Rusland-Afrika-verhoudinge en die opkoms van ’n nuwe wêreldorde

  • 3

Die rol van Afrika in internasionale politiek is aan die toeneem. Een van die grootmoondhede wat Afrika se groei met verwagtinge dophou, is Rusland. ’n Belangrike rede vir Rusland se hernude belangstelling in Afrika is die soeke na voormalige Sowjettydperk-vennote en lande wat anti-imperialistiese en anti-Westerse beskouings het. Sulke vennote kan Rusland help om ’n nuwe wêreldorde te skep. Vanuit ’n historiese perspektief is dit eerstens nodig om te vas te stel hoekom Rusland in Afrika belangstel.

Histories het Rusland sterk en noue bande met lande in Afrika gehad. Die bande dateer van ná die dekoloniseringsperiode en Afrikalande se stryd vir onafhanklikheid. Na die einde van die Koue Oorlog het Rusland geweldige sosiaal-ekonomiese skommelinge ondervind en was die leierskap in ’n stryd om politieke oorlewing gewikkel. Met die aanvang van die 21ste eeu het die land stadig herstel en is daar opnuut uitgekyk om bande met voormalige bondgenote te herstel. Rusland se betrokkenheid in Afrika het nooit eintlik opgehou nie, maar eerder deur fases van ontwikkeling gegaan. Die fokus is verplaas na konflikte met buurlande en die gespanne situasie in die Oekraïne. Die leierskap was daarvan bewus dat Afrika in die toekoms toenemend belangrik sou word.                       

Rusland se visie vir ’n wêreldorde is polisentries, wat beteken dat daar meer as een sentrum vir ontwikkeling of beheer is. Die sentrums bestaan uit ’n samevoeging van verskeie lande (streeksgroeperinge). Die lande werk saam om belange te bevorder, en waar nodig aanpassings te maak. Daar is natuurlik ook lande wat leierskapsposisies beklee en die magsbalans tussen die lande handhaaf. Maar daar is geen oorheersende land wat mag misbruik en ander lande domineer nie. Dit is in teenstelling met die hegemoniese perspektief van die Weste, waar beheer deur die unilaterale aksies van Amerika en sy bondgenote (Amerika en Wes-Europa saam) uitgeoefen word. Die Afrika-kontinent verteenwoordig een van die sentrums wat deur die Russiese visie vir ’n nuwe wêreldorde uitgebeeld word. Die 54 lande in Afrika kan almal bydra tot die uitbou van ’n sentrum wat samehorigheid tussen al die lande in die streek bevorder. Die sukses van dié sentrum sal afhang van samewerking tussen die individuele lande self en die lande se vermoëns om verhoudinge met eksterne moondhede uit te bou.             

In teenstelling met voormalige moondhede, en in ’n mindere mate China, is Rusland nie daarin geïnteresseerd om ’n oorheersende of leidende rol in Afrika te speel nie. Dié stelling is gemaak deur die Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lawrof, tydens die Sotsji-beraad in 2019. Belangriker vir Rusland is die politieke voordele wat uit verhoudinge met Afrikalande kan vloei. Rusland kan geweldige voordeel uit verhoudinge met Afrikalande trek indien ’n samevattende buitelandse beleid geformuleer word. Die beleid moet grootliks berus op ekonomiese hulpverlening, militêre samewerking, die aanbied van sekuriteitsdienste en die bou van kragsentrales. Rusland kan nou wel nie met China of Westerse moondhede meeding vir die verskaffing van materiële en ekonomiese dienste nie, maar beskik oor hulpbronne wat op ander maniere aangewend kan word. Dié dienste is van die hoogste internasionale standaard, word teen ’n laer koste aangebied en is maklik om aan Afrikalande te verskaf. As voorbeeld word genoem dat die Russiese staatsdiens ’n ten volle geïntegreerde en suksesvolle digitale stelsel het (ook genoem ’n e-regering), en dat die inkomstediens tegnologie gebruik wat in sekere opsigte meer modern as ontwikkelde Westerse lande s’n is. Verder is Rusland se ervaring in die verkryging en benutting van natuurlike hulpbronne uniek. Dit gee die land ’n tegnologiese voorsprong in die verkoop van dié hulpbronne aan buitelandse kopers. Die Sotsji-beraad het getoon dat daar geweldige belangstelling van Afrikalande is om met Rusland saam te werk. Dié belangstelling is besig om in so ’n mate toe te neem dat ’n tweede beraad later in 2023 gehou gaan word. Die beraad gaan fokus op die implementering van die programme en aksieplanne wat tydens die Sotsji-beraad voorgestel is. Dit is veral opmerklik dat Afrikalande vertroue het in die beloftes wat deur Russiese amptenare en besigheidslui gemaak is.                      

