Wat presies behels die werklike aard, omvang en implikasies van privaatsektorbelegging in watervoorsiening en die instandhouding van waterinfrastruktuur in Suid-Afrika?
Die doel van hierdie artikel is om enkele navorsingstudies, verslae en berigte in die digitale media wat tussen 2013 en 2025 gepubliseer is, kortliks te interpreteer, te bespreek en saam te vat, om sodoende die huidige narratief in verband met privaatsektorbelegging in water as ’n noodsaaklike kommoditeit in Suid-Afrika te beklemtoon.

Foto: Lorenzo Alessio Messina (Pexels.com)
Water is both one of the most precious natural resources in the world and one of the scarcest. In fact, in the year 2000, a popular press article defined water as “the precious commodity that determines the wealth of the nations”, and that people often refer to water as the “blue gold”. (Alvarez en Rodríguez 2015:502)
“We are also putting in place a Water Partnerships Office (WPO) to assist municipalities on how to contract for public-private partnerships and independent water producers,” Mchunu said. The WPO is a ring-fenced entity in the Development Bank of Southern Africa, and the work of such a WPO will be assisted by reforms of the public-private partnership regulatory framework currently being finalised by National Treasury. (MENA report 2022)
Weens klimaatsverandering word toenemend wêreldwyd druk op regerings geplaas om in staatsbegrotings voorsiening te maak vir die finansiering van gapings wat ontstaan as gevolg van die veranderinge en die oorbrugging daarvan (klimaataanpassingspogings). Die internasionale befondsing van ontwikkelende lande, spesifiek ten opsigte van klimaatsverandering, het van $22 miljard in 2021 tot 28 miljard in 2022 toegeneem. Die werklike syfers wat benodig word om hierdie gapings internasionaal te finansier, gaan vanselfsprekend in die toekoms beduidend verder eskaleer (United Nations Environment Programme 2024).
Betroubare watervoorsiening is nóú verwant aan die impak van klimaatsverandering. Die Verenigde Nasies beklemtoon dat waterbestuur – wat landbou, voedselproduksie, ekosisteme en biodiversiteit insluit – met buitengewone doeltreffendheid bestuur moet word, met fokus op risikobepaling, beplanning, implementering en monitering.
Forster, Tuinhof en Van Steenbergen (2012:359) wys daarop dat grondwater noodsaaklik is vir menslike oorlewing en ekonomiese ontwikkeling, veral wat droogtegeteisterde geografiese streke betref. Die toeganklikheid van grondwater wat oorspronklik deur middel van handgeboude putte, fonteine en syferwaterdamme bekom is, het destyds bepaal waar landelike nedersettings, verder weg van rivierlope, gevestig is. ’n Nuwe fokus word tans op die benutting van grondwater geplaas, byvoorbeeld die vinnig toenemende stedelike bevolkings se behoeftes aan watervoorsiening, die benutting van grondwater vir landboubesproeiing, asook ’n toenemende bewuswording om grondwaterbronne doeltreffend te bewaar en bestuur. Baie gebiede in Suid-Afrika word deurlopend blootgestel aan droogtes, wat die behoefte aan vernuwende grondwaterbestuurmetodes beklemtoon. Privaatsektorbelegging in grondwaterberging en -bestuur is dus van wesenlike belang vir die bevordering van droogtebestandheid.
Waterbestuur is ’n komplekse onderneming en sluit in die instandhouding van infrastruktuur vir die berging van grootmaat- (rou) waterbronne, die suiwering van grootmaatwater, die sertifisering van watergehalte, instandhouding van verspreidingsnetwerke en die doeltreffende hantering van afval/rioolwater. Hierdie kompleksiteit vereis gespesialiseerde kundigheid en samewerking tussen verskeie staatsentiteite (Chetty en Luiz 2014).
..........
Uit die 257 munisipaliteite landswyd is 61 stabiel, 161 in gevaar en 35 disfunksioneel (Willemse, 2025:2)
..........
Teen hierdie agtergrond is ’n onlangse berig deur Willemse (2025:2) uiters relevant (en terselfdertyd besonder ontstellend), waarin hy die stelling maak dat munisipaliteite “in ’n krisis verkeer. [...] Uit die 257 munisipaliteite landswyd is 61 stabiel, 161 in gevaar en 35 disfunksioneel. Hierdie situasie wek kommer of doeltreffende waterbestuur en infrastruktuur ’n nasionale en plaaslike prioriteit sal wees, in lyn met internasionale standaarde.”
