Operasie 2026 Munisipale Verkiesing: Nasionale Tesourie gryp in om goeie bestuur aan te spoor

  • 0

Skets deur Mohamed Hassan van Pixabay

...
As daar een oorkoepelende les uit Suid-Afrika sedert die demokratisering in 1994 geleer kan word, is dit waarskynlik dat die toekoms nie net afhang van beter tegniese oplossings nie, maar ook van die herbou van instellings en die gebruik van aansporings wat goeie bestuur moontlik maak.
...

Met munisipale verkiesings vir 4 November beplan, is dit tereg groot nuus dat die nasionale tesourie hierdie week verskeie fiskale oordragte aan 69 munisipaliteite opgeskort het, waaronder metropole soos Johannesburg, Nelson Mandelabaai, Buffalo City en Mangaung, maar ook ’n aantal kleiner munisipaliteite wat al lank met finansiële en bestuursprobleme worstel – van Emfuleni en Newcastle tot Maluti-a-Phofung, Matjhabeng, Madibeng en Ditsobotla.

Die fokus is dus nie bloot op “mislukte dorpe” gerig nie, maar op ’n hele stelsel waarin swak bestuur te lank sonder gevolge kon voortduur.

Met ander woorde, die tesourie tree nie bloot teen enkele krisisgevalle op nie, maar probeer die politieke aansporings aan plaaslike regering verander. Dit mag straks die einde aandui van een van Suid-Afrika se langste de facto- politieke subsidies: die aanname dat munisipaliteite kan aanhou swak regeer sonder om ’n betekenisvolle politieke prys daarvoor te betaal.

Vir bykans drie dekades het munisipaliteite op grond van ’n ongeskrewe ooreenkoms gefunksioneer: dat hulle in finansiële nood kan verval as skuld opbou en resultate verswak. Plaaslike water-, riool- en padinfrastruktuur is toegelaat om agteruit te gaan. Provinsies het van herstelplan tot herstelplan voortgesleur en ondersteuningsprogramme ingestel. Wat ook al gebeur het, die stelsel het op een of ander manier bly voortbestaan – maar so ook die roekeloosheid van baie munisipaliteite.

Nie noodwendig nuwe wetgewing nie

Hierdie week se tesourie-aankondiging vereis nie nuwe wetgewing nie, maar gaan klaarblyklik oor die daadwerklike toepassing van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA). Dit is nie die eerste keer nie, maar met die eerste oogopslag het hierdie optrede wel potensiaal om die aanspreeklikheid, deur middel van aansporings, binne die stelsel te verskerp. Dit is belangrik, omdat infrastruktuur nie vanself verval nie.

Soos die tesourie en CoGTA herhaaldelik aandui, begin die probleem by die instellings self. Wanneer bestuur verswak, word instandhouding uitgestel, finansiële beheer verswak, professionele kundigheid verdwyn, politieke onstabiliteit neem toe, en uiteindelik loop die krane droog. Dit is waarom en hoe Suid-Afrika se munisipale krisis vir ’n geruime tyd nog altyd minder van ’n ingenieursprobleem was as ’n polities-ekonomiese een.

Die tesourie se ingryping erken hierdie werklikheid, selfs al word dit verwoord in die taal van openbare finansies eerder as politiek. Dit verwerp die aanname dat munisipale verval hoofsaaklik ’n tegniese probleem is wat met meer ondersteuning, meer konsultante en meer geld opgelos kan word.

Veelseggende tydsberekening

Die tydsberekening van die aankondiging is betekenisvol in die aanloop tot die munisipale verkiesings. Selfs politieke partye met ’n swak rekord van boekhouding sal nou beter dienslewering, skoon regering, bekwame administrasie en betroubare infrastruktuur as hul doelwitte moet ontplooi; min van hulle het egter al bewys gelewer dat hulle werklik verstaan wat dit sal verg om dit te bereik. Daar is dus rede om skepties te wees oor die indrukwekkende beloftes en planne wat voorlê.

Maar die nasionale tesourie het die aard van die debat subtiel verander deur vrae te stel wat verder gaan as bloot wat politici belowe. Die tesourie se benadering vra eerder na bewyse van bekwame finansiële bestuur en doeltreffende inkomste-invordering; die instandhouding van infrastruktuur voordat dit in duie stort en, bo alles, die aanstelling en behoud van gekwalifiseerde professionele mense eerder as bloot politieke lojaliste.

