Quo vadis, Tweederivier, oftewel: Lourensrivier?

  • 1

Foto van die Lourensfordrivier vanaf die hangbrug by Vergelegenlandgoed geneem. Foto deur HelenOnline - eie werk, CC BY-SA 3.0, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=29003598

  • The care of rivers is not a question of rivers but of the human heart. (Tanaka Shozo)

Die Lourensrivier ontspring in Watervalkloof en Nuwejaarskloof in die Hottentots-Holland-bergreeks, beskik oor ’n opvanggebied van 92 km² en is ongeveer 20 km lank. Volgens Van Zyl (2024) is die Diepgatravyn egter die hoofontstaansgebied van die rivier en die opvangoppervlakte beslaan ongeveer 130 km². Daar is nie noemenswaardige sytakke wat by die rivier aansluit nie, maar kleiner strome vanuit Landdroskloof en Sneeukopkloof vul die rivier se afloop aan. Die boloop van die rivier is hoofsaaklik op die Lourensford- en Vergelegen-wynlandgoedere geleë (Cliff 1982; Waterinfo s j). As gevolg van pogings deur die Lourensrivier Bewaringsgenootskap het die Lourensrivier, vanaf sy oorsprong tot by die uitmonding, die enigste volledige rivier in Suid-Afrika geword wat as 'n Natuurlike Bewaringsgebied verklaar is. Die beskermde gebied strek 45 m aan weerskante van die middellyn van die rivier.

Die rivier kan dus as ’n enkelkanaal- seisoenale rivier geklassifiseer word en mond uit in die Strand aan die Valsbaaise kus. Die monding word ingesluit by ’n voëlreservaat. Tussen die mondings van die Eersterivier en die Lourensrivier word geen hengelaktiwiteite toegelaat nie in ’n gebied wat as die Helderberg Mariene-beskermingsgebied bekendstaan (Waterinfo s j).

Vlak sanderige grond bedek die soliede onderliggende rotsgesteentes van die bergstreek waardeur die opvanggebied vloei. Die heuwels wat die rivierkloof omring, bestaan uit vlak bogronde wat op graniet, skalie en donkerkleurige sandsteen (greywacke) gedeponeer is. Die rivierkloof is grootliks bedek met sedimentafsettings wat tydens die Tersiêre en Kwartêre geologiese periodes gedeponeer is. Hierdie grond is alluviaal van oorsprong en bestaan hoofsaaklik uit klippe en klei (Cliff 1982).

Die Lourensrivier het aanvanklik as die Tweederivier bekendgestaan. Volgens Loopuyt (1972) het werknemers van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie wat op soek was na afgedwaalde vee, twee riviere teëgekom wat hulle onderskeidelik die Eerste- en Tweederivier genoem het. Eersterivier het sy oorspronklike naam deur die eeue heen behou, maar Tweederivier se naam is in 1671 na Breitenbachrivier verander en is kort daarna na korporaal Lourens Visser herbenoem. Breiten en Visser was albei amptenare in diens van die kompanjie.

Die rivier ontlok vir my ook vele aangename herinnering uit die verlede. Sewentig jaar gelede het ons as graad 1-tjokkers met ons fietse gery tot by die plaas Bizweni, geleë langs die oostelike oewer van die Lourensvier, heerlike uitvoergehalte-Barlinka en -Waltham Cross-druiwe by die plaasstalletjie gekoop en dit by die ou historiese sandsteenbrug geëet. Daar was ook forelle in die rivierwater en die versoeking was altyd daar om ’n lekker groot erdwurm as aas te gebruik om van die visse aan te keer (wat natuurlik verbode was). Die rivierwater was destyds van ’n uitsonderlik hoë gehalte.

Cliff en Grindley (1982:20) wys egter daarop dat die historiese brug bedreig word deur vloede wat die rivier sy walle gereeld laat oorstroom en sê: “The National Monument Bridge has a flow capacity associated with a one in two-year flood.” ’n Voorstel is destyds deur ’n groep raadgewende ingenieurs gemaak om ’n verbyvloeikanaalstelsel vir die brug te ontwerp wat die brug se vloeikapasiteit sou verbeter. Indien behoorlik beplan, sou dit bydra tot die bewaring van die brug sowel as die behoud van die oorspronklike rivierloop.

