Reusagtig soos Zelenski, Oekraïne op my TV-skerm: Lag. En húil.

  • 1

...
Net soos sy alter ego in die film beroep Zelenski hom op sy kennis van die geskiedenis. Hy betig die Europese en Amerikaanse leiers met wapens uit die geskiedenis: wat met hulle gebeur het, wat hul leiers destyds self gesê het. Hy ontwapen hulle met sy kennis van húlle verlede.
...
Wladimir skiet op burgerlikes, hospitale, woonbuurte. Sagte teikens. Wladimir beroep hom op fopnuus om homself te verontskuldig. Wladimir verbied sy mense toegang tot die internet.
...

Ek sit die laaste weke pal met die afstandbeheerder in my hand en spring tussen die verskillende internasionale nuuskanale deur: BBC, CNN, RT (voor hulle gemuilband is), Deutsche Welle, Aljazeera, en ander.

Die oorlog speel voor ons oë af. In real time, feitlik soos dit gebeur.

Die omvang van alles is skrikwekkend. Die omvang van vernietiging. Die omvang van mense se angs. Die omvang van een mens se arrogansie. Die getalle neem eksponensieel toe en raak daagliks al meer onvoorspelbaar en onvoorstelbaar. 

En toe kom gooi Netflix ook ’n speek in die wiel met die uitsending van die komediereeks waarin Wolodimir Zelenski die rol van president van Oekraïne gespeel het. Servant of the people word dit in Engels vertaal. Ek kyk dit in die oorspronklike Russies/Oekraïens met Engelse onderskrifte.

Hy is klein van gestalte. Hy is ’n geskiedenisonderwyser by ’n hoërskool in Kiëf. Hy is kundig en toegewyd en ervare. Maar sy kollegas sien neer op sy vak en kom haal sy leerders uit die klaskamer om te help met die voorbereiding van die verkiesing. Hoekom nie die ander klas nie? Want hulle is besig met wiskunde, ’n vak wat glo belangriker as geskiedenis is. Die geskiedenisonderwyser verloor sy humeur. Sy woede oor die verkiesing en korrupsie in die land beland op sosiale media. Die kiesers stem oorweldigend saam met sy standpunte en sy leerders por hom aan en samel geld in sodat hy hom verkiesbaar kan stel. En hy word president van die land.

Die naam van die akteur? Wolodimir Zelenski. Wat in die regte lewe president van Oekraïne geword het.

Die openingstonele van Servant of the people wys hoe mooi die hoofstad is. Daar is talle historiese geboue, die breë rivier wat deur die stad vloei, die sjiek geklede inwoners. Alles skep die indruk van ’n stokou, moderne Europese stad. 

En daar is die onortodokse nuwe president wat self afstand gedoen het van sy lang slap swart motor en entourage wat met loeiende sirenes deur die stad jaag. Die beelde wys hoe die nuwe president op sy fiets ry. Werk toe. 

Hy speel die rol van iemand wat nog in goedheid glo, wat sy bes probeer om betroubare mense in belangrike posisies aan te stel. Maar die kyker sien die korrupsie wat hoogty vier en hoe die mense wat die naaste aan hom is, agter sy rug ook hul pond vleis eis. Al is dit ook ten koste van die burgers van die land. 

Die kyker sien Kiëf uit die oogpunt van die president, die een wat die mense voorop stel, die een wat ’n wesenlike verskil wil maak. 

Deur middel van die nuuskanale verneem die kyker van die impak van die oorlog uit verskillende bronne. En les bes ook uit die mond van ’n betrokke, onverskrokke president wie se stem al bekender klink.

Daagliks spreek hy wêreldleiers toe, spreek hy hulle aan, stel hy die voorbeeld. Hy maan Rusland en vermaan Europa en sy bondgenote. 

Die waarheid is vreemder as fiksie. 

Dit voel onwerklik, byna makaber om die twee gebeurtenisse, die TV-reeks en die TV-nuus, met die druk van ’n knoppie teen mekaar af te speel.

Daar is bykans dieselfde woorde soos in die TV-reeks, dieselfde gesig en gesigsuitdrukking. Soortgelyke beelde van die hoofstad Kiëf. Maar nou pryk dit ook – daagliks – in die nuus.

Daar is die beeld van die middestad van Kiëf, verskaf deur ’n webcam, daardie kameras wat 24/7 ’n ogie gooi oor ’n deel van ’n stad of ’n straat. Ek het die beeld reeds leer ken deur die talle nuusberigte op televisie, sedert die eerste inval in Februarie. Die Maidan-plein met ’n vroulike figuur op ’n hoë obelisk.

Dan kliek ek op Netflix op die komediereeks. Wanneer die (nou bekende) beeld van Maidan-plein voor my opdoem, is ek ’n paar sekondes lank uit die veld geslaan. Want teen dié tyd, waar die oorlog weke aan die gang is, kén ek as kyker reeds hierdie toneel.

Net soos sy alter ego in die film beroep Zelenski hom op sy kennis van die geskiedenis. Hy betig die Europese en Amerikaanse leiers met wapens uit die geskiedenis: wat met hulle gebeur het, wat hul leiers destyds self gesê het. Hy ontwapen hulle met sy kennis van húlle verlede.

Ek klik soms verward tussen die kanale en moet myself soms pertinent vermaan. Onthou hierdie is die pretensie, die komedie, die satire. 

En dié is die waarheid. Dié is die oorlog wat nou voor die oë afspeel. 

Soos die oorlog verdiep, nou al langer as ’n maand, word Zelenski se baard weliger. Die buitelandse joernaliste is gepantser en gekamoefleer en hul versinnebeeld al meer die idee van ingebedde oorlogskorrespondente. Soms praat hulle in fluisterstemme met die kamera.

