RISE Mzansi!

  • 1

...
Die rede hoekom ek juis na dié toer verwys het, is omdat ’n spul “skobbejakke” braaf genoeg was om iets te doen. Dís wat die land en die mense nou nodig het. AKSIE.
...

Ek moet bieg: Ek weet eintlik nie veel van die Voëlvry-toer nie (in 1989 was ek net 6 ...), maar ek stem heelhartig saam met Koos Kombuis dat die laaste flippen ding wat Suid-Afrika nou nodig het, ’n herlewing is van 1989 se Voëlvry-toer. ’n Klomp “gerookte, seksistiese” wit mans wat musiek maak oor issues wat slegs die wit Afrikaanse jeug teister, is beslis nie wat Suid-Afrikaners nou in die regte luim gaan kry vir ’n revolusie nie. Norrefok. Dis hoekom ek ’n revamped Voëlvry-toer voorgestel het. Revamped, improved, rebranded. Oppikoppi-vibes. Musiek wat met alle Suid-Afrikaners praat. Ek visualiseer ’n hengse musiekkonsert met ’n groot eklektiese verskeidenheid kunstenaars: van Snotkop tot Majozi, die Ndlovu Youth Choir, Karen Zoid, Master KG (die Jerusalema-challenge tydens lockdown het ontstaan na aanleiding van sy gelyknamige treffer), Black Coffee, Kahn Morbee, Tasché, Craig Lucas en Emo Adams. Inklusiwiteit. ’n Samekoms van mense, klanke en kulture soos nog nooit vantevore nie.

Ook dalk, byvoorbeeld, ’n klomp stalletjies op die feesterrein wat bestuur word deur verskillende burgerregte-organisasies wat jy kan gaan raadpleeg oor, onder andere, hoe om self die slaggate in jou woonbuurt te vul, watter manier die effektiefste is om rommel van sypaadjies te verwyder en hoe om ’n stembrief ordentlik in te vul (veral as jy dalk die eerste keer jou kruisie trek). Dis baie belangrik om betrokke te raak in jou gemeenskap. Ek dink dade wat luider spreek as woorde, opinies en idees is wat na verandering sal lei. Miskien is dit dalk ál manier waarop daadwerklike verandering stadigaan moontlik is op die oomblik. 

Die Voëlvry-toer het destyds miskien geen noemenswaardige dinge vermag in die politieke stand van sake nie, maar die rede hoekom ek juis na dié toer verwys het, is omdat ’n spul “skobbejakke” braaf genoeg was om iets te doen. Dís wat die land en die mense nou nodig het. AKSIE. Dis waaroor my oorspronklike pleidooi eintlik gegaan het. Oor die seemingly detached mindset van gans te veel mense. Die meeste mense se mindsets het gemaksugtig geword. Talle Suid-Afrikaners snel voort asof dit nie húlle verantwoordelikheid is om met ’n poop scoop rond te loop nie, want, ag, dit kan tog nie só erg gaan in Suid-Afrika nie; ek het dan ’n kar, ’n werk, geld, kos, klere, ’n huis, ’n TV, ensovoorts. O, ja, en ek kan anyway ’n kragopwekker, inverter of solar panels bekostig. So, shanana, baby! Baie ander is negatief en moan en brom en maak hulself net meer en meer nors. ’n Mens moet wegbreek uit beide mindsets. Dit gaan dikwels ’n moerse kopskuif wees, maar hoe gaan ons kan bou as die meeste van ons brom oor die verfoeilike verlede én mor oor ons verfoeilike nou?

So, na my mening is een van die verraderlike peste wat SA tans besmet iets soortgelyk aan die bystander effect, wat heers in die voorkamers van menige Suid-Afrikaanse brein: álmal is bewus van wat aangaan – die ongeregtighede en korrupsie en die wettelose gemors wat koning kraai op elke straathoek – maar álmal dink ook dat iemand ánders, êrens, tog iets sal doen. Iémand sal mos … solank dit net nie hulle is nie. Want húlle is gemaklik, so bogger die res se probleme, hulle eie apatie, die looting, die horrendous geweld, mishandeling, beurtkrag. Maar weet jy wat, Koos? Ék is iemand. Ek is nie deel van die jeug nie. Ek is 39 en ek is gestrem, ’n hemipleeg, maar ek hét oë en ’n brein en ’n hart en ek sién dinge wat my ontstel. Daar is ’n oorverdowende klomp dinge wat my kwel – korrupsie, verkragting, slaggate, geweld teen vroue en kinders, swak staatskole, aaklige staatshositale, werkloosheid – en dit veroorsaak ’n byna verlammende gevoel in my borskas. Ek reken dis hoe baie mense voel. So, ek kies om iets te probeer doen. Ek wil brul. Maar in wié se oor? Wáár begin ’n mens? Ek weet nie. Maar ek kan wraggies nie niks staan en doen en al my vertroue in die (skynbaar) ongeërgde jeug stel nie. “Almal sê die lewe is eers môre. Maar môre is te laat vir my.” Ek bly smag na ’n protesliedjie wat hoop en motivering sal bied – aan almal van ons, nie net een ras óf ’n spesifieke ouderdomsgroep nie. Geen politieke ondertone nie. Music can make you float on a good feeling. En dis dalk al wat nou nodig is om Suid-Afrikaners se gemoed ’n hupstoot te gee: die vibrasies van ’n lekker tune.

Mý aanbevole leesstof is basies die HELE webblad van RISE Mzansi (ek dink miskien moet hulle ’n pep talk gee vóór die konsert afskop ... én Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers en die spitsvondige breine agter die humoristiese Nando’s-advertensieveldtogte).

Rise, South Africa, out of the fucking ashes, I say.

Lees ook:

#bringingbackubuntu

Die Laaste Ding wat ons nou Nodig het is Nog ’n Voëlvry-Toer!

Can South Africa be rebuilt?

Tyd vir die burgerlike samelewing om weer hande te vat?

Die burgerlike samelewing in beweging

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top