Plaaslike munisipale dienslewering daagliks meer dringend vir water en ander dienste

  • 0

Skaars drie weke gelede het ek op LitNet geskryf oor die dringende behoefte om munisipale transformasie in Suid-Afrika te prioritiseer. Hierdie behoefte word toenemend in al hoe meer munisipaliteite en as ’n nasionale kwessie beklemtoon. Dit het ook hernude relevansie terwyl die regering aan ’n nuwe plaaslike-regering-witskrif werk.

En tereg, want dit is immers veral op plaaslike vlak waar die mislukking van basiese dienste die publiek direk tref. Byna daagliks onthul gebeure en mediaberigte hoe verreikend plaaslike owerhede se wanfunksionering inderdaad geword het. Korttermyn-inisiatiewe en politieke retoriek kan nie die nodige impak lewer om munisipale bestuur en dienslewering reg te stel nie. Dit verg dat groot gedink en opgetree moet word, eerder as die huidige los praatjies en beskerming van politieke elites se eie, eng belange.

Die huidige stand van sake weerspieël ’n storie van hoe munisipaliteite en groot dele van die publiek regoor die land versuim om die onderliggende logika van Suid-Afrika se grondwetlike basis uit te leef. Of ’n mens nou praat van skoon en veilige water en sanitasie, of van vullisverwydering en -verwerking, of veilige instandhouding van plaaslike vervoerinfrastruktuur, gans te veel munisipaliteite versuim om voldoende dienste te lewer of te fasiliteer. Maar terwyl die publiek en politici met reg Eskom, die waterrade en onbevoegdheid in die staatsdiens kritiseer, mis baie van hulle selfs die mees basiese betalings vir dienste wat hulle self ontvang. Dié wat sodanige skuld opbou, probeer dit dikwels regverdig op grond van die swak dienste, en op hierdie manier word die probleem net al hoe groter, en boonop vererger dit wanneer protesaksies geweldadig raak en infrastruktuur beskadig word.

Die gevolge is ’n negatiewe kringloop wat diensleweringstelsels daagliks in groter skuld en tegniese mislukking dompel. Die ouditeur-generaal se jongste bevinding dat slegs 38 van Suid-Afrika se 257 munisipaliteite ’n skoon oudit vir die afgelope fiskale jaar ontvang het, bewys dat die sektor se probleme nie bloot statistiese afwykings is nie. Inteendeel, die munisipale watersektor (en verskeie ander dienste) ly onder sistemiese mislukking, gekenmerk deur institusionele agteruitgang, waar basiese aanspreeklikheid en finansiële verantwoordbaarheid stelselmatig afgebreek word.

Kom ons kyk na ’n paar gevalle, maar onthou tog dat dit maar net ’n klein seleksie is, en dat daar talle ander soortgelyke stories is.