Die implikasies hiervan behoort veel verder as partypolitiek te strek – en dit kan inderdaad gebeur, omdat die tesourie se aankondiging deel vorm van ’n breër institusionele verskuiwing wat verrassend min aandag geniet het. Die ouditeur-generaal het ook al hoe meer uitgesproke geword oor mislukkings in bestuur, terwyl provinsiale tesourieë en provinsiale regerings oor die algemeen sterker finansiële afdwinging ondersteun het. CoGTA het begin wegbeweeg van blote ondersteuning na beklemtoning van strenger aanspreeklikheid en professionalisering.

Departementele samewerking is belangrik

Hoewel CoGTA en Salga nie deurgaans so doeltreffend soos die nasionale tesourie is nie, en al deur moeilike, soms selfs ondoeltreffende, tydperke gegaan het, kan hul gesamentlike pogings, saam met die tesourie, steeds waarde toevoeg. Hul eerste groot toets in hierdie verband is die omvattende hersiening van Suid-Afrika se Plaaslikeregeringwitskrif van 1998.

Dié hersiening verdien meer aandag as wat dit tot dusver ontvang het, om verskeie redes:

  • Anders as vorige pogings tot hervormingstrategieë stel dit ’n meer fundamentele vraag: Wat van gevalle waar munisipaliteite nie bloot swak bestuur word nie, maar inderdaad herontwerp moet word?
  • Die hersiening stel ook sterker professionalisering, duideliker onderskeid tussen verskillende tipes munisipaliteite, verbeterde fiskale volhoubaarheid, en ’n herverdeling van verantwoordelikhede tussen die drie sfere van regering voor.
  • Kortom: Dit dui daarop dat mislukkings in implementering en institusionele ontwerp nou diep verweef geraak het.
Die 2026-verkiesings en daarna

Maar konsultasie is nie hervorming nie. Baie van die voorstelle sal steeds nog nie by implementering wees wanneer Suid-Afrikaners gaan stem nie. Daarom is die komende verkiesings belangrik. Hulle sal egter nie bloot bepaal wie munisipaliteite bestuur nie, want die tesourie beklemtoon nou dat bestaande reëls meer daadwerklik toegepas moet word. CoGTA-geleide hersiening van die Witskrif beklemtoon die behoefte aan ’n verdere ondersoek om te sien of sommige van die nuwe reëls verder verander moet word. Saam bring dit twee kernkwessies na vore: doeltreffende toepassing en institusionele herontwerp.

Of dit egter gaan gebeur, sal uiteindelik nie in die tegniese kantore of tydens beraadslagings met die tesourie, CoGTA of Salga bepaal word nie, maar in die politieke arena. Kiesers mag dus die geleentheid hê om nie bloot beter beloftes te hoor nie, maar beter instellings te beloon.

Indien dit gebeur, kan hierdie week se aankondiging die oomblik wees wanneer Suid-Afrika stilweg na ’n nuwe rat oorgeskakel het in die verandering van die politiek van plaaslike regering. Dit sal ’n belangrike verskuiwing wees, want oor die jare het Suid-Afrikaners munisipale verval betreur en gedebatteer oor hoe om mislukte munisipaliteite te red. Veel minder aandag is egter gegee aan hoe om die politieke aansporings te verander wat dit in die eerste plek moontlik maak dat hulle misluk.

As daar een oorkoepelende les uit Suid-Afrika sedert die demokratisering in 1994 geleer kan word, is dit waarskynlik dat die toekoms nie net afhang van beter tegniese oplossings nie, maar ook van die herbou van instellings en die gebruik van aansporings wat goeie bestuur moontlik maak.

*

Chris Heymans is ’n onafhanklike adviseur wat spesialiseer in die politieke ekonomie van stedelike ontwikkeling en water- en sanitasiedienslewering.

Lees en kyk ook:

Wyngaard Weekliks: Die regte mense met die regte vaardigheid sal munisipaliteite regruk

Nog ’n jaar, nog ’n plan: Kan die nuwe waterinfrastruktuurplan vir 2026/27 werk?

Will water become a stress test of municipal governance ahead of the elections?

Plaaslike munisipale dienslewering daagliks meer dringend vir water en ander dienste

Black Economic Empowerment vis-à-vis Sustainable Development Goals: a (mainly) water and sanitation perspective

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top