Nog ’n jaar, nog ’n plan: Kan die nuwe waterinfrastruktuurplan vir 2026/27 werk?

  • 0

Foto deur Antonio López van Pixabay

Met landswye munisipale verkiesings om die draai in November gaan die watersektor1 gewis hierdie jaar in die kollig wees. ’n Spoedige salvo was die onlangse aankondiging van die minister van water  en sanitasie (WSS), Pemmy Majodina, dat haar departement beplan om R12,3 miljard aan 411 waterinfrastruktuurprojekte in 2026/27 te bestee. Dit sal  beleggings in pypleidings, waterverwerkingsfasiliteite en verspreidingstelsels behels, en institusionele hervorming ondersteun.

Tereg blyk dit dat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) – deesdae meer bevoeg as vir etlike jare – besef dat waterprobleme nie net deur infrastruktuurbesteding opgelos kan word nie, en dat daar ’n bestuurskrisis is, nie bloot ’n infrastruktuurkrisis nie. Dit is ’n belangrike konseptuele verskuiwing, want in baie munisipaliteite het infrastruktuur nie agteruitgegaan weens onvoldoende befondsing nie, maar omdat instandhouding, finansiële bestuur en tegniese vermoëns verswak het.

Sean Phillips, direkteur-generaal van die DWS, het heelwat verbeterings geloods, maar waarsku dat baie munisipaliteite vasgevang is in ’n “afwaartse spiraal”. Waterlekkasies, diefstal en onakkurate meters suig munisipale inkomste op, en instandhouding word te lank uitgestel. Bekwame tegniese personeel verlaat munisipaliteite en word dikwels nie vervang nie, terwyl diensonderbrekings toeneem, openbare vertroue krimp, en finansiële herstel moeiliker word.

Die krisis het minstens vyf onderliggende dimensies:

  • Fisiese infrastruktuur verval en word swak onderhou.
  • Onvoldoende afvalwaterbehandeling dra by tot besoedeling van bronne, omgewingsagteruitgang en gesondheidsrisiko's.
  • Baie verbruikers betaal nie vir munisipale dienste nie, en as gevolg daarvan skuld munisipaliteite meer as R27 miljard aan waterrade, wat die finansiële volhoubaarheid van water- en sanitasiedienste ondermyn.2
  • Politieke onstabiliteit, korrupsie en swak aanspreeklikheid het baie munisipale administrasies verswak. Dit verpolitiseer aanstellings, verswak institusionele geheue, verhoog administratiewe kostes, en ondermyn langtermynbeplanning en instandhouding.
  • Daar is ’n gebrek aan goeie ingenieurs, projekbestuurders en ervare munisipale amptenare om die kwaliteit van tegniese dienste in die staatsdiens in stand te hou.

Die goeie nuus is dat die DWS se nuwe benadering blyk hierdie realiteite meer openlik as voorheen te erken. Straks die belangrikste verskuiwing wat hulle identifiseer, gaan oor die toenemende afhanklikheid van waterrade. Dit is ’n delikate saak, wat kort- tot mediumtermynverbetering kan verseker, maar nie noodwendig langtermynkapasiteit bou nie. Die bereidwilligheid om saam te werk met internasionale en Suid-Afrikaanse ontwikkelingsfinansieringsinstellings help vordering, maar baie munisipaliteite het doodgewoon nie die kapasiteit om groot infrastruktuurprojekte effektief op hul eie uit te voer nie. Die hulp van buite is dus nuttig, maar daar is steeds ’n behoefte om plaaslike verantwoordbaarheid en kundigheid te versterk.

Die Nasionale Tesourie se impak op munisipale hervormings dui veral op kommer oor die standaard en kundigheid om die kapasiteit van munisipale dienste en bestuur, veral water en elektrisiteit, te verskerp. Hul hervormings behels afkamping van waterinkomste, en verbetering van operasionele aanspreeklikheid en bestuurstelsels. Maar baie munisipaliteite – insluitend die meeste metro’s – is afhanklik van fiskale ondersteuning van die nasionale regering, en sukkel om tegniese personeel te werf en inkomste in te vorder. In verskeie  munisipaliteite is die plaaslike ekonomiese basis net te klein en broos om komplekse waterstelsels te onderhou.