Volgens die jongste opname deur Statistiek SA het 71,8% van alle stedelike inwoners toegang tot veilig bestuurde water, teenoor slegs 36,7% van die landelike bevolkings. “Bestuurde water” verwys na water waar ’n bron op die perseel geleë is, waar water beskikbaar is wanneer dit benodig word, en wat vry is van fekalieë en skadelike chemiese besoedeling (Suid-Afrikaanse Waternavorsingskommissie 2025).
Die unieke aard van die water-en-sanitasie-bedryf dra verder by tot die uitdagings en kompleksiteit vir privaatbeleggers. Die sektor vereis groot aanvangskapitaalbeleggings met gepaardgaande langtermynverbintenisse. Water is ’n basiese mensereg met beduidende impak op openbare gesondheid en die ekologie, wat owerheidsmonitering regverdig. Die sektor is ingewikkeld om te bestuur en vereis spesialiskennis en -vaardighede, met verspreide verantwoordelikhede tussen verskillende owerheidsentiteite. Langtermynvennootskappe stel privaatsektorbeleggers bloot aan wyd uiteenlopende risiko's, insluitend kontraktuele, regulatoriese en valutagereguleerde onsekerhede (Organisation for Economic Co-operation and Development 2009).
Wat presies behels die werklike aard, omvang en implikasies van privaatsektorbelegging in watervoorsiening en die instandhouding van waterinfrastruktuur in Suid-Afrika? Die doel van hierdie artikel is om enkele navorsingstudies, verslae en berigte in die digitale media wat tussen 2013 en 2025 gepubliseer is, kortliks te interpreteer, te bespreek en saam te vat, om sodoende die huidige narratief in verband met privaatsektorbelegging in water as ’n noodsaaklike kommoditeit in Suid-Afrika te beklemtoon.
Privaatbelegging in Suid-Afrika
Die Suid-Afrikaanse regering het reeds meer as twee dekades gelede tot die besef gekom dat nuwe leweringsmodelle benodig word om die befondsingstekorte ten opsigte van waterinfrastruktuur doeltreffend te bestuur (Ruiters 2013). Sedertdien is vordering gemaak om nuwe beleggingstrategieë in openbare infrastruktuur deur inisiatiewe soos die Nasionale waterhulpbronstrategie, Water vir groei en ontwikkeling, en die Strategiese raamwerk vir waterdienste aan te moedig.
Die doelwitte is: langtermyninfrastruktuurhernuwing oor alle provinsies heen; bepaling van projekprioriteite; benutting van kundigheid om die implementering van projekte te bestuur; en die voorsiening van infrastruktuuruitgawes in die mediumtermynbegroting. Implementering van enige van hierdie modelle behoort ’n bydrae daartoe te lewer om die aptyt vir privaatsektorbeleggings in hierdie ekonomiese infrastruktuurbates te bevorder.
Privaatsektorbelegging sal suksesvol wees slegs indien die nastreef van die winsmotief (met ander woorde die “waarde vir geld”-beginsel) van toepassing is, maar nie ten koste van bestaande openbaresektorbetrokkenheid en -befondsing nie. Vernuwende finansieringsmodelle kan slegs onder die volgende voorwaardes oorweeg word: (i) Die privaatsektor moet bewese ervaring op die gebied kan demonstreer. (ii) Die verwagte diensleweringsuitsette moet duidelik gedefinieer en deeglik deur derdeparty-prestasie-ouditprosedures gekontroleer word. (iii) Bewyse moet gelewer word dat die insluiting van die privaatsektor as deel van ’n vernuwende finansieringskema ooglopend die beste verkrygingsmodel is, gegewe ander moontlike opsies. (iv) Die lewensikluskoste van die projek op langtermyn moet bereken word. (v) Die projekte moet van voldoende omvang wees. (vi) Die skaal van transaksiekoste mag nie buitensporig hoog wees nie.
Langs hierdie weg sal dit moontlik wees om nuwe projekte, soortgelyk aan vorige suksesvolle inisiatiewe soos die Bergrivierdam, Spring Grove-dam en Mokolo-Krokodil- wateraanvullingsprojek, in die toekoms aan te pak. ’n Spelveranderende opwaartse skuif in infrastruktuurbelegging is dringend nodig vir Suid-Afrika.
