voet van Tafelberg. Elke dag stuur sy ouma hom Droomland toe met wonderlike verhale. Eendag, is Ouma skielik weg. Silas droom dat Toemaar die donker man Ouma diep in Droomland in gevat het, en besluit om haar daar te gaan soek. Dis waar die avontuur begin, maar definitief nie waar dit eindig nie. Verskeie medereisigers en helpers kom oor sy pad, waarvan die meeste manifestasies is van Ouma se stories – soos ’n grappige hus met lang ore, Klaas Vakie en Van Hunks. Dan is daar ook die bure se nuwe dogtertjie, Willemien, wat hom in Droomland in gevolg het en aanbied om hom te help soek na sy ouma, selfs al wil Silas nie eintlik maats maak nie. Maar Droomland – ’n droomweergawe van Tafelberg – is nie meer soos dit was voor Ouma weg is nie, dit word al hoe kouer en grouer, en daar is iets wat brommend agter Silas aanloop en hom net nie wil uitlos nie ... dis natuurlik die ysbeer.

So onverwags en onwelkom soos ’n ysbeer op Tafelberg, wat jou skielik soos ’n skaduwee begin volg, so is die kennismaking met die dood, en die hartseer wat daarmee saamgaan.  

Waaroor gaan die storie? Vir wie is dit bedoel?

Uiteindelik gaan die storie oor die verwerking van verlies en trauma. Silas besef sy ouma is dood en dat hy vir altyd daardie hartseer met hom sal saamdra, soos daardie ysbeer-skadubeeld, maar dat ook sy altyd deel van hom sal bly en dat haar storie sal voortleef deur hom. Hy leer die waarde van verhoudings en vriende, en besef dat hy moet aanhou lewe ná haar dood.

........
Uiteindelik gaan die storie oor die verwerking van verlies en trauma. Silas besef sy ouma is dood en dat hy vir altyd daardie hartseer met hom sal saamdra, soos daardie ysbeer-skadubeeld, maar dat ook sy altyd deel van hom sal bly en dat haar storie sal voortleef deur hom. Hy leer die waarde van verhoudings en vriende, en besef dat hy moet aanhou lewe ná haar dood.
.........

Ek het gedink ek en Zandré skryf net die storie vir ons kinders, om hulle te help leer hoe om verlies te verwerk. Maar toe die film uiteindelik voltooi is, het ek besef dat dit vir ons almal is wat al ooit iemand verloor het, want op die ou end het ons almal ysbere wat ons jaag, en op een of ander punt moet ons daardie ysbere in die gesig staar. Ek dink die mees onthutsende besef was dat ek dit eintlik vir die kind binne my geskryf het, wat op ’n baie jong ouderdom kennis gemaak het met die dood en nou steeds as volwassene daardie verlies moet aanhou verwerk – daardie ysbeer bly ewig in my onderbewussyn.

Jy het self kinders in die huis. Hoekom het kinders stories nodig, net so nodig soos grootmense?

Maggies, waar begin ek! Ons huis is ’n storie-huis, en dis nie net omdat ek vir my kinders stories vertel nie – hulle vertel net so baie stories vir my. Hulle vertellings van hulle verbeeldingsvriende laat my besef dat hulle deur stories leer om dapper te wees of dit wat in die dag met hulle gebeur, te verwerk. (Interessant genoeg kom die naam Brommel, die hus met lang ore in Silas, van my oudste se verbeeldingsvriend – dit was sy naam. Tans word ek vermaak deur my kleinste se vertellings van die avonture van ’n ene Poppie.) Daarenteen gebruik ek natuurlik stories om hulle op subtiele wyse dinge te leer, net gister het ek die legende van Wolf, wolf vertel, want ’n storie het baie meer trefkrag as Ma se vervelige preek. 

Foto: verskaf en verskyn met kykNET se toestemming.

Zandré Coetzer vertel uit die oogpunt van die regisseur vir Naomi Meyer van die film.

Zandré, jy is die filmmaker van die film Silas en die ysbeer op Tafelberg. Hoe het dit begin – die maak van die film?

Dit het eintlik begin toe ek geskrik het, omdat ek nie geweet het hoe om my eie kind te troos nie. Die dood is iets waarvoor ek self baie bang is, en toe sy my daaroor begin uitvra, wou ek so graag die regte antwoord hê. Ek wou iets sê wat haar veilig laat voel, iets wys en mooi. Maar ek het nie. Ek het nie geweet wat om te sê nie.

Daardie gemiste oomblik het nogal by my bly spook. Later het ek begin dink: As ek nie toe die antwoord kon gee nie, hoe sou ek dit op my manier kon probeer antwoord? En omdat my manier stories en films is, het die antwoord stadigaan ’n storie begin word.

Hoe meer ek daaroor gedink het, hoe groter het dit geraak. Eers was dit ’n gevoel, toe beelde en toe skielik was daar ’n hele magiese wêreld onder Tafelberg. En natuurlik, soos dinge maar met my gaan, het dit baie vinnig ook geweldig ambisieus geraak.

Maar onder al die fantasie en Droomland en ysbere was daar altyd iets baie eenvoudigs en persoonliks: Ek wou vir my kinders iets van myself agterlaat. Iets wat in my stem vir hulle sê wat ek daardie dag nie geweet het hoe om te sê nie.

Van alle dinge: ’n ysbeer op Tafelberg. As mens ’n film maak, dink mens tog prakties en oor kostes. Hoe het jy dit gevisualiseer – die ysige sneeutonele bo-op Kaapstad se mees bekende berg?

