
- Inleiding
Die handhawing en toepassing van demokrasie in verskeie Afrikalande is aan die afneem. Daar word ook min vordering gemaak om nuwe demokratiese beginsels te bevorder. Volgens Freedom House is daar 31 Afrikalande waar ’n merkbare agteruitgang in demokratiese graderings van die lande waargeneem word. Dit is verder opmerklik dat eksterne akteurs alle middele tot hulle beskikking aanwend om die lande te verswak. Rusland staan uit in die verband en poog reeds vir die afgelope twee dekades om demokrasie in Afrika te ondermyn. Die ondermyningsproses geskied in samewerking met ander doelwitte, soos die verspreiding van disinformasieveldtogte, die koöptering van leiers en elite vir politieke invloed, die verkoop van wapens en die verskaffing van sekuriteitspersoneel. Outokratiese regerings in Afrika se ondoeltreffende stelsels van regering, gebrek aan deursigtigheid en verantwoordelikheid, politieke onstabiliteit en konflik tussen verskillende dele van die bevolkings bied aan Rusland genoegsame middele om demokrasie in Afrika te belemmer. Die uitbreiding van outoritarisme in die buiteland het verder negatiewe gevolge vir die bevordering van demokratiese beginsels in Rusland self.
Rusland se ontwrigting van demokrasie in Afrika geskied deur middel van verskeie kanale. Gepaste voorbeelde is teenkanting teen die Verenigde Nasies (VN) se resolusies oor menseregtevergrype en inmenging in plaaslike verkiesings. Die aantygings oor inmenging in ander lande se verkiesings is nie ’n nuwe verskynsel nie. Die demokratiese party van Amerika het tydens Donald Trump se verkiesingsveldtog hard probeer om Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesing te bewys. Die Weste probeer op dieselfde manier om Rusland se betrokkenheid in Afrika te diskrediteer. Die Westerse media verwys ook na Rusland se disinformasieveldtogte wat ten doel het om demokratiese kandidate aan te val en ongewild onder die plaaslike bevolkings te maak. Voorbeelde is die situasies in Mali en die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) waar Rusland klem lê op Frankryk se onvermoë om radikale Moslemgroepe te beveg en politieke stabiliteit te bring. Franse troepe het die lande slegs onlangs verlaat.
Volgens Sean McFate, ’n spesialis op die gebied van paramilitêre groepe, sal Wagner voortgaan om opleiding en sekuriteit aan militêre juntas in Afrika te verskaf, selfs nadat Yevgeny Prigozhin, hulle leier, in ’n vliegongeluk gesterf het. McFate voer aan dat Wagner gewild onder verskeie outokratiese regerings in Afrika is en die taak het om Russiese strategiese en militêre invloed uit te brei. Die groep sal ’n nuwe leier aanstel wat ’n vertroueling van Poetin is en bevele direk van die president ontvang.
Die ruil van wapens vir aardgas en minerale is egter ’n ander storie. Dit is ’n maklike manier om die guns van Afrikalande te wen. Hier word verwys na Angola, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Mosambiek, SAR, Soedan en Zimbabwe. Dit is algemeen vir China en Rusland om wapentuig en groot bedrae geld aan te bied in ruil vir natuurlike hulpbronne. Die aard en omvang van die aktiwiteite is egter ongereeld en daar is ook onduidelikheid oor die impak wat dit op die lande het.
Daar bestaan geen twyfel dat Rusland wel met pogings besig is om demokrasie in Afrika te ondermyn nie. In ’n onlangse studie wat in 23 Afrikalande gedoen is, word ten minste een van die middele hierbo genoem, gebruik om demokrasie te verswak en outokratiese regerings te versterk. Sien tabel 1 vir ’n uiteensetting. Die gevolg van die intervensies is om die demokratiese ambisies en ideale van Afrikane te stuit wat lei tot ondoeltreffende regerings en die verlies van soewereiniteit, selfdeterminasie en internasionale erkenning. Op ekonomiese gebied plaas dit beperkinge op die liberalisasie van handel en die skepping van mededingende markte vir goedere en dienste uit Afrika. Lande wat onder die Russiese outokratiese invloed val, het ook min beweegruimte om gesonde ekonomiese verhoudinge met lande in die Weste te sluit.
- Kernpunte van Rusland se aanvalle op demokrasieë in Afrika
- Rusland se pogings om demokrasie in Afrika te ondermyn vind plaas oor ’n breë spektrum. Disinformasieveldtogte word geloods in 17 lande, inmenging in verkiesings in 15 lande en ondersteuning vir die verlenging of wysigings van outokratiese leiers se ampstermyne in 14 lande.
- Rusland se inmenging in verkiesings het ten doel om Moskou-vriendelike regerings aan bewind te hou, om ampstermyne te verleng en om staatsgrepe te bekragtig.
