
(Bron: http://www.somersetbudget.co.za)
Wat spog jul so met julle monnemente?
Hy's groot ma' lielak, en staan so kaal
da' op sy koppie. Wie't vir hom betaal –
al daai graniet en marmer en sement?O ja, hy's groter as 'n sirkustent –
ma' waa's die pêd, die mooi nooi innie saal?
die lekka clowns, die leeus in die kraal?
Nei, daa's g'n spôts nie vir jou Kaapse kjend!Hier het ons stetjoes, elkeen soos 'n mens:
ou Afduim-Murray, Hofmeyr met sy pens;
hier's Jan van Riebeeck, bakgat aangetrek
in sy plus-fours; Cecil Rhodes wat jou wys
wa' die reisiesbaan lê; en vorie Paalmint-hys
ou Mies Victôria met ha' klein spanspek.“Oor monnemente gepraat”, Peter Blum
My onthou en jou vergeet, net dáár lê die onding
In dieselfde week waarin die sluipmoord op Chris Hani herdenk word en Cecil John Rhodes se standbeeld op die kampus van die Universiteit van Kaapstad “sneuwel”, ry ek die grondpad teen ’n heuwel in Lingelihle uit om die gedenktuin van die Cradock Vier te besoek.
In opdrag van dié wat tóé in beheer was, is hulle op 27 Junie 1985, “permanent uit die samelewing verwyder”.
Matthew Goniwe, Fort Calata, Sparrow Mkonto en Sicelo Mhlauli.

En opnuut besef ek dat ons Suid-Afrikaanse samelewing nie ’n samebindende verlede het nie. Die een se held is steeds die ander se skurk. My onthou, en jou vergeet ...
’n Goeie gros inwoners aan die verkeerde kant van die ekonomiese muntstuk voel daar is ongedane sake – sake wat in 1994 en die daaropvolgende Mandela-jare ter wille van nasionale versoening agterweë gelaat is, onder die mat gevee is.
Sommige kamerade het gehoop op ’n oorgang soortgelyk aan dié wat deur televisiebeelde ná die val van vele diktators die wêreld ingestuur is – standbeelde van die Groot Leiers wat deur jubelende, bevryde skares onseremonieel van hul voetstukke afgeruk word; dan ook die bloed en vuur – beide tekens van die groot suiwering, ’n soort ritueel om van die drogbeelde van die verlede afskeid te neem … om ons te reinig.
Ander het gehoop en is op sleeptou geneem op ’n droomreis na ’n smettelose wit Volkstaat, waar die swart onderdane plegtig hulle plek sou ken of hardhandig op hulle plek gesit sou word.
Maar ons revolusie het anders verloop – dit is gechoreografeer, semanties verpak in houers – wigte en teenwigte, strategiese belange, sogenaamde sonsondergangklousules en stil-stil stoele uitruil in die kapitalistiese raadsale. Die hoofaandeelhouers en uitvoerende direkteure (met besluitnemingsbevoegdheid) van Nuwe Bedeling Ingelyf (voorheen Suid-Afrika Edms Bpk) het grootliks onverander gebly.
En die massas raak stadig ongeduldig. Die pitsweer dreig om te bars. Die politici sit pleisters op en belowe.
Van waar ek op die kop by die gedenktuin staan, kan ek kyk tot by die ander koppie waar die oorskot van Olive Schreiner, haar man, kind en hond weggebêre lê. Ek wonder wat sy nóú sou sê oor Cecil John Rhodes? In hierdie selfde maand, 118 jaar gelede, skryf sy aan John X Merriman:
We fight Rhodes because he means so much of oppression, injustice, and moral degradation to South Africa; – but if he passed away tomorrow there still remains the terrible fact that something in our society has formed the matrix which has fed, nourished, and built up such a man!
Die skaal neem soms meer as ’n leeftyd om te swaai …
Olive, jy kan gerus dáár ’n glas lig!
Ek wonder ook hoe sy sou voel oor daardie nuwe generasie feministe in Kaapstad – dié wat nie bra’s verbrand nie, maar gebruikte sanitêre doekies op Rhodes stort.

