Undercover Afrikaners?

  • 4

Fotobron: http://www.biznews.com/briefs/2015/04/09/uct-decides-rhodes-must-go/

Christiaan Bronkhorst is ’n voorgraadse Afrikaanssprekende student aan die UK.

Ek klim op die bus. Gaan staan voor, net agter die busdrywer. “Goeie môre Kate,” groet ek haar, “hoe gaan dit vanoggend?”

“Nee, goed dankie, Stefan. Hulle’t my mos op hierdie new shift gesit, so ek’s amper klaar met werk.”

Stefan. Die gekroonde. Die heilige martelaar. Maar dit is nie ek nie. Kan sy my naam dan nie onthou nie?

“Ek’s bly om dit te hoor. Gaan dit verder goed by die huis, Kate, met die kinders en so aan?”

“Ja, alles goed.” Sy pluk aan die stuurwiel en die bus brom aan die lewe. ’n Student naby my sê: “Haai. Ek’t nie geweet daar’s Afrikaners by UCT nie.” Die meisie langs hom lag verleë. “Ja,” sê ek, “ons is hier. Ons is net undercover.” Ons word stil, praat eerder met glas en plastiek. Die bus sug eindelik langs Bremner-huis tot stilstand. Ek klim uit. Die somer se laaste stuiptrekkings hang in die lug.

*

Christiaan Bronkhorst

Die lede van die #RhodesMustFall-studentebeweging beskou die standbeeld van Cecil John Rhodes by die UK as ’n simbool van die gebrek aan transformasie by die instelling. Alhoewel die studente hul wens gekry het, en die standbeeld nou verwyder is, is die debat rondom transformasie nog lank nie verby nie. Inteendeel, mens kry die indruk dat die debat nou maar eers begin het.

Die manier waarop die debat in die kollig geplaas is – deur ’n student wat menslike ontlasting oor die standbeeld van Rhodes uitgegooi het – het landwyd sterk reaksie ontlok. Benewens die bekende retoriek van antikolonialisme en die (on)aanvaarbaarheid van die taktieke wat deur die studente gebruik is, het die debat ook sterk kritiek ontlok oor die rol wat Afrikaanse studente aan die UK speel.

In ’n rubriek wat net na die begin van #RhodesMustFall geskryf is, versug Sonja Loots die Afrikaanse studente wat tydens ’n openbare forum oor transformasie, en tydens die groter transformasiedebat by die UK, “geskitter het in hul afwesigheid” (Rapport,22 Maart). “Dit gaan nie net oor die Ikeys nie,” skryf Loots verder in dié rubriek, “maar oor álle Afrikaanse studente wat onbelangstellend en oningelig in die kantlyn rondploeter.”

Mens vra onmiddellik wat Loots met “Afrikaanse studente” bedoel. Die realiteit is dat daar by die UK – en by enige ander Suid-Afrikaanse universiteit – geen heterogene groepering “Afrikaanse” studente is nie. Al word Afrikaans as moedertaal deur ’n groot aantal wit, bruin, en selfs swart studente gedeel, is dit onregverdig om te verwag dat hierdie studente, wat almal verskillende agtergronde en lewensperspektiewe het, met dieselfde stem sal praat. Dit is derhalwe dalk beter om van die problematiese “Afrikaanse studente” af weg te beweeg en eerder van “Afrikaanse stemme” te praat.

Maar Loots is oor die algemeen reg om te vra waarom geen Afrikaanse stemme tydens die transformasiedebat by die UK gehoor word nie. Ongelukkig versuim sy om die onderskeid te maak tussen die Afrikaanssprekende studente wat glad nie by die debat betrokke wil raak nie, en dié wat daaraan wil deelneem sonder om hulself as Afrikaanssprekend te identifiseer. Ons moet dus twee vrae beantwoord: “Hoekom is Afrikaanssprekende studente onbetrokke by die transformasieproses?” en “As hulle wel betrokke is, waarom is hulle undercover?”.

Sonja Loots

Afrikaanssprekende studente – en hiermee bedoel ek eintlik Afrikanerstudente – het tydens die 1960’s protes teen die standbeeld van Rhodes gelewer. Hierdie studente het Rhodes as ’n simbool van die Britse onderdrukking van die Afrikaner tydens die Anglo-Boereoorlog beskou. Die Anglo-Boereoorlog was toe nog ’n prominente invloed op die Afrikanerpsige, en baie van die studente wat teen Rhodes gekant was, sou ouers en grootouers gehad het wat tydens die oorlog geleef het. Suid-Afrika het destyds ook onlangs sy onafhanklikheid van Groot-Brittanje verklaar.

Mens kan maklik ’n ooreenkoms vind tussen daardie protes en die huidige een. Baie van die studente wat tans teen Rhodes gekant is, al is hulle te jonk om regtig apartheid te onthou, het ouers en grootouers wat daaronder gely het. Die geheue van onderdrukking tydens apartheid het dus nog ’n groot invloed op hul denkwyse. Daar is ook ’n algemene gevoel onder sulke studente dat hulle so pas aan die formele onderdrukking van apartheid ontsnap het, maar dat hierdie voormalige onderdrukking steeds ’n negatiewe invloed op hul lewens het. Daarom is die protes teen die standbeeld van Rhodes eintlik net ’n faset van die groter debat rondom transformasie by die UK. Die #RhodesMustFall-beweging veg eintlik teen die marginalisering van swart studente en akademici wat, volgens die beweging, by die universiteit waargeneem word.