Die gevolg is ’n groeiende verskil tussen die grondwetlike aannames wat plaaslike regering onderlê en die operasionele realiteite in die praktyk. Dit plaas ook toenemende klem op vennootskappe met die privaatsektor en ander finansieringsinstellings. Daar is wel groeiende erkenning in die regering dat die ondersteuning deur die fiskus nie op sigself voldoende sal wees nie, gegewe die omvang van opgehoopte infrastruktuuragteruitgang. Privaatsektorwatervoorsieners is ook nog maar dun gesaai in Suid-Afrika, en hul betrokkenheid bly polities kontroversieel.

Die beperkings wat privaatsektorbetrokkenheid in die gesig staar, word dikwels swak verstaan. Die vernaamste hindernisse is nie noodwendig ideologiese teenstand teen privaatsektorbetrokkenheid nie, maar privaatmaatskappye word dikwels afgeskrik deur munisipaliteite wat nie vir dienste betaal nie, politieke inmenging, korrupsierisiko’s en onsekerheid oor langtermyn-inkomsteherwinning. Infrastruktuuragentskappe voer dikwels aan dat Suid-Afrika se grootste probleem dikwels nie die gebrek aan befondsing is nie, maar swak projekvoorbereiding en -implementering.

Hierdie tendense bevestig die geldigheid van breër internasionale ontwikkelingsbenaderings oor die rolle van die privaatsektor, finansierders soos die Wêreldbank, en die bilaterale organisasies van ekonomies sterker lande. Suid-Afrikaanse beleidmakers lyk toenemend asof hulle soortgelyke gevolgtrekkings oorweeg, maar dit is nie konsekwent die geval nie. En vakbonde en sommige politieke groepe bly negatief oor privaatsektorbetrokkenheid. 

Die uitdaging wat die regering in die gesig staar, is kompleks. Dit moet tegelyk toegang tot dienste uitbrei en bekostigbaar wees, swak munisipaliteite stabiliseer, tegniese vermoëns verbeter, finansiële volhoubaarheid herstel en polities destabiliserende tariefverhogings vermy. Maar hierdie prioriteite bots dikwels met mekaar. Strenger finansiële handhawing kan aanspreeklikheid verbeter, maar munisipaliteite ook onder meer druk plaas. Om waterinkomste af te kamp kan volhoubaarheid versterk, maar munisipale fiskale buigsaamheid verminder.

In die 1990’s was die aanname dat munisipaliteite sou herstel as hulle bloot meer befondsing ontvang. Vandag is die probleme steeds nie opgelos nie. Die regering toon groter realisme oor die beperkings van munisipale kapasiteit en dat dit beide institusionele hervorming en infrastruktuurkonstruksie verg. Maar baie munisipaliteite sukkel steeds met onstabiele politieke leierskap, swak of te min ingenieurskapasiteit, lae inkomste-invordering en onvoldoende instandhouding van stelsels. Duidelik is die herbou van instellings baie stadiger as die bou van infrastruktuur.

Kan die politieke stelsel die langtermyndissipline volhou wat nodig is om daardie instellings konsekwent oor tyd te herbou? Suid-Afrika se waterhervormings het spronge vorentoe gegee sedert ’n paar jaar gelede, toe selfs watertenkwaens as ’n oplossing gesien is – ’n benadering wat aansienlike korrupsie en uitbuiting meegebring het. 

Die meer onlangse DWS-benaderings – insluitend die planne wat deur die DWS-leierskap bepleit word – gee toe dat hoewel infrastruktuur, pyplyne en behandelingsaanlegte herstel kan word, die herbou van effektiewe bestuur moeiliker kan wees. Dit lyk of die DWS darem hieraan werk, maar die pad bly lank en ver.

Eindnotas

1 Chris Heymans is ’n onafhanklike adviseur wat spesialiseer in die politieke ekonomie van stede, stedelike ontwikkeling en water- en sanitasiedienslewering.

2 Departement van  Water en Sanitasie, 2025/26. Third quarter performance report to parliament by Deputy Minister: https://pmg.org.za/committee-meeting/42686.

Lees ook:

Will water become a stress test of municipal governance ahead of the elections?

Yes for national dialogue, but don’t forget municipal services

When everything is a "deal", almost nothing is governed

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top