The water stored in reservoirs requires to supply the considered water demands even during natural disasters such as floods and droughts which may cause ecologic, economic, societal and sanitary problems. Emami en Parsa (2020:176)
Agtergrond
.........
Die resultate van die onlangse buitewerkingindeks (Out of order index) waarin meer as 200 Suid-Afrikaanse munisipaliteite en agt metrorade geëvalueer word wat dienslewering betref, was in baie opsigte verrassend en selfs ontstellend. Die Wes-Kaapse munisipaliteite wat die hoogste totale punt volgens die indeks behaal het, was Kaap Agulhas en Overstrand beide met 65% as prestasiepunte onderskeidelik.
..........
Die resultate van die onlangse buitewerkingindeks (Out of order index) waarin meer as 200 Suid-Afrikaanse munisipaliteite en agt metrorade geëvalueer word wat dienslewering betref, was in baie opsigte verrassend en selfs ontstellend. Die Wes-Kaapse munisipaliteite wat die hoogste totale punt volgens die indeks behaal het, was Kaap Agulhas en Overstrand beide met 65% as prestasiepunte onderskeidelik. Selfs hierdie puntetoekenning is relatief laag en dui daarop dat die reeks veranderlikes waarskynlik ’n skewe verspreiding opgelewer het. Dit is moontlik om op ’n ander manier na die inligting en verskille tussen munisipaliteite te kyk indien die dataverspreiding genormaliseer sou word.
Die databronne wat gebruik is om hierdie indeks op te stel, was (op die oog af) omvattend en betroubaar en sluit gegewens in soos verkry van die Nasionale Tesourie, Statistiek SA en die ouditeur-generaal. Stellenbosch-munisipaliteit het slegs ’n totale punt van 58% op die indeks behaal.
Wat sou dan die oorsake vir hierdie onverwagse swakker as verwagte prestasie wees?
Die antwoord (soos in die verslag aangedui word) is te vinde in ’n kombinasie van faktore, soos finansiële bestuur, skuldvermindering, kwaliteit van dienslewering, opleiding van personeel asook die etiese en waardeprofiel van die raadslede. Die instandhouding van infrastruktuur is ’n verdere faktor wat ’n bydrae lewer in die samestelling van die totale punt.
Objektief beskou is die beeld wat Stellenbosch en omgewing oor baie jare by waarnemers geskep het, ’n positiewe een, naamlik dat die versorging, instandhouding, herstel en verbetering van infrastruktuur juis een van die sterkpunte van die plaaslike munisipaliteit is.
Restourasie van die Rozendal-reservoir
Wat instandhouding en modernisering van Stellenbosch se infrastruktuur betref, kan die Rozendal-reservoir (foto 2) as ’n goeie voorbeeld uitgelig word.
Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is ’n reservoir ’n mensgemaakte struktuur waarin groot volumes water opgeberg word vir algemene gebruik.
Soos op bogenoemde lugfoto duidelik blyk, is die herstel- en opgraderingsproses van die Rozendal-reservoir voluit aan die gang. Die maatskappy AECOM¹ is gedurende 2019 aangestel om die werk te onderneem. Die oorspronklike dak van gewapende beton van die reservoir is reeds verwyder. Tydens ’n gesprek met die kontrakteur oor die hersirkulering van beton is genoem dat die brokstukke dakbeton in ’n ander projek hergebruik gaan word.
Die betonstutpilare vir die dak kan op die foto duidelik gesien word.
Die oorspronklike ondergrondse Rozendal-reservoir (met ’n kapasiteit van 4,5 megaliter water) is na raming meer as 50 jaar gelede gebou. Dit vorm ’n belangrike skakel in die watervoorsieningsisteem van die aanliggende woonbuurte soos Rozendal, Uniepark, Karindal, Mosterddrif, Simonswyk en Universiteitsoord.
Die reservoir se hoofwatervoorsieningsgebied is die Eersterivier, van waar die water deur middel van ’n enkele onttrekkingspunt aan die bokant van die Kleinplasiedam in die rivierloop via ’n ondergrondse pypstelsel en gravitasie vloei. Op weg na die reservoir word die water behandel (deur filtrasie, sedimentverwydering, byvoeging van chemikalieë soos kalk en chloor) en vloei dit daarna tot by die opbergingspunt.
Die reservoir as opbergstruktuur dien dus hoofsaaklik as ’n buffer tussen die gevarieerde watervloei van die Eersterivier en standhoudende en betroubare watervoorsiening aan die dorpsgebied. ’n Reservoir van hierdie kapasiteit is ontwerp om tot 48 uur ononderbroke drinkwater aan die gegewe bedieningspunte te voorsien indien iets onvoorsiens in die voorsieningstelsel sou gebeur.
Die restourasie van die reservoir vorm deel van die uitbreiding van die stoorkapasiteit van Stellenbosch se watervoorsieningsnetwerk (soos die beplande Helshoogte-reservoir, die opgradering van die Idasvallei-waterwerke, asook die installasie van grootmaatwaterverspreidingpyplyne tussen die grootmaatwatervoorsieningsnodusse in die dorp) waarmee in die toekoms begin sal word.

Ligging van die Rozendal-reservoir (met erkenning aan AECOM, Terry February Photography).
Die vermoede het met verloop van tyd posgevat dat lekkasies in die reservoir ontstaan het. Die struktuur is gevolglik leeg gepomp en ’n volledige assessering (foto 2) van die situasie is deur AECOM onderneem.