Historiese sandsteenbrug (Foto: die skrywer)

Volgens Whitfield en Matlala (2011) is verandering inherent deel van alle akwatiese omgewings. Seisoenale en jaarlikse fluktuasies kom voor omdat die hoeveelheid en verspreiding van reënval periodiek wissel. Akwatiese ekosisteme is egter aangepas by hierdie natuurlike vloeiwisselinge, en unieke akwatiese flora en fauna word op hierdie wyse gevorm, waarvan die meeste endemies aan ’n bepaalde streek is. Hierdie ekosisteme is egter dikwels nie goed aangepas by die bykomende stres wat deur menslike aktiwiteite veroorsaak word nie, byvoorbeeld besoedeling, gronderosie en oorbenutting/onttrekking van rivierwater.

King, Scheepers, Fisher, Reinecke en Smith (2003) noem dat rivierekosisteme ernstig beskadig word deur kanalisering, wateronttrekking, besoedeling en die verlies aan habitatdiversiteit. Rehabilitasie is noodsaaklik om ekologiese funksies en die sosiale voordele van riviere te herstel. Dié navorsingsgroep wys op die volgende beginsels onderliggend aan deeglike beplanning wat in gedagte gehou moet word: Begrip van en respek vir die natuurlike prosesse is van deurslaggewende belang; beide simptome en oorsake moet deeglik in ag geneem word; multidissiplinêre samewerking en deeglike monitering is noodsaaklik vir sukses; opvanggebiede moet in projekbeplanning ingesluit word (maw van oorsprong tot monding); ekosisteme is dinamies en verander met verloop van tyd. Die volgende aanbevelings word deur King ea (2003) gemaak: die vestiging van ’n nasionale sentrum vir rivierrehabilitasie; die aanmoediging van internasionale samewerking en wetenskaplike portuurevaluering van projekte; die ontwikkeling van riglyne en beleidsbeginsels wat op empiriese navorsing gebaseer is; die bevordering van sterker skakeling tussen die wetenskap, bestuur en beleid.

Die kwaliteit van ’n riviersisteem word normaalweg in empiriese navorsing beoordeel in terme van fisiese, chemiese en biologiese kriteria wat in terme van ’n waterkwaliteitsindeks geïntegreer word (Raven, Holmes, Dawson en Everard 1998).

........
Die kwaliteit van ’n riviersisteem word normaalweg in empiriese navorsing beoordeel in terme van fisiese, chemiese en biologiese kriteria wat in terme van ’n waterkwaliteitsindeks geïntegreer word (Raven, Holmes, Dawson en Everard 1998).
.........

Volgens die River Health Programme (2003) is die monitering van riviere se “fisiesegesondheidsvlak” ’n wetlike vereiste soos gestipuleer word deur die Nasionale Waterwet van 1998. Die resultate van hierdie moniteringsverslae vorm verder ’n belangrike basis vir die toepassing van die Nasionale Omgewingsbestuurswet van 1998.

Hutchins en sy Britse medewerkers (2026) stel dit onomwonde dat riviere toenemend aan omgewingstres blootgestel word, gevolglik is ’n kernbelangrike faktor die doeltreffende bestuur van riviere, wat deeglike begrip van die reaksies van riviere op grond van die impak van veranderende omgewingsfaktore vereis. Oor ’n tydperk van 15 jaar is ’n steekproef van 30 riviere in Engeland bestudeer om betroubare inligting te bekom oor hoe verskillende omgewing- en klimaatsfaktore die watergehalte beïnvloed. Daar is van gedetailleerde, uurlikse datastelle gebruikgemaak om rekenaarmodelle te ontwikkel as indikatore van die wyse waarop rivierekosisteme op lang termyn funksioneer, deur daaglikse veranderinge in byvoorbeeld temperatuur- en suurstofvlakke te monitor. Daar is bevind dat 10 Britse riviere oormatige voedingstowwe bevat, wat algontwikkeling bevorder (’n toestand wat as eutrofikasie bekendstaan); drie riviere het beduidend lae suurstofvlakke getoon, wat visse en ander waterlewe ernstig benadeel, en in die water van 11 riviere is uitsonderlik hoë bakteriële besmetting (E coli) gemeet.