  • Johannesburg, eens die sogenaamde hartklop van die Suid-Afrikaanse ekonomie, se verswakkende dienste is daagliks in die nuus. Terwyl die probleme reeds geruime tyd in armer gebiede bekend is, word soortgelyke agteruitgang selfs in tradisioneel gevestigde buurte al hoe meer bekend. In die afgelope week byvoorbeeld berig die Daily Maverick dat sowat 100 000 inwoners in die oostelike binnestedelike voorstede soos Malvern, Kensington, Yeoville en Bezuidenhoutvallei daaglikse water- en kragonderbrekings ondervind. Hulle sukkel ook weens ’n gebrek aan instandhouding van ander infrastruktuur as gevolg van swak wetstoepassing.
  • Mangaung (Bloemfontein en omringende gebiede) is sedert April 2022 onder nasionale administrasie vanweë jare lange finansiële wanbestuur en swak dienslewering. Die nasionale Departement van Water en Sanitasie (DWS) bereken dat sowat helfte van Mangaung se drinkwater verlore gaan vóór verbruik omdat behandeling by wateraanlegte swak is, en die water besoedel. Ongemagtigde uitgawes en swak tariefinvordering kompromitteer watersuiweringsdienste en instandhouding, en veroorsaak gereelde wateronderbrekings en oorlaaide rioolaanlegte. Onwettige storting en verouderde infrastruktuur vererger hierdie probleme. Skuldinvordering bly ’n probleem, wat vooruitsigte vir privaat beleggings kompromitteer. Volgens ’n 2023/24-verslag van die ouditeur‑generaal het Mangaung se finansiële verpligtinge waterverwante bates met R468,2 miljoen oorskry; en oor die R1,8 miljard se ongemagtigde uitgawes en stadige projekuitvoering verhinder privaat beleggings.
  • Mbombela, die relatief florerende hoofstad van Mpumalanga, is so pas deur ’n opposisieparty betrek in ’n strafregtelike saak weens beweerde besoedeling van watervoorraad. Na bewering het die munisipaliteit ’n kontrakteur betaal om ’n aanleg twee jaar gelede op te gradeer, maar die kontrakteur het glo later die projek laat vaar, sonder enige munisipale teenreaksie.
  • Makhanda (voorheen Grahamstad) beleef al etlike jare lank ’n toenemende waterkrisis. Onlangse voornemens van die adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) om verdere steun aan Makhanda te verskaf het nog nie veel gevorder nie, soos verdere waterspesifieke tegniese bystand en nasionale ondersteuning om die veiligheid van plaaslike personeel te verseker. Daar is ook ’n behoefte daaraan – en volgens plaaslike organisasies Cogta-ondernemings om dit aan te pak – om fondse te mobiliseer vir groter deursigtigheid in besteding aan water-en-sanitasie-dienste, en vir verskerpte plaaslike finansiële aanspreeklikheid aan plaaslike inwoners.
  • Newcastle in KwaZulu-Natal, eens die tuiste van ’n groot Yskor-aanleg en geag as ’n ekonomiese voorloper in die provinsie, maak nou deels staat op noodmaatreëls soos watertenks en mobiele pompe, veral in gebiede waar infrastruktuur vinniger agteruitgaan as wat dit herstel kan word. Onlangse DWS-ouditverslae dui op voortdurende probleme met watergehalte en rioolstandaarde in Newcastle.
  • In die meeste Suid-Afrikaanse stede en dorpe maak wesenlike getalle inwoners staat op emmers en putlatrines vir basiese higiëne. Soms is sulke fasiliteite redelik toeganklik, maar kom dikwels nie naby die internasionale riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) nie. Dit is ’n wydverspreide probleem, veral in stedelike gebiede. Eyewitness News berig op 20 Mei dat dit die geval is in die Ramaphosa informele nedersetting in Emfuleni (Vereeniging) in Gauteng, waar mobiele toilette maande lank nie skoongemaak is nie.

Hierdie omstandighede veroorsaak ook wyer omgewingskwessies wat reeds ver te kort skiet van nasionale en internasionale standaarde. Terwyl inwoners byvoorbeeld steeds die sanitasiekrisis beveg, het die Emfuleni-munisipaliteit gereageer met ’n versoek dat inwoners hulle nog vyf maande moet gee om die toilette skoon te maak! Hoe word van mense verwag om in daardie vyf maande gesond te oorleef?

  • Ditsobotla in Noordwes ervaar ’n gebrek aan funksionele organisasie: Op ’n stadium het twee burgemeesters en hul onderskeie munisipale bestuurders gelyktydig aanspraak gemaak op hul reg om die munisipaliteit te lei. Hierdie situasie en die volgehoue onstabiliteit sedertdien weerspieël nie net politieke faksionalisme nie, maar is ’n tipiese manifestasie van bestuursverlamming in verskeie munisipaliteite.

