kykNET Silwerskermfees 2026: ’n onderhoud oor Verwerking deur Peter-John Titus

  • 0

Peter-John Titus praat met Naomi Meyer oor sy film Verwerking, wat binnekort by die Silwerskermfees te sien is.

Peter-John, jy het ’n film wat by die Silwerskermfees gaan speel: Verwerking. Wat verwerk jou hoofkarakter (alles)? Vertel asseblief ook waaroor gaan die storie.

Ja, ek knyp myself nog elke dag. Stories was nog altyd iets wat ek wou vertel, en ek was baie bang om in te skryf vir Silwerskerm ... Dit het nogal ’n tydjie gevat en baie aanmoediging van verskeie vriende en mentors gevat, en hier is ons nou. Verwerking wys oor bietjie meer as ’n week op ’n lewensgroot skerm voor ’n klomp ongelooflike skeppende filmmakers, en ek kan nie wag nie. Ek het geweet ek wil iets oor GBV skryf, maar ek het nooit geweet wat die regte medium vir dit sou wees nie, en wie sou kon raai dat ek so ’n vreemde, genre-skuiwende meta-grensverhaal aan die einde van die skryfproses sou gehad het. My hoofkarakter Jason is ’n skrywer wat ’n kortfilmdraaiboek moet skryf. Die film verbeeld sy gedagtes en verander van genre soos hy die skryfstyl van sy tonele aanpas. Daar draai natuurlik ook iets donkerder onder die draadwerk, maar daaroor wil ek nie te veel verklap nie.

.......
My hoofkarakter Jason is ’n skrywer wat ’n kortfilmdraaiboek moet skryf. Die film verbeeld sy gedagtes en verander van genre soos hy die skryfstyl van sy tonele aanpas. Daar draai natuurlik ook iets donkerder onder die draadwerk, maar daaroor wil ek nie te veel verklap nie.
.........

Wat gebeur alles in die film, en hoe het JY dit alles verwerk?

Enige mens wat in hierdie land van ons grootword, man of vrou, volwassene of kind, word geraak deur die kloue van GBV. Dit is vir my baie belangrik om seker te maak dat ek eerlik omgaan met ’n tema soos hierdie een, en dat as ek gaan grou in my eie en ander se dieptes, ek dit met deernis en helder denke moet doen.

........
Dit is vir my baie belangrik om seker te maak dat ek eerlik omgaan met ’n tema soos hierdie een, en dat as ek gaan grou in my eie en ander se dieptes, ek dit met deernis en helder denke moet doen.
.........

Al droom ek nog altyd van stories maak, is hierdie my eerste kortfilm, en niks hiervan sou kon bestaan sonder die tientalle hande wat my ondersteun het in die skep van Verwerking nie. Ek is vir altyd dankbaar, aan die span agter die skerms en aan die mense wat dit gaan kyk en daaroor nadink.

Dink jy die skryfproses is terapeuties, of die proses om iets te skep? 

Enige skeppingsproses verg dat jy van jouself in iets insit, en plaas jou dus buite die pyn waar dit vandaan kom. Ek is maar nog ’n jong skrywer en ek weet ek het baie om te leer, maar selfs in hierdie kort proses kon ek voel hoe groot dinge binne my skuif. Ook die gesprekke wat ek op stel met die akteurs en die crew gehad het rondom die temas ... Ek dink om stories soos hierdie een te maak skyn ’n lig op die dinge wat ons as mense van nature in die donker hou. Die skeppingsproses bring dit in die lig in, waar dit hoort.

Lees ook:

Persverklaring: Program van die kykNET Silwerskermfees 2026 bekend

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top