Wat presies behels die huidige stand van sake wat die kwaliteit of “gesondheidsvlak” van die Lourensrivier in die algemeen betref? Watter navorsing word uitgevoer om ’n holistiese beeld te vorm van wysiginge in die waterkwaliteit en morfologie van die rivier? Watter pogings word aangewend om die riviersisteem in stand te hou en te rehabiliteer waar dit dwingend noodsaaklik is? Word hierdie rivier werklik deur die samelewing en verantwoordelike bestuursliggame na waarde geskat in terme van die voordele van die rivier?

Navorsingsbevindings

Enkele voorbeelde van navorsingstudies wat in verband met die watergehalte, morfologie en habitat van die Lourensrivier sedert 1982 uitgevoer is, word vervolgens bespreek:

  • Reeds meer as 40 jaar gelede doen die ekoloog Sally Cliff ’n omvattende omgewingstudie van die monding van die Lourensrivier (Cliff 1982). Die hoof- bydraende faktore tot besoedeling van die riviermonding was: nitraat- en organies ryke suurwater weens ongekontroleerde nywerheidsafvloei; nitraatryke rivierwater weens reënval wat die uitloging van landbougifstowwe bevorder; asook voortdurende afval- en rommelstrooiery wat langs die volle lengte van die rivier plaasvind. Besoedeling weens nywerheidschemiese afvloei is besonder intens gedurende die somermaande, wanneer minimale verdunning van die besoedeling weens die lae watervlak plaasvind. Dit word aanbeveel dat ʼn Lourensrivier Trust in die lewe geroep word wat die verantwoordelikheid sal aanvaar vir die oorhoofse geïntegreerde bestuur van die riviersisteem.

Hierdie aanbeveling het ongeveer 35 jaar gelede gerealiseer toe die Lourensrivier Bewaringsvereniging tot stand gekom het (Gaffar 2020). ʼn Verdere ontwikkeling het gedurende 2023 plaasgevind toe die Stad Kaapstad die Lourensrivier Opvanggebiedforum in die lewe geroep het (Stad Kaapstad Mediakantoor 2023) met die volgende opdrag: “The new forum brings together members from the City, local residents and business representatives from the catchment area. Their role is to work together to address concerns affecting the river such as water pollution, environmental awareness and maintenance of the river and surrounds.”

Riviermondings in die algemeen (en in hierdie spesifieke geval uiteraard ook die Lourensriviermonding) is nasionale bates en behoort as sodanig vernuwend bestuur te word om hul waarde met verloop van tyd te behou (Water Research Commission s j).

