
Prent: Canva
- Ketamine is an FDA Schedule 3 substance dating from 1970 with an indication for anaesthesia and historically in use as an analgesic as well. With this classification, anaesthesiologists have had control of ketamine and have extended their reach to psychiatric applications – particularly depression – with their attendant clinics. As anaesthesia itself is a broad modality, off-label use is not limited to a particular diagnostic entity. This has fostered exploration of ketamine’s application in recent years to a broad range of diagnostic entities, especially by psychiatrists. (Wolfson en Vaid 2024:2)
Volgens Rogers (2024), verbonde aan die Johns Hopkins Mediese Skool, Harvard-Universiteit, het die openbare belangstelling in ketamien weer opgevlam ná die dood van die akteur Matthew Perry in 2023. Alhoewel ketamien voorheen reeds algemeen bekend was as ’n anestetikum (narkosemiddel), sowel as ’n ontspannings- of “partytjie-dwelmmiddel”, het hierdie voorval nuwe aandag gevestig op die medies-psigiatriese aanwending daarvan en die gepaardgaande risiko’s. Toksikologiese ondersoeke het wel spore van ketamien in Perry se liggaam gevind, maar ondersoekers het tot die gevolgtrekking gekom dat die psigiatries-gemoniteerde infusieterapie wat hy voorheen vir depressie ontvang het, nie direk as die oorsaak van sy dood verklaar kon word nie (Rogers 2024).
Chemiese samestelling
Ketamien (chemiese formule: C₁₃H₁₆ ClNO) reageer as ’n N-metiel-D-aspartaat- (NMDA-) reseptorantagonis (Rogers 2024). Die middel het ’n invloed op die wyse waarop breinselle kommunikeer. Die hoofeffek van ketamien is om die NMDA-reseptore te blokkeer, wat op ’n indirekte wyse gevolglik meer glutamaat (’n neurotransmitter) beskikbaar stel. Die aktivering van prefrontale glutamaat-neurotransmissie lei tot tydelike psigotogeniese effekte en die vertraging van depressiewe simptome (Abdallah, De Feyter, Averill, Jiang, Averill, Chowdhury, Purohit, De Graaf, Esterlis, Juchem, Pittman, Krystal, Rothman, Sanacora en Mason 2018).
Deur modulasie ontwrig ketamien tydelik die normale balans in breinaktiwiteit en wysig die normale interaksie tussen verskillende breinoppervlaktes. Hierdie ontwrigting of onderdrukking (veral tussen die talamus en die serebrale korteks) kan tot bewussynervarings van dissosiasie of “ontkoppeling” aanleiding gee. Ketamien beïnvloed ook chemiese boodskapdraers soos dopamien en serotonien op ’n indirekte wyse en kan gevolglik die aktiwiteit in dele van die limbiese sisteem verhoog. Die limbiese sisteem reguleer emosionaliteit, motivering en sekere outomatiese liggaamsfunksies (Rogers 2025).
Wat die chemiese samestelling betref (Lumin Health 2025), kom ketamien in twee spieëlbeeldstrukture voor, naamlik S-ketamien en R-ketamien. Ketamien, soos dit algemeen in mediese klinieke gebruik word, bestaan normaalweg uit ’n 50/50-kombinasie van S- en R-ketamien. S-ketamien word in die algemeen beskou as die meer aktiewe komponent van die twee wat die behandeling van weerstandige depressie betref. S-ketamien toon ’n groter affiniteit vir NMDA-reseptore en het gevolglik ’n groter effek op glutamaatblokkering.
Ketamien-ondersteunde psigoterapie is ’n terapeutiese benadering met die doel om ernstige en weerstandige geestesgesondheidsprobleme soos kliniese depressie, trauma en angsversteurings op ’n professionele wyse te behandel (Karr en Stroeh 2025). Die impak van ketamien, wanneer dit onder professionele toesig, buite-etiket (off-label) as ’n aanvullende middel tot konvensionele individuele psigoterapie toegedien word, is ’n onderwerp van kritiese bespreking en voortdurende navorsing deur navorsers en klinici.
........
Ketamien-ondersteunde psigoterapie is ’n terapeutiese benadering met die doel om ernstige en weerstandige geestesgesondheidsprobleme soos kliniese depressie, trauma en angsversteurings op ’n professionele wyse te behandel (Karr en Stroeh 2025). Die impak van ketamien, wanneer dit onder professionele toesig, buite-etiket (off-label) as ’n aanvullende middel tot konvensionele individuele psigoterapie toegedien word, is ’n onderwerp van kritiese bespreking en voortdurende navorsing deur navorsers en klinici.