Hierdie vergelyking verklaar dalk hoekom Afrikanerstudente nie aan die transformasiedebat wil deelneem nie. Die sterk gevoelens teen Engelse onderdrukking wat tydens die 1960’s prominent was, het na vyftig jaar nie meer so ’n sterk invloed op Afrikanerbewussyn nie. Afrikanernasionalisme is ook, om ’n groot aantal redes, waaronder die einde van apartheid seker die belangrikste is, nie meer so invloedryk nie. Rhodes is bloot nie meer so kragtig ’n simbool van Afrikaneronderdrukking soos wat hy voorheen was nie, en daarom is Afrikanerstudente dalk apaties oor die beeld se toekoms.

Mens moet ook nie die stigma wat Afrikaans as taal as gevolg van apartheid gekry het, vergeet nie. Afrikaans word deur baie Suid-Afrikaners as die taal van die onderdrukker beskou. Die beskouing is natuurlik sterk in die nasionale bewussyn bevestig deur historiese gebeure soos die 1976-Soweto-protesoptogte teen gedwonge onderrig in Afrikaans. Jong Afrikaners wat nie met apartheid of met rassisme geassosieer wil word nie, is dus vermoedelik skaam om “die taal van die onderdrukker” in die openbaar te gebruik. Dit is dalk ook die geval dat hulle nie met radikale Afrikaners soos Steve Hofmeyr of Sunette Bridges geassosieer wil word nie, en daarom bly hul liewer stil.

Steve Hofmeyr (http://stevehofmeyr.co.za/gallery/fotos/)

Die skudgevoelens wat jong Afrikaners oor apartheid het, verhoed ook hul deelname aan die transformasiedebat, want hulle voel asof hulle nie die reg het om oor transformasiekwessies hul mening te gee nie. Dit is moeilik om van Rhodes as onderdrukker te praat as jou eie kultuur as onderdrukkend beskou word. Dit is dalk veral die geval in die debat rondom die marginalisering van swart studente en akademici by die UK, omdat #RhodesMustFall inspirasie uit die Swartbewussynsbeweging put.

#RhodesMustFall het ook ’n emosionele komponent: studente het op die Rhodes-standbeeld gespoeg, dit met planke geslaan, ontlasting daarop uitgegooi. Die senotaaf wat in hulde aan die soldate van die wêreldoorloë opgerig is, is besmeer met neon-oranje letters wat skreeu “Fuck Rhodes”. Graffiti op kampus lees “Down with white supremacy”. Natuurlik fokus die Afrikaanse pers op hierdie negatiewe aspekte van die beweging, en nie op die feit dat die beweging oor die algemeen vreedsame en konstruktiewe debat opgelewer het.

Daar bestaan dus ’n persepsie dat dit vir Afrikanerstudente gevaarlik sal wees om deel te neem. Ter voorbeeld: ’n Afrikaanssprekende dosent aan die UK het ’n klas gewaarsku om nie na een van die #RhodesMustFall optogte te gaan nie, juis omdat die dosent bang was dat die studente in gevaar sou wees.

Maar wat van Afrikaanssprekende studente wat nie Afrikaners is nie? Ons weet dat bruin studente wel bereid is om hulself as Afrikaanssprekend te identifiseer. As voorbeeld daarvan hoef ons net na hul protes teen die UK se nuwe toelatingsbeleid te kyk. Bruin studente wat moedertaal-Afrikaanssprekend is, het beswaar gemaak teen die nuwe beleid, want die beleid beskou moedertaalsprekers van inheemse “Afrikatale” as voorheen benadeel, maar gee geen so toegif aan bruin studente wat Afrikaans praat nie. Hoekom is bruin studente wat wel bereid is om hulself in ander kontekste as Afrikaanssprekendes te identifiseer, nie bereid om dit in die transformasiedebat te doen nie?

Die stigma van Afrikaans as “taal van die onderdrukker” speel weer eens ’n rol. Bruin Afrikaanssprekendes, wat tradisioneel in die Afrikaanssprekende wêreld gemarginaliseer is, wil vermoedelik nie tydens hierdie debat met Afrikaners geassosieer word nie. Dalk is hulle bang dat hulle as verraaiers van die struggle beskou sou word, of dat hulle tradisionele marginalisering deur die apartheidstelsel geïgnoreer sou word omdat hulle in die “taal van die onderdrukker” praat. Des te meer die swart moedertaalspreker, wat oënskynlik bang is om as rasverraaier beskou te word.

’n Ander rede vir Afrikaanssprekende studente se stilte is dalk dat hulle bloot op hul studies en persoonlike lewens wil fokus. Hulle mag eenvoudig net te besig wees om oor die transformasiedebat om te gee. ’n Meer subtiele beskouing kan dalk op bruin of swart Afrikaanssprekende toegepas word: hulle fokus dalk op hul studies om meer lede van hul families die kans te gee om universiteit toe te gaan, en bevorder sodoende transformasie.