Ten opsigte van Amerika en Wes-Europa is Rusland uitgesproke oor dié lande se teenwoordigheid in Afrika. Dit is veral die Weste se aanmatigende bevordering van demokrasie en klem op menseregtevergrype wat gekritiseer word. Amerika het verskeie indirekte oorloë (proxy wars) na die Tweede Wêreldoorlog begin, wat geen bydrae gelewer het om demokrasie te bevorder nie en gelei het tot meer onstabiliteit en interne konflik. Daar is ook grootskaalse menseregtevergrype gepleeg, byvoorbeeld, Viëtnam, Irak en Libië. Die oorloë is gevoer om invloed uit te oefen en vennootskappe te smee met lande wat in die konflikte gewikkel was. China het ook ’n groot teenwoordigheid in Afrika, maar word nie so openlik deur Rusland gekritiseer nie. Die twee lande stem in beginsel saam oor die beëindiging van Westerse imperialisme op die Afrika-vasteland. Die Weste beskou Rusland se invloed in Afrika in die huidige internasionale politieke klimaat as ’n bedreiging, en daar is wedywering aan die gang vir natuurlike hulpbronne, geopolitiese uitbreiding en strategiese vennootskappe. Dit beteken nie dat Rusland die invloed van die Weste goedsmoeds aanvaar nie. Alles moontlik word gedoen om Afrikalande se guns te wen en beleid te implementeer wat tot voordeel van Afrika en Rusland strek.    

Rusland se diplomatieke verhoudinge met Afrikalande het vanaf die middel van die 2010’s begin verbeter. In die afgelope vyf jaar het die vriendskap ’n nuwe fase betree met die besoeke van Sergei Lawrof aan verskeie Afrikalande. Die minister se besoeke word gekenmerk deur beloftes van Russiese hulp om Afrika te help ontwikkel. Dit is veral die klem wat hy op ekonomiese samewerking lê wat groot aantrekking by leiers van Afrikalande vind. Volgens hom is Rusland nie geïnteresseerd in pogings van Westerse lande om volhoubare ontwikkeling te bevorder nie; dit is ’n verouderde konsep wat deur die Weste geskep is. Die fokus moet eerder na die bevordering van handel en liberale globalisering verskuif. Rusland sien groot potensiaal daarin om handel met Afrika te bevorder en is gretig om kanale vir handelsfasilitering te skep. Daar is reeds groot projekte aan die gang om handel tussen Afrika en Rusland te bevorder.              

Aan die ander kant is daar nou te veel projekte en inisiatiewe en te min praktiese resultate. Daarom is dit nodig om navorsing te doen wat kan bepaal watter terreine van ontwikkeling die grootste resultate inhou. ’n Samesmelting van streeksinisiatiewe en bilaterale projekte waar Rusland ’n mededingende voordeel het, of dit nou in terme van tegnologie, sekuriteit, of voedsel is, kan die gewenste resultate lewer. Die inisiatiewe moet in volgorde van belangrikheid gemerk word.

Rusland, wat ’n lidland van BRICS is, beskou dié groepering as waardevol om Afrika se rol op die internasionale verhoog uit te bou. Suid-Afrika verteenwoordig Afrika in BRICS, en dit is die natuurlike taak van die land om Afrika se belange in die groep te bevorder. Alhoewel elke BRICS-land sy eie hiërargie van belange het, is daar ook samewerking binne ’n gemeenskaplike poel van belange. Rusland het verder geen begeerte om ’n verenigde front teen Amerika en Wes-Europa te vorm nie. Die doelwit is om met beter planne en beleid vorendag te kom eerder as om die werk van die Weste ongedaan te maak. Rusland glo dat die konstruktiewe pogings van die Weste en ander moondhede nodig is om Afrika op die pad van vooruitgang te plaas.                

Bibliografie

Alberque, W en P Fraioli. 2023.  Russia’s new foreign-policy concept: the airing of grievances and a new vision of world order. 13 April. https://www.iiss.org/online-analysis/online-analysis/2023/04/russia-new-foreign-policy-concept-the-airing-of-grievances-and-a-new-vision-of-world-order (15 Mei 2023 geraadpleeg).  