........
Ketamien is gedurende die sestigerjare ontwikkel vir gebruik as ’n narkosemiddel tydens die Viëtnamese oorlog. Dit het later gewild geword vir die psigo-aktiewe effekte daarvan. Die ongekontroleerde gebruik van ketamien kan die gebruiker se waarnemingsvermoë en gemoedstoestand wysig en tot dissosiasie, hallusinasies of in sommige gevalle emosionele onstabiliteit aanleiding gee, insluitend euforie, depressie of selfmoordgedagtes. Gedragsreaksies kan wissel op ’n spektrum van rustigheid en kalmte tot opgewondenheid en oormatige aggressie. Die effek van ketamien is nie altyd onmiddellik duidelik sigbaar nie en die simptome kan soms langer voortduur as wat geantisipeer word (Rogers 2024).
Myers, Bluth en Cheung (2016) verwys na die Wêreld Gesondheidsorganisasie-verslag van 2012, wat daarop dui dat ongeveer 1–2% van die Australiese en Deense bevolkings op een of ander stadium ketamien misbruik het. 19 lande het op daardie tydstip onwettige aktiwiteite wat met ketamien-gebruik verband hou, gerapporteer, terwyl die VSA en China die meeste beslagleggings deur die polisie op onwettige handelsaktiwiteite in ketamien aangedui het. Meer resente opnames dui op ’n toename op onwettige gebruik wêreldwyd, hoewel ketamien-misbruik minder algemeen voorkom as byvoorbeeld opioïede of stimulante.
Onderskeid tussen ketamien en psigedelika
Ketamien word amptelik in Suid-Afrika as ’n anestetiese induksiemiddel deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Anesthesioloë geklassifiseer (SASA 2020.). Die middel word deesdae egter ook in baie kringe as ’n nie-klassieke psigedeliese middel beskou (Tersavich 2022).
........
Ketamien word amptelik in Suid-Afrika as ’n anestetiese induksiemiddel deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Anesthesioloë geklassifiseer (SASA 2020.). Die middel word deesdae egter ook in baie kringe as ’n nie-klassieke psigedeliese middel beskou (Tersavich 2022).
........
Die rede hiervoor, volgens Barnett, Mauney en King (2025), is dat erkende psigedeliese middels (soos LSD) se primêre funksie is om serotonien 2A-reseptore in die brein te aktiveer, met ander woorde reseptorantagonisme. Hierdie groep word klassieke psigedeliese middels genoem. Ander chemiese verbindings met min of meer vergelykbare effekte (soos ketamien), wat via alternatiewe farmakologiese meganismes werksaam is, staan as nie-klassieke psigedeliese middels bekend.
Barnett ea (2025) kom tot die gevolgtrekking dat psigedelies-ondersteunde psigoterapie in die algemeen terapeutiese potensiaal inhou vir die behandeling van sekere psigiatriese toestande, asook middelmisbruikversteurings. Die reaksies van pasiënte op die behandeling wissel onderling, maar psigedeliese middels kan na etlike maande, selfs na ’n enkele toediening, steeds blywende positiewe resultate bied. Inligting oor die langtermyn effekte is egter beperk. Psigedeliese middels het ’n aanvaarbare veiligheidsprofiel tydens streng-gekontroleerde kliniese proewe, hoewel dit beslis ernstige risiko’s vir sommige pasiënte kan inhou (byvoorbeeld, indien die pasiënt ’n slegte reis [bad trip] gehad het, of die verergering van psigotiese simptome veral by persone met ’n predisposisie vir psigotiese gedrag).
Die redakteur van The Lancet (Editorial 2023) sluit hierby aan en noem dat in psigedelies-ondersteunde psigoterapie word psigedeliese middels met psigoterapie gekombineer om post-traumatiese stresversteuring en weerstandige depressie te behandel. Anders as konvensionele antidepressante, kan hierdie benadering vinnige, langdurige verbeterings lewer (selfs na afloop van ’n enkele sessie) deur die breinaktiwiteit direk te verander en diepliggende emosionele en kognitiewe insigte te bevorder. Verskil van opinie kom egter voor tussen voorstanders van die metode wat voortdurend op die voordele wys, en kritici, wat relatief min goed gefundeerde eksperimentele bewyse, klein kliniese steekproewe, veiligheidskwessies (negatiewe ervarings) en komplekse geïndividualiseerde terapieprotokolle wat gespesialiseerde opleiding vereis, as tekortkominge beklemtoon.
