Die 14de kykNET Silwerskermfees word van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad aangebied. Die bekroonde teatermaker Nico Scheepers, wie se riller Hen – sy debuut as filmmaker – gehore se harte gesteel het, is vanjaar terug met Landmyn, ’n intieme drama oor oorgeërfde trauma, verpligting en die onmoontlike daad van opgee.
Hen het in 2025 agt Silwerskerm-pryse gewen en het daarna die HR Giger Narcisse-toekenning vir beste speelfilm by die Neuchâtel International Fantastic Film Festival (NIFFF) in Switserland verower – die heel eerste Afrika-film wat hierdie hoofprys in die fees se geskiedenis ingepalm het. Landmyn is Scheepers se tweede speelfilm, waaraan 16 intense dae van verfilming afgestaan is.
Dit is een van die drie vollengte speelfilms in kompetisie wat vanjaar by die fees vertoon sal word, voor dit op 4 September in teaters vrygestel sal word.
Landmyn se naam is ’n goeie aanduiding van die inhoud: Twee susters Colette (Carla Smith) en Lisa (Dhania Schultz) en ’n broer Johan (Ben Albertyn) herenig vir ’n wintervakansie aan die Suid-Afrikaanse kus. Elkeen het elders ’n lewe opgebou in ’n poging om aan die onstabiliteit van hul kinderdae en die lang skadu van hul ma Annatjie (Anna-Mart van der Merwe) te ontsnap. Die aanvanklike vrolike samesyn versuur wanneer Colette – die suster uit Skotland – erken dat sy hul ma genooi het om by hulle aan te sluit.
Nicole Holm speel die rol van tannie Beth en Juan-Christoff Smith, haar seuntjie, Pieter.
Annatjie arriveer en trek die familie terug in ou patrone van wrewel, oorlewing en onafgehandelde geskiedenis. Soos die dae verloop, ontvou die verhaal van die afstand wat hulle tussen hulself en hul verlede probeer bou het. Nie eens Annatjie se pragmatiese suster tannie Beth kan volhou om te probeer brûe bou nie. Die kinders word gedwing om uit te werk hoeveel van hul lewens steeds om haar swaartekrag ineenvou en of daardie houvas ooit werklik verbreek kan word.
Vrae aan Nico Scheepers, skrywer-regisseur:
MR: Jy trap nie suutjies met Landmyn nie. Daar is vroeg ’n duidelike gevoel dat die drie kinders getraumatiseer is en dan boonop ’n uitlating: “Hy haat sy ma.” Hoekom so ’n dramatiese begin?
NS: As dit kom by ware families en mense wat mekaar moet verdra, mag mens nie suutjies trap nie. Ek glo dit is ons verantwoordelikheid as storievertellers om mense te beweeg, nie net te vermaak nie. Om hulle te laat dink en voel en wonder. En skaamkry. Wat ’n wonderlike, ongemaklike ervaring om in die donker teater te kan skaamkry tussen vreemdelinge.

Plakkaat van Landmyn: verskaf
MR: Hen was jou speelfilmdebuut by die Silwerskermfees en dit het skoonskip gemaak met pryse. Is dit makliker om ’n verhoudingsdrama te verfilm as die wit en swart Hen, wat in snikhete omstandighede in die Karoo verfilm is en eerder ’n riller of kultfilm is? Wat is die voordele en nadele van die twee genres?
Ek dink in baie aspekte was Landmyn selfs moeiliker as Hen. Gee my eerder 45 grade hitte in die middel van nêrens, as al hierdie fynbesnaarde emosies saam vasgevang in ’n huis. Daarom moes ons dit maak! Die eenvoud van die storie en ons benadering (een familie, een huis, een lens) was die boks van beperkings wat ons doelbewus gebou het om in te kan speel.
.......
Gee my eerder 45 grade hitte in die middel van nêrens, as al hierdie fynbesnaarde emosies saam vasgevang in ’n huis. Daarom moes ons dit maak! Die eenvoud van die storie en ons benadering (een familie, een huis, een lens) was die boks van beperkings wat ons doelbewus gebou het om in te kan speel.
.........
In terme van genre hoop ek om nog in elke liewe een te werk. Die breedheid en moontlikhede van stories lê oop voor ons. Ek kyk álles. So ek wil álles maak. Volgende, hopelik sci-fi, of fantasy. Of ’n fantasie-riller. Wie weet? Ek is net dankbaar vir die geleentheid om al hierdie verskillende storiewêrelde en karakters te kan verken, en hopelik vir mense elke keer iets meer eerlik en eg te kan bied.
MR: Soos jy tereg genoem het, is daar geen strelende familiesamesyn nie. En daar is ’n toneel of twee wat mens selfs koue rillings gee! Hoe interpreteer jy jou benadering?
Eerlikheid. Landmyn gaan nie oor hoe ons wil wees nie, maar hoe ons is. Mense is komplekse, deurmekaar gedaantes wat net soveel seermaak as wat ons genees. Veral met onsself en met dié wat naaste aan ons moet wees: ons familie.
