
Wyle Allan Hendrickse, leier van die eertydse Arbeidersparty, het destyds gesê hy voorsien dat ’n bruin leier vorentoe nog die katalisator gaan wees wat wit en swart Suid-Afrika bymekaar sal uitbring. Dit is omdat die bruin mense “hulle in Suid-Afrika in die unieke posisie bevind dat hul empatie weerskante toe lê”. Die bruin mense kan hulle dus goed indink in die onderskeie aspirasies en vrese.
So, waar is die bruin leier dan?
‘n Menigte bruin mense sal sê daar is nie regtig ’n bruin leier nie. So, hoe kan die ideaal waarvan Hendrickse gepraat het, verwesenlik word?
Die hewige debat oor die Cecil John Rhodes-standbeeld wat die afgelope drie weke “hiernatoe en soontoe” woed, het my gedagtes teruggeneem.
Dit was 2 Julie 2003. Twee Oos-Kapenaars, oudpresident Nelson Mandela en Jakes Gerwel, het die Westminster Hall in Londen binnegegaan. Onder oorverdowende applous van meer as 2 000 Rhodesbeurshouers het Madiba met sy linkerarm swaar op die regterarm van die seun van Kommadagga geleun. Die geleentheid was die viering van die 100ste bestaansjaar van die Rhodestrust en die stigting van die Mandela Rhodes-stigting (MRS).
Dit was die begin van ’n vennootskap tussen die Rhodestrust – wat sedert 1903 jaarliks die gesogte Rhodes-beurs aan verdienstelike nagraadse studente in verskeie lande soos Suid-Afrika toeken – en die nuutgestigte MRS.
Nou hoekom sou Madiba sy naam koppel aan ’n koloniale diktator soos Rhodes, wat in alle opsigte swart mense se regte vertrap het?
Vir my lê die antwoord in Madiba se toespraak:
We have agreed to support this joint initiative believing that the bringing together of those two names represents a symbolic moment in the closing of the historic circle. And we know with confidence that the work of the Mandela Rhodes Foundation will substantively contribute to a better life for the people of South Africa and further on the African continent.
Madiba het, in plaas van om in die verlede vas te haak, visionêre leierskap getoon om die rykdom wat Rhodes in Suid-Afrika opgebou het, sinvol in vennootskap met die Rhodes Trust aan te wend tot voordeel van swart, bruin en wit nagraadse studente.
In sy toespraak het Madiba gesê Gerwel was die hoofargitek van die inisiatief; ook die persoon wat hom oortuig het.
So ook was dit Gerwel wat Ingrid Jonker se gedig “Die Kind” in Madiba se eerste parlementêre toespraak ingeskryf het en die Betsie Verwoerd-besoek in Orania geïnisieer het. Gerwel het ook in 1994 vir die Vryheidsfront gestem “omdat die Afrikaner sy stem meer nodig gehad het as die ANC” – ’n stap wat Madiba later ten volle ondersteun het. Ook het Gerwel nuwe geloofwaardigheid aan Naspers se koerante – soos Die Burger, wat eens apartheid en die NP ondersteun het – verleen deur in sy direksie en as Media24-voorsitter te dien.
In haar boek Goeiemôre, Mnr Mandela skryf Zelda la Grange dat Gerwel die middelpunt van al Madiba se besluite was.
Gerwel was dus die bruin (Khoi-) katalisator. Nou wag ons vir die volgende bruin (Khoi-) katalisator.
Lees ook Undercover Afrikaners?.
Lees ook “Oor monnemente gepraat” en ander mymerings oor gevalle helde.
Lees ook Rhodes moes val: Gedagtes oor dekolonisering en swart historiese agentskap.


Kommentaar
Baie dankie vir die hulde wat jy bring aan Jakes Gerwel, een van die grootste en eerbaarste Suid-Afrikaners ooit. En vir die manier waarop jy dit bring.
Dankie Jason vir weereens ʼn baie insiggewende artikel maar ek dink jy sit die bal mis as jy praat van waar is die volgende Bruin leier want hulle is daar alreeds lankal en is die land vol. Kom ons dink maar aan Sisulu, die klein Sexwale-kinders wat met die regte invloed leiers gaan wees al gaan hulle dit dalk nie erken nie maar ONS sal weet. En ... was Madiba dan nie San nie? Sy DNA-toetse het dit bewys. Dit het onder andere gesê:
“Mandela's DNA results, taken from a sample a couple of years ago, show that he is descended from the earliest inhabitants of Africa, the San people. Their mitochondrial DNA (mtiDNA) contains the earliest genetic print of all human beings, called L1. He also is descended from a group of Africans from the Great Lakes region in East Africa.”
So Jakes en Madiba was eintlik familie en het mekaar juis daarom ondersteun toe hulle in Londen aangekom het en dis ook waarom Madiba na hom geluister het. Die klomp om hom het dit nooit agtergekom nie want sal hulle dit dan nou erken? My stuiwer in die armbeurs! Want soos jy weet is ek ʼn propperse Kullid!
As jy nie Khoi of San of deel van die Bruin konneksie is nie, dan is jy van elders!