
Foto: Patrick Pahlke op Unsplash
Gedagtes na ’n regeringbestekopname van water en sanitasie in Suid-Afrika
Die omvang van Suid-Afrika se water-en-sanitasie-probleme het hierdie week skerp onder the soeklig gekom met die vrystelling van drie belangrike verslae van die Departement van Water en Sanitasie (DWS): Blue drop (water), Green drop (sanitêre afval) en No drop (beter regulasie en waterbesparing).
Die verslae is op sigself verwelkom, maar des te meer omdat daar geen sodanige rekenskap gegee is tussen 2003 and 2012 tydens die twee vorige WSS-ministers, Nomvula Mokonyane en Lindiwe Sisulu, se termyne nie. Tereg waarsku die huidige minister, Senzo Mchunu, in sy voorwoord dat “We need to build on the good work being done through the Drops Programme but must ensure that it does not become our only catalyst for change.” Dis ’n geldige punt, maar dan moet mens byvoeg dat hierdie eerlike bestekopname welkom is.
Die syfers
Die waterverslag wys dat sedert 2014, toe 44 watervoorsieners Blue drop-status ontvang het, vanjaar net 26 die sertifikate bekom het. Vyftien Wes-Kaapse munisipaliteite (of drie persent) het Blue drop-sertifikate ontvang, veel meer as die drie elk van Gauteng en KwaZulu-Natal. Geen ander munisipaliteite het vir ’n Blue drop-sertifikaat gekwalifiseer nie, insluitende in die Oos-Kaap met twee van die grootste stede. Die jongste verslag wys ook dat byna die helfte van munisipaliteite landswyd nie oor basiese maandelikse verbruiksyfers beskik nie.
Die verslae raam dat gemiddeld 47 persent van munisipale water in Suid-Afrika tans verlore gaan as sogenaamde “non-revenue water” as gevolg van lekkende pype, onbetroubare (of selfs geen) watermeters, onwettige aansluitings, en onvoldoende inkomste-invordering. Nog meer skokkend: Sommige munisipaliteite het geen gekwalifiseerde wateringenieurs in diens nie.
Die Green drop-verslag bevind dat 64 persent van die land se riool-en-afvalwatersuiweringswerke “hoë of kritieke” risiko loop om onbehandelde water in riviere en die omgewing te stort.
Beter regulering nodig
In ooreenstemming met die DWS se 2018 Nasionale Water- en Sanitasie-meesterplan beklemtoon die No drop-verslag dat beter regulering nodig is om WSS-instellings te verplig om lekkasies te meet en te beheer, of reg te maak, eerder as om nuwe infrastruktuurprojekte te prioritiseer. Ten spyte van sentrale-regering-ondersteuning aan munisipaliteite, dui die Drop-verslae aan dat die volumes en kwaliteit van waterdienste steeds afneem en dat fundamentele hervorming nodig is om die probleme onder die knie te kry.
.........
Ten spyte van sentrale-regering-ondersteuning aan munisipaliteite, dui die Drop-verslae aan dat die volumes en kwaliteit van waterdienste steeds afneem en dat fundamentele hervorming nodig is om die probleme onder die knie te kry.
........
Wat die gehalte van drinkwater betref, erken die verslae dat dit nie "mikrobiologies veilig" was om die water in 46 persent van drinkwaterstelsels te drink toe die 2022 Blue drop-oudit gedoen is nie. Dit dui op stygende risiko’s van lewensgevaarlike watergebaseerde siektes soos cholera en chroniese diarree. Kraanwater in die meeste van Suid-Afrika se groot stede word steeds as drinkbaar geklassifiseer, maar dit is selfs in groter dorpe aan die afneem, en daar is ’n groeiende risiko in al hoe meer dele van die land.
Institusionele uitdagings
Daar is wye konsensus in die professionele watergemeenskap dat die kritieke tekortkoming in Suid-Afrika se stedelike-water-sektor nie soseer finansieel of tegnies van aard is nie. Sean Phillips, direkteur-generaal van die DWS, beklemtoon hierdie punt dikwels, veral met verwysing na ’n tekort aan geskoolde personeel en effektiewe proseskontroles.