  • Die doel met die River Health Programme (2003:20–3) is om die biologiese en habitatintegriteit van riviere te assesseer, byvoorbeeld deur die vislewe, ongewerwelde waterdiere en die oewerplantegroei te bestudeer. 21 jaar na die navorsingsprojek soos deur Cliff (1982) uitgevoer, word deur middel van die River Health-projekverslag soos volg gerapporteer oor die Lourensrivier: “Die bo-loop van die Lourensrivier bly relatief ongeskonde, maar word deur kommersiële plantasies en die verwydering van oewerplantegroei beïnvloed wat gelei het tot die indringing van uitheemse plante en verlaagde watervloei. Uitheemse visspesies, veral reënboogforel, roei die inheemse Kaapse galaxia (sebravis) in die boloop uit. In die middelloop het rivierwater wat kunsmisstowwe en plaagdoders bevat, die watergehalte verswak en akwatiese ongewerwelde gemeenskappe negatief beïnvloed. Die laerliggende rivierloop toon tekens van ernstige besoedeling as gevolg van stedelike en industriële aktiwiteite wat lei tot die bedreiging van sensitiewe spesies soos die klipvlieg en eendagvlieg (mayfly). Veral tydens die somermaande word die watervlak en -vloei verminder deur plaasdamme en wateronttrekking. Gevolglik vind ʼn toename in die konsentrasie van besoedelingstowwe in die rivierwater plaas. Wysiginge aan die rivieroewer, soos ontoelaatbare opvulling, die voorkoms van uitheemse wilgerbome, en skanskorwe (gabions) verminder die habitatdiversiteit en -biodiversiteit betekenisvol.”
  • Smith-Adao en Scheepers (2007), onderskeidelik verbonde aan die WNNR en die Departement Aardwetenskappe, Universiteit van Wes-Kaapland, wys daarop dat die Lourensrivier aansienlik gedegradeer word deur bosbou, landbou en ’n kombinasie van residensiële, industriële, stedelike en ontspanningsontwikkelinge wat die natuurlike oewerplantegroei vernietig. Onlangse waarnemings toon duidelik dat veranderinge in die rivierkanaal se morfologie, insluitend bedding- en oewererosie, kanaalverbreding en -vernouing, afsetting van sedimente binne die kanaal, vorming van sandbanke, en kanaalmigrasie aan die orde van die dag is. Die studie toon aan hoe variasies in kanaalvloei en die toename van uitheemse oewerplantegroei bygedra het tot hierdie onstabiliteit. Data wat op grond van ’n geselekteerde strook rivierbedding van 90 meter versamel is, dui daarop dat morfologiese veranderinge beïnvloed word deur hidrologiese wisselinge sowel as die toename van uitheemse oewerplantegroei. Prosesse soos bedding- en oewererosie, kanaalmigrasie en -vernouing, sedimentafsetting en sandbankvorming het ontstaan as gevolg van verhoogde watervloeisnelheid wat verband hou met intermediêre vloede en veranderinge in oewerplantegroei.
  • Dabrowski en Balderacchi (2013) het ’n rekenaargebaseerde hulpmiddel ontwikkel wat van geografiese-inligting-stelsels (GIS’e) gebruik maak om te bepaal hoe plaagdoders riviere en die waterlewe in die Lourensrivier beïnvloed. Die hulpmiddel kombineer inligting oor hoe en waar plaagdoders gebruik word, hul chemiese eienskappe, die plaaslike geografie en hoe giftig die spuitstowwe vir verskillende spesies is. Twee GIS-maatstawwe is van toepassing: Eerstens word bepaal hoe waarskynlik dit is dat plaagdoders in watersisteme beland (voorspelde relatiewe blootstelling), en tweedens wat hul moontlike skade aan die waterlewe aandui (voorspelde relatiewe risiko). Om die hulpmiddel te toets is daar weekliks watermonsters geneem by vyf plekke tussen Oktober (begin van die spuitseisoen) en April (begin van die reënseisoen). Hierdie steekproewe is ondersoek vir plaagdoders wat plaaslike boere gewoonlik gebruik. Die resultate het getoon dat bestaande internasionale data oor plaagdodereienskappe betroubare aanduiders is van hoe hierdie chemikalieë onder Suid-Afrikaanse toestande reageer. Verdere ontledings het gewys dat een sleutelparameter, naamlik Koc (’n grondabsorberingskoëffisiënt wat aanduidend is van hoe sterk gifstowwe aan gronddeeltjies vasklou), die grootste invloed het op die hoeveelheid gifstof wat in die rivier afspoel. Die model het ook besoedelingsbrandpunte (hotspots) akkuraat geïdentifiseer, die besoedelingspotensiaal van verskillende plaagdoders onderling vergelyk, en bepaal of plaagdoders hoofsaaklik deur spuitdrywing of afloop die rivier binnekom. Oor die algemeen het die studie bevind dat plaagdoders soos asienfosmetiel en chloorpirifos die grootste risiko vir die kwaliteit van die waterlewe inhou. Hierdie bevindings bevestig dat GIS-gebaseerde risikonutsprogramme wel betroubaar is en kan meehelp om lande met beperkte hulpbronne in staat te stel om hul omgewingsmonitering en -bestuur meer doelgerig te fokus.

Rehabilitasie

Kotzé (2020) wys op die doeltreffendheid van kunsmatige vleilande om rivierwater wat met plaagdoders besoedel is, te suiwer, met spesifieke verwysing na ’n studie wat in die omgewing van die Lourensrivier uitgevoer is. Gekonstrueerde vleilande, wat plante, grond en mikroörganismes gebruik om besoedelde water te behandel, word toenemend in die landbou aangewend om die negatiewe effekte van plaagdoders, kunsmis en ander stowwe te bestuur. Die studie fokus spesifiek op ’n vleiland by Vergelegen-wynlandgoed, wat oorspronklik in 1991 aangeplant is om grond vanaf omliggende landerye terug te hou. Navorsers het bevind dat die vleiland uiters doeltreffend was om plaagdoderbesoedeling weens afloopwater en spuitdrywing te verminder met ’n sukseskoers van tot 93% vir sekere insekdoders. Die vleiland het ook die vlakke van giftige besoedeling aansienlik verminder en gesuspendeerde vastestowwe, ortofosfaat en nitraat tydens nat toestande doeltreffend vasgevang.