- Rusland teiken lande met relatiewe swak demokratiese instellings. Freedom House se mediaan vir lande waar Rusland aktief besig is om demokrasie te ondermyn, staan op 28. Dit word bereken op ’n skaal van 0–100. Dit vergelyk met ’n mediaantelling van 51 (amper dubbel) in lande waar Rusland nie demokrasie ondermyn nie.
- In Afrikalande waar Rusland die aktiefste besig is om demokrasie te ondermyn, staan die mediaantelling op ’n laagtepunt van 19.
- Die gevolg is dat Rusland die politieke regte van die bevolking misken, burgerlike vryhede inperk en die grondwetlike prosesse van die lande afbreek. Dit word gedoen deur wigte en teenwigte te plaas op die uitvoerende magte van die lande se grondwette. Ten spyte van groot ondersteuning vir die bevordering van demokrasie in lande soos Algerië, Guinee, Soedan, Uganda en Zimbabwe, bly die lande outokraties.
- Die uitsondering op die patroon is Suid-Afrika. Die wigte en teenwigte in dié land se grondwet is van die sterkste op die kontinent. Rusland gaan egter voort om leiers in Suid-Afrika te koöpteer om groter invloed te verkry.
- In 11 van die 23 Afrikalande waar Rusland aktief besig is om demokrasie te ondermyn, is konflik aan die orde van die dag. Dit verteenwoordig 75% van al die lande in Afrika wat in konflik gewikkel is.
- Baie van die konflikte is interne struwelinge tussen partye en faksies om mag te verkry. Rusland se dwarsboming van demokrasie in die lande verleng die konflik en die vind van politieke oplossings. In Soedan, byvoorbeeld, is Rusland se ondersteuning vir die militêre regering ’n doelbewuste poging om die oorgang na demokrasie te kniehalter.
- In sewe van die 10 lande in Afrika waar die verplasing van die bevolking die hoogste is, speel Rusland ’n rol om demokrasie te ondermyn.
Tabel 1: Die middele wat Rusland gebruik om demokrasie in Afrika te ondermyn
|
Rusland se gereedskapskas vir die belemmering van demokrasie |
|||||
|
|
(1) Inmeng-ing in verkiesings/ politieke inmenging |
(2) Onwettige wapens en die betrokkenheid van Wagner |
(3) Ondermyning van die VN en demokratiese beginsels |
(4) Dis-informasie-veldtogte |
(5) Politieke ondersteuning vir staatskapings en verlengings/ wysigings van ampstermyne |
|
Algerië |
|
|
|
X |
X |
|
Angola |
X |
|
|
X |
|
|
Burkina Faso |
|
|
|
X |
X |
|
Burundi |
|
|
|
|
X |
|
Kameroen |
X |
|
|
X |
|
|
SAR |
X |
X |
X |
X |
X |
|
Komoriese eilande |
X |
|
|
|
X |
|
DRK |
X |
|
X |
X |
X |
|
Egipte |
|
|
|
X |
X |
|
Eritrea |
|
|
X |
|
|
|
Guinee |
X |
|
|
|
X |
|
Libië |
X |
X |
X |
X |
|
|
Madagaskar |
X |
|
|
X |
|
|
Mali |
X |
X |
X |
X |
X |
|
Mosambiek |
X |
|
|
X |
|
|
Kongo |
|
|
|
X |
X |
|
Rwanda |
X |
|
|
|
X |
|
Suid-Afrika |
X |
|
|
X |
|
|
Suid-Soedan |
|
X |
X |
|
|
|
Soedan |
X |
X |
X |
X |
X |
|
Tunisië |
|
|
|
X |
|
|
Uganda |
X |
X |
|
X |
X |
|
Zimbabwe |
X |
X |
X |
X |
X |
- ’n Opsomming van Rusland se ondermyning van demokrasie in Afrikalande
Noord-Afrika
Algerië:
- Russiese disinformasie beweer die Hirak-demokratiese beweging word deur Moslemradikale gekontroleer.
- Sedert 2002 verskaf Rusland wapens aan die Bouteflika-regering. Dit verteenwoordig 75% van alle wapenverkope deur buitelandse vervaardigers.
Egipte:
- Russiese agente poog om beheer van demokratiese bewegings oor te neem en hervorming teen te staan.
- Disinformasieveldtogte word geloods om die oorgang na demokrasie onwettig te verklaar. Die gevaar bestaan dat konflik tussen rebelle en regeringsoldate kan uitbreek in antwoord op grondwetlike hervormings.
- Agente werk saam met faksies in die weermag om ’n revolusie te begin wat ’n nuwe demokratiese pad kan uitspel.
Libië:
- Wagner ondersteun Haftar se pogings om Tripoli met geweld oor te neem en die regering wat deur die VN aangestel is, te vervang.
