Politieke ondersteuning onder bruin mense aan politieke partye: plaaslike verkiesing 2026

  • 0

Foto deur Greg Reese van Pixabay

...
Armoede en werkloosheid vier steeds hoogty in alle bruin gemeenskappe en kan nie meer geïgnoreer word nie.
...

Die komende plaaslikeregeringsverkiesing wat op 4 November gaan plaasvind, en wat die uitslag in die Wes-Kaap grootliks kan beïnvloed, gaan tot ’n groot mate afhang van die ondersteuning van bruin mense aan die verskillende politieke partye. Wat van belang is, is dat bruin mense besef dat hulle nie telkens as stemvoer gebruik kan word nie.

Menige politieke party het al probeer om ’n tuiste vir die oorgrote bruin kiesers te wees, maar kon tot op datum nie daarin slaag nie. Die bruin kieser was daar, of is daar, om oortuig te word dat hul stem belangrik is. Van beloftes wat gemaak was, of weer gemaak is, het niks gekom nie. Armoede en werkloosheid vier steeds hoogty in alle bruin gemeenskappe en kan nie meer geïgnoreer word nie. Die aanspreek daarvan is ook beperk, en geen grootskaalse uitvoering van hierdie beloftes is sigbaar nie. Dít is wat so ooglopend is en wat mense tot die gevolgtrekking bring dat hulle niks anders as onsigbaar is tot wanneer daar weer van hulle kennis geneem word tydens verkiesingsveldtogte en -byeenkomste nie.

Wat benodig word onder bruin mense, is om ’n party te vind waarmee hulle kan identifiseer en waar hulle ’n politieke tuiste kan vind. Dis besig om te gebeur, gegewe die bewuswording van hierdie politieke identiteit. Politieke partye wat op hulle steun wil staatmaak, sal hiervan moet kennis neem. Dit gaan hul invloed in bruin geledere laat toeneem of afneem. Die Wes-Kaap gaan heel moontlik ’n politieke wipplank word waar die uiteindelike uitslag gaan afspeel. Dit kan byna voorspel word dat kleiner politieke partye wat geen verandering gaan maak in die verkiesing nie, gaan verdwyn en tot die kantlyn gerangeer gaan word. Hier kan kennis geneem word van ActionSA, People’s Movement for Change (PMC) en Build One South Africa (Bosa). Hierdie partye geniet nie merkwaardige steun onder bruin mense nie alhoewel hulle die steun van prominente akteurs betrokke gekry het.

Dit kan ook nie as vanselfsprekend aanvaar word dat die uitslag gaan afspeel onder die tradisioneel groter partye nie. Waarneming getuig daarvan dat die Wes-Kaap ’n politieke speelbal van ’n ander aard gedurende die aanloop tot die verkiesing van 4 November gaan wees. Die bruin stem gaan die uitslag bepaal wie Stad Kaapstad gaan beheer en wat die kleiner munisipaliteite tot verandering gaan bring in hul samestellings.

Dit bring die groter partye weer in die prentjie. Die DA beheer tans die Stad en kan moontlik hul greep op die metro verloor indien die opposisiepartye daarin kan slaag om hul ondersteuning in bruin geledere te mobiliseer en te konsolideer. Sal die skielike opvlamming van byvoorbeeld ondersteuning aan die Vryheidsfront Plus in veral bruin gemeenskappe ’n teken wees dat daar ’n soeke is na ’n party wat hul wense kan vervul? Hierdie ondersteuning geskied nie op groot skaal nie, maar is daar om van kennis te neem.

Die ANC kon nog nooit daarin slaag om ’n beduidende rol te speel in bruin woongebiede nie. Hulle het tradisioneel min politieke steun en invloed in bruin gebiede waar kompetisie veral tussen die DA en nuwer partye soos byvoorbeeld die PA (Patriotic Alliance) sterk gaan wees. Die ANC se steun in hierdie gemeenskappe in die Wes-Kaap is histories beperk en word gekenmerk deur swak plaaslike strukture. Dit is ’n bewys van hoe ondersteuning vir ’n disfunksionele party afgeneem het – en hier word spesifiek ook verwys na ondersteuning in swart geledere. Dit is dus ’n bewys dat die ANC geen noemenswaardige verskil in die verkiesing gaan maak nie. Hulle bevind hulle op ’n afdraande pad van waar hulle nie maklik sal kan terugkeer indien daar nie ’n nuwe leierskapskader in die Wes-Kaap gaan kom nie – wat sterk betwyfel word. Bruin kiesers voel verder dat die ANC se beleid nie hul spesifieke belange of kulturele identiteit voldoende aanspreek nie. Dat daar geen verandering sal kom in die afname van die gewildheid van die ANC nie, is dus ’n gegewe.

