China se gebruik van propaganda om die media in Afrika te beïnvloed

  • 1

1. Inleiding

In 2014, na twee jaar in sy eerste termyn as sekretaris-generaal van die Chinese Kommunistiese Party (CKP), het Xi Jinping verklaar dat die land sy sagte mag moet uitbrei om die Chinese boodskap beter aan die wêreld oor te dra. Sedertdien het China grootskaalse propagandaveldtogte van stapel gestuur om invloed in die wêreld uit te oefen. Dié propaganda is ’n weerspieëling van China se algemene benadering om die Globale Suide binne die land se invloedsfeer te kry. Afrika is een gebied van die wêreld wat groot potensiaal inhou om die Chinese boodskap te ontvang. In die algemeen beskou, het Afrikane ’n positiewe uitkyk van China se mediateenwoordigheid op die kontinent. China se amptelike nuusagentskap, Xinhua, het nou meer kantore in Afrika as enige ander land in die wêreld en propagandaprogramme word met groot sukses aangebied. Honderde joernaliste van Afrika is reeds opgelei om ’n positiewe beeld van China aan Afrika-gehore oor te dra.  

2. Afrika in China se geostrategie

Die CKP streef daarna om vennootskappe met eendersdenkende vennote te bou wat China se nasionale belange kan bevorder. Die vennootskappe word rondom drie oorvleuelende doelwitte gesluit. Die eerste is om seker te maak dat die CKP aan bewind bly; die tweede is om China se soewereiniteit en territoriale integriteit te beskerm; en die derde is om ’n stabiele internasionale omgewing te skep wat China kan help om ekonomiese en politieke invloed uit te oefen. Met die bewindsaanvaarding deur Xi Jinping in 2013 is alle pogings aangewend om die Globale Suide binne die Chinese internasionale invloedsfeer te vestig. China se strategiese invloedsfeer, wat tradisioneel Rusland en lande in Suidoos-Asië ingesluit het, is nou uitgebrei om voorsiening te maak vir ’n groter invloedsfeer wat Afrika insluit. Vennootskappe met Afrikalande is noodsaaklik om die belange van die CKP uit te dra en Westerse invloed te verminder. Die skep van ’n multipolêre wêreldorde is een van die CKP se vernaamste internasionale ambisies. Die wêreldorde kan bereik word indien vennootskappe met lande in die Globale Suide gesluit word. Dit sal help om die aanname te versterk dat die Chinese politieke sisteem beter as die Westerse politieke sisteem is. Wat veral hier uitstaan, is verwerping van Amerikaanse neo-imperialisme en demokrasie.

3. China se eksternemediapropaganda

Sedert die totstandkoming van die CKP in 1921 is propaganda gebruik om die massas “op te voed” en om die weermag te mobiliseer vir aanvalle op vyande van die staat. Die Eksterne-Propaganda-Leierskapsgroep is in 1980 gestig en bepaal die agenda vir China se buitelandse propagandaveldtogte. Die planne word dan deur die Propaganda-departement geïmplementeer. Dié departement is hoogs verpolitiseerd en word georganiseer en gekoördineer volgens die staatshulpbronne wat beskikbaar is. Dit is nie slegs om sensuur toe te pas nie, maar om die land se kragtige staatsmasjinerie te gebruik om die narratief van die regering aan die massas oor te dra. Geen ander land in die wêreld beskik oor dié uitgebreide propagandamasjien nie.

Die Propaganda-departement teiken twee primêre groepe. Die eerste groep is Chinese wat in die buiteland woon en werk, en die tweede groep is nie-etniese Chinese, in dié geval Afrikane. Ten opsigte van die laaste groep word versterking as tegniek gebruik om vier boodskappe oor te dra: om ’n positiewe beeld van die CKP en China uit te dra; om Chinese partybeleid en kultuur te bevorder; om aanvalle teen regeringsbeleid teen te staan; en om China se aansprake op Hongkong, Tibet, die Suid-Chinese See en Taiwan te normaliseer.

Volgens Bob Weseka, ’n mediakenner van die Universiteit van die Witwatersrand, volg China ’n meer geïnstitusionaliseerde benadering om die land se mediapraktyke na Afrika uit te voer. Een roete is om joernaliste en redakteurs van Afrika op te lei in Chinese programme wat hulle daarvan sal weerhou om presidente van Afrika, regeringsdepartemente en Chinese amptenare te kritiseer. ’n Ander roete is om aandele in Afrikaïese media-organisasies te koop en op lang termyn eienaarskap te verkry. Die redaksionele praktyke van die organisasies kan dan volgens Chinese standaarde verander word. ’n Derde manier is om Chinese tegnologie aan Afrika te verkoop wat regerings toelaat om digitale inligting beter te beheer. Dit sluit in die blokkering van webwerwe en beperking van toegang tot die internet.    