- Rusland weier om troepe uit die land te onttrek ten spyte van herhaalde versoeke van die VN.
- Die VN-aangestelde regering beweer Wagner is skuldig aan menseregtevergrype en aanvalle op burgerlikes. Chemiese stowwe word gebruik om aanvalle op regeringsoldate te loods.
- Russiese disinformasie poog om dialoog tussen die verskillende faksies op te breek. Die doel is om grondwetlike hervormings te dwarsboom en nasionale verkiesings te ontmoedig.
Tunisië:
- Sedert 2011 word disinformasieveldtogte gebruik om opstande deur demokratiese bewegings as onluste en staatsgrepe uit te beeld.
- Rusland gaan voort om die Arabiese Lente- (“Arab Spring”-) protesoptredes as onwettig te beskou en beweer dat buitelandse saboteurs daaragter sit.
Sentraal Afrika
Burundi:
- Rusland het ’n VN-resolusie geblok wat Pierre Nkurunziza se aanstelling vir ’n derde termyn ongrondwetlik verklaar.
Kameroen:
- Russiese politieke konsultante ondersteun Biya se pogings om pro-demokratiese groepe op te breek.
- Disinformasienetwerke word verbind met inmenging in verkiesings.
- Rusland het ’n VN-resolusie geblokkeer wat die oormatige gebruik van geweld deur Kameroen in die Anglophone-krisis kritiseer.
Die DRK:
- Rusland het versoeke van die VN om bedrog in die 2018-presidensiële verkiesings te ondersoek, verwerp. Dit kom nadat Felix Tshisekedi met ’n oorweldigende meerderheid gewen het en opposisiepartye byna geen steun ontvang het nie.
- Rusland het onwettig wapens aan rebelle in Rwanda verskaf om die land tydens die eerste Kongolese oorlog binne te val. Laurent Kabila is met die hulp van die groepe gehelp om die presidensiële verkiesing te wen.
- Rusland het Joseph Kabila gehelp om sy ampstermyn onwettig te verleng.
- Rusland het Sassou-Nguesso ondersteun om sy ampstermyne onwettig te verleng.
- Disinformasienetwerke word verbind met inmenging in verkiesings.
Die SAR:
- Rusland het Touadéra gehelp om die 2020-verkiesing te wen deur fondse en sekuriteitspersoneel te verskaf.
- Amptenare van die Russiese regering dien as sekuriteitsadviseurs in die regering van Touadéra en as toesighouers in die ministerie van finansies.
- Wagner is direk betrokke by die invordering van persoonlike en in- en uitvoerbelasting.
- Wagner dreig lede van MINUSCA (United Nations Integrated Stabilisation Mission in the Central African Republic), blokkeer MINUSCA patrollies en lê beslag op toerusting van MINUSCA wat die land binnekom.
Rwanda:
- Rusland ondersteun Kagame se onwettige verlenging van sy ampstermyn en bevorder Rwanda as ’n doeltreffende, nie-liberale regeringsmodel in Afrika.
- Gevorderde opsporingstegnologie word aan Rwanda verskaf wat politieke mededingers en burgerlike groepe monitor.
- Rusland is een van Rwanda se grootste wapenverskaffers en het rebellegroepe tydens die Kongolese burgeroorloë ondersteun om die DRK binne te val.
Oos-Afrika
Eritrea:
- Rusland is een van die min lande in die wêreld wat vriendskaplike verhoudinge met die totalitêre regering van Isaias Afwerki het.
- Rusland opponeer VN-sanksies teen Eritrea vir die land se grensgeskil met Djibouti. Rusland weier ook om die VN-moniteringsgroep in die land te ondersteun en verskaf wapens aan Al-Shabaab.
Soedan:
- Tydens die 2018–2019-onluste in die land het Wagner militêre aanvalle op burgerlikes geloods. Honderde mense het in die aanvalle gesterf.
- Rebellegroepe word deur Russiese agente as vyande van Islam, vriende van Israel, pro-LBGT en gefinansier deur Westerse regerings geklassifiseer.
- Webwerwe word deur Russiese agente gekaap om die verspreiding van demokrasie te belemmer.
- Rusland veto VN-resolusies wat die burgeroorlog in die land veroordeel.
- Die ophef van die wapenverbod in die land word deur Rusland ondersteun.
- Militêre leiers word aangemoedig om mag te behou en die oorgang na burgerlike regering te weerstaan.
- Advies en wapens word op ’n gereelde basis aan pro-Russiese militêre faksies voorsien.
Suid-Soedan:
- Die VN-wapenverbod en sanksies teen die land word teengestaan. Daar word onder andere Mi-24-aanvalhelikopters, ligte aanvalsgewere en gepantserde troepedraers aan die regering verskaf.
- Die meerderheid van die wapens regdeur die burgeroorlog is van Russiese oorsprong.
