Suid-Afrika is nie ernstig oor plaaslike regering nie, sê dié ontleder

  • 0

Foto deur Elad G van Pixabay

Die nuusopskrifte het dit as ’n “skokverslag” gerapporteer: dat geen metroraad in die land, nie een van die agt nie, ’n skoon oudit kon behaal in die nuutste verslag van die ouditeur-generaal (OG) Tsakani Maluleke nie – nie eens Kaapstad nie, is bygevoeg, ’n metroraad wat nog altyd beter as die res presteer het.

Maar dalk moes die groter skok gewees het dat uit die land se 257 munisipaliteite, wat naas die agt metro’s ook 44 distriksrade en 205 plaaslike munisipaliteite insluit, kon slegs 39 skoon oudits kry. Hieroor sê die politieke kommentator Harlan Cloete in ’n Wyngaard Weekliks-onderhoud: “Die getal [skoon oudits] bly kommerwekkend laag, maar jy gaan nooit almal honderd persent skoon kry nie.”

Cloete is ’n navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy verwys na homself as ’n “ewige student van plaaslike bestuur” wanneer die onderhoudvoerder hom aan die kykers voorstel as ’n gerekende kenner van dié veld. Wat dié “ewige student” sover geleer het, is dat “saam met die finansiële oudits [van die OG] moet jy ook gaan oudit hoe mense bestuur word in munisipaliteite”.

“I put it to you,” skerts hy, en sê dan met die nodige erns: “Die probleem in munisipaliteite is bestuur – hoe bestuurders hulle mense bestuur en hoe bestuurders ander bestuurders bestuur. En die politici aan die ander kant is nie altyd bewapen om die regte vrae te kan vra nie.”

Die laaste stelling in die vorige paragraaf lei ’n ander besprekingspunt in, naamlik die verhouding tussen amptenary en politieke ampsbekleërs in die raad. “Die houding [by amptenare teenoor raadslede],” sê Cloete, “is jy is net hier vir vyf jaar en ek is permanent, so ek gaan jou lewe moeilik maak, of ek kan inligting weghou van jou, of jou speel soos ’n kitaar.”

Dit is wat die situasie moeilik maak in munisipaliteite, voeg hy by. “Dit is nie so maklik soos om ’n lig aan te skakel nie.” Maar nie een van die twee rolspelers behoort eintlik vinger na die ander te wys nie. “Die temptasie bly vir die politici om te reageer soos amptenare en soms wil amptenary politici se werk oorneem.”

Cloete definieer ’n munisipaliteit as dat dit ’n dinamiese verhouding veronderstel tussen politici, amptenary en die gemeenskap wat deur die munisipaliteit bedien word. “Wanneer die uitvoerende burgemeester se fokus op dienslewering is en hy of sy bly in hul baan en los die amptenary om hulle werk te doen, as daai tipe vertroue daar is, dan werk die ding,” glo hy. “Waar politieke stabiliteit is,” meen hy verder, “is daar gewoonlik resultate ook. Die een steun op die ander.”

Maar as die burgemeester ingestel is op inmenging in die administrasie (Cloete verduidelik dit aan die hand van die Engelse vertaling – wanneer oversight in interference ontaard), ontstaan probleme. Sukses is egter gewaarborg wanneer amptenary die moed het “om nee te sê” vir inmengerige politici en indien dié volhard met onbehoorlike eise, die relevante wetgewende bepalings of beperkings aan hulle voor te hou.

Weg van dié spel, kom ’n groot kopseer onder die loep, te wete die aanstelling van mense wat soms nie oor die nodige vaardighede beskik vir die poste waarin hulle aangestel word nie. Die gebruik van konsultante word deur munisipaliteite ingespan om uiteindelik die werk te doen waarvoor amptenary reeds salarisse verdien, maar dit is ’n onvolhoubare situasie met dié dat die koste nou vir konsultante, aldus die OG, nou al tot R1,6 miljard gestyg het.

Cloete sê dit is ’n situasie wat bevestig wat navorsing van die afgelope dekade aan die lig gebring het – en dit is, soos hy ook vroeër genoem het: “Ons bestuur nie die mense behoorlik in munisipaliteite nie.” Die Wet op Vaardigheidsontwikkeling, wat reeds 28 jaar bestaan, maak juis voorsiening daarvoor dat mense se kundigheidsvlakke opgeskerp word waar dit onvoldoende is, sê hy. “Mense word aangestel wat nie noodwendig bekwaam is nie, maar die Vaardigheidswet is ook daar vir hulle. Jy kan dus ook mense aanstel op grond van potensiaal.”

Oor konsultante is hy uiteindelik van mening dat dit goed of sleg kan wees. Dit is goed wanneer vaardigheidsoordrag geskied; dit is sleg wanneer afhanklikheid geskep word. “Die OG sê daar is konsultante in die finansiële afdeling wat die werk doen wat gewone amptenare behoort te doen. Die OG sê dis basiese goed wat mense behóórt te kan doen.”

Uitdagings soos hierdie een belemmer die rol en die uitvoering van munisipaliteite se basiese verantwoordelikheid, naamlik die voldoende lewering van dienste aan plaaslike gemeenskappe. “Dit is op plaaslike vlak wat mense die liefde of vernalating van die staat voel,” sê Cloete.

Heelpad deur die gesprek klink hy optimisties en oplossingsoekend; teen die einde minder so: “Ek dink nie in hierdie land is ons ernstig met plaaslike regering nie.”

Lees en kyk ook:

Wyngaard Weekliks: Die regte mense met die regte vaardigheid sal munisipaliteite regruk

Operasie 2026 Munisipale Verkiesing: Nasionale tesourie gryp in om goeie bestuur aan te spoor

Yes for national dialogue, but don’t forget municipal services

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top