Persverklaring: Program van die kykNET Silwerskermfees 2026 bekend

  • 0

Hierdie prent is saamgestel uit die visuele elemente wat die persverklaring vergesel het en ook by hierdie webwerf beskikbaar is: https://silwerskermfees.co.za/

Die 14de kykNET Silwerskermfees, wat van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad, plaasvind, spog met 'n uiteenlopende aanbod wat die diepte en diversiteit van Afrikaanse rolprentkuns weerspieël.

Altesaam 22 rolprente word vertoon, waaronder 17 kortfilms (ingesluit vyf dokumentêre kortprente) en vyf vollengte-rolprente (ingesluit een dokumentêre film). Gevestigde regisseurs en draaiboekskrywers wys hul slag, terwyl opkomende filmmakers die geleentheid kry om die wêreld van visuele storievertelling te betree. Agttien films ding mee in die kompetisie, met die pryswenners wat op Saterdag 22 Augustus aangekondig word. (Twee vollengte- en twee kortprente is nie deel van die kompetisie nie.)

Die publiek kan van Maandag 22 Junie af kaartjies bespreek by Quicket, ook vir die glansryke bloutapyt-geleentheid in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum op Saterdag 22 Augustus. Maar as jy 'n Silwer Kaartjie aanskaf, kan jy ook dié naweek al, soos al die genooide gaste, jou plekke bespreek. (Koop jou Silwer Kaartjie hier.)

Kyk gerus ook hier na die volledige program vir die gesprekke, werkswinkels en 'n meesterklas, aangebied deur die skrywer-regisseur Dian Weys, op die Silwerskermfees-webwerf.

Aansoeke om die meesterklas by te woon open Vrydag 19 Junie, met beperkte plekke beskikbaar vir beide die werkswinkels en die meesterklas. Klik hier vir meer inligting en om vir die meesterklas aansoek te doen.

Soos verlede jaar word enkele episodes van nuwe televisieprogramme ook op die fees vertoon. Dit is prestigeryke produksies wat in samewerking met internasionale vennote gemaak is. Besonderhede oor hierdie voorskoue sal op 10 Julie bekend gemaak word.

Hier is die program.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top