Hoe verset jy jou teen vergeet, hoe kom jy in opstand vir onthou?

Die geverfde rotse laat geen twyfel oor wie hier eiendomsreg eis nie.
Die gedenktuin is verlate – ’n veiligheidswag kom skuif die hek oop.
Van die mooi voornemens tydens die amptelike sooispitseremonie op 9 Julie 2007 het daar ... wel … aalwyn en klip gekom. R15 miljoen rand is toe vir die projek bewillig. Die destydse adjunkminister van omgewingsake en toerisme, Rejoice Mabudafhasi, het onder meer die volgende in haar toespraak gesê:
The Garden of Remembrance is funded as part of the department’s social responsibility programme which aims to contribute to the poverty alleviation and development efforts of government in general.
Verder op die regering se webblad word ook verklaar:
Mabudafhasi concluded by stating that the best way to remember and honour the Cradock Four was to ensure the viability and sustainability of the Cradock Four Garden of Remembrance as a vehicle for creating a better life for all.
Maar byna agt jaar later, en na nog miljoene vir herstelwerk ná vandalisme, sien die gedenktuin (om dit sagkens te stel) sleg daar uit. Dit is ’n klad op die naam van Cradock en sy patetiese manier om eer te probeer betoon aan mense wat gehelp het om aardverskuiwende verandering teweeg te bring in ons geknelde land.
Die geboue waar die ontvangslokaal, snoepwinkels en toiletgeriewe vir besoekers gehuisves was, is sleg toegegroei of gestroop en beskadig. Skielik maak die advertensie van die Inxuba Yethemba Munisipaliteit van 30 Oktober 2014 vir my sin. Daarin word tenders aangevra vir “Security services for the Cradock Four Garden of Remembrance”. Van die vereistes is:
24/7 duration armed guards
Monthly incident reports to client
Communication with main office.
Maar dit lyk nie juis of die veiligheidsmaatskappy enigsins hond haaraf maak nie:






