Rehabilitasie van die Ertjieskloofdam

  • 6

Ertjieskloofdam na rehabilitasie. (Foto: Handré Brand)

Die Universiteit Stellenbosch (US) was nog altyd bekend vir die uitstekende bewaring en instandhouding van sy fisiese bates – dit is een saak waaroor min twyfel bestaan. Die historiese geboue in Stellenbosch waarvan die universiteit die eienaar is, sowel as die sportvelde en -infrastruktuur, is maar enkele voorbeelde wat genoem kan word waarop die universiteit met reg trots kan wees.

Die Ertjieskloofdam is geleë aan die voet van Stellenboschberg, direk agter die geboue van die Departement Sportwetenskap en die DF Malansentrum. In die spreektaal was die dam onder studente, skoliere en die algemene publiek bekend as die modderdam, kleidam of selfs die Coetzenburgdam. Dié dam, asook die Welgevallendam, is die eiendom van die US.

Baie mense kan waarskynlik besonder aangename herinneringe oor dié dam oproep. Menige bergklim teen Stellenboschberg is al vanaf die dam as ’n bymekaarkompunt geloods. Daar is uitstekende roetes vir stappers, bergfietsryers en drawwers. Soms is daar bloot gesit en peins oor die wel en wee van die lewe, of die pragtige natuurskoon (foto 2) van die omgewing is bewonder.

Omliggende natuurskoon. (Foto: Handré Brand)

Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Register vir Groot Damme het die Ertjieskloofdam sy ontstaan in 1960 gehad. Van der Merwe (2000) noem egter dat ’n gedeelte (24 morge) van die historiese plaas Coetzenburg op 24 April 1961 onteien is van PJ Marais vir oordrag aan US. Hiervolgens wil dit dus voorkom asof die dam kort voor die oordrag van eienaarskap voltooi is en die volgende jaar as deel van die 24 morge in besit van die universiteit gekom het.

Beide die Ertjieskloof- en die Welgevallendam is deel van die Theewaterskloofwaterskema. Die twee damme is gekoppel aan dieselfde netwerk, maar die water kan nie op ’n beheerbare en betroubare wyse tussen die damme verskuif word nie. Die water word vanaf die hoër liggende Jonkershoek na die damme laer stroomaf gepomp. Die universiteit ontvang ’n jaarlikse kwota water volgens ’n permit in oorleg met die Departement Waterwese en die Munisipaliteit van Stellenbosch. Beide damme dien as opgaardamme vir besproeiingsdoeleindes.

Die Ertjieskloofdam beskik oor ’n reguit grondwal wat 157 meter lank is. Vanaf Coetzenburg se kant is die damwal verbasend onopsigtelik (foto 3), en smelt dit baie mooi saam met die plaaslike omgewing.

Die damwal. (Foto: Handré Brand)

Die fisiese stoorkapasiteit van die dam is tans 79 815 kiloliter water (met ander woorde bykans 80 miljoen liter). Die kapasiteit wat deur die universiteit gestoor mag word, is 78 000 kubieke meter. Die oppervlakte van die dam beslaan 1,6 ha en die opvangsarea is 0,7 km2.

Die dam het geen noemenswaardige afvloei vanaf Stellenboschberg nie. Die amptelike registrasiedokument van damme in Suid-Afrika dui aan dat die enigste natuurlike toevoer ’n spruit (sonder naam) is wat aan die oostekant van die dam geleë is (foto 4).

Tydens ’n damveiligheidsinspeksie in 1998 is bevind dat die damwal lekkasies toon. Dit is as ’n veiligheidsrisiko beskou, en verbeteringswerke is gevolglik in 1999 uitgevoer. ’n Nuwe pyp-oorloop is geïnstalleer; betonproppe is in die lekplekke ingevoeg en ’n toondrein met meetstasies is opgerig om die lekkasie onderdeur die damwal te monitor.

Volgens die universiteit het die Ertjieskloofdam ten spyte van 1999 se instandhoudingsprojek onlangs weer dringende rehabilitasie benodig (foto 5). Daar was  lekkasies en die dam kon slegs ongeveer 50% van sy kapasiteit opberg. ’n Geologiese foutlyn onder die dam het tot hierdie lekkasies aanleiding gegee, en die betonproppe het ook nie effektief gewerk nie.