Openbare en privaatsektorvenootskappe (0PV’s) sluit drie metodes in, naamlik die staats-, hibriede en privaatsektor-modelle (Ruiters en Matjie 2016). In die staatsmodel word die waardeketting van waterdienste volledig deur die regering befonds en die infrastruktuur is in staatsbesit. Die regering is dus die sleutelrolspeler in infrastruktuurbelegging. In die privaatsektormodel word die potensiaal van kapitaalmarkte benut om waterinfrastruktuur te finansier, veral deur middel van plaaslike effektemarkte. Institusionele beleggers (soos pensioenfondse, versekeraars, ens) is veral nuttige bronne van moontlike langtermynfinansiering vir waterdienste-infrastruktuur. Die hibriede model word in die middel van die waardeketting van waterdienste geplaas, dit wil sê, dit is ’n vennootskap tussen die staat en die privaatsektor. Die gebruik van hierdie raamwerk is veral noodsaaklik vir die insluiting van die privaatsektor in die implementering van waterinfrastruktuurontwikkelingsprojekte.
Chetty en Luiz (2014) doen ’n kwalitatiewe ondersoek om die impak van privaatsektorbelegging by die Mbombela-munisipaliteit na te gaan. Die munisipaliteit het ’n 30-jaar-konsessie-ooreenkoms met Biwater aangegaan. Onderhoude is met 12 senior munisipale amptenare gevoer. Die resultate dui daarop dat private deelname in die watersektor wel tot verhoogde doeltreffendheid aanleiding gee, en ook ’n positiewe sosiale impak oplewer. Soortgelyke konsessies vereis noukeurige bestuur, met toepaslike kritieke prestasie-areas om te verseker dat die projek nie uitsluitlik winsgerig is nie, maar ook sosiale doelwitte nastreef en behoeftes respekteer as deel van die kontrak. Sulke konsessies vereis steeds aktiewe staatsdeelname om te verseker dat die kontrakvoorwaardes nagekom word deur doeltreffende professionele toesig en monitering. Die openbare sektor moet nie sy verantwoordelikhede deur middel van uitkontraktering ontduik nie.
Seema en Kibuuka (2017) stel ondersoek in na wyses waarop finansieringsekerheid vir waterhulpbronbestuur verbeter kan word; watter spesifieke voorvereistes projekfinansiering fasiliteer; asook watter instrumente beskikbaar is vir regerings om finansiering te ondersteun en te bevorder. Die navorsers maak gebruik van gemengde metodologie, waartydens kwantitatiewe sowel as kwalitatiewe data ingesamel is. Dit sluit in beste praktyke van internasionale projekte wat deur die Europese Unie befonds word, Suid-Afrikaanse projekte, asook onderhoude met amptenare verbonde aan internasionale ontwikkelingfinansieringsinstellings en die Nasionale Tesourie. Daar is bevind dat die strategiese aanwending van fondse om projekrisiko’s te verminder, beleggersvertroue beduidend bevorder. Deur middel van drie vernuwende finansieringsinstrumente, naamlik beleggingsubsidies, rentekoerssubsidies en tegniese bystand, kon die regering die nodige beleggings vir projekte verseker. Die navorsers kom tot die gevolgtrekking dat gemengde finansiering vir waterbestuur (deur ’n kombinasie van lenings en toelae) in Suid-Afrika voorkeur behoort te kry.
Die Waternavorsingskommissie van Suid-Afrika (2018) wys daarop dat waterhulpbronne, as gevolg van die fundamentele belang vir die ekonomie en instandhouding van lewe in die algemeen, wel oor die potensiaal beskik om ’n gunstige klimaat vir privaatbelegging te skep. Waterbestuur en waterinfrastruktuur kan beskou word as strategiese kommoditeite vir privaatsektorbeleggings wat vergelykbaar is met elektrisiteitvoorsiening asook tegnologie-ontwikkeling.
Die sleutelareas wat aandag vereis, is die volgende:
- Daar is voldoende beleggingsgeleenthede. Die totale befondsingsbehoefte vir die Suid-Afrikaanse watersektor is in 2018 op meer as R70 miljard geraam. Die meeste van hierdie befondsing sal uit die nasionale fiskus kom, maar daar is ’n groot befondsingsgaping, wat uitstekende geleenthede vir die privaatsektor bied.