Die studie toon aan dat vleilande die rivierwater se vloeisnelheid vertraag sodat molekules uitsak en in die sediment vasgevang word, terwyl die plantegroei as ’n biofilter optree wat plaagdoders met verloop van tyd afbreek. Ten spyte van die sukses van hierdie studie bly die gebruik van gekonstrueerde vleilande om plaagdoderbesoedeling te verminder, betreklik onbekend in Suid-Afrika. Internasionaal is soortgelyke stelsels egter reeds bestudeer met hoë vasleggingsyfers en belowende resultate vir biorehabilitasie. Vleilande is veral effektief teen insekdoders, aangesien hulle keer dat toksiene die oppervlakwater bereik en ’n volhoubare, lae-onderhoudsoplossing bied. Die Vergelegen-vleiland funksioneer steeds as ’n opvangdam en dra by tot verbeterde watergehalte in die Lourensrivier. Die landgoed se voortgesette pogings om watergehalte te monitor en te onderhou illustreer die potensiaal van groen infrastruktuur om omgewingsimpakte te beperk en volhoubare landboupraktyke te bevorder (Kotzé 2020).

Die Vergelegen-wynlandgoed het ʼn stap verder gegaan en ʼn privaat maatskappy, NCC Environmental Services, aangestel om te bepaal in watter mate herstelwerk na afloop van onlangse vloedskade en gevolglike erosie aan die Lourensrivier, die kwaliteit van die riviersisteem en die aanliggende omgewing kan verbeter (Burne 2024). Die doel van die projekvoorstel is om die nodige amptelike staatsgoedkeuring te verkry voordat met die rehabilitasiewerk begin word. Die voorgestelde herstelwerk behels die oprigting van ’n nuwe keerwal, verskeie strukture om sedimentafsetting en -beweging te beperk (groyne structures), die verwydering van indringerplante en die hervestiging van inheemse vleilandplantmateriaal. Volgens kenners behoort hierdie maatreëls die rivier se boloop te stabiliseer, toekomstige vloedskade te beperk en die natuurlike ekosisteem te verbeter.

Volgens Van Zyl (2024) en die Stad Kaapstad Mediakantoor (2003) het die Stad Kaapstad se Direktoraat: Water en sanitasie die Lourensrivier-vloedverligtingsprojek (met ’n begroting van R44,5 miljoen) goedgekeur. Die projek is daarop gemik om gemeenskappe in Somerset-Wes en die Strand teen herhalende vloedskade deur die Lourensrivier te beskerm. Die werk fokus op ’n 6 km-sone van die rivier tussen Hathersage-plaas en Kusweg en sluit die bou van nuwe vloedbeheerstrukture en die herstel van bestaande infrastruktuur in. Dit behels onder meer die oprigting en herstel van skanskorwe, keermure, grondwalle en erosiebeheereenhede asook die opknapping van ’n stormwaterpompstelsel en die hervoering van verouderende stormwaterbetonpype.

Gaffar (2024) wys egter op sekere struikelblokke wat met die implementering van die vloedprojek gepaardgaan. Die projek was op daardie stadium (Oktober 2024) 51% voltooid. Vordering word egter vertraag by Kays Community  (voorheen Kays Karavaanpark) omdat twee huise voorheen in die park binne die rivier se beskermde strook opgerig is. Hierdie en ander strukture moet verskuif word voordat die werk kan voortgaan. Gaffar (2024:3) verwys soos volg na hierdie dilemma: “Unfortunately, two houses have been built on private land within the Protected Natural Environment without necessary building approval.” Die Lourensriver se loop vernou naby Kays Community wat ’n vloeibottelnek veroorsaak en die risiko vir vloede vererger. Die voltooiing van die projek is dus noodsaaklik om omliggende gemeenskappe teen toekomstige vloedskade te beskerm.

Samevattende gevolgtrekking

In hierdie artikel word die geskiedenis, ekologie, agteruitgang en rehabilitasie-inisiatiewe van die Lourensrivier (voorheen Tweederivier) in die Wes-Kaap kortliks bespreek vanaf die oorsprong in die Hottentots-Hollandberge tot by die riviermonding in die Strand. Dit beklemtoon die rivier se status as ’n natuurlike bewaringsgebied.