Volgens Bremler, Katati, Shergill, Erritzoe en Carhart-Harris (2023) is intense debatvoering oor bewerings van onkritiese en oordrewe positiewe beskouings en onrealistiese entoesiasme oor psigedeliese middels se terapeutiese potensiaal aan die orde van die dag. Die kritiese beskouings fokus veral daarop dat die navorsingsmetodologie en rapportering van resultate positiewe bo negatiewe uitkomste bevooroordeel. Na aanleiding van hierdie opmerking deur Bremler ea (2023), behoort dit gepas te wees om die menings en houdings van ’n groep ervare Suid-Afrikaanse praktiserende sielkundiges te verkry oor die voor- en nadele van ketamien-ondersteunde psigoterapie as ’n nie-klassieke psigedeliese middel.
Cavarra, Falzone, Ramaekers, Kuypers en Mento (2022) gaan verder en beweer dat alhoewel sommige basiese strukturele elemente of fondamente wel in kliniese studies oor psigedelies-ondersteunde psigoterapie aangetref word, bly die terapeutiese benaderings en teoretiese raamwerke grootliks ongedefinieerd. Aangesien psigedeliese middels sensitiwiteit vir interne en eksterne stimuli by die pasiënt (met ander woorde suggereerbaarheid) verhoog, behoort die doel met toekomstige navorsing veral gerig te wees op die terapeutiese modelle wat gebruik word, en die kwaliteit van die terapeutiese verhoudings wat uit die toepassing van die modelle voortspruit.
Ten spyte van genoemde uitdagings (Editorial 2023), bly die behoefte aan beter geestesgesondheidsdienslewering steeds ’n dringende kwessie, aangesien die huidige fokus op en gebruik van antidepressante nie noodwendig die alfa is wat behandelingsukses betref nie. Indien goed-gekontroleerde kliniese proewe meer dikwels uitgevoer word, kan die hernieude belangstelling in psigedeliese middels (na dekades van beperking) beide psigiatriese sorg en algemene welwese bevorder. Wydverspreide aanvaarding noodsaak egter meer navorsing, duidelike riglyne en regulasies, asook noukeurige integrasie by gesondheidsorgstelsels.
Ketamien-infusie- versus ketamien-ondersteunde psigoterapie
Tydens ketamien-ondersteunde psigoterapie (KOP), sowel as ketamien-infusieterapie word ketamien gebruik om die kwaliteit van geestesgesondheid van die pasiënt te bevorder. Die benaderings verskil egter wat fokus, die fisiese omgewings en kwaliteit van terapeutiese integrasie betref (Keter Mental Health Clinic 2025; Psychedelic Research and Training Institute sj). Daarom word duidelik tussen dié twee behandelingstrategieë onderskei.
........
Tydens ketamien-ondersteunde psigoterapie (KOP), sowel as ketamien-infusieterapie word ketamien gebruik om die kwaliteit van geestesgesondheid van die pasiënt te bevorder. Die benaderings verskil egter wat fokus, die fisiese omgewings en kwaliteit van terapeutiese integrasie betref (Keter Mental Health Clinic 2025; Psychedelic Research and Training Institute sj). Daarom word duidelik tussen dié twee behandelingstrategieë onderskei.
........
By KOP word sub-anestetiese dosisse gebruik, gewoonlik deur middel van ’n ketamientablet wat onder die tong geplaas word. Die doel is hoofsaaklik om ketamien se neurobiologiese effekte met psigoterapie te kombineer om sodoende blywende houdings- en gedragsveranderinge te fasiliteer. In die geval van infusieterapie word ketamien toegedien deur middel van binneaarse of intramuskulêre inspuitings, of ’n nasale sproei binne die spreekkamer onder toesig van ’n mediese praktisyn, narkotiseur of ’n verpleegkundige. Die fokus is primêr gerig op ketamien se biochemiese en antidepressiewe effekte. Ketamien-infusies is veral doeltreffend om akute simptome te verlig deur middel van die farmakologiese impak. By KOP daarteenoor word die geleentheid geskep dat betrokke sielkundige, emosionele en spirituele dimensies wat tydens die psigoterapeutiese proses ter sprake kom, stelselmatig deur die pasiënt geïntegreer kan word (Keter Mental Health Clinic 2025; Psychedelic Research and Training Institute sj).