- Daar word te veel op nuwe waterinfrastruktuur gefokus. Finansiers gee voorkeur aan belegging in nuwe infrastruktuurprojekte. Sulke projekte word beskou as meer winsgewend en minder riskant, omdat die befondsing vir hierdie projekte meestal afgebaken (ring-fenced) is. Hierdie wanbalans tussen die befondsing van nuwe projekte en befondsing vir instandhouding en waterbestuur, is ’n groot uitdaging vir die watersektor.
’n Voorbeeld in hierdie verband is die Idasvallei-watersuiweringsaanleg wat in 1918 gebou is en by drie of vier geleenthede uitgebrei is wat kapasiteit betref. Die meer as 100 jaar oue struktuur is nie ontwerp om kleurstowwe uit die water te verwyder nie, en weens die ouderdom daarvan is dit nodig om groot dele uit produksie te haal sodat die nodige onderhoud gedoen kan word. Dit is egter nie prakties haalbaar nie, want dan is die beskikbare hoeveelheid water, bloot vir basiese doeleindes, totaal onvoldoende. ’n Konsultant is aangestel wat voorkeur gegee het aan die oprigting van ’n nuwe aanleg teen ’n koste van ongeveer R350 miljoen. Die voorkeurtegnologie van die konsepprojek is egter nie koste-effektief nie en ook baie duur om te onderhou. Strategiese opgraderings is in hierdie geval beslis beduidend goedkoper as ’n nuutgeboude struktuur (Janse van Rensburg 2025).
- Die privaatsektor is veels te risiko-sku om effektief in die watersektor te belê. Die hoë vlak van risiko-skuheid in die privaatsektor rakende water het dié sektor se effektiewe deelname aan die sektor belemmer. Hierdie risiko-skuheid moet verander indien die privaatsektor die beleggingsgeleenthede in die watersektor wil benut. Daar is ’n behoefte aan die skep van beter inligtingskanale met betrekking tot die privaatsektor.
- Meer vernuwende befondsingsmeganismes word benodig om beleggings te ontsluit. Die tradisionele meganismes vir privaatsektorbetrokkenheid in waterbestuur, soos privaat-publieke-vennootskappe in verskeie vorme, het nie effektiewe uitkomste in Suid-Afrika opgelewer nie. Daar is ’n dringende behoefte om meer vernuwende befondsingsmeganismes te ondersoek, soos impakbeleggings en waagkapitaal, bo en behalwe die reeds bekende benaderings. In dié verband verwys Alvarez en Rodríguez (2015) na die potensiaal van oop (open-ended) waterverwante onderlinge fondse, met ander woorde fondse waarin beleggers op enige tydstip, en direk deur middel van die fonds, aandele kan koop of verkoop sonder om van ’n tussenganger gebruik te maak.
- Onvoldoende evolusie in die politieke landskap in Suid-Afrika. Daar is ’n sterk persepsie in die beleggersgemeenskap in sy geheel dat deregulering belangrik is om ’n meer positiewe beleggingsklimaat te skep.
- Die afwesigheid van ’n onafhanklike reguleerder is ’n struikelblok vir die ontsluiting van privaatsektorbeleggings. Die moontlike instelling van ’n onafhanklike reguleerder sou ’n uiters nuttige meganisme wees om privaatsektorvertroue in belegging in waterinfrastruktuur te versterk.
Impakfinansiering vir waterinfrastruktuurprojekte raak toenemend gewild in Suid-Afrika. Impakfinansiering fokus nie uitsluitlik op winsopbrengste nie, maar ook op meetbare, positiewe sosiale en omgewingsimpakte (McCallum en Viviers 2020). Die navorsers wend ’n poging aan om primêre hindernisse en geleenthede te identifiseer wat impakbeleggers in hierdie sektor in die gesig staar. Semigestruktureerde onderhoude is met 20 kundiges in die Suid-Afrikaanse impakfinansieringswaardeketting en watervoorsieningstelsels gevoer. Die respondente het meer dikwels hindernisse as geleenthede geïdentifiseer en was veral bekommerd oor die gebrek aan lewensiklusondersteuning, asook die moontlikheid van politieke inmenging en lae winsmarges. Die respondente het egter die potensiële positiewe invloed van hierdie tipe beleggings op die plaaslike gemeenskappe en ekonomieë erken en beklemtoon. Die kenners was van mening dat die beste geleenthede te vinde is in gedesentraliseerde waterinfrastruktuur, veral waar vernuwing deur ’n samekoms van diverse sektore en kundigheid gedryf word. Omdat die openbarebefondsingsgaping in Suid-Afrika waarskynlik in die toekoms sal toeneem, behoort vernuwende finansiering en staatsondersteuning steeds belangriker te word.