Die geheue is ’n glyjakkals
Terwyl ek deur die vervalle gedenktuin beweeg, dink ek terug aan ’n onvoltooide artikel wat ek ’n paar jaar gelede geskrywe het ná ’n gedenklesing ter ere van die Cradock Vier, gelewer deur Derek Swartz, verbonde aan die Neslon Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth. Ek gaan krap in die geheue van my rekenaar rond en kom daarop af. Ek noem dit “A tale of two towns”. Dit word ook die storie oor ons verdeelde land ...
Dit is die voormalige staatspresident, Thabo Mbeki, wat hom die gramskap van menige wit inwoner op die hals gehaal het met sy verwysing na ’n Suid-Afrika wat uit twee wêrelde sou bestaan: ’n swart, hoofsaaklik arm deel, en dan, met teenpool, ’n wit, hoofsaaklik bevoorregte deel.
Die beeld bly by my spook tydens twee geleenthede wat ek op Cradock bygewoon het.
Die eerste, die lesing deur Swartz, een van die laaste mense wat op die nag van die Vier se verdwyning met hulle kontak gehad het. Van die sprekers verwys gemoedelik na hom as “Comrade Professor”. Die gehoor bestaan uit familielede van die gevalle helde, ampsdraers en politieke funksionarisse van die nuwe bedeling, onderwysers en ander lede van die algemene publiek, hoofsaaklik middeljarig – die jonges weet nie hiervan nie, of is besig met ander, dwingender agendas.
Daar is meer besoekende wit joernaliste as wat daar plaaslike wit inwoners is. Om die waarheid te sê, ek het net twee getel, en selfs hulle het nie die volle sessie bygewoon nie. Moes loop as gevolg van “ander verpligtinge” omdat verrigtinge weens “technicalities” laat begin het.
Bygesê, aan die ander kant van die dorp was die sirkus besig om tent op te slaan en op die skouterrein is reggemaak vir die jaarlikse landbouskou, ’n welkome inspuiting in die plaaslike futlose ekonomie.
Ek wonder net watter impak dit op die swart gehoor sou hê indien ’n plaaslike dominee met sy wit gemeente hier sou instap om die lesing by te woon? ’n Teken van versoening, ’n uitreik oor die kloof – maar dominees preek liewer oor sonde en hel en hiernamaals. Dit is die makliker keuses in hierdie land.
Die volgende aand word daar in die dorp by ’n plaaslike hotel ’n filmvertoning gehou. David Forbes se bekroonde dokumentêr oor die Cradock Vier. Hierdie keer is die samestelling anders as by die gedenklesing. Ek en ’n vriend is die enigste mense van kleur in ’n gehoor met ’n meerderheid oorsese toeriste en ’n halfdosyn plaaslike wittes wat almal op die een of ander manier “ampshalwe” teenwoordig is, ook die hoteleienaars. Ons kyk in stilte. Knop in die keel.
Twee vrae na die tyd deur die oorsese toeriste: “Where are all the black people?” en “What happened to these people?” (synde die lede van die veiligheidsestablishment wat by die moorde betrokke was). Die regisseur wys daarop dat van die mense opgeneem is in Nasionale Intelligensie, dat die slagoffers se naasbestaandes nooit berading ontvang het nie.
Weer ’n ongemaklike stilte.
Tot hier die aanhaling uit die teks.
11 April 2015
Hierdie Vier het ’n rol gespeel in die eerste suksesvolle verbruikersboikotte, een van die langste skoolboikotte, die eerste swart munisipale struktuur wat en masse bedank het.
Maar teen die hang is die herinneringe aan hulle besig om te verval, te vervaag.
Ons het slotte, gewapende veiligheidswagte en ’n veiligheidsheining nodig om hulle teen die tyd te beskerm.
Uiteindelik verweer alles, kom daar ’n nuwe generasie wat die “delete”-knoppie van die geskiedenis kom druk, wat die geheue “reboot”.
Matthew Goniwe, Fort Calata, Sparrow Mkonto en Sicelo Mhlauli.
Gaan julle nou weer permanent uit die samelewing verwyder word?
Hoe ironies sal dit nie wees as daardie koloniale beelde waaroor daar nou baklei word, almal ’n veel langer lewe gehad het as dié van die nuwe helde wat nou deur hul eie mense versaak word nie.
Lees ook Undercover Afrikaners?.
Lees ook Rhodes-debat: Gister se leiers, vandag se leiers.
Lees ook Rhodes moes val: Gedagtes oor dekolonisering en swart historiese agentskap.


Kommentaar
Wat 'n ontstellende artikel, Clinton! Dankie daarvoor. In hierdie stadium het ek nie woorde nie. Margot
Clinton, van uit een ver Vlaanderen, dat bijna stikt onder de herdenkingen van de Groote Oorlog in 14-18, gegroet! Het is bijzonder scherp bekeken, en heel goed dat je opkomt voor de herinnering. Hopelijk klinkt je roep luid genoeg om velen wakker te schudden.
Sjoe! Ek hóú van "Oor monnemente gepraat", daarom het ek verder gelees. Laat my dink aan die woorde van - is dit? - DF Malan: "Neem uit die verlede wat goed ... is en bou daarop die toekoms." Hoe gaan ons leer uit die goeie én uit die foute in die verlede as ons die verlede ignoreer of vernietig? Leer ons ooit?
Die woorde skitter en die emosies skryn. Briljant en met baie menslikheid geskryf. Onthou en vergeet is die rigsnoer. Om die regte maat vir elk te vind, is moeilik. Juis dalk omdat mense so onbeholpe en skaam voel en dit soms as ongevoelig oorkom; of omdat die een se seer nie in die hart van die ander gevoel (kan?) word nie.