Kenners stem saam: Kort voor die DWS-vrystellings haal Vrye Weekblad op 1 Desember vir Steven Kaplan, die president van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurswese (SAICE), aan oor bevindings dat daar “feitlik geen senior ingenieurs by munisipaliteite oor is nie”. Dieselfde artikel haal ook vir Anthony Turton van die Universiteit van die Vrystaat aan wat sê dat “die oorkoepelende tema van die lang broeiende krisis regoor Suid-Afrika ... ’n institusionele ineenstorting” is, en dat “infrastruktuur onklaar raak omdat instellings misluk het”.
Hierdie is geldige punte, maar die institusionele dilemma strek wyer as professionele dissiplines, kwalifikasies en persoonlikhede. Kom ons noem dit eerder institusionele stelsels en verantwoordbaarheid wat meer nuanse aan die institusionele debat gee. Daarom maak dit sin om instellings te definieer in terme van “formele en informele sosiale, politieke en ekonomiese verhoudings vir gestruktureerde interaksie en aansporings”. In infrastruktuursektore soos water en elektrisiteit het die internasionale tendens toenemend verskuif van burokratiese staatsdepartemente na afgebakende diensorganisasies, hetsy privaat of in die openbare sektor.
Alhoewel die onlangse Eskom-ervaring nouliks vertroue in die afbakening van diensverskaffers regverdig, is dit tog duidelik dat hierdie model van ’n onafhanklike voorsiener meestal beter resultate lewer as een van staatsdepartemente wat aansukkel met personeel wat nie tegnies en strategies genoeg geskool is nie. Die huidige verval in stedelike waterbestuur in Suid-Afrika is die gevolg van ’n kombinasie van swak bestuur en wanbesteding, en die DWS en Nasionale Tesourie se leierskap lyk oop vir verandering van waterdienstefunksies – van direkte munisipale dienslewering tot gebruik van eksterne kontrakteurs.
........
Nasionale gereedheid vir institusionele hervorming moet plaaslik gegrond wees en vereis robuuste onderhandelinge en konsensusbou.
........
Laasgenoemde beteken nie noodwendig volle privatisering nie, maar eerder kontraktering van professionele dienslewering, hetsy binne die openbare sektor of met privaat firmas. Daar is talle suksesverhale van sodanige professionele kontraktering – in Afrika, insluitende Suid-Afrika, en elders. Die gemene deler is professionele geloofwaardigheid, nie soseer staatsdiens versus die privaatsektor nie.
Nasionale gereedheid vir institusionele hervorming moet plaaslik gegrond wees en vereis robuuste onderhandelinge en konsensusbou. Die beleidsbeginsels van hervormers soos in die huidige DWS-top-leierskap en die tesourie vind wel weerstand op munisipale vlak. Soms is hierdie binnegevegte net so kru as ’n meningverskil oor die toekenning van tenders, maar die debat kan heel produktief verskuif na een oor beginsels en funksionaliteit.
Soms mag verhoogde nasionale toesig oor munisipale WSS-besture geregverdig wees, veral as hulle nie aan hul prestasie- en verpligte norme en standaarde voldoen nie. Die institusionele status van plaaslike regering was egter een van die groot kwessies in Suid-Afrika se grondwetlike onderhandelinge tydens die oorgang van apartheid na demokrasie in die 1990’s. Om dit te verander sal harde, komplekse bedinging verg.
Maar ander munisipaliteite het wel verantwoordbare diensleweringsagentskappe geskep, wat veel beter resultate en geskoolde professionaliteit meegebring het – so uiteenlopend as Dakar, Kampala, Manila, Sjanghai, en vele meer ...
Chris Heymans is ’n vryskutadviseur oor die politieke ekonomie van stedelike ontwikkeling en water en sanitasie.
Lees ook:
Cities and water: some lessons from very water-scarce places
Kommentaar
Excellent summary. I really liked the idea of Blue, Green, No Drop lenses of looking at the South African water situation; and salute those who had the courage to report on this.
At the same time the reality is that the South African government has dropped the “balls” (plural) on infrastructure. The competitiveness report card for South African infrastructure is equally poor when we look across roads, railroads, energy, electricity, health, science, environmental controls and education, and the trajectory is only downward from the enviable legacy infrastructure inheritance in 1995. Recovery requires uncorrupted, functional governance, engineering capacity, performance measurement, funding, and for “delivery” to trump “transformation” as the primary objective of our public service providers.