Harris, Jones, Walker en Berry (2024) bespreek ’n gevallestudie van ’n 29-jarige manlike pasiënt, gediagnoseer met bipolêre versteuring, asook outisme en tipe 2-diabetes, wat met ketamien-infusie, sowel as KOP behandel is. Die pasiënt het ses ketamien-infusies oor ’n periode van een maand ontvang, wat opgevolg is met twee infusies. Psigoterapeutiese sessies is deurlopend tydens die behandelingsperiode toegepas. Na afloop van die behandelingsperiode is dramatiese afnames waargeneem wat woede-uitbarstings, angs, depressie en selfmoorddreigemente betref.
Sakopoulos en Todman (2025) verwys na ketamien-infusieterapie as ’n molekulêre behandelingstrategie. Hulle bestudeer 24 pasiënte wat met weerstandige depressie gediagnoseer is. Die vier verskillende behandelingsprotokolle was soos volg: enkele ketamien-infusie, tesame met weeklikse sielkundige terapie (n = 9); herhaalde infusies, tesame met weeklikse sielkundige terapie (n = 5); enkele infusie sonder sielkundige terapie (n = 6); en herhaalde infusies sonder sielkundige terapie (n = 4). Alle pasiënte wat weeklikse sielkundige terapie ontvang het, het dit by dieselfde psigoterapeut voor, tydens of 30 dae na afloop van die infusies ontvang. Die resultate dui daarop dat beduidende simptoomvermindering by alle groepe waarneembaar was, met die mees intense effek by diegene wat psigoterapie as deel van die behandelingsproses ontvang het. Alhoewel die getal infusies nie ’n beduidende effek op die uitkomste gehad het nie, het die integrasie van ketamien-infusie met psigoterapie die effektiwiteit van die behandeling bevorder.
’n Amerikaanse navorsingsgroep (Willms, McCauley, Kerr, Presto, Arun, Shah, Irby, Strawn en Kopel 2022) bespreek ’n gevallestudie van ’n 30-jarige mediese student, gediagnoseer met weerstandige depressie, algemene angsversteuring, post-traumatiese stresversteuring en chroniese selfmoordgedagtes. Die pasiënt het voorheen onvoldoende op verskeie terapeutiese benaderings en antidepressante gereageer. Hierna het hy oor ’n periode van agt maande ketamien-infusies wat met psigoterapie gekombineer is, ontvang. Die pasiënt het remissie van selfmoordgedagtes en post-traumatiese stressimptome binne een maand bereik. Sy depressiewe gemoed en angsvlakke het binne sewe maande opgeklaar.
Gevolgtrekkings
Dit blyk dus dat KOP en ketamien-infusieterapie metodes is wat in gewildheid toeneem en wêreldwyd toegepas word. Die buite-etiket-gebruik van hierdie anestetikum word deur die molekulêre samestelling van die middel, asook die aard van die biochemiese effek op die reseptore en neurotransmitters van die brein moontlik gemaak.
........
Die behandelingsproses behoort beslis onder streng psigiatries-mediese toesig en kontrole plaas te vind. Verskeie etiese beginsels speel ’n rol op hierdie terrein, soos die veiligheid van die pasiënt, die aard van die terapeutiese verhouding, asook ingeligte toestemming. Deeglik opgeleide sielkundiges wat KOP as ’n behandelingsmetode aanwend, is van uiterste belang.
........
Die behandelingsproses behoort beslis onder streng psigiatries-mediese toesig en kontrole plaas te vind. Verskeie etiese beginsels speel ’n rol op hierdie terrein, soos die veiligheid van die pasiënt, die aard van die terapeutiese verhouding, asook ingeligte toestemming. Deeglik opgeleide sielkundiges wat KOP as ’n behandelingsmetode aanwend, is van uiterste belang.
Die resultate van die enkele studies waarna in hierdie artikel verwys word, lewer belowende resultate met betrekking tot die betrokke psigiatriese, diagnostiese entiteite, veral wanneer KOP en infusieterapie kollaboratief met betrekking tot mekaar toegepas word.