Thulani en Fourie (2023) noem dat alhoewel openbare en privaat vennootskappe deur munisipaliteite benut kan word om die finansieringsgaping van waterinfrastruktuurprojekte te oorbrug, dit selde as ’n finansieringsopsie gebruik word. Die beperkende faktore wat ’n rol speel, is die volgende: ingewikkelde regulerende omgewings, politieke beïnvloeding, die kompleksiteit van die vennootskappe, en die gebrek aan kennis en vaardighede.
Gwiza en Jarbandhan (2024) maak gebruik van inhoudsontleding van dokumentasie as ’n kwalitatiewe data-ontledingstegniek om inligting te verkry in verband met die ervarings, geleenthede en uitdagings wat verband hou met openbare en privaatsektorvennootskappe in waterinfrastruktuurontwikkeling in Suid-Afrika. Die bevindinge dui op onvoldoende voorsiening van water in Suid-Afrika, wat vererger word deur ernstige infrastruktuuragterstande. Alhoewel dié vennootskappe op beleidsvlak as ’n lewensvatbare beleggingsmodel erken word om hierdie uitdagings in die watersektor aan te spreek, word die implementering daarvan gekniehalter deur verskeie faktore, insluitend die betreklik lang prosesverloop, bestuurs- en aanspreeklikheidskwessies, ’n gebrek aan politieke wil, problematiese risikotoewysing, hoë koste, en korrupsie. Die navorsers lê veral klem op die noodsaaklikheid om genoemde uitdagings aan te spreek sodat die benutting van openbare en privaatsektorvenootskappe in Suid-Afrika se watersektor dringend kan verbeter.
..........
Suid-Afrika benodig sowat R256 miljard per jaar tot 2050 om watersekerheid te verseker, met ’n jaarlikse tekort van ongeveer R91 miljard.
..........
Volgens Roelof van den Berg, uitvoerende hoofbeampte van die Gap Infrastruktuur Koöperasie, het Suid-Afrika jaarliks sowat R256 miljard se beleggings nodig om nasionale watersekerheid teen 2050 te verseker, wat oor hierdie tydperk op sowat R7,2 triljoen te staan kom (News24, 2025). Hierdie formidabele belegging is noodsaaklik om universele toegang tot water te bevorder en die volhoubare-ontwikkelingsdoelwitte sowel as die Nasionale Ontwikkelingsplan se mikpunte te laat realiseer.
Suid-Afrika word as ’n waterskaars land geklassifiseer, met gemiddelde reënval wat slegs die helfte van die wêreldgemiddeld is. Dit verhoog die dringendheid van doeltreffende waterinfrastruktuur en effektiewe water- en sanitasiedienste om onnodige vermorsing te verminder, hulpbronne te optimaliseer, en ’n groeiende bevolking te ondersteun. Onvoldoende belegging in waterinfrastruktuur kan die ekonomie miljoene rande aan verlore produktiwiteit kos en sektore soos landbou, vervaardiging, mynbou en konstruksie negatief beïnvloed.
Die befondsingsgaping – die verskil tussen huidige beleggingsvlakke en wat benodig word – word geskat op gemiddeld R91 miljard per jaar van 2023 tot 2050, wat sowat 37% van die totale jaarlikse behoefte verteenwoordig.
Die berig beklemtoon verder die kritieke rol van die privaatsektor en die belangrikheid van openbare en privaatsektor-vennootskappe om in hierdie beleggingsbehoeftes te voorsien, gegewe die groot beperkings op staatsfinansies. Die beleggingsbehoeftes word hoofsaaklik gedryf deur die noodsaak om bestaande infrastruktuur te hernu, agteruitgang van diensgehalte aan te spreek, en in die toekomstige vraag na water te voorsien, met kapitaalbesteding aan infrastruktuurhernuwing as die grootste uitgawe.