Sodanige kwessies is nie beperk tot hierdie munisipaliteite en provinsiale regerings nie. Daar is ’n groeiende besef dat die tekortkominge in die bestuur en dienslewering van water en sanitasie nie met “kapasiteitsbou”-werkswinkels, vergaderings of tydelike ingrypings omgekeer kan word nie. Inteendeel, die ineenstorting van plaaslike regerings – en straks sommige provinsies – dui daarop dat vlakke van funksionele openbare bestuur en dienslewering op sigself in die gedrang is.

Waterinfrastruktuur in baie munisipaliteite is byvoorbeeld só verswak dat gemeenskappe en huishoudings al hoe meer op watertenks en ander raap-en-skraap-opsies staatmaak. Rioolbesoedeling in strate is nie meer uitsonderings nie. Daar was wel in die onlangse paar jaar sterker leierskap in die nasionale DWS, en tot ’n mate in Cogta, maar die skade van staatskaping – veral, maar nie net in die Zuma era nie – bly maar byt.

Trouens, in verskeie plaaslike gebiede gebruik meer inwoners praktiese, politieke en regsaksies om basiese dienste te eis of te probeer ontwikkel. Hierdie is nie betogings oor aspirasies nie – dit gaan dikwels oor oorlewing en toegang tot basiese dienste. Die feit dat mense voel dat sulke basiesediensteprobleme deur regsgedinge of burgerlike ongehoorsaamheid beveg moet word, dra groeiende risiko vir demokratiese bestuur op plaaslike vlak.

Die finansiële situasie in baie munisipaliteite versleg ook vinnig. Volgens die nasionale tesourie is meer as 160 munisipaliteite in finansiële nood – baie kan nie salarisse betaal of hul diensverpligtinge nakom nie. Nasionale-tesourie-data in Maart 2025 het aangedui dat tekorte in gemiddelde verbruikerbetalings binne ’n jaar tot R416,1 miljard gestyg het – bykans ’n kwart meer as die R347,6 miljard ’n jaar tevore, met uitstaande krediet van R131,8 miljard, meestal uitstaande oor meer as 90 dae. Volgens die DA – maar nie amptelike data van die nasionale tesourie nie – het 116 munisipaliteite se 2024/25-begrotings hul inkomste oorskry.

In my onlangse LitNet-artikel beklemtoon ek – soos vele andere waarnemers – dat kaderontplooiing ’n fundamentele probleem is wat politieke lojaliteit bo bekwaamheid plaas. ’n Dramatiese ingryping is nodig om die staatsdiens meer professioneel te maak, vry van noue politieke lojaliteite. Dit moet geld vir wie ook al aan bewind is op alle vlakke van regering. Suid-Afrika het nie noodwendig nodig om die ANC-beheer to oorkom nie, maar om ’n tegnies bekwame amptenary te ontwikkel wat effektief met die privaat sektor en die publiek kan saamwerk.

Nog belangriker as watter party in beheer is, is die stelsels vir openbare toegang en verantwoordbaarheid wat op verskillende vlakke bestaan om korrupsie in tenderprosesse te beheer, op te tree teen wanbestuur, en op groter skaal toesig te hou oor plaaslike, provinsiale en nasionale regerings. Maar as die groter stelsels nie funksioneer nie, sal selfs bekwame en eerlike administrateurs se pogings ondermyn word deur politieke inmenging van gevestigde netwerke wat nie noodwendig binne legitieme institusionele raamwerke werk nie.

Die pad vorentoe verg robuuste aanspreeklikheid van munisipale leiers en hul politieke seniors, sterker gemeenskapsinspraak in begrotings en beleid, en ’n hernude gesprek oor munisipale herstrukturering, insluitend moontlike ontbinding van disfunksionele munisipaliteite. Plaaslike regering moet nie benader word as ’n sekondêre kwessie nie, maar as die voorste linie van verantwoordbaarheid. Wanneer munisipaliteite misluk, is dit nie net slaggate en kragonderbrekings wat volg nie – dit is openbare vertroue, burgerlike moraal en uiteindelik demokrasie wat op die spel is.

Lees ook:

Yes for national dialogue, but don’t forget municipal services

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top