Meer goed-gekontroleerde navorsing op hierdie terrein is ’n besliste noodsaaklikheid, met deeglike inagneming van die etiek van navorsing. ’n Navorsingsontwerp kan byvoorbeeld voorsiening maak vir ’n groep pasiënte met ’n spesifieke diagnose (byvoorbeeld kliniese depressie) wat aanvanklik slegs infusieterapie ontvang, waarna dieselfde groep opgevolg word met infusieterapie saam met KOP. Psigometriese assessering kan aan die einde van beide fases uitgevoer word deur psigometrici wat die meetinstrumente blind toepas (met ander woorde, onbekend is met watter groep watter tipe behandeling ontvang het). Op hierdie wyse sal eksperimentele sydigheid tot ’n groot mate beperk word.
Omdat verskillende persone verskillend reageer op medikasie (differensiële effek), weens onder andere genetiese faktore, liggaamsgewig en metabolisme, blyk goed-gekontroleerde kliniese gevallestudies ’n nuttige addisionele metode te wees om die effek van KOP te ondersoek.
Deskundige mening
Ten slotte haal ek Jana Lazarus (2025), ’n ervare kliniese sielkundige en psigoterapeut, aan, wat soos volg oor die gebruik van KOP skryf:
My view on KAP is that it has its place in the field of mental health, if used under controlled, supervised conditions and with the right intent. I have used KAP with a single patient on multiple and regular occasions over several years, at the request of the treating psychiatrist. Ketamine is prescribed by the patient’s psychiatrist at a private psychiatric clinic, who determines the dosage. It is administered by the nursing staff, who also measure blood pressure at 15-minute intervals during the 2-hour session. The patient is admitted for a week, during which 2–3 ketamine sessions are conducted. I don’t think ketamine is a substitute for talking therapy, but a good adjunct to it in complex cases. It treats intractable depression and low energy (lack of motivation for life). It helps severely depressed, suicidal, and traumatised patients to cope. It is possible for the patient to become highly agitated during the session or be triggered after it, as they are vulnerable psycho-emotionally while under its influence. The practitioner needs to be able to hold space energetically as it were, and not just rely on the mind/the intellect. Solid follow-up is important. The patient’s mood can be very low the day after ketamine has been administered, but has been known to stabilise for 3 months afterwards.
Eindnotas
Jana Lazarus word bedank vir haar kundige bydrae, sowel as vir haar bereidwilligheid om die inhoud van hierdie artikel te lees voor publikasie.
Lofty Ellis en Johan van Zyl word bedank vir hul bereidwilligheid om die chemiese struktuur van ketamien in die diagram te verduidelik, onder andere die wyse waarop die 13 koolstofatome in die hoeke/kruisings van die heksagone bepaal word, die betekenis van enkelbande en dubbelbande tussen naasliggende atome, asook die bivalensie van die O-atoom en monovalensie van die Cl-atoom.
Bibliografie
Abdallah, CG, HM de Feyter, LA Averill, L Jiang, CL Averill, GMI Chowdhury, P Purohit, RA de Graaf, I Esterlis, C Juchem, BP Pittman, JH Krystal, DL Rothman, G Sanacora en GF Mason. 2018. The effects of ketamine on prefrontal glutamate neurotransmission in healthy and depressed subjects. Neuropsychopharmacology, 43(10):2154–60. DOI: 10.1038/s41386-018-0136-3. PMID: 29977074; PMCID: PMC6098048. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC6098048/.
Barnett, BS, EE Mauney en F King. 2025. Psychedelic-assisted therapy: An overview for the internist. Cleveland Clinic Journal of Medicine, 92(3):171–80. DOI: https://doi.org/10.3949/ccjm.92a.24032.
Bremler, R, N Katati, P Shergill, D Erritzoe en RL Carhart-Harris. 2023. Case analysis of long-term negative psychological responses to psychedelics. Scientific Reports, 13, 15998. https://doi.org/10.1038/s41598-023-41145-x.
Cavarra, M, A Falzone, JG Ramaekers, KPC Kuypers en C Mento. 2022. Psychedelic-assisted psychotherapy – a systematic review of associated psychological interventions. Frontiers in Psychology, 13. https://doi.org/10.3389/fpsyg.2022.887255 https://www.frontiersin.org/journals/psychology/articles/10.3389/fpsyg.2022.887255/full.
Editorial. 2023. Psychedelic-assisted psychotherapy: hope and dilemma. The Lancet Regional Health – Europe, 32:100727. https://www.thelancet.com/journals/lanepe/article/PIIS2666-7762(23)00146-1/fulltext.