Uganda:
- Rusland ondersteun die omstrede verkiesingsproses in Uganda. Politieke opponente word aangehou en ondersteuners word gearresteer.
- Militêre hulp word aan die regering verskaf in ruil vir die gebruik van telekommunikasienetwerke om die Russiese boodskap te versprei.
- Die Russiese disinformasiegroep bekend as die Africa Back Office poog om kritiek teen die regering te verdryf, terwyl opposisiepartye gediskrediteer word.
Wes-Afrika
Burkina Faso:
- Rusland het suksesvolle disinformasieveldtogte geloods om militêre staatsgrepe in die land aan te help.
- Sosiale media word doeltreffend in Burkina Faso gebruik om pro-Russiese sentimente en die werksaamhede van Wagner te bevorder.
- Militêre oefeninge word saam met regeringsoldate gehou om openbare ondersteuning vir die regering te verkry.
Guinee:
- Rusland het Alpha Condé se ontwyking van sy termynlimiete ondersteun.
- Politieke konsultante het Condé adviseer voordat sy ongrondwetlike finale termyn ’n aanvang geneem het.
Mali:
- Russiese disinformasieveldtogte het gehelp om protesoptredes teen die demokratiese regering in 2019 en 2020 aan te wakker.
- Rusland was die eerste land wat die militêre juntas in 2020 erken het. Die juntas het deur middel van ’n staatsgreep aan bewind gekom.
- Sedert 2021 is Wagner aktief betrokke om die militêre juntas te ondersteun.
- Wagner word beskuldig van honderde menseregtevergrype teen burgers van Mali.
- Wagner het ’n onafhanklike groep van die VN toegang verbied om ’n ondersoek na die slagting op burgerlikes te loods.
Suidelike Afrika
Angola:
- Russiese konsultante het Lourenço in sy verkiesingsveldtog van 2022 gehelp.
Komoriese eilande:
- Disinformasieveldtogte veroorsaak grondwetlike twispunte tussen die Komoriese eilande en Mayotte.
Madagaskar:
- Russiese besigheidslui het kandidate van die opposisie tydens die 2018-verkiesing gefinansier. Betogers is betaal om pro-Russiese temas te bevorder.
- Wagner behou ’n teenwoordigheid in Madagaskar om netwerke van goudsmokkelary en geldvervalsing aan die gang te hou.
Mosambiek:
- Russiese politieke adviseurs het Nvusi se verkiesingsveldtog van 2019 ondersteun.
- Die Russiese verkiesingsfirma (International Anticrisis Centre) gebruik vals peilings om te suggereer dat FRELIMO (die vryheidsbewegings van Mosambiek) steeds groot openbare steun geniet.
Suid-Afrika:
- Russiese politieke adviseurs het hard gepoog om die opposisie in die 2019-algemene verkiesing te diskrediteer.
- Disinformasieveldtogte veroorsaak spanning tussen faksies in die African National Congress (ANC).
- Gesamentlike mynbelange tussen die Russiese oligarg Viktor Vekselberg en die ANC skep ’n gunstige basis vir ekonomiese onderhandelinge.
Zimbabwe:
- Rusland het in 2008 die VN-resolusie oor die instelling van ’n wapenverbod teen Zimbabwe geblok.
- Die Russiese verkiesingmoniteringsgroep (AFRIC) het die 2018-verkiesing as vry en regverdig verklaar.
- Rusland verkoop wapens aan Zimbabwe om ZANU–PF (The Zimbabwe African National Union – Patriotic Front) se ondersteuning vir die ondermyning van demokrasie te verkry.
- Disinformasieveldtogte ondersteun die regerende ZANU–PF-party.
Bronne
Evans, Z. 2023. New Report: Russia and China undermine democracy in Africa. 27 Julie. https://www.ned.org/russia-china-undermine-democracy-africa/ (10 Augustus 2023 geraadpleeg).
npr.org. 2023. What will happen to the Wagner Group without leader Yevgeny Prigozhin?. 24 Augustus. https://www.npr.org/2023/08/24/1195579697/what-will-happen-to-the-wagner-group-without-leader-yevgeny-prigozhin (11 Augustus 2023 geraadpleeg).
Ramani, S. 2023. Russia in Africa: Resurgent Great Power or Bellicose Pretender? Londen: Oxford Uitgewers.
adf-magazine.com. 2023. Russia’s Strategy Aims To Derail Democracy In Africa. 22 Augustus. https://adf-magazine.com/2023/08/russias-strategy-aims-to-derail-democracy-in-africa/ (30 Augustus 2023 geraadpleeg).
Sien ook:
Rusland-Afrika-verhoudinge en die opkoms van ’n nuwe wêreldorde
China se gebruik van propaganda om die media in Afrika te beïnvloed
Disinformation in the Global South: ’n onderhoud met Herman Wasserman