 ’n Geosintetiese kleilaag of voering is op die bodem geïnstalleer as ’n oplossing vir die lekkasies. Skanskorftrappe (gabion steps; foto 8) is tydens die opgradering van die dam geïnstalleer om toegang tot die water te vergemaklik. Die binnekant van die damwal is uitgepak met blou gebreekte Malmesbury horingsteen (hornfels) om sodoende erosie van die wal deur die water te voorkom.

’n Dreineringstelsel wat bestaan uit ’n netwerk van pype is onder die kleilaag aangebring om sodoende grondwater wat voortdurend opbou, doeltreffend te dreineer. Hierdie dreineringspunt (wat op die oog af soos ’n fontein lyk) is direk onder die wal sigbaar (foto 6).

Verskeie ander universiteite besit ook damme. Enkele ander voorbeelde is die Universiteit van Kaapstad wat spog met die Upper Campus-dam, terwyl die Staatsuniversiteit van Pennsilvanië oor ses damme beskik waarvan vyf op, of naby, die kampus geleë is.

Syferwater-inloop vanuit die spruit sonder naam. (Foto: Handré Brand)

Dit is natuurlik te verstane dat daar baie aspekte rakende damme en reservoirs is waaraan nie in hierdie kort artikel geraak word nie en buite die bestek daarvan val. Enkele voorbeelde is die volgende: die risiko’s wat damme vir die omgewing inhou; die aard van noodhandleidings wat dameienaars moet opstel en deurlopend moet bywerk; asook die sosiale houdings van belastingbetalers teenoor damme in die algemeen.

Daar word ook nie aandag gegee aan die oorsprong van die naam Ertjieskoofdam nie. Watter tipe wilde-ertjies kom in hierdie kloof voor waarna die dam waarskynlik vernoem is? Dipogon lignosus kom wel in die Wes-Kaap se bergagtige dele voor, maar onder die name van plantspesies op ‘n inligtingsbord aan die voet van Stellenboschberg word nie na enige soort wilde-ertjie verwys nie.

Besonderhede oor geskiedenis van die dam sedert 1960 ontbreek ook. Wie was byvoorbeeld die kontrakteurs wat die dam in 1960 gebou het? Argiefnavorsing kan moontlik meer lig op hierdie kwessies werp. Dit blyk op grond van die US se  Raadsnotules uit die sewentigerjare, dat destyds oorweging daaraan geskenk is om  ’n botaniese tuin, ’n proef-arboretum en selfs ’n opelug klaskamer op te rig noord, suid en wes van die Ertjieskloofdam. Die uitbreiding van die Eucalyptus-aanplanting naby die dam het ook amptelik ter sprake gekom.

Meer inligting oor die geologie van die onderliggende strukture en rotsformasies word ook benodig. Die moontlike toekomstige implikasies van geologiese foutlyne onder die dam behoort onder die vergrootglas geplaas te word.

Samevattend blyk dit egter dat die US, wat die rehabilitasie van die dam betref, ’n voortreflike taak verrig het. Teen die agtergrond daarvan dat water ’n skaars en waardevolle hulpbron is, is dit nie alleen ’n voorbeeld van ’n projek wat die artistieke kant van sake in ag geneem het nie, maar terselfdertyd ook ’n funksionele eindproduk gelewer het wat die ekologie tot voordeel strek.

Ertjieskloofdam voor rehabilitasie. (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Dreinering van grondwater onder die dam. (Foto: Handré Brand)

Bronne geraadpleeg

Fennessey, L. Geen datum. Penn State Physical Plant. Penn State Owned Dams | Office of the Physical Plant (psu.edu).

Mostert, P. 2020. Dam gaan herstel word. Netwerk24. Eikestad Nuus, 29 Oktober.

South African National Committee on Large dams. Geen datum. South African register of large dams as at May 2018. https://sancold.org.za/sa-register-of-large-dams.

Universiteit Stellenbosch. Raadsnotules: 8 Junie 1974, 7 Desember 1978, 17 Maart 1979.

Van der Merwe, FJG. 2002. Coetzenburg: die hart van Stellenbosch se sportkultuur. SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, 14(1):1–13. Coetzenburg_Sport_VdM_2000.pdf.

