Die tragiese saak van Pamina Vermaak
Annie Klopper
Kwela
ISBN: 9780795708701
Die tragiese saak van Pamina Vermaak is Griet skryf ’n sprokie vir die Fokof-generasie. Soos in daardie eerste suksesvolle weergawe van Afrikaanse chic lit word die wel en weë van ’n eiewyse vrou vertel. Soos Griet se storie, word Pamina s’n in oortuigende Afrikaanse slang weergegee — dit terwyl soveel ander pogings om romans in Afrikaanse slang te skryf nié suksesvol is nie. Of jy die taalgebruik in Pamina Vermaak as realisties beskou, hang dalk daarvan af of jy iemand onder veertig van die noordelike voorstede van Kaapstad ken. Ek ken wel ’n hele paar Paminas wie se stemme ek in die roman kon hoor. Vir ander lesers sal die taal dalk wel oordrewe voorkom.
Die tragiese saak van Pamina Vermaak verskil van Griet skryf ’n sprokie in die opsig dat dit meer ooreenstem met tipiese romantiese fiksie: daar is die klein dorpie, die verskillende potensiële vryers, die verlede wat ons heldin moet konfronteer voordat sy kan aanbeweeg. Ook ’n sekstoneel op ’n strand. Soos in die meeste romanzas en chic lit gaan die fantasieë in Pamina nie net oor die romantiese liefde nie, maar ook oor hoe om vandag ’n straight vrou te wees — hoe om ’n balans tussen werk, familie en romanse te vind.
Aan die begin van die roman verloor Pamina haar werk by ’n Christelike vrouetydskrif in Kaapstad. Sy besef ook dat haar huidige verhouding nie werk nie. Sy word boonop nog beroof en met geen besittings behalwe die Delicious Monster-plant op haar passasiersitplek nie, besluit sy om te ry na haar grootwordhuis in die fiksionele Weskusdorp van Witwaterbaai. Daar kry sy die kans om allerhande geraamtes uit haar verlede te konfronteer en loop sy ook vas in Dirk, haar eks en die aantreklike Boer soek ’n vrou-tipe en Wolf, ’n Afrikaanse rockmusikant wat daar wegkruip van die papparazi.
Wat Pamina Vermaak bo ander soortgelyke boeke laat uitstaan, is die spesifiekheid van die karakter en haar wêreld. Op party maniere is ek Pamina. Ek is dertig en Fokofpolisiekar het net betyds gekom om my tienerangs te verwoord. Ek kom van ’n klein dorpie waar ons soms “skaap moet skuif”. Ek kan getuig dat Pamina se tienerslaapkamer nét reg beskryf word:
Die kamermure is nog steeds donkerpers, en die groot kurk-aansteekbord bo haar studietafel is nog oortrek met tydskrif-uitknipsels van Fokofpolisiekar, Kings of Leon, Death Cab for Cutie, The White Stripes en Billy Talent. In die rak langs haar bed is die boeke wat sy in matriek nog besig was om te lees en herlees: Breyten Breytenbach se Katastrofes, Meeulanders van Esta Steyn en ’n tweedehandse boek oor die geskiedenis van rock ‘n ’roll. Bo haar bed hang ’n neongeel vislyn waaraan foto’s uit haar skooldae met pennetjies vasgeknyp is.
Hierdie gedetailleerde karakterisering maak dat Pamina ’n veel interessanter karakter is as haar liefdesbelangstellings. Veral die gedeeltes waarin die verhaal uit Wolf se perspektief vertel word, is minder oortuigend as wanneer Pamina self haar tragiese saak uiteensit.
Of ’n romantiese roman bevredigend is, hang in ’n groot mate af van hoe die verhaal eindig. Min boeke klop nog die perfekte eenvoud van Jane Eyre se slotsin: “Reader, I married him”. Die belang van eindes vir romantiese fiksie beteken dat ek as resensent aan die een kant nie die einde van Pamina Vermaak wil “weggee” nie, maar dat ek wel oor die einde moet praat as ek wil besin oor hoe geslaagd die roman is. As die resensie tot dusver jou dus lus gemaak het om die roman te lees en jy die einde vir jouself moet ontdek — moenie hier verder lees nie! Maak die LitNet-tab toe en gaan lees die roman.
Spoiler alert!
Vir die lesers wat steeds hier is: Daar is veral een aspek van Pamina Vermaak se einde wat pla. Ek het vroeër genoem dat die dele van die roman waarin Wolf die fokalisator is, minder oortuigend is. As die leser veronderstel is om al Pamina se potensiële minnaars as kandidate te sien, werk dit ook nie dat Wolf die ander hoofkarakter is nie, want dit maak dit van die begin af duidelik dat hulle aangetrokkenheid tot mekaar aan die einde sal oorwin. Pamina se verhouding met Wolf verteenwoordig ’n algemene liefdesromanfantasie — dat die heldin dit sal regkry om die wilde wolf, die rockster bad boy, te tem. Sommige lesers sal beslis hierdie aspek bevredigend vind, maar dit sou beter gewerk het as dit nie van die begin af duidelik was dat dit is hoe die boek gaan eindig nie — as daar bietjie meer spanning in hierdie verband was en ander moontlikhede ook nog moontlik gelyk het. Ten spyte hiervan sal ek die lesers wat ná my spoiler alert nog verder gelees het, ook nie afraai om Pamina Vermaak te lees nie. Dit is perfekte Desembervakansievermaak.