Stedelike, industriële en landbouaktiwiteite het die rivier oor dekades heen erg besoedel met nitrate, plaagdoders (bv asienfosmetiel, chloorpirifos) en organiese afval, veral in die middelloop en onderloop tydens die droë somerseisoen. Morfologiese veranderinge sluit kanaalverbreding, erosie, sedimentafsetting en indringeroewerplante soos wilgers in wat biodiversiteit en habitat vir spesies soos inheemse visse en vlieë verminder. Die boloop bly betreklik ongeskonde, maar word deur plantasies en forelteling bedreig.

........
Stedelike, industriële en landbouaktiwiteite het die rivier oor dekades heen erg besoedel met nitrate, plaagdoders (bv asienfosmetiel, chloorpirifos) en organiese afval, veral in die middelloop en onderloop tydens die droë somerseisoen. Morfologiese veranderinge sluit kanaalverbreding, erosie, sedimentafsetting en indringeroewerplante soos wilgers in wat biodiversiteit en habitat vir spesies soos inheemse visse en vlieë verminder. Die boloop bly betreklik ongeskonde, maar word deur plantasies en forelteling bedreig.
.........

Rehabilitasie-inisiatiewe sluit in gekonstrueerde vleilande op Vergelegen Wynlandgoed (wat die effek van plaagdoders effektief uit die rivierwater verwyder), en die Stad Kaapstad se vloedverligtingsprojek met onder andere vloedbrekers en pypopgraderings wat opgerig word. Die Lourensrivier Opvanggebiedforum bevorder ook die samewerking tussen gemeenskappe en instansies met betrekking tot die voorkoming van besoedeling asook die rehabilitasie van die rivier.

Die hoofgevolgtrekking kom daarop neer dat toekomstige holistiese, multidissiplinêre bestuur met betrekking tot die Lourensrivier vanaf oorsprong tot by die monding ’n absoluut noodsaaklike voorvereiste is. Deurlopende monitering van vernuwende projekte soos die Lourensriviergesondheidsprogram, die GIS-plaagdoder-inisiatief en kunsmatige-vleiland-aanplanting toon baie belofte, maar die sukses hiervan vereis onder andere beleidintegrasie en gemeenskapsbetrokkenheid. Die rivier se “gesondheid” word in ’n groot mate weerspieël deur samelewingswaardes wat nodig is vir die volgehoue beskerming van die rivier se ekologie sowel as die voordele wat die rivier vir die gemeenskap inhou.

Quo vadis Tweederivier? Die goeie werk wat tot dusver gedoen is, behoort ten alle koste voortgesit en uitgebrei te word. Soos die Amerikaanse skrywer AD Posey tereg opmerk: "A river doesn't just carry water, it carries life."

Dit kan moontlik selfs oorweeg word om ’n omvattende vergelykende studie tussen die Lourens- en Eersterivier te doen waarby veranderlikes soos kanaalmorfologiewysigings, besoedelingvlakke, impak op die riviere se habitat asook rehabilitasiepogings ingesluit word.

 

Eindnota

Johann le Roux, ʼn kenner van bosbou- en omgewingsaangeleenthede, word bedank vir sy wenke en kommentaar oor die inhoud van die artikel voor publikasie, onder andere wat onlangse ontwikkelinge in verband met die kommersiële plantasies op Lourensford-landgoed en Vergelegen betref.

Bibliografie

Burne, C. 2024. Proposed repairs to the banks of the Lourens River and other repairs due to excessive flooding of the watercourse on farm no. 744, Somerset West in the Western Cape Province. Freshwater assessment report. Kaapstad: NCC Environmental Services. https://ncc-group.co.za/wp-content/uploads/2024/09/Appendix-G4-Vergelegen-Freshwater-report_Redacted.pdf.

Cliff, S. 1982. An environmental study of the Lourens River Estuary. MSc-verhandeling,  Universiteit van Kaapstad. https://share.google/yfGEVI1vhE9auhjvN.