Kernboodskap
Hierdie artikel fokus op die kritieke rol van privaatsektorbelegging in die befondsing en bestuur van waterinfrastruktuur in Suid-Afrika. Die kernboodskap is dat die openbare sektor nie in staat is om alleen die enorme finansiële las te dra nie, en dat vernuwende finansieringsmodelle en ’n sterker privaatsektorbetrokkenheid noodsaaklik is om die land se watersekerheid en volhoubare ontwikkeling te verseker.
Die belangrikste aspekte is:
- Klimaatsverandering en bevolkingsgroei verhoog die druk op waterinfrastruktuur, terwyl finansieringsgapings steeds groter word.
- Doeltreffende grondwaterbestuur en privaatsektorbeleggings is noodsaaklik vir droogtebestandheid en volhoubare watervoorsiening, veral in landelike en droogtegeteisterde gebiede.
- Waterbestuur is kompleks en vereis omvangryke kapitaalbelegging, spesialiskennis en langtermynverbintenisse, wat die sektor minder aantreklik maak vir private beleggers weens hoë risiko’s en lae winsmarges.
- Die staat het reeds beleidsraamwerke en strategieë geïmplementeer om privaatsektorbeleggings aan te moedig, soos die Nasionale Waterhulpbronstrategie, asook openbare en privaatsektorvennootskappe.
- Empiriese studies toon dat privaatsektorbelegging, doeltreffendheid en sosiale betrokkenheid kan toeneem, mits daar voldoende toesig, goed gespesifiseerde kontrakte en staatsbetrokkenheid is.
- Wesenlike uitdagings sluit in: risiko-skuheid in die privaatsektor, voorkeur vir belegging in nuwe eerder as bestaande infrastruktuur, ’n gebrek aan vernuwende finansieringsmeganismes, politieke inmenging en die afwesigheid van ’n onafhanklike reguleerder.
- Die befondsingsgaping is enorm: Suid-Afrika benodig sowat R256 miljard per jaar tot 2050 om watersekerheid te verseker, met ’n jaarlikse tekort van ongeveer R91 miljard.
Belangrikste tekortkominge
Die opvallendste leemte van hierdie artikel is die feit dat hoofsaaklik op die bevindings van ’n seleksie van sekondêre bronne staatgemaak is. Die artikel slaag gevolglik nie daarin om ’n volledige oorsigtelike beeld van die problematiek van investering en doeltreffende watervoorsiening in Suid-Afrika aan die leser oor te dra nie. Onderhoude met kenners op die terrein (byvoorbeeld batebestuurders) asook data-opnames en gevallestudies sou addisionele waarde toevoeg en die praktiese waarde verhoog. Inligting oor die rol en implikasies van misdaadsindikate (die watermafia) sou wenslik wees. Die negatiewe gevolge van kommersialisering sou ook in meer diepte aangespreek kon word, sowel as die impak van die produksie van groen waterstof (waar groot hoeveelhede water tydens elektrolise gebruik word) op Suid-Afrika se kosbare waterbronne.

Proaktiewe bestuur en etiese samewerking tussen die staat, plaaslike owerhede en die privaatsektor bevorder positiewe uitkomste. (Foto: deur skrywer verskaf)
Eindnota
Nico-Ben Janse van Rensburg, bestuurder van watersuiwering en infrastruktuurdienste, Stellenbosch Munisipaliteit, word bedank vir sy bereidwilligheid om die artikel voor publikasie te lees en vir sy insette om die gehalte van die inhoud te verbeter.
Bibliografie
Alvarez, M en J Rodríguez. 2015. Water-related mutual funds: investment performance and social role. Social Responsibility Journal, 11(3):502–12. Water-related mutual funds: investment performance and social role - ProQuest.
Chetty, S en JM Luiz. 2014. The experience of private investment in the South African water sector: the Mbombela concession. Development Southern Africa, 31(4):563–80. https://doi.org/10.1080/0376835X.2014.907536.