Die oorkoepelende vraag is: “Hoekom moet Afrikaanssprekende studente as Afrikaanssprekendes aan die transformasiedebat deelneem?” As Afrikaanssprekende studente nie met radikale, rassistiese figure geassosieer wil wees nie, moet hulle wys dat hulle nie so is nie. Mense soos Steve Hofmeyr of Sunette Bridges verteenwoordig nie die hele Afrikanerdom nie, al dink hulle ook so. As die persepsie ontstaan dat alle Afrikaners radikaal, en selfs rassisties, is, al is dit in die werklikheid nie die geval nie, word dit al hoe moeiliker vir Afrikaanssprekendes om in die nasionale diskoers ernstig opgeneem te word.

Daar is baie studente en akademici – swart, bruin en wit – wat opinies oor die Rhodes-standbeeld het wat anders is as dié van #RhodesMustFall. Maar hulle deel nie hierdie opinies nie, omdat hulle bang is hulle word kolonialiste of rassiste genoem. Die mees radikale figure het gewoonlik ook ongelukkig die grootste bekke. As ons ’n ernstige, konstruktiewe debat wil hê, moet ons – aan watter van die vele kante van die debat ons ook al mag behoort – bereid wees om ons opinie met ander te deel. Ek bedoel nie dat Afrikaanssprekende studente skielik die #RhodesMustFall-beweging moet kaap nie. Inteendeel, ons moet eerder deel word van die geselskap, sonder om dit te wil domineer.

Die neiging van ons samelewing om mense in netjiese vakkies te plaas kan bevraagteken word net as mense bereid is om hul stemme dik te maak. Die proses sal in die begin moeilik wees, en ons gaan goed sê wat mekaar woedend maak. Maar hopelik ontwikkel ons die volwassenheid om mekaar toe te laat om opinies te deel sonder om hulle met die retoriek van die verlede te dreig.

Die verhaaltjie waarmee ek hierdie artikel begin het, het werklik gebeur. Ek besef dat ek, ’n basterboer uit Bloemfontein, nie die reg het om as verteenwoordiger van alle Afrikaanssprekende studente te praat nie. Ek besef dat daar etlike studente is wat met my sal saamstem, of wat met my sal verskil. Maar ek hoop, soos almal wat aan die debat deelneem, dat hierdie onseker stem van my nie net geïgnoreer gaan word nie.

Lees ook “Oor monnemente gepraat” en ander mymerings oor gevalle helde.
Lees ook Rhodes-debat: Gister se leiers, vandag se leiers.
Lees ook Rhodes moes val: Gedagtes oor dekolonisering en swart historiese agentskap.

Skryf 'n gedig oor standbeelde en wen R2000!

  • 4

Kommentaar

  • Ja, alles voel waar wat geskryf is. Dit is dalk tog moontlik dat hierdie komplekse proses waardeur ons samelewing nou gaan te veel energie verg, energie wat vir oorlewing gebruik moet word. Dalk het die Romeine ook so gevoel na die val van die ryk.

  • Die aanname binne hierdie skrywe is dat ''transformasie'' sonder meer deur een en almal ondersteun móét word. Maar kyk wat skryf Gareth van Onselen oor die totalitêre aard van hierdie eis:"Zoom out further still and, as the backdrop, we are faced with a majority party, and state, increasingly becoming illegitimate in every sense other than electorally. It breaks institutions in its own fashion, through neglect, manipulation, and negligence. But it has achieved one thing above all else: a hegemonic grip on our democratic lexicon. And, of all the language it has inextricably infused into every branch of government, including the fourth estate, the idea of "transformation" stands out as singular. It is a word that operates beyond meaning, for it means everything and, in turn, nothing at all. It can justify cadre deployment just as easily as it legitimises quotas; it can have fundamental adjectives before it such as 'radical' or 'complete'; it can be applied to the private lives of individuals and the behaviour of public representatives; it can be the conclusion of an entire government policy or a single word cited to terminate someone’s employment. It is all-powerful and all have bowed before its power."

    Die aanhaling kom uit die volgende betoog:

    http://www.bdlive.co.za/opinion/columnists/2015/04/15/the-rhodes-statue-of-mad-panics-and-permanence

  • Stalin het op 'n stadium gesê dat 'n leuen wat genoeg oor en oor vertel word, later die waarheid word. Dit geld ook vir die bordjie wat die afgelope tyd so mildelik om Steve Hofmeyr en Sunette Bridges se nekke gehang word. Arme Christiaan het dit vir die waarheid gehoor en nou verkondig hy ook hierdie leuen.

  • Johannes Comestor

    Die jeudige Christiaan het 'n goed ingeligte, duidelike, sistematiese artikel gelewer. Die kernwoord (in die voorlaaste paragraaf) waarmee sy standpunt opgesom kan word (en dit impliseer nie dat ek met alles saamstem nie) is "volwassenheid". Dit is veel meer as waarop Sonja Loots volgens haar uitsprake (ooit) aanspraak sou kon maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top