Cliff, S en JR Grindley. 1982. Estuaries of the Cape. Part 11: Synopses of available information on individual systems. Report no. 17: Lourens (CSW 7). Stellenbosch: Council for Scientific and Industrial Research. chrome-extension://efaidnbmnnnibpcajpcglclefindmkaj/https://researchspace.csir.co.za/server/api/core/bitstreams/f10384dd-48d3-4b0a-a10f-2df0fab30bb6/content. https://researchspace.csir.co.za/items/342aaf2a-d8bb-41f1-86e7-93bce749d0a6.

Dabrowski, JM en M Balderacchi. 2013. Development and field validation of an indicator to assess the relative mobility and risk of pesticides in the Lourens River catchment, South Africa. Chemosphere, 93(10):2433–43. https://doi.org/10.1016/j.chemosphere.2013.08.070 https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0045653513011867.

Gaffar, Y. 2020. High pollution in Lourens River. Netwerk 24, 9 Maart. https://share.google/RLYTuVeZKudHVnf1g.

—. 2024. Flood mitigation hits stumbling block. Distrikspos, 30 Oktober. https://districtmailhelderberg.co.za/flood-mitigation-hits-stumbling-block-20241029-2. https://epublikasies.netwerk24.com/html5/reader/production/default.aspx?pubname=&edid=99bdcb79-1bf0-4342-a97b-f382e983204a.

Hutchins, M, E Gardner, L Gechelle, A Johnson, Y Qu, D Sadykova, M Bowes, D Read en C Robertson. 2026. What controls current and future background vulnerability of rivers to eutrophication and pathogens? Journal of Hydrology, 665:134713.https://doi.org/10.1016/j.jhydrol.2025.134713. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0022169425020530.

King, JM, ACT Scheepers, RC Fisher, MK Reinecke en LB Smith. 2003. River rehabilitation: Literature, review, case studies, and emerging principles. Report to the Water Research Commission. 1161-1-031.pdf.

Kotzé, P. 2020. Constructed wetlands to deal with pesticide pollution. The Water Wheel, September/Oktober. https://acrobat.adobe.com/id/urn:aaid:sc:EU:ced35330-44e9-40b8-a2cb-9caa41a2a039.

Loopuyt, JM. 1972. The Lourens River bridge, Somerset-West. The civil engineer in South Africa, November, ble. 369–71. https://acrobat.adobe.com/id/urn:aaid:sc:EU:ced5b3e6-59be-43f8-8053-800f4f681b34?viewer%21megaVerb=group-discover.

Raven, PJ, NTH Holmes, FH Dawson en M Everard. 1998. Quality assessment using river habitat survey data. Aquatic Conservation: Marine and Freshwater Ecosystems, 8:477–99. https://share.google/92xyT7WZl6yWrC6Xx.

River Health Programme. 2003. State-of-rivers report: Diep, Hout Bay, Lourens and Palmiet River systems. Department of Water Affairs and Forestry, Pretoria. ISBN 0-620-30757-9. https://share.google/imlACIZgc2i6pxXcu.

Smith-Adao, LB en ACT Scheepers. 2007. An assessment of the channel morphological changes in the Lourens River, Western Cape. Water SA, 33(4):559–70. https://share.google/mHgIabCEwhs20eaGh.

Stad Kaapstad Mediakantoor. 2023. Lourens River Catchment Forum set to improve local environment and tackle flooding. https://www.capetown.gov.za/Media-and-news/Lourens%20River%20Catchment%20Forum%20set%20to%20improve%20local%20environment%20and%20tackle%20flooding.

Van Zyl, I. 2024. Good progress on Lourens River flood alleviation project before winter. Cape Town Etc, Cape Town Media Office. https://www.capetownetc.com/news/good-progress-on-lourens-river-flood-alleviation-project-ahead-of-winter.

Waterinfo. S j. Estuaries south-west coast. https://www.waterinfo.co.za/estuaries_swestcoast/3.

Water Research Commission. S j. Taking care of our estuaries - A summative guide. Taking care of our estuaries_web.pdf.

Whitfield, AK en M Matlala. 2011. Freshwater and estuarine systems. In HL Zietsman (red), Observations on environmental change in South Africa, ble 181{92. Stellenbosch: African Sun Media.

Lees ook:

Rehabilitasie van die Ertjieskloofdam

Narratief-gebaseerde geneeskunde: enkele opmerkings

Ketamien-ondersteunde psigoterapie

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top