Forster, S, A Tuinhof en F van Steenbergen. 2012. Managed groundwater development for water-supply security in Sub-Sahara Africa: investment priorities. Water SA, 38(3):359–66. https://www.researchgate.net/publication/262757738_Managed_groundwater_development_for_water-supply_security_in_Sub-Saharan_Africa_Investment_priorities. DOI: 10.4314/wsa.v38i3.1.
Gwiza, A en VDB Jarbandhan. 2024. Debilitating factors affecting public-private partnerships (PPPs) in South Africa’s water sector: reflections and opportunities for good governance. African Journal of Public Administration and Environmental Studies, 3(3):23-46. Debilitating factors affecting public-private partnerships (PPPs) in South Africa’s water sector: reflections and opportunities for good governance - ProQuest
Janse van Rensburg, N-B. 2025. Persoonlike kommunikasie, Stellenbosch, 6 Julie.
McCallum, S en S Viviers. 2020. Private sector impact investment in water purification infrastructure in South Africa: a qualitative analysis of opportunities and barriers. Water SA, 46(1):44–54. Gale Academic OneFile, dx.doi.org.ez.sun.ac.za/10.17159/wsa/2020.v46.i1.7880.
MENA Report. 2022. South Africa: private sector investment key to achieving water SDGs. Camden, 21 September. South Africa: private sector investment key to achieving water SDGs - ProQuest.
News24. 2025. Budget highlights major investment opportunities in SA’s water sector. 14 Mei. Budget highlights major investment opportunities in SA’s water sector | News24.
Organisation for Economic Co-operation and Development. 2009. Private sector participation in water infrastructure. OECD checklist for public action. Private sector participation in water infrastructure (EN).
Ruiters, C. 2013. Funding models for financing water infrastructure in South Africa: framework and critical analysis of alternatives. Water SA, 39(2):313–26. http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S1816-79502013000200016&lng=en&tlng=en.
Ruiters, C en MP Matji. 2016. Public-private partnership conceptual framework and models for the funding and financing of water services infrastructure in municipalities from selected provinces in South Africa. Water SA, 42(2):291. Gale Academic OneFile, dx.doi.org.ez.sun.ac.za/10.4314/wsa.v42i2.13. Public-private partnership conceptual framework and models for the funding and financing of water services infrastructure in municipalities from selected provinces in South Africa. - Document - Gale Academic OneFile.
Seema N en P Kibuuka. 2017. Innovative financing mechanisms for government to leverage private sector investment in infrastructure for sustainable development in South Africa: case study in the water sector. Public and Municipal Finance (Hybrid), 6(3):33–44. http://dx.doi.org/10.21511/pmf.06(3).2017.04 https://www.researchgate.net/publication/321701407_Innovative_financing_mechanisms_for_government_to_leverage_private_sector_investment_in_infrastructure_for_sustainable_development_in_South_Africa_case_study_in_the_water_sector.
Suid-Afrikaanse Waternavorsingskommissie. 2018. Exploring opportunities for local investment in water and sanitation services. Technical Brief. TB_2484_Investment in water and sanitation.pdf.
—. 2025. Rural communities still lagging behind in water, sanitation delivery – Stats SA. The Water Wheel, 24(4):14-17. WW July - Aug 2025_web.pdf.
Thulani, M en DJ Fourie. 2023. Factors influencing the adoption of municipal public-private partnerships in water-infrastructure projects in South Africa. Africa Today, 69(4):3. Gale Academic OneFile, dx.doi.org.ez.sun.ac.za/10.2979/africatoday.69.4.01.
United Nations Environment Programme. 2024. Adaptation Gap Report. 7 November. Adaptation Gap Report 2024 | UNEP - UN Environment Programme.
Willemse, R. 2025. Munisipaliteite in ’n krisis. Toepassing van witskrif die probleem, meen OG. Die Burger, 24 Junie, bl 2. https://epublikasies.netwerk24.com/html5/reader/production/default.aspx?pubname=&edid=e8187cd2-73c8-4836-8b65-d29bb909454e.
Lees en kyk ook:
Can the private sector help solve South Africa’s water crisis?
Durban’s water crisis: far more than pipes and taps at stake
Yet again, turmoil around a small town’s water: Cradock’s story and its wider messages
Navorsing oor water en infrastruktuur: die Rozendal-reservoir by Stellenbosch
Are we heading for a service delivery election? A water and sanitation perspective
Cities and water: some lessons from very water-scarce places