My gunstelingdeel van om films te maak was nog altyd om die onmoontlike moontlik te maak. Ek het dit vir baie jare as vervaardiger vir ander filmmakers gedoen: Iemand kom met ’n wilde idee en dan moet jy uitwerk hoe ons dit binne die tyd, geld en hulpbronne wat ons het, werklik kan maak. Hierdie keer wou ek dit vir myself doen, maar veral vir my kinders.

Ek het nodig dat hulle weet dat niks onmoontlik is nie. Maar ek dink nie dit help om dit net vir ’n kind te sê nie. Jy moet dit vir hulle wys. Jy moet bereid wees om self die voorbeeld te wees.

So ja, ’n ysbeer op Tafelberg is heeltemal onprakties. Sneeu in Kaapstad is onprakties. Om ’n hele Droomland onder die berg te bou met ’n konserwatiewe begroting en ’n baie ambisieuse tydlyn is onprakties. Maar “onprakties” en “onmoontlik” is nie dieselfde ding nie.

As jy ’n plan het, elke dag die dissipline het om daaraan te werk, aanhou vasbyt wanneer iets nie werk nie en bereid is om jou plan oor en oor te verfyn soos jy meer leer, kan jy ongelooflike dinge regkry.

Ek kon dus seker vir my kinders gesê het: “Enigiets is moontlik.” Maar ek wou eerder vir hulle ’n ysbeer op Tafelberg sit en sê: Kyk.

Foto: verskaf en verskyn met kykNET se toestemming.

Hoekom ’n film maak spesifiek vir kinders? ’n Afrikaanse film, nogal. 

Ons praat baie oor representasie, en dit is ongelooflik belangrik, maar ons praat meestal daaroor in terme van kultuur, ras of gender. Vir my is daar nog ’n vorm van representasie wat net so belangrik is: Kinders moet ander kinders op die skerm kan sien en hulleself in hulle kan herken.

Nie net kinders wat soos hulle lyk of dieselfde taal as hulle praat nie, maar kinders wat soos hulle voel. Kinders wat bang is. Kinders wat nie altyd die regte woorde het vir wat binne-in hulle aangaan nie. Kinders wat groot vrae vra waarop die grootmense rondom hulle ook nie noodwendig die antwoorde het nie. Daar is iets geweldig kragtigs aan ’n kind wat na ’n karakter kyk en besef: O, so, ek is nie die enigste een wat so voel nie.

En dit is juis hoekom ek dit in Afrikaans wou maak. Daar is eenvoudig nie genoeg van hierdie soort groot, magiese fantasiewêrelde vir Afrikaanse kinders nie. My eie kinders is in Afrikaanse skole; hulle praat Afrikaans, maar wanneer hulle speel en hulleself in ander wêrelde verbeel, doen hulle dit baie keer in Engels. Dit het my nogal getref.

Ek wil hê hulle moet die vrymoedigheid hê om ook in Afrikaans te droom en te speel. Dat Afrikaans nie net die taal van skool, huis en grootmense is nie, maar ook ’n taal waarin ’n ysbeer op Tafelberg kan staan en daar ’n hele Droomland onder die berg kan bestaan.

Ons kinders verdien avontuur en fantasie en vreemde wêrelde en mooi beelde in hulle eie taal. En dalk sien ’n kind eers vir Silas. Maar dan, iewers tussen die ysbeer en Droomland en al sy vrese, begin hulle hulself raaksien.

Is hierdie film gemaak vir kinders of vir hulle ouers? Wat van almal tussenin: die oupas, oumas, tieners en studente en mense wat nêrens inpas nie, is daar ook iets vir hulle te siene?

Ek het eintlik probeer om ’n storie vir ons almal se innerlike kind te maak.

Ek dink verskillende generasies gaan heeltemal verskillende dinge uit Silas neem. ’n Kind gaan dalk die avontuur sien, die ysbeer en Droomland. ’n Ouer gaan dalk iets anders herken in die magteloosheid om jou kind teen hartseer te probeer beskerm. En ’n oupa of ouma gaan waarskynlik weer op ’n heel ander plek deur die storie geraak word.

.......
Maar onder dit alles is daar daardie deel van ons wat nie noodwendig saam met die res van ons grootword nie. Die deel wat nog onthou hoe dit gevoel het om bang te wees vir iets wat jy nie mooi kon verduidelik nie. Om te glo dat daar dalk regtig iets onder jou bed is, of ’n hele wêreld onder ’n berg. Om iemand te mis. Om te wens jy kon iets wat gebeur het, ongedaan maak.
.........

Maar onder dit alles is daar daardie deel van ons wat nie noodwendig saam met die res van ons grootword nie. Die deel wat nog onthou hoe dit gevoel het om bang te wees vir iets wat jy nie mooi kon verduidelik nie. Om te glo dat daar dalk regtig iets onder jou bed is, of ’n hele wêreld onder ’n berg. Om iemand te mis. Om te wens jy kon iets wat gebeur het, ongedaan maak.

Dit is vir daardie deel van ons wat ek die film probeer maak het.

My grootste hoop is eintlik dat ’n agtjarige, ’n tiener, ’n student, ’n ma en ’n ouma langs mekaar in die teater kan sit en elkeen ’n ander film beleef – maar dat elkeen op ’n vreemde manier huis toe gaan met die gevoel: Hulle het hierdie film eintlik vir my gemaak.

Lees ook:

Landmyn by Silwerskermfees 2026: ’n onderhoud met Nico Scheepers

Candyfloss, a graphic novel by Jaco Jacobs: an interview with illustrator Stephen Wallace

Die tragiese saak van Pamina Vermaak deur Annie Klopper: ’n Resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top