Finale voorbereidings voor restourasie (met erkenning aan AECOM, Terry February Photography).
Roesuitsetting (spalling) is in die gewapendebetonstruktuur van die dak en die stutpilare (of kolomme) geïdentifiseer. Sodra water en suurstof met staal in aanraking kom, ontstaan roes. Uitsetting vind plaas en die staalbewapening in die beton word daardeur verswak. Tydens oprigting van die reservoir destyds is die staalbewapening 10–15 mm vanaf die oppervlak van die dakstruktuur geplaas, terwyl dit deesdae veel dieper (selfs tot 50 mm diep) geplaas word juis om roesuitsetting te voorkom. Die risiko ontstaan gevolglik dat die betonstruktuur weens roesuitsetting met verloop van tyd verdere lekkasies kan ontwikkel en selfs totaal kan disintegreer en ineenstort.
Hierna is ’n proses van stapel gestuur om die bestaande dakstruktuur (foto 3) met behulp van lugdrukbore op te breek en te verwyder. Alle stutpilare (foto 4) wat roesagtige traanmerke aan die oppervlak getoon het, is oopgeboor om die geroeste areas te ontbloot. Die ou geroeste staalversterkings is verwyder en met nuwe bewapening vervang. Die vloer van die reservoir is terselfdertyd volledig en noukeurig met gietbeton herstel (foto 6).
’n Staalnetwerk is aan die binnekant van die mure aangebring (foto’s 6 en 7) wat as basis dien vir ’n nuwe gewapendebetonspuitverseëling (shotcrete) om alle moontlike lekkasies deur die muur te voorkom.
Die nuwe dak bestaan uit voorafvervaardigde gegotebetonpanele. Die kontrakteur kan dus eenvoudig die afsonderlike panele of elemente vanaf ’n eksterne vervaardiger bestel. Dit word dan per vragmotor na die bouperseel vervoer en soos Lego-blokkies in posisie geplaas (foto 8).

Roes sigbaar aan die gewapendebetondakstruktuur van die reservoirdak voor herstelwerk begin het (met erkenning aan AECOM, Terry February Photography).
Groen kwessies
Wat die groen fasette van hierdie projek betref, kan genoem word dat die Rozendal-reservoir ʼn voorbeeld is van ʼn ondergrondse reservoir en dus veral vanaf ʼn horisontale waarneminghoek effektief saamsmelt met die onmiddellike natuurlike omgewing. ʼn Verdere aspek is die benutting van vlieg-as (ʼn afvalproduk wat vrygestel word tydens verbranding van onder andere sekere tipes organiese materiaal) in die sement wat tydens die restourasieproses gebruik word. Die byvoeging van tot 30% vlieg-as is veral nuttig om ʼn minder deurdringbare betonmengsel te verkry.

Roestraanmerke sigbaar aan die buitekant van die stutpilare (met erkenning aan AECOM, Terry February Photography).
Samevattende opmerkings
Swak- en sterkpunte in verband met die bestuur van Suid-Afrikaanse munisipaliteite word in die onlangse buitewerkingindeks na vore gebring. ’n Wye verskeidenheid oorsaaklike faktore wat sowel goeie as swak prestasie verklaar, word ook in hierdie verslag bespreek.
Die gebrek aan instandhouding van infrastruktuur deur munisipaliteite is ’n faktor wat ’n wesenlike rol speel in die totale punt wat op hierdie indeks verwerf word. Alhoewel die Stellenbosch-munisipaliteit ’n beskeie totale punt van 58% op die indeks behaal het, word in hierdie artikel na die restourasie van die Rozendal-reservoir verwys as ’n voorbeeld van uitnemende bestuur van die instandhouding van plaaslike infrastruktuur.
.........
Die projek getuig van ’n strategiese visie om noodsaaklike watervoorsiening aan die plaaslike gemeenskap, sowel as water as ’n noodsaaklike en kosbare hulpbron, doeltreffend te bestuur.
Daar word vertrou dat die sukses van die Rozendal-reservoirprojek ’n besliste impak sal uitoefen op die evaluering van plaaslike infrastruktuurinstandhouding tydens ’n toekomstige buitewerkingindeks-opname.
..........
Die projek getuig van ’n strategiese visie om noodsaaklike watervoorsiening aan die plaaslike gemeenskap, sowel as water as ’n noodsaaklike en kosbare hulpbron, doeltreffend te bestuur.
Daar word vertrou dat die sukses van die Rozendal-reservoirprojek ’n besliste impak sal uitoefen op die evaluering van plaaslike infrastruktuurinstandhouding tydens ’n toekomstige buitewerkingindeks-opname.
In aansluiting by Emami en Parsa (2020:176) kan dit onomwonde gestel word dat die belangrikheid en rol van opberging van drinkwater in munisipale reservoirs nooit onderskat behoort te word nie.
Eindnotas
¹ Christian Jordaan (Pr Ing, AECOM) en Duard Erasmus (Pr Teg Ing, AECOM) word bedank vir hul waardevolle insette wat die inhoud van hierdie artikel betref, asook vir die fotografiese materiaal wat voorsien is.
² Adriaan Kurtz (voorheen senior bestuurder, water- en afvalwater, Stellenbosch-munisipaliteit) word bedank vir sy belangrike rol tydens die vooraf skakelingsproses met die munisipaliteit.

Restourasie van die vloer (foto die skrywer).

Installering van ’n staalnetwerk vir rehabilitasie van die mure (met erkenning aan AECOM, Terry February Photography).

Die gewapendebetonspuit-tegniek (met erkenning aan AECOM, Terry February Photography).

Installering van die dakpanele (foto: die skrywer).
Lees ook:


Kommentaar
Soos altyd,'n aktuele tema deur die skrywer ... veral goed om ook 'n positiewe herbevestiging van Stellenbosch-munisipaliteit te lees!!!