Ek wil nie stories vertel wat kykers streel en sus en laat beter voel oor die dele van hulself wat hulle wil wegsteek nie. Kom sit in die donker en wees eerlik met jouself. Families is moeilik. Nie alle huise is goeie huise nie. En om saam te oorleef ten spyte van, verdien ook ’n storie.
MR: Jy werk met gesoute – en bekroonde – akteurs. Hoe belangrik is die keuse van akteurs en wat kom eerste: die storie of wie die karakters gaan vertolk? Skryf jy rolle vir spesifieke mense?
Terwyl ek aan die film geskryf het, was ek met Anna-Mart, Carla en Ben in ’n teaterproses vir die produksie Speelgoed van glas. Dit was ’n wonderlike geleentheid, want ek kon lank voor die verfilming reeds met hulle gesels en daar was ’n goeie verhouding en werksetiek. Met Nicole Holm sal ek berge uitklim en Dhania en Juan-Christoff Smith (Carla se boetie) het soos gladde visse in ons waterpoel kom swem. Dit was ’n wonderlike proses. Ook moeilik, maar niks wat die moeite werd is, is maklik nie. Die akteurs is die hart van die film. Hulle toewyding en vreesloosheid is verbysterend. Anna-Mart is een van die gaafste mense wat ek ken, en sy het Annatjie op ’n baie donker plek gaan uitgrou.
MR: Jy noem dat die film in net 16 intense dae verfilm is, met ’n baie spesifieke benadering: “een familie, een huis, een lens”. Hoe het hierdie doelbewuste beperkings die visuele taal en spanning van die film beïnvloed, en hoe het dit die akteurs se spel in so ’n knap ruimte gevorm?
NS: Kyk, die 16 dae was nie ’n keuse nie – die duurste ding wat ’n klein begroting vir mens koop, is min tyd. Maar genoeg ruimte om in te kan speel en saamsmee aan ’n storie soos hierdie een. Die keuse van ’n enkellens (35 mm) is ’n wonderlike, doelbewuste beperking wat baie tyd en gesprekke en keuses rondom kamera (en die fokus daarop) kon minder maak, om eerder op vertolking te kon fokus. Ek hoop ons kan met elke projek vorentoe die probleem so aanpak: om te aanvaar dat jy sekere opofferings gaan moet maak, maar om dit te kan balanseer met keuses van hoe om jouself in te perk. Die doeleinde is – en ek glo dit vas – dat die beperkings jou kreatiwiteit laat seëvier. Almal wat teater maak, ken dit goed. Ons moet gereeld produksies aanpak waar jy ’n oorlogstoneel moet uitbeeld met een akteur, R3,70 en ’n ou besem.
MR: Die Suid-Afrikaanse winterkuslyn speel ’n baie spesifieke rol as agtergrond vir hierdie familiedrama. Hoe het die keuse van hierdie koue, geïsoleerde ligging bygedra tot die temas van isolasie, oorgeërfde trauma en die swaartekrag van die verlede?
NS: Hoe wonderlik om ’n seevakansie en al hierdie moeilike mense saam in die winter te kon plaas. Die wind, die koue lug, die son net elke nou en dan – dit was asof die natuur self hard gewerk het om die karakters se samesyn te versuur. Dit was heerlik om iets op die Skiereiland te kon skiet; die Kaap is so ongelooflik mooi. Ons kry nie altyd die geleentheid nie en daarvoor was ons dankbaar.
MR: Landmyn handel oor die “onmoontlike daad van opgee” en hoe kinders probeer ontsnap aan hul ma se swaartekrag. Dink jy dit is ooit werklik moontlik om die houvas van oorgeërfde familietrauma heeltemal te verbreek, of gaan dit eerder oor die aanvaarding van daardie “onafgehandelde geskiedenis”?
NS: Ek weet self nie wat die antwoord op hierdie moeilike vraag is nie, maar ek hoop ek kan eendag my eie duiwels in die oog kyk, knik en wegdraai. Want dis al wat mens kan doen. Families is ongelooflik kompleks. Nie almal het die lotery gewen van Sus en Daan-ouers, warm Milo en gelukkige Oukersaande nie. En dit is okay. Ek wou baie graag ’n film maak oor die fyn, dermswaar emosie van ’n moeilike huis, en vir die kinders uit daai huise wat eendag wakker word met die vreesaanjaende bevryding van die besef dat alles nie hoef uit te werk nie – jy mag maar ophou baklei.
- Kaartjies vir die 14de kykNET Silwerskermfees, asook die prestigeryke toekenningsgeleentheid op Saterdag 22 Augustus is beskikbaar by Quicket. Altesaam 22 speel-, dokumentêre en kortfilms word vertoon. Besoek www.silwerskermfees.co.za vir die volledige program.
Lees ook:
Persverklaring: Program van die kykNET Silwerskermfees 2026 bekend
kykNET Silwerskermfees 2026: ’n onderhoud oor Verwerking deur Peter-John Titus