Die DA, daarenteen, moet daarteen waak om nie op hul louere te rus nie. Daar gaan groter teenkanting kom wat hul greep op die Wes-Kaap aansienlik kan verminder. Dit moet egter vermeld word dat hulle ’n goeie reputasie opgebou het in die beheer van die Kaapse Metro, alhoewel dit nie altyd oral sigbaar is nie. Daar is ’n groot afskeep van dienste in die tradisionele swart en bruin woongebiede. Vullisverwydering geskied nie gereeld nie, met die gevolg dat inwoners voel dat daar nie omgegee word vir wat in hulle gebiede gebeur nie. Daar is ’n verval van infrastruktuur en die agteruitgang is ooglopend waarneembaar.

’n Ondersoek na wat in Amsterdam in Nederland aan die lig gebring is, kan hier ook van toepassing wees. Die opruim en vernuwing van agtergestelde woonbuurte in die 1970’s en 1980’s in Amsterdam het ’n groot verskil daar gemaak, alhoewel daar aanvanklike teenkanting van die inwonerskant was. Gereelde vullisverwydering en opknapping kan ook hier van toepassing wees. Skep ’n omgewing waar plante en bome aangeplant word om ’n estetiese bewuswording te skep. In Amsterdam is dit verder bewys dat kriminaliteit afgeneem het omdat ’n gees van samehorigheid en trots op hul onmiddellike omgewing geskep was. Hierdie is ’n navolgenswaardige voorbeeld vir enige party wat die politieke bewind in die Stad en elders gaan wil oorneem.

Politieke partye kan ook kennis neem van die rol wat die destydse, en enigste bruin lid van die Kaapse stadsraad aan die begin van die vorige eeu, naamlik Abdullah Abdurahman, gespeel het. Hy was die leier van die African Political Organisation, en het bruin mense onder hierdie vaandel georganiseer. Hy het as raadslid sy beloftes aan die mense van die Kaapse Vlakte gestand gedoen en was veral bekend vir die verbetering van die lewensomstandighede van sy kiesers, die bruin mense. Hy het ook ’n groot rol gespeel in die opvoedkundige ontwikkeling van bruin mense deur klem te lê op die belang van onderwys. Dit is ’n voorbeeld vir politieke partye wat meeding om die bruin stem. Dit word genoem dat hy die taal van die mense gebesig het, wat verder tot sy gewildheid gelei het.

Dit bring die PA in die gesprek in. Dit is ’n feit dat daar ’n ongekende belangstelling in hierdie party ontstaan het – veral onder bruin mense. Dis asof hier ’n politieke tuiste vir hulle geskep was. Die leier geniet ondersteuning wat nie elke dag gesien word nie. Hy wend gesegdes aan soos “Grond toe”, “Maak toe”, “Grondhonde”, “Saloet”, “Ons baiza nie”, “Staan vas” en ander gesegdes wat daagliks in die omgangstaal op die Vlakte gebruik word.

Die PA kan ’n teenstander vir veral die DA wees, wat ook nou ’n gesegde van bruin mense op hul T-hemde vertoon, naamlik “Kom pad toe”. Dit is ’n verdere bewys dat die politieke gevegte in bruin werkersklaswoonbuurte gaan plaasvind.

Om ’n algehele wenner op hierdie stadium van die “geveg” aan te dui, gaan nie maklik wees nie. 4 November sal die uitslag bepaal.

*

Naskrif: Die skrywer is nie ’n lid van enige politieke party nie en probeer op geen wyse om enige politieke party te bevorder nie.

Danie van Wyk

Voorsitter: DAK Netwerk

Lees ook:

Suid-Afrika is nie ernstig oor plaaslike regering nie, sê dié ontleder

Oor denke

Afrikaner, Afrikaan, Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top