4. China se media-organisasies in Afrika

Freedom House, die Amerikaanse mediawaghond, beweer dat Bejing miljarde dollar elke jaar aan buitelandse propaganda en sensuur bestee. Dit is nie duidelik wat die presiese persentasie vir Afrika is nie, maar dit is wel duidelik dat dit miljoene beloop. China se staatsbeheerde media-organisasies, naamlik Xinhua, China Daily, China Radio International (CRI) en die China Global Television Network (CGTN; CCTV) teiken gehore in verskeie Afrikalande. 

Dié vier staatsbeheerde media-organisasies ontvang groot bedrae geld om nuus en stories te publiseer. Dit sluit in die gebruik van verskeie vorme van mediakommunikasie (gedruk, televisie, radio en aanlyn) in al die amptelike tale van die VN. Die amptelike tale van die VN is Arabies, Engels, Frans, Spaans, Russies en Chinees, waarvan vier in Afrikalande gepraat word. Elkeen van die media-organisasies het verskeie veeltalige sosialemediarekeninge wat deur miljoene Afrikane gevolg word. Twitter, Facebook, YouTube en Instagram is die gewildste platforms.            

Agente van die Propaganda-departement oorheers die redaksionele proses en maak seker dat stories wat die CKP verheerlik, ryklik beloon word. Daar is twee groepe personeel by die media-organisasies werksaam. Die eerste is amptenare van die Propaganda-departement wat hulle as joernaliste voordoen, en dan die professionele joernaliste. Alhoewel amptenare van die Propaganda-departement geen joernalistieke opleiding ontvang het nie, is hulle deur die CKP afgevaardig om redaksionele besluite te neem en as toesighouers vir joernaliste van beide Afrika en China te dien.           

Die organisasies gebruik ook verskeie metodes om teikengroepe te bereik en te voldoen aan die vereistes wat deur amptenare van die Propaganda-departement aan hulle gestel word. CGTN loods byvoorbeeld elke jaar intensiewe werwingsveldtogte om die room van Afrika se joernaliste te werf. Die Afrikaïese joernaliste verdien dubbel die salarisse wat hulle by plaaslike nuuskantore en uitsaaistasies sou kry. Iets wat die reg op vryheid van spraak misken, is dat die Propaganda-departement geen ondersoekende joernalistiek toelaat indien dit China of vennote in ’n negatiewe lig stel nie. Joernaliste van Afrika moet instem om nie verslag te doen oor sensitiewe onderwerpe nie. In die boek van Emeka Umejei, Chinese media in Africa, wat in 2020 verskyn het, stel ’n Afrikaïese joernalis van China Daily dit as volg: “Binne die raamwerk van die redaksionele beleid het jy die vryheid om oor enige storie verslag te doen, terwyl jy geen vryheid het om oor stories verslag te doen wat buite die raamwerk van die redaksionele beleid val nie.” Afrika-joernaliste stem saam dat jy moet weet wat aanvaarbaar en wat onaanvaarbaar is. Dit is baie belangrik om ’n onderskeid tussen die beginsels te tref. Amptenare van die Propaganda-departement gee duidelike riglyne aan joernaliste wat stories dek en die rigting wat hulle moet inslaan.

Verskeie professionele persone wat in die media in Afrika werksaam is, streef daarna om hulle onafhanklikheid en joernalistieke standaarde te behou. Die beginsels kan gehandhaaf word slegs indien hulle die Chinese media-invloed in Afrika teenstaan. In dié opsig is dit belangrik dat mediakantore digitale tegnologie ook van ander verspreiders aankoop om nie te afhanklik van Chinese tegnologie te raak nie. Daar moet ook gevra word of Chinese media slegs positiewe beriggewing bevorder. Die beriggewing word sterk deur die Propaganda-departement beïnvloed en is partydig. Oproepe is daar van mediakantore in Afrika om die fokus na konstruktiewe joernalistiek te verplaas. Dit sal China die geleentheid gee om hulpbronne beskikbaar te stel vir die ontwikkeling van Afrika se mediakantore self. In dié opsig is dit belangrik om aandag te gee aan die verbetering van tegnieke vir beriggewing, kommunikasievaardighede en redaksionele reëlings. Konstruktiewe joernalistiek is dus ’n praktiese manier om rigting te gee aan China se media praktyke in Afrika.      

Bibliografie

 Africacenter.org. 2023. China’s influence on African Media. 12 Mei. https://africacenter.org/spotlight/chinas-influence-on-african-media (25 Junie 2023 geraadpleeg). 

Eisenman, J. 2023. China’s media propaganda in Africa: a strategic assessment. Maart. https://www.usip.org/publications/2023/03/chinas-media-propaganda-africa-strategic-assessment (24 Junie 2023 geraadpleeg).

Freedomhouse.org. 2023. China’s media influence in Africa. 19 Januarie. https://freedomhouse.org/event/chinas-media-influence-africa (23 Junie 2023 geraadpleeg).

Umejei, E. 2020. Chinese media in Africa: perception, performance, and paradox. Lanham, MD: Lexington Books.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top