Die vreedsame beeld van die Maidan-plein in Servant of the people verkry op die nuus ’n onheilspellende dimensie met die hoë klanke van ’n sirene: ’n waarskuwing van dreigende gevaar, ’n oproep om weg te kruip.

Zelenski se oproepe en toesprake neem toe, sy woorde raak dringender.

Dit is asof sy spel in Servant of the people hom op ’n manier voorberei het, ’n proeflopie was vir die “rol” wat hy nou speel. As akteur het hy die rol van ’n geskiedenisonderwyser gespeel.

In die TV-reeks, telkens wanneer hy voor ’n groot probleem te staan kom, verskyn ’n historiese figuur wat net hy kan sien. Dié figure gee hom raad, uit hulle eie ondervinding. So word hy byvoorbeeld deur Lodewyk XVI aangeraai om mense se koppe af te kap. Moenie jou tyd mors nie, niemand waardeer dit nie, aldus Lodewyk. En toe die “president” hom agternaroep: “Monsieur, wat moet ek doen?” is daar net een antwoord.

“Vlug!” gil die spook van Lodewyk XVI.

Raad wat die regte Zelenski reeds van die begin van die oorlog af ten sterkste afkeur. As akteur speel hy die rol van ’n president wat sy mense moed inpraat: “We are Ukrainians. We are brave. Strong. Free. We shall endure it.”

En in die regte lewe doen hy ook hierdie belofte gestand.

Die stryd tussen Wladimir en Wolodimir

Die groot fokus op die oorlog lei ook daartoe dat  ons algemene kennis oor Oekraïne, Rusland, Navo, ook eksponensieel uitbrei.

Ek stel ’n lesing saam oor die transliterasie van name en kan met vrug van Oekraïense en Russiese voorbeelde gebruik maak. Want dit is aktueel, dis nóú in die nuus, al die studente het toegang daartoe.

Mense praat vurig oor hierdie stryd tussen Wolodimir en Wladimir.

Wladimir skiet op burgerlikes, hospitale, woonbuurte. Sagte teikens. Wladimir beroep hom op fopnuus om homself te verontskuldig. Wladimir verbied sy mense toegang tot die internet.

Wolodimir benut die internet as sy luidspreker. As ervare, en suksesvolle, akteur ken hy die taal van die internet, verstaan hy die impak van die visuele beeld en van kragtige woorde. Hy is klein van gestalte, maar hy weet hoe om sy woorde in te span dat dit tréf waar dit moet.

Ek moet ook ’n module oor poësie vir die tweedejaars saamstel. Dit doen  ek graag, want ek hóú van gedigte ontleed. Die tema is wyd oop, ek kan kies. Maar dis asof daar net één tema voor my kom staan, net één digbundel: Oolog !

Vir my eie sieleheil in die alledaagse lewe lees ek graag wyd. En nou, met die oë van die wêreld volledig op Oos-Europa, is daar ’n vloedgolf van inligting op verskeie platforms.

Pen International hou gereelde gesprekke met skrywers en kunstenaars van Oekraïne. Ek maak aantekeninge van name, boeke en aanhalings om later verder te lees.

Saam met die nuuskanale kom ook die ontledings, soos die gespreksprogramme op Deutsche Welle. Markus Lanz is ’n gunsteling, weens die groot verskeidenheid gaste wat hy betrek. Politici word veral uitgevra oor Duitsland se rol in hierdie oorlog. Daar word veral  ook oor Poetin gepraat, dat dit vir hom nou gaan oor alles of niks; hy is nie toerekenbaar nie en die wêreld moet homself daarop voorberei.

Daar is indrukke van mense soos Natalie Klitschko, die vrou van Vitali Klitschko, eksbokser en nou burgemeester van Kiëf.

Die navorser Florence Gaub is van mening dat dit nie die bom is wat die wapen is nie. Die angs vir die bom is die wapen, sê sy. Dit is die spel met hierdie angs, wat so berekend gedoen word, wat gevaarlik is.

Die Russiese fliek Abteil Nummer 6 word nou geboikot, aldus die program Kulturzeit op DW.

Op Hard talk praat die BBC met Ilja Ponomarev, wat die stelling maak: Oorlogmisdadigers moet geëlimineer word.

’n Verdere, onvoorsiene, rol wat die TV-reeks in hierdie omstandighede speel: Vir die wêreld wat grootoog die oorlog op televisie volg, wys dit nie meer net ’n politieke satire nie, maar ook heel konkreet: ’n pragtige land met gewone mense wat net hul gang gegaan het, hul gewone lewens gelei het. Daar is dalk  ook ’n versugting om die land as toeris te kan besoek.

Dan klik jy weg van die TV-reeks na die nuuskanale en sien dieselfde land soos dit vandag daar uitsien: lieflike geboue vernietig; infrastruktuur, woongebiede, hospitale, skole, inkopiesentrums alles flenters geskiet. En die geweld neem elke dag toe.

Die werklikheid is inderdaad erger as fiksie. Die kyker sit met dié versugting: Was hierdie twee scenario’s maar eerder omgeruil!

In die TV-reeks uitoorlê die president sy teenstanders en seëvier uiteindelik. Die goeie oorwin die bose. Maar wat sal die regte Zelenski se uiteindelike lot wees? Ons sal maar moet wag en kyk.

Lees ook:

Oorlog en Vrede

Wat Hobhouse ons van Oekraïne kan leer

Humor in die oorlogsone: Eben Viktor gesels uit Oekraïne (21 Maart 2022 om 15:00)

Oekraïne: Berigte te velde

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top