Harris, CP, B Jones, K Walker en MS Berry. 2024. Case report: Adult with bipolar disorder and autism treated with ketamine-assisted psychotherapy. Frontiers in Psychiatry, 15:1322679. DOI: 10.3389/fpsyt.2024.1322679.
Karr, J en S Stroeh. 2025. Ketamine-assisted psychotherapy (KAP): An emerging safe and effective modality. American Counselling Association, Webinar. https://www.counseling.org/events-education/webinars/integrating-ketamine-assisted-psychotherapy-into-your-practice?utm_source=informz&utm_medium=email&utm_campaign=Sponsor_JourneyClinical-Webinar_Oct062025&_zs=L5HDA1&_zl=E80t7 (24 Augustus 2025 geraadpleeg).
Keter Mental Health Clinic. 2025. Ketamine infusions vs ketamine assisted therapy: what’s the difference? https://www.keterhealth.com/ketamine-infusions-vs-ketamine-assisted-therapy-whats-the-difference/ (3 November 2025 geraadpleeg).
Lazarus, J. 2025. Persoonlike kommunikasie. Stellenbosch, 6 November.
Lumin Health. 2025. S-Ketamine vs R-Ketamine: what’s active, and why route matters. https://www.lumin.health/blog/s-ketamine-vs-r-ketamine-whats-active-and-why-route-matters#:~:text=Not%20all%20ketamine%20is%20the,it's%20helpful%20to%20understand%20both: (30 Oktober 2025 geraadpleeg).
Myers, FA, MH Bluth en WW Cheung. 2016. Ketamine. Clinics in Laboratory Medicine, 36(4):721–44. http://dx.doi.org/10.1016/j.cll.2016.07.008.
Psychedelic Research and Training Institute. sj. Ketamine-assisted psychotherapy vs ketamine infusion therapy. https://pratigroup.org/psychedelic-therapy/ketamine-assisted-psychotherapy-vs-ketamine-infusion-therapy/ (3 November 2025 geraadpleeg).
Rogers, K. 2025. Ketamine. Encyclopaedia Britannica. https://www.britannica.com/science/ketamine (29 Oktober 2025 geraadpleeg).
Rogers, LS. 2024. What to know about ketamine. John Hopkins University, Baltimore. https://publichealth.jhu.edu/2024/what-to-know-about-ketamine (10 September 2025 geraadpleeg).
Sakopoulos, S en M Todman. 2025. The effects of psychotherapy on single and repeated ketamine infusion(s) therapy for treatment-resistant depression: The convergence of molecular and psychological treatment. International Journal of Molecular Sciences, 11, 26(14):6673. DOI: 10.3390/ijms26146673. PMID: 40724922; PMCID: PMC12294355. https://www.mdpi.com/1422-0067/26/14/6673.
SASA. 2020. Guidelines for the safe use of procedural sedation and analgesia for diagnostic and therapeutic procedures in adults: 2020–2025. Southern African Journal of Anaesthesia and Analgesia, 26(2), Supplement 1: S1-75. SASA-Adult-Sedation-and-Analgesia-Guidelines-2020-2025.pdf.
Tersavich, C. 2022. Why ketamine is a psychedelic, and why it matters. Mindbloom. https://www.mindbloom.com/blog/is-ketamine-a-psychedelic#:~:text=These%20phenomenological%20similarities%20of%20the,totality%20of%20a%20psychedelic%20experience (31 Oktober 2025 geraadpleeg).
Willms, J, B McCauley, L Kerr, P Presto, A Arun, N Shah, K Irby, M Strawn en J Kopel. 2022. Case report: Medical student types journals during ketamine infusions for suicidal ideation, treatment-resistant depression, post-traumatic stress disorder, and generalized anxiety disorder. Frontiers in Psychiatry, 13:1020214. DOI: 10.3389/fpsyt.2022.1020214. PMID: 36620675; PMCID: PMC9811588. https://www.frontiersin.org/journals/psychiatry/articles/10.3389/fpsyt.2022.1020214/full.
Wolfson, P en G Vaid. 2024. Ketamine-assisted psychotherapy, psychedelic methodologies, and the impregnable value of the subjective – a new and evolving approach. Frontiers in Psychiatry, 15:1209419. DOI: 10.3389/fpsyt.2024.1209419. https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/38362026/. https://www.frontiersin.org/journals/psychiatry/articles/10.3389/fpsyt.2024.1209419/full.