Prange, A. 2023. A new world order? BRICS nations offer alternative to West. https://www.dw.com/en/a-new-world-order-brics-nations-offer-alternative-to-west/a-65124269 (10 Mei 2023 geraadpleeg).

Trtworld. 2023. South Africa sends ANC officials to Russia for new “global order” talks. https://www.trtworld.com/africa/south-africa-sends-anc-officials-to-russia-for-new-global-order-talks-66689 (12 Mei 2023 geraadpleeg).

  • 3

Kommentaar

  • Merkwaardig hoe, by die lees van hierdie artikel, dit voel of mens 'n droomwêreld binnegaan, 'n wêreld;
    • waar rusland 'n vredeliewende demokrasie is wat niks anders as Afrika, en die res van die wêreld, se welsyn in gedagte het nie
    • waar rusland daarin kon slaag om die ontginning van sy grondstowwe, oor die afgelope 150 jaar, aan te wend om sy bevolking se algemene welstand te verbeter, in plaas daarvan om die inkomste daaruit verdien uisluitlik vir militêre doeleindes aan te wend
    • waar rusland, met sy 143 miljoen mense, se totale BBP nie gelykstaande is aan die van die Amerikaanse staat Texas nie
    • waar rusland se gemiddelde maandelikse inkomste nie 600 doller per maand is nie
    • waar rusland nie nommer 173 op Transparency International se lys van korrupsie is nie
    • waar rusland nie alle menseregte-organisasies uit die land verban het nie
    • waar rusland nie huishoudelike geweld en geweld teen vroue gedekriminaliseer het nie
    • waar rusland nie alle opposisiepartye se leiers opsluit of vermoor nie
    • waar rusland nie alle onafhanklike media verban nie
    • waar haatspraak en aanhitsing tot volksmoord nie die daaglikse stapelvoedsel op staatsbeheerde televisie is nie
    • waar rusland nie 'n totalitêre regime is nie
    • waar rusland nie 'n geskiedenis van oorlogsug in die naam van imperialisme het nie
    • waar Lavrof 'n internasionaal-gerespekteerde diplomaat is wat altyd die waarheid praat
    • waar rusland niks anders as vrede soek met die Weste nie
    • waar rusland se voormalige president, Medvedef, nie dreig met kernmissielaanvalle op Westerse stede nie, mits rusland in vrede gelaat word om sy onafhanklike, soewereine buurlande binne te val, dele daarvan te okkupeer en daar militêre basisse op te rig (Georgië, Ossetië, Moldawië, Oekraïne)
    • waar rusland nie totaal ekonomies en polities geïsoleer is nie
    • waar rusland se ekonomie nie deur die dade van sy leier so geknou is dat dit dekades sal neem om te herstel nie
    • waar rusland nie 'n inherente, vertikale en onaanvegbare politieke magstruktuur het wat alle mag konsentreer in die hande van een persoon nie
    • waar rusland se grootste (enigste?) vriende nie ander internasionale paria-lande soos Iran en Noord-Korea is nie, plus natuurlik Sjina
    • waar die megalomaniese imperialistiese aspirasies van rusland se despotiese leier nie sy land in duisternis gedompel het, net om daarna deur desperate wriemeling sy land te laat probeer oorleef as a vasalstaat van Sjina nie
    • waar rusland nie missielaanvalle loods op Oekraïense stede en burgerlikes vermoor word nie
    • waar die russiese bevolking nie jubel op die sosiale media as 'n Oekraïense kind in hierdie aanvalle gedood word, op 1 Junie, Internasionale Kinderdag nie
    • 'n wêreld waar die russiese inval in Oekraïne en gevolglike dade van terreur nie vanaf 'n afstand van 10 000km beskryf word as “spanning tussen rusland en Oekraïne” nie
    • 'n wonderwêreld waarin rusland 'n waardige vennoot in Afrika en 'n modelstaat is om na te streef.
    Maar toe begin die lugaanvalsirene weer loei en ek word wakker, en alles was weer die teenoorgestelde as in die droom waar Fanie Herman my ingelei het.

  • Magda Laurens

    Eben Victor, jy skryf wat ek dink. Dankie Vader vir mense wat sien hoe ons leiers mislei word. Moet nooit ophou skryf nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top