Winter, K en J Fell. 2017. The new eyes on UCT’s dam. University of Cape Town News. 10 November. The new eyes on UCT’s dam | UCT News.

Persoonlike kommunikasie

Die volgende persone word in die besonder bedank (in alfabetiese volgorde) vir hul bereidwilligheid om inligting oor die rehabilitasieprojek van die Ertjieskloofdam te verskaf:

Enrique Julyan (Professionele Ingenieur, WML Coast, Edms Bpk); Japie Engelbrecht (Fasiliteitsbestuur, US); Johann Potgieter (Stellenbosch Museum); John de Wet (Fasiliteitsbestuur, US); Karlien Breedt (Argief, US); Petro Mostert (Kommunikasiespesialis, Kantoor van die Uitvoerende Bedryfshoof, US).

Dieptemerkers ten opsigte van die dam-uitlaat. (Foto: Handré Brand)

Skanskorftrappe. (Foto: Johan de Beer)

 

 

  • 6

Kommentaar

  • Ludolph Botha

    Baie interessant, dankie! As studente het ons in die laat sestiger-, begin sewentigerjare gereeld langs die dam verby gedraf op die bergpad en dikwels gewens ons kon gou daarin afkoel. Maar, helaas, Dok Craven het met sy stophorlosie onder gewag en laatkommers moes dan weer dieselfde roete oorhardloop.

  • Wessel Pienaar

    Interessante kykie op 'n "buitepos" van die US waarvoor Handré Brand dank verdien. Ek vermoed dat die dam ontwikkel is op die oorblyfsels van 'n leemgroef vir vulmateriaal vir brandpaaie, erosiekeerwalle, stutwalle, noodtoegange tot Stellenboschberg, ensomeer. Deesdae dien die dam in die droë seisoen ook as water-oppikplek vir brandbestrydingshelikopters. Mens kan net hoop dat die dam vorentoe as "laboratorium" sal dien vir navorsing oor die spontane vestiging en voortbestaan van plant- en dierelewe in bergwater - net soos wat ek wens dat die US in samewerking met die plaaslike munisipaliteit 'n botaniese navorsingswonder op die perseel van die (tans "onaantreklike") Jan H. Maraispark wil ontwikkel - iets wat sou kon vergelyk met Kirstenbosch, waar heelwat van die UK se verdienstelike botaniese navorsing uitgevoer word.

  • Elmare Lombard

    Insiggewende en volledige artikel wat jou met nuwe oë laat kyk na dié modderdam wat so deel was/is van menige student en Stellenbosch-inwoner se lewe. Die artikel is ook in mooi keurige Afrikaans geskryf. Baie dankie vir die deeglike artikel, dr. Brand.

  • Die Kleidam, soos dit maar aan ons as kinders bekend was, was vir ons (en ons honde) altyd nog 'n heerlike swemplek gewees in die warm somermaande wanneer Coetzenburg-swembad dikwels gesluit was.
    Die Ertjieskloof/Kleidam word eintlik maar uit die Eersterivier volgepomp. Na die voltooiing van die Riviersonderend-Bergrivier-skema, word aanvullende water uit hierdie skema in die droër somermaande in die Eersterivier losgelaat via Kleinplaasdam, hoofsaaklik vir besproeiing. Kleinplaasdam word op sy beurt via 'n tonnelstelsel uit die Theewaterskloof- en Bergrivierdam aangevul.

  • Koos Holtzhausen

    Die dam het die potensiaal (letterlik potensiële energie) om elektrisiteit op klein skaal op te wek. Dit kan ook as 'n pompogaarskema fungeer. Die water word snags uit die Eersterivier na bo gepomp en bedags vloei die water terug na die rivier, wek elektrisiteit op en stoot so krag terug in die netwerk.

    So 'n stelsel sal dus as 'n battery kan optree om elektrisiteit wat bedags met sonkrag opgewek word te stoor.

    Ek verbeel my dat ingenieurstudente in die verlede al dié moontlikheid as deel van finalejaar-projekte ondersoek het. Dit is nou egter meer relevant met die Munisipaliteit en Universiteit se groenkrag-inisiatief.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top